Met 'n uitsig op 'n park -- 'n Meditasie oor taal en politiek Deur Hennie Aucamp VIR my 'n mooi dag: die reën trek in rokerige vlae oor die park, en die "tortels van die modder" koer onversaagd. Pa was tog so lief vir paddas, seker omdat hy hulle met reën verbind het; veral die ou blikslanertjies. (Dié volksnaam staan nie in my gewone woordeboeke nie, maar WAT meld hom wel: "'n Soort padda; vgl. BLIKSLAERTJIEen DONDERPADDA; en later "'n Klein soort donderpaddatjie; ook genoem blikslanertjie en blikslaerpaddatjie."). Kan 'n mens kalm van gemoed wees en tóg somber? Wel, dit kán: dis die soort beswyming waarin ek my tans bevind. En in dié toestand het ek in die oggendure 'n rou, apokaliptiese reël gedink: "Die Afrikaner het sy huis op wilsand gebou en God, sonder Sy medewete, tot argitek verklaar." (As 'n mens nou slim wil wees, kan jy verder gaan en wilsand definieer as "sand wat deur die Volkswil gesekreteer is".) Skielik het die paddas opgehou met kwaak, asof hulle weier om koor te wees vir my gedagtes. Oomblikke van stilte in die park, maar dan neem die werklike tortels oor -- tortels sowel as bosduiwe. (As kind kon ek selfs in Xhosa onderskei tussen tortel- en bosduiwe; die een heet ihobe, die ander ivukuthu.) 'n Huis gebou op wilsand, wou ek sê voordat ek my self onderbreek het, kan geen weerstand bied teen vloedreëns nie. Dit het ek en my suster maar alte goed besef toe as ons as kinders op die hoë kombuistrap na die ondergaande son sit en kyk het. Kyk, het ons vir mekaar uitgewys, 'n huis met 'n ringmuur rondom die wye werf, en bome, baie bome, wilgerbome. En dan kom daar van regs 'n gloed wat 'n vloed word, al dreigender, al hoër, al hoe verskrikliker, en wis ons herehuis met al sy wilgers en ringmure uit, en ons staan op en gaan vinnig by ons eie huis in. En ons is baie verlig dat ons in 'n werklike huis van rooibaksteen bly, en vertel aan etenstafel van die ramp wat ons voor ons oë sien afspeel het. Daar was so pas 'n kommosie in die park. Ek hoef kwalik uit te kyk om te sien wat gaande is, maar doen dit tog, en kry my vermoede bevestig: die kolganspaar het neergestryk en skree almal van hul werf af weg, die paddas, die duiwe, die meeue. As meerdere kom -- dis 'n natuurwet -- moet mindere wyk; en aan dié reg twyfel die koninklike egpaar geen oomblik nie. Ons ouerlike woning het dwarsdeur ons armer jare 'n rooibaksteenhuis gebly. Talle foto's getuig hiervan: ek en my suster en 'n kinderoppasser teen die agtergrond van 'n rooibaksteenmuur. (Dit het selfs die armste mense van destyds, die deelsaaiers en die bywoners, altoos gehad: bediendes.) Eers ná Pa sy skuldlas op die plaas onder beheer gekry het, is die rooibaksteenhuis afgepleister en gerofkas en wit geverf; keer op keer wit geverf, ons eie casa blanca. En later is die mure lilapers geverf, die dak swart; en só lyk dit nou nog, volgens mense wat die plaas onlangs besoek het, maar die foto's wys: die lila en die swart dop af. Hoekom het ek Pa so min oor sy vroeë jare uitgevra? Wat ek van Pa se jeug weet, is wat hy self vertel het, meesal baie bondig. Wag, ek het tog in sy laaste jare bandopnames van enkele van sy stories gemaak, maar dié is, met bandopnemer en al, uit my woonstel in Molenvliet gesteel. Het hy op dié band vertel hoe hy en oom Jannie as seuns kaal in die reën gaan hardloop het ná 'n strawwe