Die Dag van die Here Deur Johan Malan Internet weergawe Opsomming: 'n Getranskribeerde weergawe van 22 boodskappe oor die boek Openbaring deur prof. Johan Malan. Die boodskappe is in 1998 in die program Lig uit die Woord oor Radio Tygerberg uitgesaai. Hierdie program is onder redaksie van ds. Soon Zevenster, wat ook tot die inhoud daarvan bygedra het. INHOUDSOPGAWE Voorwoord Inleiding tot die boek Openbaring Openbaring van die verheerlikte Christus (Op. 1) Die kerk op aarde [1] (Op. 2-3) Die kerk op aarde [2] (Op. 2-3) Die kerk op aarde [3] (Op. 2-3) Die kerk in die hemel (Op. 4-5) Die regterstoel van Christus (Op. 4-5) Die sewe seëls (Op. 6) Redding in die uur van duisternis (Op. 7) Die sewe basuine (Op. 8-10) Die tempel en die twee getuies (Op. 11) Die ontvlugting van Israel (Op. 12) Skrikbewind van die Antichris (Op. 13) Eienskappe van die Antichris (Op. 13) Die valse profeet (Op. 13) Die sewe laaste plae (Op. 14-16) Godsdienstige en politieke Babilon (Op. 17) Ekonomiese Babilon (Op. 18) Die wederkoms van Christus (Op. 19) Die duisendjarige vrederyk (Op. 20) Die eindoordeel en die nuwe skepping (Op. 20-22) 'n Strategie vir oorlewing VOORWOORD Die boek Openbaring is seker een van die mees verwaarloosde en terselfdertyd ook een van die mees omstrede boeke in die Bybel. Die geweldig uiteenlopende standpunte van skrywers en predikers wat dit interpreteer, maak dit nóg moeiliker om duidelikheid oor die boodskap van Openbaring te kry. Baie bybelkolleges en kweekskole vermy eenvoudig hierdie geseënde boek en dit kom nie meer in hul studieprogramme oor die Nuwe Testament voor nie. Wanneer dit wél onder oë geneem word, word dit uiters oppervlakkig gedoen. Die tragiese gevolg hiervan is dat die boek Openbaring in prediking vermy word. Die mens poog doelbewus om met hierdie boek te doen presies dit wat God gesê het dat ons nié moet doen nie: "En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby" (Op. 22:10; vgl. ook Dan. 12:4). Die boek Openbaring is geskryf om gelees en verstaan te word. Die boodskap daarvan was nog nooit so aktueel as juis nou nie. Ons staan op die drumpel van die groot oomblik van die wegname en verheerliking van Christus se bruidsgemeente en die oordele van God wat die aarde gaan tref. Hierdie is 'n boek van voltooiing, van afronding en vervolmaking, daarom is dit ook so gepas die laaste boek in die Bybel. Prof. Johan Malan slaag met sy besondere skryfstyl meesterlik daarin om die boek Openbaring inderdaad vir die man op die straat oop te sluit. In evangeliese kringe dwarsdeur Suid-Afrika en verder het hy homself bewys as iemand wat nie net die wederkoms liefhet nie, maar ook in die lig daarvan lewe. Oor baie jare het hy homself deeglik in hierdie onderwerp ingegrawe. Hierdie boek, Die Dag van die Here, is die gevolg van 'n reeks van 22 boodskappe wat met groot seën en geweldige positiewe reaksie oor Radio Tygerberg uitgesaai is. My bede is dat die boek dieselfde uitwerking sal hê en 'n positiewe bydrae sal lewer om soekende mense te help om by Jesus uit te kom, en dat kinders van God vir die wederkoms van die Here Jesus gereed sal wees. DS. SOON ZEVENSTER BESTUURDER : RADIO TYGERBERG Die Dag van die Here 1. Inleiding tot die boek Openbaring Inhoudsopgawe Openbaring is belangrik omdat dit die laaste Goddelik geïnspireerde bybelboek is wat geskryf is. Dit is korrek as die laaste boek in die Bybel geplaas. Soos wat die Nuwe Testament in die vier Evangelies met die eerste koms van Christus open, so beëindig Openbaring die Nuwe Testament met die algemene tema van Christus se tweede koms. Volgens proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) is Openbaring die finale ontplooing van verskeie openbaringslyne wat deur die Ou- en Nuwe Testamente loop. Dit dui die finale vervulling van talle onvervulde profesieë aan. Die wederkoms van Jesus en die sewe jaar van die verdrukking wat dit direk voorafgaan, word in Openbaring in veel meer detail as in enige ander bybelboek beskryf. In die boek Daniël word die tydperk tussen Daniël en die eerste koms van Christus beskryf, terwyl hy in minder detail ook na die Antichris, die groot verdrukking en Christus se regering op aarde ná sy wederkoms verwys. In Openbaring word die groot eindtydse gebeure egter in besonderhede beskryf, en word die profetiese perspektief verder tot by die skepping van die nuwe hemel en nuwe aarde deurgetrek. Openbaring bou dus voort op, en verskaf ook die finale ontplooiing van, dit wat in Daniël en ander profetiese boeke beskryf is. Outeurskap In Openbaring 1:1 word uitdruklik gesê dat die boek deur die Here se dienskneg, Johannes, geskryf is. Die meeste evangeliese geleerdes aanvaar die feit dat die apostel Johannes die outeur van die boek is. Toe Johannes die visioene ontvang het, was hy 'n banneling op die eiland Patmos. Hy is daarheen verban deur keiser Domitianus wat van 84 tot 96 n.C. as 'n tiran in Rome regeer het. Domitianus was 'n tweede Nero wat die Christendom wortel en tak probeer uitroei het. Hy het keiserlike aanbidding geëis. Christene wat geweier het om hulle hieraan te onderwerp, is op die wreedste denkbare maniere vervolg, gemartel en doodgemaak. Hierdie keiser het Johannes, wat as 'n ou man die gemeente in Éfese bedien het, na Patmos verban. Só het Johannes op 'n klein, rotsagtige eilandjie in die Egéïese See tussen Klein Asië (die huidige Turkeie) en Griekeland beland. Hier het hy tot met die dood van Domitianus in 96 n.C. gebly, waarna hy toegelaat is om na Éfese terug te keer. Die boek Openbaring is in 95 of 96 n.C. op hierdie eiland geskryf. Die groot vraag wat Johannes op Patmos moes geteister het, was sekerlik: "Wat gaan van die kerk van Christus word te midde van al die vervolging?" In antwoord op hierdie vraag ontvang hy op die eensame eiland 'n visioen oor toekomstige gebeure uit die hemel. Hierin is nie net die groot stryd van Satan teen die koninkryk van God geopenbaar nie, maar ook die uiteindelike oorwinning van Christus oor die magte van die duisternis. In skrille kontras word die heerlikheid en heerskappy van die Here gestel teenoor die rebellie, oordele en verdoemenis van die sondaars en hulle misleiers, die duiwel, die Antichris en die valse profeet. Die doel van die boek Die doel van die boek is om dinge te openbaar wat kort vóór, gedurende, en direk ná die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. In ooreenstemming met hierdie doel word die grootste deel van die boek aan gebeure van die laaste sewe jaar voor Jesus se wederkoms gewy, soos in Openbaring 4 tot 18 beskryf. Die wederkoms self word op dramatiese wyse in Openbaring 19 beskryf, gevolg deur die duisendjarige vrederyk van Christus in Openbaring 20, en die eindoordeel daarna. In Openbaring 21 en 22 word die ewige staat geopenbaar. Die boek Openbaring voltooi die profetiese temas wat in ander boeke van die Ou- en Nuwe Testament bespreek is, veral dié in die boek Daniël en die profetiese rede van die Here Jesus. Belangrike teologiese stellings word ook gemaak - nie net oor die eskatologie (die leer oor die eindtydse dinge) nie, maar ook oor die verlossingsleer, heiligmaking, Christelike diensbaarheid en die volharding wat die heiliges te midde van stryd en aanvegtinge aan die dag moet lê. Kennis van en 'n verwagting oor God se toekomstige program is 'n groot aansporing tot 'n heilige lewenswandel en 'n onkreukbare toewyding aan Christus in 'n vervallende wêreld. Petrus sê: "Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? - julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas" (2 Pet. 3:11-12). Die dag van die Here Die visioene wat Johannes ontvang, word duidelik binne die konteks van die dag van die Here geplaas. Hy sê: "Ek was in die Gees op die dag van die Here" (Op. 1:10). Hierdie uitdrukking verwys na die ervaring waarin 'n mens weggevoer word tot 'n staat waarin God op 'n bonatuurlike wyse met