Normdeurbreking as basis vir literatuurgeskiedskrywing: omtrent De onrustzaaier deur Willem van Maanen H.P. van Coller Wat is canon, wat verstaan we onder canonvorming binnen het literaire veld? Is de canon een didactisch instrument, of een boekenlijst die orde in de chaos en rangorde in de veelheid brengt en die ons aanbeveelt wat 'goed' is? Is de canon in de eerste plaats de veruitwendiging van de humane en esthetische behoeften van de maatschappij, of althans een deelgroep ervan, waardoor uitdrukking wordt gegeven aan wat leden / lezers belangrijk achten en hoe schrijvers denken; of is de canon een nationaal-cultureel paspoort, de literaire ruggegraat van een politiek gekleurd grand récit dat in overeenstemming is gebracht met de ideologie van diegene die het verleden, het heden en de toekomst reconstrueren en dirigeren?" Daemen-De Gelder 1996: 1 Tentatiewe antwoorde op hierdie vrae word gegee in Van Coller (1995). Die kanon is 'n versameling van tekste ('n herlesing daarvan) wat as "verwysingspunt" dien binne 'n literêre sisteem. Hierdie waardevolle tekste word derhalwe ook bewaar en van die een geslag oorgedra na 'n volgende geslag. Literatuurgeskiedskrywing, bloemlesings, biblioteke en opvoedkundige instellings speel hierin 'n belangrike rol. Die ontstaan, instandhouding en aanpassing van kanons is nooit slegs 'n literêre aangeleentheid nie, maar is ook afhanklik van buite-literêre kragte. Dit is nuttig om te onthou dat die kanon, as oop versameling, 'n kern en 'n periferie sal hê wat voortdurend aan die verander is. Harris (1991) praat daarom van 'n stabiele (diachroniese) kanon en van die meer veranderende (sinchroniese) kanon. Dit beteken dat pasgepubliseerde werke eers ná 'n seleksieproses opgeneem word in die sinchroniese, eietydse kanon. Opname in die diachroniese kanon (die sogenaamde "klassieke" tekste) is 'n veel moeiliker opgawe. Werke kan (mettertyd) uit die diachroniese kanon wegval omdat hulle nie in staat is om opeenvolgende geslagte lesers te boei nie, veral waar daar 'n belangrike konkurrent (met byvoorbeeld dieselfde tema) na vore kom. Will van Peer (1993: 140 e.v.) verwys in hierdie verband na Arthur Brooke se The Tragicall Historye of Romeus and Juliet (1562), eers stewig deel van die Engelse kanon. Shakespeare se Romeo and Juliet word omstreeks 1593/94 geskryf en is (onder andere tematies) 'n voortbou op Brooke se teks. Veral omdat dit 'n veel komplekser teks is, skuif dit Brooke se teks egter (vir altyd?) uit die Engelse kanon. 'n Teks kan egter ook deurdring tot die sinchrone kanon en daarna later geweer word uit die diachroniese kanon op grond van die feit dat dit byvoorbeeld bots met die dan geldende literatuuropvatting of "smaak". Die bepaalde redes het dikwels met literêre aspekte weinig te make. 'n Teks sou byvoorbeeld ideologies onaanvaarbaar of oninteressant kon wees vir die kanoniserende instansies. In die volgende oorsig wil ek, aan die hand van die Nederlandse roman De onrustzaaier (Willem van Maanen), iets illustreer van die vreemde wyse waarop kanoniseringsprosesse werk. Hierdie roman word na sy verskyning in die jare vyftig dadelik opgeneem in die Nederlandse sinchrone kanon en dring selfs deur tot die diachroniese kanon, net om later in die jare sewentig en tagtig daaruit te verdwyn. My hipotese in hierdie verband is dat veranderde literatuuropvattings hiervoor verantwoordelik is. De onrustzaaier word skynbaar deur latere herskrywers (veral literatuurgeskiedskrywers) toenemend gesien binne wat Jurij Lotman (sien: Van Gorp 1991: 130) die Estetika van Identiteit noem, dus as normbevestigende literatuur. Binne 'n paradigma (soos die na-oorlogse Nederlandse literêre sisteem) waarin