droogte? Maar wás daar strawwe droogtes in sy jeug? Op 18 September 1969 skryf Pa aan my: "Ik denk ons veldblomme gaan ook tot niet. Die lekker reuk van tulpe wat ik as kind en jongman gewoond aan was, is daar nie meer nie. Die mooi ou aarde van ons gaan tot niet om ons nie meer lentereëns kry nie." (Pa was nie konsekwent met sy gebruik van "ik" en "ek" nie, wat vir my 'n beminlikheid is. Pa is op stuk van sake in 1896 gebore, op die kentering van tye, ook wat 'n taal betref.) In 'n vroeër brief van Pa, geskryf op 20 April 1967, klink daar 'n lofsang op oor goeie herfsreëns: "Mammie stuur vir jou vandag 'n doos met kwepersmeer en jellie. Dit gaan nog goed met ons, dit kwietja en is al vir byna 2 weke onweer en reën en één dag sonskyn. Die wêreld is nou sopnat. Die winter voer op die lande is so groot" -- ek kan Pa sien beduie. "Ons wil net gauw inspring dorp toe vir pos en die dosie vir jou aanstuur. Raai, Pieter le Roux was op die trein Kaap toe en in sy wa sien hy 'n afdruk van ik meen 'n herfstoneel van Rust-mijn-ziel en op 'n voorblad van die Farmers Weekly glo ook een." Herfs op Rust-mijn-ziel ; die populiere, om by my self te leen, "in ligtelaaie"; en agter die snyruigte, rivier se kant toe, lande en lande lusern. Dit het my oë hoeveel maal gesien, al die geel, al die oranje, al die groen. En dit het ook die oë van plaaslike kunstenaars gesien wat in waterverf en olie die herfs van 'n bepaalde jaar probeer vasvat het. Nostalgie kan geen stuwal teen die geskiedenis wees nie; geen ringmuur wat 'n vloed probeer stuit nie. 'n Herehuis in die wolke is tot ondergang gedoem. Ja, my nostalgie gaan telkens oor in wanhoop. Algemene wanhoop, aan die menslike kondisie; politieke wanhoop oor selfdestruktiewe praktyke in Suid-Afrika. Maar sedert Van Wyk Louw raak die woord "wanhoop" telkens 'n oop senuwee by my, en moet ek, bykans as boetedoening, die volgende woorde prewel: Wanhoop is glad te maklik En is sélfs sonde; Dis: nié-wil-vertrou Op die liefde van God nie. Hierdie woorde word aan Die Profeet gegee in Van Wyk Louw se geleentheidsdrama Berei in die woestyn. Die geleentheid was die Fees van die Grond op 6 April 1968. Almal -- veral blankes -- soek geleenthede waar alle kulture in die land kan meedoen in één groot opheffende gebaar; maar wat voor die hand lê, soos Berei in die woestyn, word misgekyk. Berei in die woestyn wys op die enkele grootste gevaar in Suider-Afrika: droogte. Ook Jan Rabie het 'n profetiese verhaal in ekoverband geskryf, getiteld "Droogte". Terwyl 'n wit en 'n swart man in 'n ideologiese stryd gewikkel is, kruip die woestyn op beide aan, en wals die stofkolomme al nader na hulle toe. Die paddas het dit weer hervat, maar elders, soos dit my klink; by die Jan van Riebeeck-skool of na Leeuwenhof se kant toe. Die kolganse is weg, maar die park is vol duiwe wat kroeserig loop en pik-pik. Hulle koer nie, en dit lyk nie of hulle vandag "soos lappies warm wasgoed" op gras en klawer gaan lê nie, want die son het hom onttrek. Wat Berei in die woestyn moet word, is 'n grootse oratorium wat aan elf tale, of twaalf, as jy die Griekwa-taal byreken, gegee moet word. Geen akademiese ekskursie nét in Engels nie, maar 'n diep godsdienstige, diep aardse oratorium wat Oppermaniaans pleit en op Hom roep, met toesang en teensang, in vele tale, in koor ná koor, die groot hosannas.