die mens kommunikeer. Dit was ook die ervaring van Eségiël (Eseg. 2:2, 3:12 en 14), Petrus (Hand. 10:10-11 en 11:5), en Paulus (Hand. 22:17-18). Daar is mense wat verkeerdelik die uitdrukking "die dag van die Here" as "Sondag" of selfs as die "Sabbat" interpreteer. Nêrens in die Bybel word na Sondag as "die dag van die Here" verwys nie, maar deurgaans as "die eerste dag van die week" (vgl. Matt. 28:1, Mark. 16:2, Luk. 24:1, Joh. 20:1 en 19, Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:2). Die uitdrukking "die dag van die Here" dra duidelik 'n eindtydse (eskatologiese) betekenis. Verskeie van die Ou Testamentiese profete hiet hierna verwys. Die visioene wat Johannes op Patmos ontvang het, het duidelik ook op die komende dag van die Here betrekking. Johannes praat van die dag van die Here wanneer sy oordele oor die sondaars uitgestort gaan word. Paniekbevange mense sal dan vir die berge en rotse sê: "Val op ons en verberg ons vir aangesig van Hom wat die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:16-17). In Openbaring 16:14 word na die slag van Armagéddon verwys as "die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God." Jesaja sê in hoofstuk 2:12 dat daar 'n dag vir die Here is wanneer Hy al die trotses en verhewenes sal verneder. In hoofstuk 13:6 en 9 sê hy die dag van die Here kom as 'n verwoesting van die Almagtige. Hierdie dag sal verskriklik wees, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. In hoofstuk 34:8 noem hy die dag van die Here 'n dag van wraak en 'n jaar van vergelding. Joël sê in hoofstuk 1:15 dat die dag van die Here kom soos 'n verwoesting van die Almagtige. In hoofstuk 2:11 sê hy: "Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?" In hoofstuk 3:14 sê hy dat daar in dié dag menigtes van mense in die dal van beslissing sal wees. Die geweldige oorloë wat in die groot verdrukking in en om Jerusalem sal uitbreek, word in Sagaria 14 spesifiek aan die dag van die Here verbind. In hierdie hoofstuk word die wederkoms van Jesus ook beskryf, wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit. Hy sal deur 'n hemelse leërskare gevolg word en met sy vyande in die gerig tree. Maleági sê in hoofstuk 3:2: "Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?" In hoofstuk 4:1 en 2 sê hy: "Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, 'n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare.. Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees." In 1 Thessalonicense 5:1-11 verwys Paulus ook na die dag van die Here wat sal kom soos 'n dief in die nag, asook Petrus in 1 Pet. 3:10-12. Dit is duidelik dat die begrip "die dag van die Here" altyd 'n eindtydse betekenis het, en meesal verwys na die groot oordele van God wat in die boek Openbaring beskryf word. Johannes en die vroeë kerkvaders Om meer duidelikheid oor Openbaring se futuristiese strekking te kry, sal vasgestel moet word wat Johannes self daaroor geleer het toe hy van Patmos af vrygelaat is en sy bediening in Klein Asië voortgesit het. Kerkvaders wat sy leerlinge was, gee duidelik hieroor uitsluitsel en laat blyk dat veel gesprek oor hierdie saak gevoer is. Die volgende inligting is hoofsaaklik uit ds. W.H.M. Oosthuizen se boek As die seun van die mens kom (bl. 106-108) verkry: Papias, die biskop van Smirna, was 'n leerling van Johannes en het eerstehands van die outeur se eie beskouinge oor die boek Openbaring kennis geneem. Hierdie kerkvader se siening is baie belangrik omdat hy die skakel tussen die chiliastiese tradisie en die apostels is. Papias het geleer dat daar ná die opstanding van die dode 'n koninkryk van Christus op aarde sal wees wat 'n duisend jaar sal duur, en waarin Christus liggaamlik as Koning op die troon sal sit. Die aarde sal 'n tyd van ongekende vrugbaarheid beleef, en te midde van groot voorspoed sal Christus met sy heiliges regeer. Justinus het vroeg in die tweede eeu geskryf: "'n Sekere man onder ons, wie se naam Johannes is, een van die apostels van Jesus, het geprofeteer in 'n openbaring wat hy gehad het, dat diegene wat in ons Here Jesus glo, 'n duisend jaar in Jerusalem sal deurbring." 'n Ander kerkvader, Polikarpus, wat een van die jongste leerlinge van die apostel Johannes was, was 'n vroom Christen wat ook 'n marteldood gesterf het. Op die gesag van Johannes het hy geleer dat die aarde gedurende die duisendjarige vrederyk baie vrugbaar sal wees. Ook van belang is die beskouinge van Ireneüs wat uit die mond van sy leermeester, Polikarpus, gehoor het wat die standpunt van Johannes was. Hy leer dat die loon van die regverdiges daarin sal bestaan dat hulle tussen die dode sal opstaan wanneer die skepping vernuwe en vrugbaar gemaak sal word. Hy meen dat elkeen van die ses skeppingsdae op 'n duisend jaar dui en dat die wêreldgeskiedenis dus, nadat sesduisend jaar verloop het, deur die sewende dag opgevolg sal word wat ook 'n duisend jaar sal duur. Hierdie laasgenoemde gedagte word by verskeie kerkvaders aangetref, onder andere Cyprianus, Barnabas en Laktantius. In dié verband verklaar die Schaff-Herzog Ensiklopedie: "Die algemene beskouing van die vaders was dat die Here aan die end van die sesde millennium sou verskyn. Die ou beskouing was dat hierdie koninkryk, wat met die sabbat van die skepping ooreenstem, 'n duisend jaar sou duur." Huidige interpretasie van die boek Die duisendjarige vrederyk wat volgens Openbaring 20 ná die wederkoms van Christus sal aanbreek is ten spyte van die inligting wat reeds genoem is, nog steeds 'n onderwerp van groot omstredenheid. Christene word op grond hiervan in verskillende leerstellige skole geplaas. Mense wat die boek Openbaring op 'n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in 'n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. 'n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is. 'n Persoon wat nie in 'n letterlike duisendjarige ryk glo nie, word 'n antichilias of 'n amillennialis genoem. Sulke mense is geneig om baie ander dinge in die Bybel ook deur vergeesteliking nuwe betekenisse te gee. As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of interpretatiewe beginsels vir die verklaring van die boek Openbaring gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die Goddelike inspirasie van die boek in die gedrang bring. Die volgende is die drie algemeenste benaderings tot die boek: 1. Die vergeestelikingsbenadering Dit word ook die allegoriese of nie-letterlike benadering genoem. Hierdie verklaringsmetode kom uit die Alexandrynse teologiese denkrigting van die derde en vierde eeue, in terme waarvan die hele Bybel allegories verklaar en begrippe vergeestelik word. Later is hierdie verklaringsmetode deur Augustinus hoofsaaklik tot profesieë oor die eindtyd beperk, insluitende die millennium, of duisendjarige vrederyk. Dit word vandag nog steeds deur baie teoloë gedoen. Vir hulle is die hele boek Openbaring 'n simboliese voorstelling van God se uiteindelike oorwinning. Vir hulle is daar ook nie 'n letterlike millennium nie, daarom word hulle as amillennialiste of antichiliaste beskryf. In terme van hulle vergeestelikingsteologie glo die antichiliaste ook nie aan die eindtydse herstel van die volk Israel na hulle eie land nie, omdat die kerk as die nuwe Israel gesien word. Dit is 'n voorbeeld van vervangingsteologie waarin 'n Bybelse begrip eers vergeestelik en dan deur iets anders vervang word. Die wegraping word deur hierdie mense weggeredeneer, en deur vergeesteliking raak hulle ook van baie ander konkrete Bybelse uitsprake ontslae. 