die Estetika van Opposisie - normverandering dus - sentraal staan, raak hierdie roman in die vergetelheid. Na verskyning word dit deur die invloedryke Afrikaanse skrywer, kritikus en kanoniseerder, N.P. van Wyk Louw, aangeprys as model vir die Afrikaanse prosaskrywer. Hierdie mening word nog later onderskryf deur André P. Brink, in die jare sewentig en tagtig die belangrikste kanoniseerder in die Afrikaanse literêre sisteem. De onrustzaaier neem ook vir jare 'n sentrale posisie in binne die Afrikaanse literêr-didaktiese kanon omdat dit wyd voorgeskryf word in skole en universiteite. Alleen al hierom is dit duidelik dat hierdie roman in Suid-Afrika gekanoniseerd geraak het in die tyd dat dit in Nederland uit die kanon verdwyn het. Vanselfsprekend moet 'n rede gesoek word vir hierdie kontrasterende evaluering en kanonisering. Lefevere (1989) gee 'n boeiende verslag van die wyse waarop skrywers (as herskrywers) te werk gaan om literatuuropvattings te verander. Sy tese is dat 'n literêre sisteem konserwatief van aard is en nie maklik verander nie. 'n Skrywer wat derhalwe vernuwing wil bring binne 'n bepaalde sisteem, moet dit aanval om sodoende verandering te bewerkstellig‚ en het ook voogdyskap / beskerming (Lefevere praat van "patronage") nodig van invloedryke persone binne die bepaalde sisteem. 'n Sprekende illustrasie hiervan is die Suid-Afrikaanse Dertigers se aanslag op die literatuuropvattings van hul tyd, en op die kritici (soos E.C. Pienaar) wat hierdie opvattings verwoord het. Ten spyte van al die latere kritiek op F.E.J. Malherbe (veral deur N.P. van Wyk Louw), het hy indertyd wel as beskermer van hierdie nuwe beweging opgetree (sien Kannemeyer 1994: 63) en is sy goedgunstigheid aanvanklik gretig benut. N.P. van Wyk Louw het in sy invloedryke teks Vernuwing in die prosa (1961) duidelik probeer om, wat bekendstaan as die heersende "poëtikale opvattings", ten opsigte van die Afrikaanse prosa te verander. Sy aangryp van 'n Nederlandse teks as voorbeeldteks is derhalwe 'n stategie ter voorbereiding van 'n nuwe soort prosamodel. Hy was juis besonder gelukkig, omdat hy as invloedryke kritikus, geen beskerming nodig gehad het vir sy nuwe poëtikale opvattings nie. Willem van Maanen is tydens sy driejarige verblyf as kind in Rotterdam leerling aan die "Werkplaats Kindergemeenschap Kees Boeke te Bilthoven", 'n vorm van eksperimentele onderwys waarby kreatiwiteit, estetiese vorming en individuele ontwikkeling veral aandag gekry het (Van der Pol 1984: 1). Daar maak hy ook kennis met Joop Westerweel met wie hy na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog 'n versetsgroep vorm. Van Maanen was veral aktief betrokke by die versorging van Joodse vlugtelinge en die vind van skuilplekke (sogenaamde "onderduikadressen") vir hulle. Hierdie feite is nie sonder relevansie vir 'n beter begrip van veral die resepsie van sy latere roman De onrustzaaier nie. Sy tweede roman De onrustzaaier, word onderskei met die Lucy B. en C.W. van der Hoogtprijs. Ondanks positiewe ontvangs en literêre pryse word Van Maanen nouliks genoem in literêre oorsigte. In Lodewick (1959: 400) word De onrustzaaier darem nog "een welkome verschijning" genoem en deur Stuiveling (1959: 255) gekenskets as "ironische werk". Kuypers en De Ronde (1972) stel ietwat apodikties dat Van Maanen in De onrustzaaier "de schoolstrijd in en kleine stad (behandelde) met de nodige ironie"! In Sivirsky (1960) en eweneens in Knuvelder (1970) word Van Maanen nie vermeld nie. Dit is daarom nie verwonderlik nie dat sy naam geheel en al ontbreek in Anbeek (1990) en ook in Schenkeveld-Van der Dussen (1993). Dit is veral begrypbaar binne die benadering van Anbeek, wat