OOGGETUIE (Na Wislawa Szymborska se verslag) Reen vlek donker plasse straat af die ligte streep oor motorruite voor die restaurant geparkeer Die muurhorlosie gryp na elf minute oor nege die bom is gestel vir twintig oor Nog nege minute genoeg tyd vir sommige om vry te spring en ander om na binne te gaan. Galant hou 'n man in swart pak die motordeur oop vir sy vrou onder 'n sambreel vlug hulle Na binne dertien minute spring verby. Ses jongmense bondel luiddrugtig na buite hulle groet en vier vertrek twee loop weer terug na binne die meisie half teesinnig haastig om te gaan vier minute Voor die bom. 'n Bedelaar by die deur keer iemand voor nog drie minute hulle knor by hom verby kom vies oor die straat loop teenaan my verby twee minute vyftig sekondes Voor die restaurant kom 'n motor tot stilstand Die passasier klim uit gesels deur die venster 'n bus kruip tussen ons verby die motor glip weg- Het sy ingegaan of weer vertrek? Maak nie juis saak sal wel sien wanneer hulle die liggame Na buite dra vyftien sekondes hoe traag die tyd die nag verstrak momenteel. die bom dit ontplof in die knal sien ek glas en stof om my reen EERSTE LIEFDES "Yet seem'd it winter still, and you, away, As with your shadow I with these did play." WILLIAM SHAKESPEARE (Uit: Sonnet XCVIII) I Die gode het aan jou gese om jou vrou te offer haar onder 'n wavrag sement in die huis se fondasie weg te le en jou huis sou lewe tot in alle ewigheid Haar liefde sou die struktuur orent hou haar hande die gewels bo die ingang En jy het hulle geglo- Nou honger jy snags deur benerige gange nou skilfer koue van jou af weg blou soos verf wat van kosyne af brokkel tot in alle ewigheid II Op elke tong het ek geklim, deur elke woord geblaai- (O, waar is jy-) In elke oog geblink, teen elke oor getrommel- O, ja. Elke hand betas (waar o waar) hand om die lyf met alle vroue deur strate sonder vreugde (is jy-) III Vlindersagte aande wanneer die stad reenklanke om ons hang en ons dwaal Deur die strate lig skouer aan skouer by gesigte so kleurloos verby O, lyfdeurdrenkte aande die donker brand kaggelsterk in ons en ons speel solitaire Met getroefde drome in skuilkroee waar ons hande blindelings fladder Deur vreemde landskappe van geur en ek stram weg na buite Na die harder klank van verkeer toeters en remme Jou durf ek nie onthou- Jou luiwarm parfuum moet ek vergeet IV Iewers het ek gelees van die antieke Egiptinare se gebruik om duiwe met wierook en mirre te parfumeer en hulle dan in troonkamers los te laat om fladderend hul aroma oor die waarderende gaste uit te sprei Kompleet met hulself opgeskeep soos engele wat onsigbaar vandag nog tussen ons deur vlerk. Ek meen ons weet tog dat hulle oorhoofs steeds as die appelboom se soetste bondgenoot verby fletter En sou jy dit buite van tyd tot tyd deur die boord waag, hoor jy hulle karplaks! as oorryp vrugte val genadiglik steeds die boom waarheen 'n duif met die subtiliteit van 'n byl oor vloedwaters heen geur V Vele jare se versoekings word onweerstaanbaar vrug. Sonder gedagte pluk jy vir jou die geil belofte. En verloor die boom. Nogtans neem jy 'n eerste hap en verloor die tuin. Smaaklik ook die aarde die vastigheid onder voets. die pit is al wat bly- die steen waarmee jy geen huis durf bou GEBED (Na Martinus Nijhoff se gedig "Het Derde Land") Potblou en sonder herinnering is ons uit die eerste land gestoot, al skreeuend met uiterste huiwering aan die tweede toevertrou. Tussen verloklike uiterstes rondgewarrel, ons spoedig buite alle perke bevind. Vader, vergewe tog die indiskresies. Maar laat ons nogtans nie hiervandaan met te veel ywer of ingekorte herinnering na die derde gaan.