2. Die historiese benadering Hierdie benadering het sy beslag in die Middeleeue gekry, en hiervolgens word die meeste van die gebeure wat in Openbaring beskryf word, as reeds vervul beskou. Ook die uitsprake oor die millennium word op die kerkbedeling van toepassing gemaak, daarom is aanhangers van hierdie benadering postmillennialiste wat glo dat die Here se wederkoms ná die huidige 'millennium' sal plaasvind. Die grootste probleem met hierdie benadering is dat daar selde twee verklaarders is wat 'n bepaalde gedeelte op dieselfde wyse vertolk. Sommige sal bv. beweer dat Nero die Antichris was, terwyl andere se keuse weer op een of meer van die pouse sal val. Elke nuwe geslag postmillennialiste lewer nuwe verklarings oor Openbaring op. 3. Die futuristiese benadering Hierdie benadering word deur konserwatiewe geleerdes gevolg wat van die standpunt uitgaan dat alles wat van Openbaring 4 af tot aan die einde van die boek beskryf word, toekomstige gebeure is wat nog vervul móét word. Die millennium lê vir hulle nog in die toekoms, daarom is hulle premillennialiste wat in Christus se wederkoms voor die duisendjarige vrederyk glo. Hulle aanvaar nie dat die kerk nou in die duisendjarige vrederyk is, waarin die duiwel gebind is nie - nie eers in 'n simboliese sin nie. Chiliaste eerbiedig die letterlike grondbetekenis van die Skrif, behalwe waar dit uit die verband baie duidelik is dat 'n gedeelte simbolies verklaar moet word. 'n Voorbeeld van simboliese taal is die verwysing na 'n draak met sewe koppe, wat volgens die Bybel se eie verklaring op die duiwel dui. Wanneer die Bybel egter van Israel, die groot verdrukking, die Antichris, die valse profeet, die slag van Armagéddon, en die binding en totale inperking van die duiwel ná die wederkoms van Christus praat, is daar geen rede om die betrokke begrippe deur allegorisering weg te verklaar en op 'n willekeurige wyse ander betekenisse daaraan toe te skryf nie. Beoordeling van die drie denkrigtings Vir die antichiliaste het die profetiese boodskap van Openbaring as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel sy letterlike betekenis verloor en dus grootliks afgewater geraak. Die chronologie van die boek word ook nie erken nie, omdat Openbaring 20 se beskrywing van die vrederyk as 'n wesenlike deel van hoofstuk 2 en 3 se beskrywing van die kerkgeskiedenis beskou word. Antichiliasme is dus tot 'n historiese verklaring van Bybelse profesieë verbind, omdat sy aanhangers beweer dat ons klaar in die vrederyk is en die meeste profesieë reeds vervul is. Hulle glo dat Jesus se wederkoms ná die huidige 'vrederyk' van die kerkbedeling sal plaasvind, daarom is hulle postmillennialiste. Chiliaste is egter premillennialiste wat glo dat Jesus éérs kom en dán volg die beloofde vrederyk. Ons glo wat in die Bybel staan en kyk na die vervulling van 'n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. 'n Antichiliastiese siening tas die geloofwaardigheid van die profetiese woord aan, en lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie en hulle in die algemeen baie min aan die vervulling van die tekens van die tye steur. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene 'n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel en hulleself feitlik uitsluitlik met sekulêre en verganklike dinge besig hou. Binne hierdie horisontalistiese perspektief word menseverhoudinge, broederliefde, asook moreel-etiese en politieke kwessies van oorheersende belang, en die mens-God-verhouding ál meer op die agtergrond geskuif. Chiliasme, daarenteen, fokus skerp op die grondwaarhede in die Skrif, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder 'n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here 'n groter realitiet in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende 'n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk na sy einde spoed. Binne 'n perspektief van hierdie aard word die tyd uitgekoop om andere te waarsku om hulle saak met die Here reg te maak. 'n Groter evangelisasie-ywer word op dié wyse gekweek, omdat die tyd vir die uitvoering van die groot opdrag min geword het. Dit maak jou nog meer aktief omdat jy besef dat jy 'n vreemdeling en bywoner in 'n verbygaande wêreld is. Verder spreek die profetiese woord jou aan om voortdurend in 'n toestand van heiligheid en gereedheid vir die wederkoms te leef, en elke dag reikhalsend na die koms van die Bruidegom uit te sien. Diegene van u wat die letterlike (chiliastiese) benadering van skrifverklaring en die afwysing van die moderne vergeestelikingsteologie ietwat vreemd vind, wil ek gerus stel en aanmoedig om met 'n oop gemoed die letterlike verklaring van Openbaring te oorweeg. Chiliasme was vir baie lank die oorheersende skrifbeskouing in die Protestantse wêreld (ook in Gereformeerde kerke) totdat dit deur liberale en vrysinnige teologiese verklarings vervang is. Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die Kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In 'n voorwoord vir die boek Die Laaste Nagwaak sê hy onder meer die volgende hieroor: "Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat 'n menigte wagters op Sionsmure dié waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en 'n dodelike swye daaroor bewaar. Wat gaan God van hulle eis?" Dit is nou, soos nooit tevore nie, tyd om die boek Openbaring met groot erns te benader en te lees. In die lig van die chronologiese sleutel wat reeds in hoofstuk 1 tot die verklaring daarvan verskaf is, en met 'n vasberade gesindheid van die verwerping van alle teologiese wanvoorstellings van Openbaring, moet u die lewensbelangrike boodskap van hierdie boek ter harte neem. Die profetiese woord is baie vas, en ons moet daarop ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dit sal baie sake oor die komende oordele van God vir u opklaar, en ook duidelike raad aan u gee oor hoe u hierdie oordele kan vryspring. Ek nooi u om saam met my op 'n ontdekkingsreis deur hierdie groot skatkamer van kennis oor die eindtyd te vertrek. Ons sal onnaspeurlike rykdomme van Christus se liefde en reddende genade ontdek, maar ook ernstige waarskuwings oor die donker nag van verskrikking wat vir almal wag wat hulle nie deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer het nie. 2. Openbaring van die verheerlikte Christus (Openbaring 1) Inhoudsopgawe Die heel eerste vers van Openbaring bevestig die feit dat hierdie boek nie 'n geslote geskrif of 'n abstrakte en onverstaanbare weergawe van toekomstige gebeure is nie, maar 'n openbaring of bekendstelling daarvan. Die woord Openbaring (Apokalipse) beteken ontsluiering, ontdekking, afneem van 'n deksel, of oopmaak wat verborge is. Die naam van hierdie boek is in ooreenstemming met Christus se opdrag in Openbaring 22:10 dat die woorde van die profesie van hierdie boek nie verseël moet word nie. Dit is bedoel om verstaan en verkondig te word. Die oorsprong van hierdie profesieë word duidelik gestel: "Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het" (Op. 1:1). Let daarop dat dit nie die Openbaring van Johannes is nie. Hy is wél die skrywer van die boek, maar Jesus is die Openbaarder! Dit is ook belangrik dat die titel van die boek in die enkelvoud is en nie in die meervoud nie. Dit is nie die Openbarings van Jesus nie, maar die Openbaring van Jesus. Hierdie boek is gefokus op die koms, verskyning, of openbaarmaking van Jesus Christus. Johannes sê dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is (Op. 19:10). Die profesieë oor die oordele van die groot verdrukking moet dus ook met Jesus in verband gebring word. Selfs die ongeredde wêreldlinge sal dit besef. Wanneer die kragte van die hemel geskud word, sal hulle uitroep dat die groot dag van die Lam se toorn gekom het en wie kan bestaan? (Op. 6:16-17). Doel van die boek Die Here sê die doel van hierdie openbaringe is "...om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur" (Op. 1:1). Die woord dienskneg kan ook vertaal word as slaaf. Ware Christene behoort aan die Here Jesus omdat Hy hulle gekoop het met sy bloed (1 Kor. 6:20; 1 Pet. 1:18-19). As die boek Openbaring vir sekere 'Christene' nog 'n geslote boek is, is dit moontlik daaraan te wyte dat hulle nog nie bloedgewaste diensknegte van die Here is nie. In Openbaring 5:9-10 getuig die ouderlinge in die hemel nie net van die vrymakende krag van die bloed nie, maar weet ook dat hulle ná die wederkoms op aarde as konings sal kom regeer! Hulle wéét wat die toekoms vir hulle inhou. Die Here gee deur hierdie boek 'n profetiese perspektief aan sy kinders. Hy vra dat hulle na die boodskap sal luister en ook begrip daarvoor sal hê. In Openbaring 2 en 3 word telkens gesê: "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê" (Op. 