literatuurgeskiedenis sien as die beskrywing van veranderende literêre norme of konvensies (Anbeek 1990: 13). Anbeek se invalshoek gee aanleiding tot bepaalde gevolge omdat daar gekonsentreer word op tekste "die als essentieel binnen een bepaalde ontwikkeling kunnen worden beschouwd" (Anbeek 1990: 15). Daar word niks gerep van "marginale" tekste wat buite hierdie sentrale optiek val nie. Anbeek se boek is dus nie 'n boek waarin getrag word om 'n allesomvattende literatuurgeskiednis te wees nie, en sy keuse vir insluiting van tekste al dan nie, berus op bepaalde kriteria‚ en op sy visie van literatuur. Van Maanen word beheers deur "de verhouding tussen schijn en werkelijkheid" (Van der Pol 1984: 3; Van Hoof 1982). By die Nederlandse prosaskrywers van 1945 af word veel eerder gekonsentreer op "een prozavorm waarin de relatie werkelijkheid / fictie onderzocht wordt" (Anbeek 1990: 264). Schenkeveld-Van der Dussen (1993: v) is dit met Anbeek eens dat geschiedenis nie "bestaan" nie, maar 'n konstruksie agteraf is. Haar boek dien opgevat te word as "een geschiedenis van literatuur van het Nederlandstalige deel van de wereld". Hoewel sy as verweer self sê "niet alle belangrijke werken en niet alle belangrijke auteurs komen aan de orde", is die weglating van Van Maanen ook daarmee nie bloot vanselfsprekend nie. Sy stel dit trouens self dat "de canon van belangrijk geachte auteurs en werken" (my kursivering, H.P.v.C.) tog slegs geleidelik verskuif (Schenkeveld-Van der Dussen, 1993: vi). Kennelik resorteer Van Maanen nie onder "de belangrijk(st)e auteurs" en De onrustzaaier nie onder die belangrik(st)e werke nie. Uit die voorafgaande blyk onomstootlik dat Van Maanen uit die diachroniese Nederlandse kanon verdwyn het. Uit 'n verteenwoordigende resepsie-geskiedenis ten tye van die verskyning van De onrustzaaier (1954) (en uit enkele kontemporêre evaluasies), blyk die tegendeel. Jos Panhuijsen (1955) noem De onrustzaaier "een zeldsaam mooi, sterk en gaaf boek [...]. Van Maanen [...] is ongetwijfeld een van de voornaamste prozaisten van het ogenblik." Ten spyte van die feit dat die boek 'n aktuele boek is, het Van Maanen hom nougeset gehou "aan zijn vak van romanschrijver". By implikatie word hier verwys na Van Maanen se vermeende "objectiviteit". Hoewel Mosheuvel (1955), in 'n positiewe resensie, pertinent wys op die "toeschouwersfiguren die Van Maanen's wereld bevolken", maak hy van hulle geen ideale figure nie. Die notaris verteenwoordig daarenteen vir Greshoff (1955) sy ideaal, naamlik "het ideaal van de toeschouwer". Die boek van Van Maanen is vir Greshoff voortreflik vanweë die eenvoudige styl daarvan, die eie toon, onpartydigheid en die feit dat hy "niet onmiddellijk aan een voorganger of tijdgenoot hier of elders herinnert." Greshoff se interpretasie van hierdie "stil ironische verhaal" is dat die notaris 'n wyse man is en "de onrustzaaier het voorbeeld (is) van alles wat onwijs is op deze wereld." 'n Boek soos De onrustzaaier "behoort tot de weinige, welke men gelezen móét hebben ...". Sonder om ooit die terme te gebruik, wys Van der Pol (1984) op die intertekstualiteit en metafiksionele trekke in die werk van Van Maanen en op 'n groeiende besef "dat de taal niet in staat is die werkelijkheid nauwkeurig te formuleren" (Van der Pol 1984: 11). Hierdeur kom Van Maanen dig by 'n post-moderne bewussyn. Dit kom ook na vore uit sy siening van literatuur as 'n vorm van bedrog. Daarom het hy doelbewus getrag om sy lesers te mislei: "de creatieve handeling van het schrijven moet worden omgezet in een creatieve leesdaad" (Van der Pol 1984: 8). Van Maanen se kompositoriese eksperimente en verwysings na die diepte-psigologie word deur Zuiderent (1970), met verwijzing naar Hele steen (1970), "uitlegkunde" genoem. Guy van Hoof (1982) praat daarenteen van "een meesterstuk", 'n fassinerende en aangrypende boek "zoals er maar weinig in Nederlands geschreven worden." Daarom is sy slotbevinding dat Van Maanen ten onregte 'n nog steeds sterk ondergewaardeerde outeur is: "een van de meest autentieke talenten van de Nederlandse literatuur na de tweede wereldoorlog." Van Maanen is goed bekend aan duisende Suid-Afrikaanse skoliere en studente omdat juis De onrustzaaier een van die "mees suksesvolle titels" was in Academica se reeks "Literatuur uit die Lae Lande". Hierdie reeks is in hoë mate die breinkind van mnr. J.J. (Koos) Human, eertydse skoonseun van N.P. van Wyk Louw. Laasgenoemde het veral tydens sy jare as hoogleraar aan die Vrye Universiteit van Amsterdam heelwat gedoen het om die Nederlandse boek in Suid-Afrika bekend te stel en het waarskynlik (indirek) bygedra tot hierdie latere reeks. In die jare sestig en sewentig word die politieke en kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika naamlik afgeskaal ná die hoogbloei daarvan in die voorafgaande dekades. As direkte gevolg hiervan, raak dit toenemend moeiliker om Nederlandse boeke te bekom, die stroom studente na Nederland word yler en weerstand teen Nederlands as vak neem ook toe in Suid-Afrika. Die SuidAfrikaans Rand se waardevermindering ten opsigte van die Europese geldeenhede blyk onstuitbaar te wees en Nederlandse boeke raak onbetaalbaar. Die uitgawe van Nederlandse boeke in Suid-Afrika, boonop met Afrikaanse woordverklarings en inleidings, sou 'n alternatief kon bied. Dit gebeur inderdaad met die verskyning van die reeks "Literatuur uit die Lae Lande". Uit die volledige lys titels in hierdie reeks blyk implisiet reeds die uitgangspunte: daar word gekonsentreer op sogenaamde "hoogtepunte" uit die Nederlandse literatuur wat toeganklik, interessant en aanvaarbaar is vir Suid-Afrikaanse studente. Uit die lys blyk verder dat gekonsentreer word op "ouer" werke waar kopieregprobleme geen faktor is nie. Bowendien word daar ruimskoots geput uit die Vlaamse literatuur (dalk juis vanweë groter "toleransie" ten opsigte van Suid-Afrika). Verskeie moderne Nederlandse outeurs (soos Wolkers en Mulisch) ontbreek (vanweë kopieregweiering) en daarom kan hierdie reeks op geen manier as "verteenwoordigend" van die Nederlandse literatuur beskou word nie. Vanweë finansiële oorwegings (op skool is slegs prosawerke en enkele dramas voorgeskryf) word veral prosawerke in hierdie reeks opgeneem. Dit sou oordrewe wees om te praat van 'n Suid-Afrikaanse "resepsie" van De onrustzaaier, hoewel dit een van die weinige moderne Nederlandse tekste is wat kort na verskyning wel in Suid-Afrika bespreek is. Op 21 November 1956 verskyn 'n stuk getitel "'n Gawe boek" deur N.P. van Wyk Louw in Die Huisgenoot. Hierdie stuk word later opgeneem in sy invloedryke Vernuwing in die prosa (1961). Louw steek van wal met hoë lof vir hierdie roman wat hy as model voorhou vir selfs "die beste Afrikaanse romans." Op die spoor van sy gewaardeerde vriend Greshoff, sonder Louw ook die onpartydigheid ("sagte ironie", noem hy dit) van Van Maanen uit as 'n "romandeug". "Selde", sê Louw (1961: 60) "het 'n mens die gevoel dat die skrywer bloot wil sê: só is die lewe, só ryk aan verskeidenheid, so boeiend." Benewens die seldsame en dan funksionele (natuur) beskrywings sonder Van Wyk Louw die slot uit wat hy "groots" noem en selfs meer verantwoord as Graham Greene se uitbeelding van die wonder aan die einde van The end of the Affair. N.P. van Wyk Louw hou hierdie boek voor as model aan Afrikaanse prosaïste in sy besonder invloedryke