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22). Dit was nooit die bedoeling van God om hierdie boodskap vir sy kinders te verberg en te versluier nie. Deur die openbaring van Jesus op skrif te stel, het Johannes hierdie belangrike boodskap na die ganse kerk van Christus deurgegee. In vers 2 sê hy dat wat hy beskryf, 'n getroue weergawe van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus is. Hy is dus net 'n boodskapper van dit wat God self deur sy Seun aan die gemeentes wil sê. Petrus stel die belangrikheid van die profetiese woord baie duidelik wanneer hy sê: "En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte, terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Pet. 1:19-21). Hierdie profetiese lamp het deur die eeue heen geskyn en geestelike pelgrims se pad in 'n donker wêreld verlig. Abraham het in 'n vreemde land in tente gewoon, maar omdat hy 'n vergesig gehad het van 'n stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is, het hy in die geloof geleef soos iemand wie se burgerskap in die hemel is, in die nuwe Jerusalem (Heb. 11:9-10). Ons moet ook goed begryp dat die smal weg en die breë weg albei op hulle finale bestemmings afstuur. In Openbaring word dié twee bestemmings in skrille kontras teenoor mekaar gestel. Die smal weg stuur op ewige heerlikheid in die nuwe hemel, die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem af, en die breë weg op die oordele van God en 'n ewige nag van verskrikking in die poel van die vuur. Verder word daar ook beklemtoon dat die Here aan sy diensknegte wil toon wat góú moet gebeur. Die woord gou is 'n vertaling van die Grieks tachei. Hiervan is ons woord tagometer afgelei, wat 'n spoedmeter of 'n toereteller is. Dit beteken dat wanneer die eindtydse gebeure in Openbaring 4 met die wegname van die gemeente geaktiveer word, dit teen 'n hoë spoed in vervulling sal gaan en baie vinnig sal afspeel. God was vir eeue lank baie geduldig en lankmoedig met die mens: "Die Here vertraag nie die beloftes soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Pet. 3:9). Die oomblik sal egter kom wanneer God se lankmoedigheid met 'n verdorwe mensdom verby sal gaan. Dan sal Hy Homself in grimmigheid openbaar en sal dinge teen 'n verbysterende tempo gebeur. Die belofte van die boek Benewens die oordele van die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae, is daar ook sewe beloftes wat as saligsprekinge in Openbaring opgeteken is. Hulle is die volgende: "Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby" (Op. 1:3). "Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle" (Op. 14:13). "Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie" (Op. 16:15). "Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam" (Op. 19:9). "Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank" (Op. 20:6). "Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar" (Op. 22:7). "Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad" (Op. 22:14). Dit is nodig om hierdie saligsprekinge ter harte te neem en aan die voorwaardes daarvan te voldoen. Dit moet in ons harte bewaar en oordink word sodat ons ons lewens daarvolgens kan inrig. Die Here wil ook hê dat ons moet besef dat die tyd hiervoor naby is. Moenie die boek Openbaring opsyskuif en sê dat dit nog baie lank is voordat hierdie dinge gaan gebeur nie. Selfs mense wat in die tyd van die vroeë Christelike kerk of in die Middeleeue geleef het, het nét so nodig gehad om wederkomsgerig te leef en hulle gereed te maak om hulle God te ontmoet. Hulle moes ook 'n hemelse perspektief hê sodat hulle verby die tydelike en verganklike aardse dinge kon kyk na hulle ewige tuiste waarheen hulle op pad is. Alleen dán is 'n mens se prioriteite reg en maak jy deur 'n lewe van toewyding seker dat jou kleed rein bly. Jy maak ook vir jou skatte in die hemel bymekaar wat niemand van jou kan beroof nie. Selfs al sterf jy as 'n martelaar, dan sal hierdie werke van geloof jou na die regterstoel van Christus volg. Die belofte van die wederkoms motiveer jou ook om te midde van beproewinge te volhard tot die einde toe. Jy weet dat die bruilofsmaal van die Lam vir jou wag, en dat jy deur die pêrelpoorte van die nuwe Jerusalem sal ingaan om jou ewige tuiste in die hemel te beërf. Verwag jy die wederkoms van die Here Jesus en motiveer dit jou geestelik? Johannes sê dat hy wat die hoop op Christus se wederkoms het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Streef na morele én geestelike (leerstellige) reinheid in jou lewe deur teen alle besoedelinge van die gees en die vlees te waak. 'n Boodskap aan die gemeente van Christus Die openbaringsboodskap kom van die Drie-enige God, en die bestemming daarvan is die sewe gemeentes in Klein Asië. Omdat sewe die Bybelse getal van volheid is wat dikwels in die boek Openbaring gebruik word, word hierdie boodskap in werklikheid aan die ganse kerk van Christus deur die eeue heen gerig. Die uitnemende posisie van die Here Jesus as die Hoof van die gemeente word in ryk en beeldende taal beskryf. Dit is Hy wat ons liefgehad en van ons sondes gewas het in sy bloed. Hy is die Alfa en die Omega. As die Alfa is Hy die begin van die skepping van God, en ook die fondament en hoeksteen van die koninkryk van die hemele. Hy het die grondslag vir die verlossingsplan van die mens gelê, daarom is die begin van ons geestelike lewe ook in Hom geleë. As die Omega is Hy die voleinding van alle dinge en sal Hy ná die bedeling van die kerk weer kom om ons sy ewige heerlikheid binne te lei. Johannes sien die Here Jesus in die huidige bedeling as die Een wat tussen die sewe kandelare wandel, en intiem by die doen en late van sy kerk op aarde betrokke is. Die verskillende gemeentes word deur die kandelare voorgestel, wat die houers is waarin die olie van die Heilige Gees gegiet word. As die lidmate van die gemeente voortdurend met die Heilige Gees vervul is, kan hulle 'n helder lig in die donker wêreld laat skyn. Johannes sien vir Christus in sy verheerlikte voorkoms. Hy het 'n lang kleed aan wat tot op sy voete hang, gegord met 'n goue gordel. Hierdeur word sy priesterlike en koninklike waardigheid beklemtoon. Die wit hare versinnebeeld sy wysheid, terwyl sy oë wat soos 'n vuurvlam is, op sy indringende beoordeling en alwetendheid dui. Niks is vir sy oë bedek nie. Sy voete wat soos gloeiende koper in 'n oond is, beklemtoon sy volkome heiligheid en gelouterdheid. Hy het ter wille van ons sondes deur die vuur van God se oordele gegaan - deur Getsémane, Gólgota én die doderyk, sonder om te huiwer of terug te deins. Dink aan die groot offer wat Hy moes bring om hierdie pad te loop. Hy het die hemelse heerlikheid prysgegee om hier op aarde verwerp, geminag, bespot, geslaan en saam met rowers tereggestel te word. Hy was so misvormd van die géseling dat Hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie (Jes. 52:14). "Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en óns smarte - dié het Hy gedra..." (Jes. 53:3-4). Paulus skryf ook van Christus se bereidwilligheid om as 'n Kneg van God en Redder van sondaars na die aarde neer te daal, van sy vernederende dood ter wille van ons sonde, en die onbeskryflike heerlikheid wat Hom daarna in die hemel te beurt geval het: "Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader" (Fil. 2:6-11). Dit is die verheerlikte Christus wat Johannes tussen die