bestekopname van die Afrikaanse prosa. Daaruit blyk dat hy De onrutszaaier aangryp omdat dit juis die deugde beliggaam waarna hy op soek is, veral "objektiwiteit", "onderbeklemtoning", "sagte ironie" en "funksionele (natuur)beskrywings". Gesien Van Wyk Louw se onbetwyfelbare status in dié jare, spreek dit haas vanself dat skrywers (en herskrywers) hierdie "raad" ernstig moes opgeneem het. Deur die "eggo" van Greshoff is Van Wyk Louw ook in der waarheid besig om Greshoff tot beskermheer te verhef, wat weer eens Lefevere se siening van sisteemverandering bevestig. In sy inleidende toeligting tot hierdie romanuitgawe in die reeks "Literatuur uit die Lae Lande" wys L. Eksteen duideliker op die verskil wat bestaan tussen die skrywer (Van Maanen) en die verteller (Pilaar): "dit is juis Van Maanen se deug as romansier dat hy hom nêrens as skrywer op die voorgrond bring of hom opdring nie. En die notaris is nie heeltemal so objektief teenoor meester Chris as wat hy teenoor die ander figure in die verhaal is nie" (Eksteen 1980: 29). Hieruit is af te lei dat Eksteen steeds van oordeel is dat Van Maanen "onpartydig" is. André P. Brink (1975: 46) impliseer daarenteen wel dat meester Chris as ideaal voorgehou word: "die merkwaardige is dat hy dalk [...] des te béter die essensie van die verhouding Christus-gemeenskap illustreer: Christus as rebel teen die heersende stelsel." Die vermelding van Van Maanen (saam met internasionaal-bekende skrywers) in 'n korterige eksemplariese boek oor vernuwing in die prosa, is uitsonderlike lof vir hierdie outeur. 'n Mens ontkom egter nie aan 'n paar moontlike afleidings nie: Brink se eie "kontekstuele" verwysingsveld is dalk enersyds gekleur deur die status van Van Wyk Louw, een van die grootste kanoniseerders in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis (Van Coller 1995). So 'n verklaring is egter na my gevoel nie volledig genoeg nie. Dit is egter duidelik naïef om Brink se duidelike oorskatting van Van Maanen se werk as bloot 'n faux pas af te maak. Brink is self 'n belangrike skrywer (en kanoniseerder) wat in die jare sewentig (vergelyk maar net sy optrede by die 1973-byeenkoms van die Sestigers) daarna streef om maatskaplike betrokkenheid as "poëtikale" opvatting te vestig. Binne Lefevere (1989) se voorstelling, het Brink met hierdie propagering van 'n "nuwe" poëtika dus 'n beskermheer ("patron") nodig. Deur Van Wyk Louw se vroeëre positiewe oordeel oor Van Maanen as 't ware te eggo, word Van Wyk Louw in die rol van beskermheer geplaas. Boonop word Van Maanen - anders as by Van Wyk Louw - skielik in die hoofstroom van (Camusverwante) Sestigerdenke geplaas. Na my oordeel is hier veel eerder sprake van 'n slim kanoniseringstrategie. In die kontemporêre Nederlandse resepsie en ook in die aanvanklike Suid-Afrikaanse ontvangs, oorheers 'n ironiese lesing van De onrustzaaier. Dit maak van hierdie roman, ten spyte van die lof in hierdie interpretasie vervat, 'n "veilige", selfs milde roman omdat die ironie in wese relativerend is. Die satire daarenteen, is strydvaardig en daarom dikwels normdeurbrekend. 'n Nuwe teoretiese raamwerk het dikwels die gevolg dat onderwaardeerde aspekte van 'n werk (nuut) belig word en dat tekste selfs totaal anders gelees word. Van Coller (1982 en 1983) interpreteer De onrustzaaier binne die paradigma van literêre pragmatiek / taalhandelinge as 'n teks waarin die bedoelde perlokusie ver staan van die ironie. Dit is in feite 'n werk waarin sterk standpunt ingeneem word teen die burgerlike fatsoen, soos beliggaam in Notaris Pilaar. Die stigmatisering van Pilaar vind op verskeie maniere plaas: Drankinname. Tydens die drie uur vertellerstyd (108 bladsye verteltyd) drink Pilaar drie bottels wyn en boonop verskeie glasies cognac. Die "selfkennis" waartoe hy volgens Eksteen kom (1980: 15), word hierdeur al gerelativeer. Beeldspraak. Eksteen (1980: 18) wys daarop dat Pilaar aan die einde van sy vertelling met "'n skerp en helder insig (besef) dat hy die nederlaag volkome gely het." 'n Opname van Pilaar se taalgebruik (vergelyk Van Coller 1982: 245) toon dat sy gebruik van militêre beeldspraak geensins verander nie. Sy strewe om eiebelang voorop te plaas trouens ook nie, want hy sien in Gait steeds iemand wat tot sy eie voordeel sou kon wees. Dit bevestig dat Pilaar (soos sy naam aandui) onveranderlik is. Verwysings. Uit 'n studie van veral die Bybelse verwysings (onder andere na die Gelykenis van die Saaier, vergelyk Van Coller 1982) blyk dat Meester Chris sy eisoortige verlossingsboodskap na hierdie stadjie (Kampen) bring. Hy plaas nie die klem op die Hiernamaals nie, maar op die hier en nou, en beklemtoon die beginsel van maatskaplike hervorming en die sosialistiese idee van gelykheid. In wese is sy boodskap van liefde vir die naaste (volgens Christus self die "grootste gebod", onder andere in Matt. 22: 39) veel meer in pas met die Christelike moraal as die selfsugtige optredes van Heeringa en mej. Heidendaal. Ruimte. Hierdie stadjie word doelbewus geteken as 'n afgeslote Middeleeuse ruimte (Van Coller 1983: 123). Met Meester Chris se verskyning word die inwoners tot 'n Verligting geskok en met sy vertrek keer die duisternis simbolies terug: "de zon is bijna onder", merk Pilaar op (135). In die roman kontrasteer opponerende ruimtes deurgaans met simboliese effek: die donker woonruimtes van die "geleerdes", te wete mej. Heidendaal en Heeringa, staan byvoorbeeld afgeteken teenoor Gait se vader se werkplek in die buitelug. Ruimtelik en filosofies ontsnap hy derhalwe aan die Middeleeuse duisternis want in sy denke is hierdie ongeleerde man kind van die Verligting. Soos Pilaar se huis vasgebou is aan die stadspoorte, kan hy hom ook nie geestelik losmaak van die dogmatisme en benepenheid wat hierdie stadjie kenmerk nie. Hy bly tot aan die einde van die roman die beliggaming van én die Middeleeuse poortwagter én die onbetrokke Pilatus. Van "ligte ironie" en neutraliteit soos byvoorbeeld Greshoff en Van Wyk Louw beweer, is daar, aldus Van Coller, in hierdie roman weinig sprake. Dit is in feite 'n genadelose hekeling van verskeie satiriese objekte: skynheiligheid, vormgodsdiens, liefdeloosheid teenoor die naaste, materialisme, ensovoort. Dit vind geraffineerd neerslag in die wyse waarop die verteller hier gestigmatiseer word. Die satiriese norm is te vinde op verskeie plekke in die roman, dalk selde beter as in die ironiese besef dat "de ware christene ... onder de mensen die niets aan het geloof doen, [zitten]" (110). Dit sou verwaand van my wees om te beweer dat die Nederlandse resepsie gebrekkig, selfs "foutief" was. Wel lyk dit vir my asof die klemplasing op (milde) ironie hierdie werk benadeel het binne die Nederlandse na-oorlogse prosatradisie van veel feller opstand teen burgerlike norme. Na my gevoel het juis die besef van die normdeurbrekende aard van hierdie roman hom 'n staanplek verseker in die Afrikaanse literatuurbeoefening omdat ons eie literatuur die afgelope dekades gestaan het in 'n (satiriese) tradisie van betrokkenheid. Anbeek skryf dat literatuurgeskiedskrywing wat hom rig op normverandering die moontlikheid bied om 'n verbintenis te lê met maatskaplike veranderinge en tewens vergelyking met die ontwikkeling in ander taalgebiede moontlik maak. Hoewel dit vanselfsprekend so is dat (bepaalde) maatskaplike veranderinge ook 'n direkte uitwerking kan hê op literêre evolusie, is daar geen blote wetmatigheid van oorsaak en gevolg in hierdie verhouding nie. Weens interne dinamiek, sal een literêre sisteem binne vergelykbare historiese omstandighede ook anders ontwikkel as 'n ander. 