kandelare sien wandel. Hy, wat tydens sy verhoor weens ons sonde Homself nie verweer en sy mond nie oopgemaak het nie (Jes. 53:7), praat nou met 'n stem wat klink soos dié van baie waters. Niemand kan dit demp, teen dit praat of die gesag daarvan daag nie. Sy woorde is soos 'n skerp tweesnydende swaard wat uit sy mond uitgaan - dit bring skeiding, spreek vry én veroordeel. Sy aangesig is soos die son wat alle duisternis verdryf, en sy spesiale getuies soos helder skynende sterre in sy regterhand. Hulle moet die lig van die son van geregtigheid in 'n donker wêreld laat skyn, en bereid wees om ook diensknegte te wees wat deur lyding en verdrukking gelouter word. Jesus Christus is die Een om wie alles in hierdie boek draai. Van die begin af het mense verskillend oor Hom gereageer. Simeon het kort ná die geboorte van Jesus al oor Hom gesê: "Kyk, hierdie kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word" (Luk. 2:34). Christus was die afgelope 2 000 jaar inderdaad vir miljoene mense die opstanding tot 'n nuwe lewe. Baie ander se val en ewige verderf is verseël omdat hulle Hom verwerp en die duisternis liewer gehad het as die lig. In Openbaring word Jesus volgens dié beginsel in twee hoedanighede geopenbaar, nl. as Verlosser en as Regter. Hy word eerstens as die Verlosser en Hoof van die gemeente geopenbaar - as die Een wat tussen die kandelare wandel, sy getroue diensknegte bemoedig, die onordelikes teregwys en die afvalliges tot bekering oproep. Die verheerliking van die kerk en die ewige koningskap van Jesus staan ook met sy verlossingswerk in verband. Tweedens word Hy as Regter geopenbaar wat in die gerig tree met almal wat Hom verwerp het. Tot op die laaste oomblik bied Hy hulle egter nog die geleentheid om Hom as Verlosser aan te neem. Uiteindelik, wanneer die volheid van die tyd aanbreek, breek Hy die seëls van God se oordele oor 'n Christus-verwerpende wêreld. Op die dag van sy verskyning op die Olyfberg sal Hy al die volgelinge van die Antichris en die valse profeet oordeel met die swaard wat uit sy mond uitgaan. In vrymaking, verheerliking én in veroordeling gaan dit oor die verhouding waarin mense teenoor Jesus Christus staan - vir Hom of teen Hom. Om hierdie rede sê Johannes ná die toekomsopenbaringe wat hy ontvang het: "Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie" (Op. 19:11). Volgorde van profetiese gebeure Die verheerlikte Christus spreek Johannes direk aan, maar hy word deur vrees oorweldig en val voor sy voete neer. Pas voordat die vernietigende eindtydse oordele aangekondig word, lê die Here sy hand gerusstellend op sy dienskneg en sê: "Moenie vrees nie." Hy het die laaste vyand, die dood, ook oorwin; daarom hoef almal wat aan Hom behoort, nie te vrees nie want hulle "kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe" (Joh. 5:24). Johannes kry in Openbaring 1:19 die opdrag om op te skryf die dinge wat hy gesien het, die dinge wat is sowel as die dinge wat gaan gebeur. Die wyse waarop die Here Jesus hierdie opdrag geformuleer het, is 'n belangrike sleutel tot die verstaan van die boek Openbaring, want dit onderskei drie reekse gebeure: Eerstens moet Johannes die dinge wat hy gesien het beskryf, nl. die verheerlikte Christus tussen die sewe kandelare. Tweedens moet hy verslag doen van die dinge wat is. In die jaar 95 toe hy hierdie openbaringe op die eiland Patmos ontvang het, was dit in die bedeling van die kerk. Ons is vandag nog steeds in dieselfde bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus. Johannes was net in die beginjare daarvan, en ons is baie naby aan die einde van die kerkdispensasie. Derdens is daar die dinge wat gaan gebeur. Dit sluit alles in wat sal plaasvind nadat die bruidsgemeente na die hemel weggevoer is - dit is van Openbaring 4 af tot aan die einde van die boek. Die grootste deel van die openbaringsboodskap handel oor hierdie dinge. Wanneer Openbaring uit dié oogpunt benader word, is dit duidelik dat dit chronologies geskryf is. Dit geld die duidelik afgebakende kategorieë van dinge in die boek, naamlik: Die verheerlikte Christus (hfst. 1). Die kerk op aarde (hfst. 2 en 3). Die verheerlikte kerk in die hemel (hfst. 4 en 5). Die sewe jaar lange verdrukking (hfst. 6 tot 18). Die sigbare koms van Jesus (hfst. 19). Die duisendjarige vrederyk en die eindoordeel (hfst. 20). Die nuwe hemel en die nuwe aarde (hfst. 21 en 22). Dit is duidelik dat die grootste deel van die gebeure in hierdie boek, dit is vanaf die openbaring van die Antichris in hoofstuk 6 tot aan die einde van sy loopbaan by die wederkoms van Jesus in hoofstuk19, binne 'n periode van slegs sewe jaar afspeel. Dit vind aansluiting by Daniël 9:24-27 waarin daar na 70 jaarweke in Israel se geskiedenis sedert hulle terugkeer uit die Babiloniese ballingskap verwys word. Elke week stel 'n tydperk van sewe jaar voor. Van hierdie 70 jaarweke is 69 tot by die kruisiging van Jesus verstreke, toe God se horlosie vir Israel se heilsgeskiedenis as volk gaan staan en die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, aangebreek het. Daar bly egter volgens Daniël 9:27 nog een jaarweek, m.a.w. sewe jaar, oor waarin Israel as volk in hulle land terug moet wees om gelouter en voorberei te word vir die koms van hulle Messias op die Olyfberg. Die dag wanneer die Antichris geopenbaar word en 'n verbond met Israel sluit, sal die aftelling van die laaste sewe jaar begin. Volgens Daniël 9:27 word hierdie jaarweek duidelik in twee helftes van 31/2 jaar elk verdeel. Daar word ook as 42 maande of 1260 dae na hierdie twee helftes verwys. In Openbaring 11:2-3 en 13:7 word duidelik na dié tydperke verwys. Eers word die kerkdispensasie in Openbaring 2 en 3 in oënskou geneem, wat deur die onbekende uur van die wegraping beëindig sal word. Dan sal die aftelling van die laaste sewe jaar van die Antichris se regering voor die wederkoms 'n aanvang met die openbaring van die dier neem. Die Dag van die Here 3. Die kerk op aarde [1] (Openbaring 2 en 3) Inhoudsopgawe Deur middel van sewe briewe stuur die Here Jesus aan die kerk van die nuwe Testament boodskappe van bemoediging en vermaning. Op 'n tydstip toe daar reeds meer as 100 gemeentes was, kies Hy sewe uit wat die tipiese kenmerke van die ganse kerk vertoon, ook oor tyd heen. Openbaring 2 en 3 gee 'n vertikale én horisontale perspektief op die Christelike kerk. Indien daar in enige stadium 'n vertikale 'snit' van die Christelike kerk in die algemeen gemaak word, sou dit sewe verskillende lae (of tipes) vertoon. Dit was kenmerkend van die vroeë Christelike kerk toe hierdie briewe geskryf is, en is nog steeds kenmerkend van die 20ste eeu se kerk. Hierbenewens kan daar na aanleiding van die sewe briewe ook 'n horisontale verdeling van die kerk in opeenvolgende tydperke gemaak word. Hoewel al die gemeentetipes nog altyd saam bestaan het, het die algemene karakter van die Christelike kerk oor tyd heen chronologies deur hierdie sewe tipes beweeg. Daar is dus sewe duidelik onderskeibare tydperke in die kerkgeskiedenis. Ons leef tans in die periode van Laodicéa, die laaste van die sewe gemeentes. Die ander ses tipes kom ook nou voor, maar in die Laodicéa tydperk speel hulle nie die oorheersende rol nie. In die jaar 95 of 96 toe Johannes hierdie boodskappe ontvang het, was daar reeds aansienlike veragtering in die vroeë Christelike kerk bespeurbaar. Die brandende gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, het verflou in hulle ywer. Mettertyd het die meeste van hulle net 'n vormgodsdiens oorgehou waarin Christus nie meer die sentrale plek beklee het nie. Afgodediens en kompromie met die wêreld het oral kop uitgesteek. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme en hartelose lippediens genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie aktief in wat hulle doen. Hy lê in elke geval sy vinger op die kern van die probleem en roep lidmate tot 'n nuwe toewyding aan Hom op. Soos dit uit die briewe sal blyk, is daar 'n groot verskil tussen die ware kerk van Christus en die algemene Christelike kerk. Eersgenoemde sluit net diegene in wat werklik aan Jesus Christus behoort omdat hulle weergebore is en hulle sondes deur sy bloed weggewas is. Die tweede kategorie sluit alle mense in wat aan Christelike kerke behoort, ook die miljoene naamchristene wat nog nie gered is nie. In die geestelik vervalle toestand waarin baie van die kerke vandag verkeer, is by verre die meeste lidmate nominale Christene wat net 'n gedaante van godsaligheid het. Dit is met die oog op hulle dat die Here aan vyf van die sewe gemeentes bekeringsboodskappe rig. Dit behels bekering uit dooie vormgodsdiens, leerstellige dwalings, morele verval, afgodediens en 'n selfregverdigende kompromie met die wêreld. Die sewe gemeentes, in chronologies profetiese perspektief, is die volgende: 1. Éfese: die teruggevalle kerk Éfese was 'n florerende hawestad in Klein Asië (die huidige Turkye) met omtrent 225 000 inwoners. Die stad het bekendheid verwerf met sy indrukwekkende tempel vir die afgod Diana. Die inwoners was toegewyde aanbidders van Diana en het silwerbeeldjies van die godin en haar tempel gekoop om in hulle huise uit te stal. Dit het aan die silwersmede 'n aansienlike inkomste verskaf (Hand. 19:24). Paulus het op sy derde sendingreis, in omtrent die jaar 53 n.C., 'n gemeente hier gestig. Ten spyte van groot teëstand het hy vir meer as twee jaar lank aangehou om dienste hier te hou en dissipels op te lei (Hand. 19:9-10). Die Here het buitengewone kragte deur Paulus gedoen (Hand. 19:11). Daar was ook 'n groot deurbraak onder mense wat met towery omgegaan het. Hulle het hul tot God bekeer en al hulle boeke oor towery op 'n hoop gegooi en aan die brand gesteek (Hand. 19:19). Afgodedienaars het hulle ook tot die Here bekeer. Van sy stigtingsdag af het hierdie gemeente 'n groot opskudding veroorsaak, sodat die publiek terdeë van hulle kennis geneem het! Die silwersmede se inkomste het afgeneem omdat minder mense hulle beeldjies gekoop het. So ook het die aanbidding van Diana vir die eerste keer ernstige opposisie gekry. 'n Massavergadering is gehou, en vir twee ure lank het die skare geskreeu: "Groot is die Diana van die Efésiërs!" Die stadsklerk moes later ingryp om hulle tot bedaring te bring (Hand. 19:23-40). Die teëstand het hierdie jong gemeente nie afgesit nie. Hulle het vreesloos en onverskrokke die gruwels en valse godsdienste van hulle dag oopgevlek en bestraf. Dit het hulle gedoen in 'n gesindheid van ware liefde teenoor Christus én die broeders. Toe die tyd vir Paulus se vertrek uit Éfese aanbreek, het hy 'n lang kerkraadsvergadering gehou waarin hy die ouderlinge bemoedig, vermaan en ook teen dwalinge gewaarsku het. Hy het geweet dat die groot vyand van die kerk van Christus nie aan die slaap is nie, en sy kans sou afwag om die gemeente met valse leraars binne te dring, van die ware leer afvallig te maak en sodoende te verwar. Paulus het gesê: "Ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolde onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerdinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie" (Hand. 20:27-31). Aanbevelings Omtrent 40 jaar nadat Paulus uit Éfese weg is, en 35 jaar nadat hy sy sendbrief aan hulle geskryf het, kry Johannes op Patmos opdrag om aan hierdie gemeente 'n brief te skryf. Vir hulle onvermoeide arbeid word die gemeente geprys, ook omdat hulle verdrukking verduur, slegte mense weerstaan en die sekte van die Nikolaïete verwerp het. Die Nikolaïete, wat in die oë van die Here gehaat was, is sterk teëgestaan. Hierdie groep het na godsdienstige mag en menslike verering gestreef, maar immorele lewens gelei. Hulle het hul ooreenkomstig die Ou Testamentiese patroon vir die instelling van 'n priesterlike orde beywer wat spesiale regte en voorregte geniet, terwyl die gewone lidmate as leke sonder enige status en regte beskou is. Hulle wou nie herders oor die gemeentes wees nie, maar heersers oor die erfdeel (1 Pet. 5:2-3). Hierdie oorheersingsdrang word ook deur die naam van die Nikolaïete weerspieël, wat afgelei is van niko (om te onderwerp) en laos (die leke, of die volk). Hierdié struktuur was vreemd aan die Nuwe Testamentiese patroon, omdat dit 'n demper op die uitlewing van die amp van die gelowige sou plaas. Die gewone lidmate se deelname in die aktiewe bestudering en verkondiging van die Woord sou hierdeur beperk word, en onder hierdie omstandighede sou die kerk nooit daarin slaag om die wêreld aktief te evangeliseer nie. Priesters, kardinale, biskoppe en ander verhewe ampsdraers sou 'n ongewenste beheer oor lidmate verkry en sodoende 'n struikelblok vir Christelike kerke word. Geestelike veragtering Al hierdie aanbevelings wat die gemeente in Éfese ontvang het, verdwyn egter in die niet in die lig van 'n ernstige aanklag van geestelike veragtering teen hulle. Die Here Jesus self sê: "Maar ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het" (Op. 2:4). Die woord "agapé" word hier gebruik, wat Goddelike liefde aantoon. Dit is so in kontras met wat Paulus vroeër aan hulle geskryf het: "Daarom - vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde (agape) tot al die heiliges - hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie" (Ef. 1:15-16). Nou is dit egter 35 jaar later, en die gemeente bestaan hoofsaaklik uit tweede geslag Christene. Hoewel hulle leerstellige suiwerheid gehandhaaf het en ook pligsgetrou in dienswerk was, was daar by hulle 'n ernstige gebrek in toewyding aan Christus. Hulle het die Here met hulle lippe gedien, maar hulle harte was ver van Hom af - hulle het afgekoel in hulle liefde teenoor Hom. Dit is vir die Here Jesus glad nie aanvaarbaar dat sy kerk op aarde in 'n vormgodsdienstige organisasie ontaard waarin Hy net nominaal vereer word maar in werklikheid deur ampsdraers en menslike struklture en aktiwiteite verdring word nie. Hy gee duidelik sy misnoë te kenne en sê dat Hy die kandelaar, wat die houer vir die olie van die Heilige Gees is, van hulle af sal wegneem: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" (Op. 2:5). Die Here roep die gemeente tot bekering uit hulle teruggevalle toestand op. Die menslik-geïnspireerde werke wat lidmate vir hulle kerke doen, is nie vir Hom aanvaarbaar nie. 'n Lewende gemeente is een waarin lidmate onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees die Here dien. Dit is die "eerste werke" waarheen hulle hul moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, sê die Here Jesus, sal hulle in geestelike duisternis wandel. As menslike organisasie sal hulle nog kan voortbestaan, maar hulle sal geen spreekbuis vir die Here wees nie. Hy sal sy kandelaar aan 'n ander gemeente gee wat bereid is om Hom op 'n toegewyde en selfverloënende wyse in die krag van die Heilige Gees te dien. Éfese het nie net hulle kandelaar verloor nie, maar die gemeente self het ná die vyfde eeu tot niet gegaan en uiteindelik die stad ook. Die hele omringende gebied het deel van die Moslemwêreld geword. Persoonlike toepassing Wat die Here Jesus vir elkeen van die sewe gemeentes sê, sê Hy ook vir jou en my: "Ek ken jou werke." Hy is die Een wat tussen die sewe kandelaars wandel en intiem van almal se werke en ook die bedoelings van hulle harte bewus is. Hy sien alles raak en ken ons gedagtes van ver af. Met watter motief dien jy die Here - om deur andere gesien te word en erkenning by mense te kry dat jy 'n Christen is, of omdat jy die Here Jesus waarlik liefhet? Hy is nie met 'n uiterlike vormgodsdiens tevrede wat uit 'n onrein en liefdelose hart voortvloei nie. Indien jou hart nie volkome met die Here is nie, bid dan saam met Dawid: "Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" (Ps. 139:23-24). Waar staan jy in jou godsdiensbelewenis? Dien jy die