'n Benadering soos dié van Anbeek, wat (krampagtig) uitgaan van normdeurbreking binne 'n bepaalde literêre sisteem bekyk dié sisteem as 't ware in isolasie. Omdat dit skrywers negeer van wie geen "uitstraling" uitgegaan het nie (Anbeek 1990: 265), word sekere kategorieë werke en outeurs maklik uitgesluit. So word die oë byvoorbeeld gesluit vir "eksterne" aspekte wat na my gevoel ook relevant behoort te wees in literatuurgeskiedskrywing. Dat 'n bepaalde skrywer, soos Cees Nooteboom, in die buiteland groot bekendheid geniet en dikwels vertaal word, beteken dat hy daar 'n bepaalde "uitstraling" het en hierdie feit behoort ook sy "plek" in die Nederlandse literatuur te raak. Op dieselfde wyse is die inpak van Willem van Maanen in Suid-Afrika ook nie sonder enige relevansie vir die Nederlandse letterkunde nie. 'n Ander nadeel van Anbeek se benadering is dat "randfiguren" maklik in vergetelheid kan verdwyn. Hulle is figure wat periferaal staan ten opsigte van wat Anbeek noem 'n "gezamentlijke revolutie" - byvoorbeeld die vernuwing van Vyftig - of ten opsigte van 'n "programma". Wat Van Deel (1986: 90) skryf oor Willem Brakman is ten dele ook van toepassing op Van Maanen: "Er zijn allerlei faktoren voorstelbaar die ertoe hebben bijgedragen dat schrijvers als Brakman [...] onderbelicht bleven. In het algemeen kan men zeggen dat het literair klimaat hun parten heeft gespeeld. De jaren zestig waren natuurlijk de jaren van [...] schrijvers die zich ook publiekelijk manifestereerden en die zekere taboes doorbraken. [...] De andere soort literatuur die de aandacht ving [...] was de experimenterende [...]. Beide soorten verdrongen de mogelijke belangstelling voor veelal meer traditionele, rustig en onopvallend doorwerkende schrijvers, die bovendien hun persoon niet mengden in het literaire beoordelingsmechanisme." Normdeurbreking word gewoonlik gesinjaleer deur resipiënte van literatuur (dus resensente en ander kritici). Hoewel dit selde gebeur, is dit in beginsel wel moontlik dat belangrike werke later eers (her)ontdek word vanweë 'n aanvanklike gebrekkige resepsie óf dat die uitstraling daarvan nie onmiddellik neerslag vind in resepsies nie maar veel later sigbaar word in "kreatiewe resepsie". Dit is 'n vorm van intertekstualiteit waardeur ander (literêre) werke 'n verband lê met hierdie miskende werke. Dit het byvoorbeeld in die Modernisme gebeur dat "many breaks with convention, which would later on be acknowledged as major innovations [...] were nor recognized as such by most contemporaries" (D'haen en andere, 1989: xix). Boonop is die beginsel van normdeurbreking 'n oorbeklemtoning van die Estetika van Opposisie ten koste van die Etsetika van Identiteit. In D'haen en andere (1989) word 'n stewige saak uitgemaak daarvoor dat konvensie en vernuwing beide 'n rol speel in die evolusie van 'n literêre sisteem, trouens "in the contemporary literary market the stocks of 'innovation' are going down, and those of 'continuity' are on the rise" (p. vii). Vernuwing geskied veelal in dialoog met die tradisie en die hele opvatting van geskiedenis "as a series of short time breaks with the past", is agterhaal. Evolusie word gesien as 'n uiters komplekse fenomeen wat geleidelik plaasvind (D'haen 1989: xii). Uit die voorafgaande blyk hopelik dat selfs gemarginaliseerde tekste insig bied in die boeiende werking van kanonisering en literêre sisteme. Hoewel ek glad nie wil beweer dat De onrustzaaier een van die grootste Nederlandse na-oorlogse romans is nie, is dit bepaald 'n roman wat om 'n verskeidenheid redes op sy minste 'n voetnoot verdien in nuwe, bygewerkte uitgawes van bestaande literatuurgeskiedenisse. U.O.V.S., Bloemfontein Bibliografie opskrif Anbeek, Ton. 1990. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur tussen 1885 en 1985. Amsterdam: Uitgeverij De Arbeiderspers. Brink, André P. 1975. Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad: Academica. D'haen, Theo; Rainer Gröbel; Helmut Lethen. 1989. Convention and Innovation in Literature. Amsterdam / Philadelphia: John Benjamins Publishing Company. Daemen-De Gelder, Katrien. 1996. Canonvorming in de negentiende eeuw op het gebied van taal, genre en sekse in de profane Schotse en Zuidnederlandse litertuur van 1530 tot 1630. Ongepubliseerde samevatting van proefskrif: Vrije Universiteit van Amsterdam. Eksteen, Louis. 1980. Inleiding en aantekeninge by De onrustzaaier deur Willem G. van Maanen. Kaapstad: Academica. Greshoff, Jan. 1955. "Een voortreffelijke roman" In: Het Vaderland, 19 Maart. Kannemeyer, J.C. 1994. 'n Deurtastende kritiese ondersoek? Gerrit Olivier en N.P. van Wyk Louw. Tydskrif vir letterkunde. 32(2), Augustus: 54-69. Knuvelder, G.P.M. 197035. Schets. Geschiedenis. Nederlandse letterkunde. 's-Hertgenbosch: L.C.G. Malmberg. Kuypers, Julien; Theo de Ronde. 1972. Elfde druk. Beknopte geschiedenis van de Nederlandse letterkunde. Antwerpen: De Sikkel. Lefevere, André. 1989. The Dynamics of the System: Convention and Innovation in Literary History. In D'Haen en andere: 37-55. Lodewick, H.J.M.F. 1959. Literatuur. Geschiedenis en bloemlezing. Tweede deel: Omstreeks 1880 tot heden. 's-Hertogenbosch: L.C.G. Malmberg. Louw, N.P. van Wyk. 1961. Vernuwing in die nuwe prosa. Grepe uit ons Afrikaanse ervaring. Kaapstad: Human en Rousseau. Malan, Charles (red.). 1983. Letterkunde en leser. 'n Inleiding tot lesersgerigte literêre ondersoeke. Durban/Pretoria: Butterworth. Mosheuvel, L.H. 1956. "Toeschouwers en spelers". In: Haags Dagblad, 5 Maart. Panhuijsen, Jos. 1955. "De onrustzaaier. Meesterlijke kleine roman van Willem G. van Maanen". In: Het Binnenhof, 8 Januarie. Schenkeveld-Van der Dussen, M.A. (Hoofred.). 1993. Nederlandse literatuur, een geschiedenis. Groningen: Martinus Nijhoff Uitgevers. Sivirsky, A. 1960. Het beeld der Nederlandse literatuur. (Tweede deel). Groningen: J.B. Wolters. Stuiveling, G. 1959. Schets van de Nederlandse letterkunde. Groningen: J.B. Wolters. Van Coller, H.P. 1982. "Pilatus of pilaar. 'n Ondersoek na illokusieverwagtings in De onrustzaaier deur Willem van Maanen". In: Van Jaarsveld, 1982: 237-51. Van Coller, H.P. 1983. "Kommunikasie as manipulasie". In: Malan, 1983: 113-25. Van Coller, H.P. 1995. N.P. van Wyk Louw as kanoniseerder. XXIVe N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, Randse Afrikaanse Universiteit. Johannesburg: Ongepubliseerd. Van der Pol, Kees. 1984. Willem G. van Maanen. Kritsich Literair Lexicon, Mei. Van Gorp, H.; R. Ghesquire; D. Delabastita; J. Flamend. 1991. Lexicon van Literaire Termen. Stromingen en genres. Theoretische begrippen. Retorische procédés en stijlfiguren. Leuven: Wolters. Van Hoof, Guy. 1982. "Willem G. van Maanen: de grenzen tussen schijn en werkelijkheid". In: Gazet van Antwerpen, 18/19 September. Van Jaarsveld, G.J. (red.) 1982. Wat sê jy? Opstelle oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill. Van Maanen, Willem G. 1977. "Een schrijver moet af en toe op zijn bek vallen". In: Het Vrije Volk. 12 Maart. Van Peer, Will; Sophie Levie. 1993. Sleutelwerken. Een letterkundig alfabet. Leuven-Apeldoorn: Garant. Zuiderent, Ad. 1977. "Nieuw nederlands proza". In: Trouw, 12 September.