Here onder morele dwang en uit eie krag, of dring die Heilige Gees jou om die lof van jou Verlosser te verkondig? Laat jou lig dan só skyn dat almal dit kan sien en daardeur nader aan die Here getrek word. Die Here ken nie net die verkeerde motiewe en vleeslike werke nie, maar ook die werke van ware toewyding aan Hom. Soms is dit met groot offers en inspanning dat jy iets vir die koninkryk van God bereik, maar mense kyk dit mis en waardeer dit nie. In jou hart mag jy dalk diep hieroor seergemaak voel, maar dan moet jy troos uit Jesus se woorde put: "Ek weet, Ek sien, Ek ken jou werke!" Jou arbeid en offers in eensaamheid mag dalk onopgemerk by mense verbygaan, maar dit gaan nooit onopgemerk en sonder loon by Jesus verby nie. Hy sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" (Op. 22:12). Jesaja het ook na die genadeloon van die regverdiges verwys toe hy gesê het: "Kyk, die Here Here sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig" (Jes. 40:10). Aan die getroue lidmate in Éfese, wat nie die Here Jesus vergeet het en nie deur die stroom van 'n liefdelose vormgodsdiens meegesleur is nie, word die belofte gegee: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-n die paradys van God is" (Op. 2:7). Die opset in Éfese is kenmerkend van die vroeë Christelike kerk tot omstreeks die jaar 100. Dit geld sowel hulle aanvanklike liefde vir die Here Jesus as hulle latere veragtering in die geloof. 2. Smirna: die vervolgde kerk Smirna is 'n groot hawestad sowat 60 kilometer noord van Éfese. Die stad bestaan vandag nog. In die Romeinse tyd was dit een van die bloeiendste stede in Klein Asië. Dit is 'n baie mooi en goed beplande stad wat aan 'n ronde baai op die hange van die Pagos gebou is. Die inwoners was getroue bondgenote van die Romeinse ryk. Sedert 195 v.C. was die stad 'n belangrike setel vir keiseraanbidding, met 'n groot standbeeld van keiser Tibérius wat daar opgerig was. Daar was ook verskeie afgodstempels in Smirna, onder andere vir Zeus, Apollo, Nemesis, Afrodite en Bachus. Christenvervolging Smirna beteken bitterheid en dit is 'n aanduiding van die genadelose vervolging en bittere lyding wat die kerk onder die Romeinse juk moes verduur - nie net in Smirna nie, maar in baie dele van die Romeinse ryk. Daar was haas nie 'n denkbare metode van vernedering, vervolging en marteling wat nie teen die Christene toegepas is nie. Openlike spot en hoon, swaar boetes, summiere ontslag en onteiening het onder die ligter vorms van vervolging getel. Meestal was tronkstraf in muwwe kerkers onder omstandighede van verhongering, siektes en marteling, asook teregstelling op brandstapels weens kettery, die lot van duisende Christene. Dikwels is die gevangenes in groot arenas gejaag om deur leeus en ander roofdiere verskeur te word. Hulle lewens is as niks gereken nie, en toeskouers het die arenas ter wille van vermaak besoek om met genoegdoening na hierdie barbaarse dade te kyk. Dit was ook in Smirna 'n kriminele oortreding om 'n Christen te wees. Hulle is wreed vervolg, onderdruk, van hulle besittings beroof, en ook om die lewe gebring. Baie van hulle het bedelaars geword. Na aanleiding van hulle ellende sê die Here Jesus vir hulle: "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede - maar jy is ryk" (Op. 2:9). Hoewel die gemeente materieel arm was, was hulle geestelik ryk. Die vervolgde gemeente het in hierdie rykdomme gedeel: "Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word" (2 Kor. 8:9). Het u hierdie geestelikie rykdomme in die Here deelagtig geword, en is u steeds deur 'n lewe van toewyding en godsvrug besig om skatte in die hemel bymekaar te maak? Tydens 'n groot depressie het 'n welaf Christen alles verloor wat hy gehad het. Die jare toe dit met hom goed gegaan het, het hy groot somme geld vir God se saak gegee. Die vraag is toe aan hom gestel of hy nie spyt was oor die groot skenkings wat hy vir die werk van die Here gemaak het nie. "Nee," het hy gesê, "dit is al wat ek nou nog het!" Die kerk in Smirna het dit ook beleef. Alles wat hulle op aarde gehad het, het hulle verloor, maar hulle was ryk in die hemel omdat hulle as Christene gely en die smaad van die Here Jesus in 'n goddelose wêreld gedra het. Daar is nog 'n verdere betekenis in die naam Smirna verskuil. Dit is van die Hebreeus Mirre afgelei, wat bitter kruie is. Wanneer hierdie kruie egter fyngestamp word, gee dit 'n lieflike geur af. Toe Jesus vervolg was en sy liggaam aan die kruis verbrysel is, het Hy mense geseën en vir die oortreders gebid. Toe Stéfanus gestenig is, het hy die Here Jesus ook gevra om sy moordenaars hulle skuld te vergewe. Hoe tree jy op wanneer jy aan vervolging, verdrukking, belediging en beswaddering blootgestel word? Skel jy terug of versprei jy op daardie oomblik deur jou reaksie die lieflike geur van die Here Jesus? Vervolging ter wille van Christus bring loon in die hemel mee. Die Here beloof aan al die martelare die kroon van die lewe. In sy bergrede het Jesus die volgende saligspreking ingesluit: "Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel" (Luk. 6:22-23). Petrus het gesê: "Wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig" (1 Pet. 4:16). Die marteldood van Polikarpus Polikarpus, een van die martelare in Smirna, was 'n geliefde prediker van die gemeente. Hy was een van die leerlinge van die apostel Johannes, wat in 'n letterlike duisendjarige vrederyk op aarde geglo en dit ook verkondig het. Hy het die Here Jesus baie liefgehad en geen kompromie met die valse godsdienste gemaak nie. Toe hy reeds 86 jaar oud was, is Polikarpus in die jaar 155 n.C. op 'n brandstapel verbrand omdat hy Jesus nie wou verloën om die keiser te aanbid nie. Polikarpus kon ontvlug het as hy wou, maar die Here het hom in 'n droom voorberei vir dit wat op hom gewag het. Sy bediende het onder wrede marteling geswig en vir die polisie gesê waar Polikarpus hom bevind. Toe hulle hom opspoor, het hy aan die polisie 'n ete laat voorsit en by hulle een uur vir gebed gevra. Die polisieman het by hom gepleit: "Sê net: 'die keiser is God.' Dit is mos nie so erg nie." Hy het egter beleefd geweier. Toe hy die stadion binnegelei is, was die skare reeds tot op 'n punt van waansinnigheid opgesweep. Hulle het geskreeu: "Weg met die ateïste! Weg met Polikarpus!" Die prokonsul het hom voor 'n keuse gestel en gesê: "Ek respekteer jou ouderdom, maar vervloek vir Christus en offer aan die keiser, of sterf 'n vlammedood." Sy antwoord was: "Ek het Hom al die jare gedien en Hy het my geen kwaad aangedoen nie. Hoe kan ek my Koning, Jesus, wat my siel gered het, belaster?" Vinnig is daar 'n brandstapel gepak. Polikarpus het geweier om met toue vasgebind te word. Aangrypend het hy gestaan en bid terwyl hy lewend verbrand is: "O Here God Almagtig, Vader van u geliefde en geseënde Kind Jesus Christus, God van engele en magte en van die hele skepping en van al die regverdiges, ek aanbid U!" Terwyl die vlamme rondom hom opstyg, het hy vasgehou aan Jesus en eer aan die God van die hemel gebring. Die lydensweg Die Here Jesus het innige meegevoel met die martelare, omdat Hy self die Een is wat die lydensweg bewandel en die bitter beker van vervolging tot die laaste druppel geledig het. Hy stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat dood was en lewend geword het (Op. 2:8). Hy bemoedig hulle om te midde van die lyding vas te staan, want as hulle getrou bly tot die dood toe, sal hulle onverganklike opstandingsliggame kry en vir ewig lewe: "Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee... Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie" (Op. 2:10-11). Die tien dae is moontlik 'n verwysing na die vervolging van die Christene wat tydens die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers plaasgevind het; dit is vanaf Nero in 64 n.C. tot met Diokletianus in die jaar 305. Met die aanvang van die Smirna tydperk was die vervolging reeds aan die gang en sou dit vir nog meer as twee eeue lank voortduur. Die laaste paar jaar onder keiser Diokletianus was die bloedigste. Hierdie tiran het homself ook, soos die meeste van sy voorgangers, vergoddelik. Hy het dit egter nog verder gevoer sodat mense voor hom op hul knieë moes val, die soom van sy kleed soen en uitroep: "Dominus et Deus!" ("My Here en my God!"). In die jaar 303 n.C. het hy 'n spesiale edik uitgevaardig waarkragtens die Christene van hulle besittings en burgerregte ontneem en hulle kerke gesluit is. Die gepaardgaande vervolging word as die bloedigste van alle Christenvervolgings bestempel, en het ná Diokletianus se abdikasie in 305 nog tot in die jaar 312 n.C. voortgeduur. Die Dag van die Here 4. Die kerk op aarde [2] (Openbaring 2 en 3) Inhoudsopgawe 3. Pergamus: die verleide kerk Pergamus, omtrent 30 km. binnelands van Smirna af, was 'n groot en populêre stad wat vir omtrent 400 jaar die hoofstad van die streek was. Dit was só 'n sterk setel vir heidense godsdienste dat die Here dit "die troon van Satan" noem (Op. 2:13). Uit die volgende oogpunte was hierdie 'n gepaste beskrywing van Pergamus: (1) Zeus-aanbidding 'n groot altaar vir die afgod Zeus is bo-op 'n heuwel gebou. Dit was omtrent 13 meter hoog en het van 'n afstand af soos 'n reuse troon gelyk. Zeus was die naam van die Griekse oppergod. In die Romeinse tyd is hy Jupiter genoem. Hy is die oppergod van die Romeine, die god van die hemel en die donder, die hoogste bestuurder van die heelal. In Handelinge 14:12-13 word Zeus as Jupiter vertaal. Vers 13 moet dus lees: "Die priester van Zeus-voor-hulle-stad." Dit dui op die oppergod wat Listre moes beskerm, en wat 'n tempel net buitekant die poort van die stad gehad het. Zeus is 'n tipe van die duiwel wat mag oor 'n gevalle wêreld uitoefen. (2) Die tempel van Asklepios 'n Groot tempel vir die afgod Asklepios is ook in Pergamus opgerig. Dit was die god van gesondmaking wat deur 'n slang voorgestel is. Baie mense het die slang gedien. Dit is baie duidelik 'n verbloemde vorm van duiwel-aanbidding. (3) Keiseraanbidding Verder was daar 'n tempel vir keiser Augustus in die stad. Soos die ander keisers, was hy ook in die Romeinse ryk die god van hierdie wêreld wat op die aanbidding van mense aangedring het. Weiering om die keiser te aanbid was met die dood strafbaar. In hierdie hoedanigheid is die keiser 'n tipe van die Antichris wat sy mag by Satan kry om die wêreld te regeer, afgodediens te bevorder en die Christendom onwettig te verklaar en uit te roei. (4) Babiloniese godsdiens Pergamus was lank tevore, met die val van Babilon, ook die toevlugsoord van die Chaldeërs se priester-koning en sy gevolg. Omdat Babilon 'n belangrike setel van die heidense godsdienste was, is die godsdienstige troon van Satan hierdeur van Babilon af na Pergamus verskuif. Druk vir die skepping van 'n priesterlike hiërargie in die Christelike kerk het na aanleiding van die Babiloniese stelsel van priester-konings plaasgevind. Verder het die Babiloniese godsbegrip van 'n songod en 'n hemelkoningin met haar lieflingseun ook sy invloed op Christelike kringe laat geld en uiteindelik as die vergoddeliking van Maria en die verering van die Madonna en die kind gemanifesteer. Hierdeur het Satan se godsdienstige troon weer van Pergamus af na Rome verskuif. In die komende verdrukking, onder die bewind van die Antichris, sal dit na die herboude Babilon terug verskuif word! (5) Leerstellings van duiwels Daar is 'n verdere rede waarom Pergamus die titel as die troon van Satan verkry het, en dit is die heidense filosofieë wat die grondslag van sy opvoedkundige stelsel gevorm het. Daar was 'n universiteit met 200 000 boeke, waarin 'n sterk inslag van die Griekse wysbegeerte was. Politeïsme ('n heidense veelgodendom) is verkondig, asook Plato se metafisika wat na geloof in ongedefinieerde bonatuurlike magte, insluitende heksery, gelei het. Hierdie drogredes was die filosofiese grondslag vir die geestelike verduistering van die donker Middeleeue gelê. Die leer van Bileam Met die uitsondering van 'n klein kerngroep wat vas gestaan het in die waarheid van God se Woord, het die Christelike gemeente in Pergamus baie liberaal geraak en ruim kompromie met die heidendom rondom hulle gemaak. Die meeste van hulle het die gesindheid van Lot begin openbaar: "Ek wil 'n Christen wees, maar ek wil my ook vergryp aan dit wat die wêreld bied." Die kompromie wat die kerk met die sekulêre wêreld aangegaan het, het noodwendig tot geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here gelei. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam Pergamus weerspieël, wat troue beteken - 'n troue tussen die kerk en die wêreld. In die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer: "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" (Jak. 4:4). Die Here verwys na hierdie kompromiemakery as "die leer van Bileam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer" (Op. 2:14). Volgens Numeri 22 tot 24 is Bileam deur Balak, die koning van die Moabiete, gehuur om Israel te vervloek. Bileam doen dit egter nie en haal vir Balak oor om, in plaas van vervloeking en militêre konfrontasie, eerder vir Israel te verlei om geestelike kompromie met hom te maak deur van die Baälfeeste by te woon. Hierdie strategie het gewerk, en in Numeri 25 lees ons dat Israel op uitnodiging 'n Baälfees in Moab bygewoon het. Wellus het hoogty gevier en spoedig het hierdie nuwe vriendskap daartoe gelei dat die Israelse mans in hoerery met die dogters van Moab verval en ook voor hulle gode neergebuig het. Dit het die toorn van die Here oor Israel laat ontvlam, en Hy het 'n plaag oor hulle beskik waarin 24 000 mense gesterf het. Balak het hom hierin verbly, want hy het in sy doel geslaag om Israel by God in onguns te bring sodat Hý teen hulle geveg het! Moses het die volk later ook oor hierdie beginselloosheid en permissiwiteit verkwalik: "Het julle al die vroue laat lewe? Kyk, hulle was deur die raad van Bileam, vir die kinders van Israel 'n oorsaak van troubreuk teenoor die Here" (Num. 31:15-16). Dit is in moderne tye ook duidelik dat die duiwel deur 'n strategie van kompromie 'n groot slag onder Christene in die Weste geslaan het. Hierdeur het hy selfs meer sukses as met sy strategie van konfrontasie behaal in lande waar Christene vervolg en gemartel is. Geestelike kompromie word in Openbaring 2:14 "die leer van Bileam" genoem. Dit is dus 'n ideologie of lewenswyse. Volgens 2 Petrus 2:15 is dit kenmerkend van die valse leraars van die eindtyd, wat van die weg van die waarheid afvallig geraak het. Die Christelike kerk in Pergamus is dus aan die geweldige druk van godsdienstige kompromie blootgestel, en daardeur tot geestelike ontrouheid verlei. Die uiteinde van diegene wat nie met hierdie bose sisteme kompromie wou maak nie, was dikwels 'n martelaarsdood. 'n Voorbeeld van só 'n persoon is Antipas (Op. 2:13). Sy naam beteken Teen alles. Hy was 'n predikant in hierdie gemeente, en is doodgebrand binne-in 'n hol bronskalf waaronder hulle vuurgemaak het. Wanneer Christene in hierdie kalf gekerm het van die pyn, het dit tot groot vermaak van die skare geklink of die kalf gebulk het omdat sy keelgat oop was. Antipas het egter nie sy mond oopgemaak terwyl hy gesterf het nie. In die bose samelewing waarin hy geleef het, kon hy as 'n fundamentele Christen nie anders as om teen alles te wees nie, van die verpligte keiseraanbidding af tot by die goddelose onderwysstelsel! Die Here noem hom nie 'n rebel wat "anti-alles" is nie, maar sy "getroue getuie". Die Here Jesus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die skerp tweesnydende swaard het (Op. 2:12). Die swaard van sy Woord maak absolute skeiding tussen geregtigheid en ongeregtigheid. Dit werk saam met die gewete van die mens om hom te help om dit wat reg is van dit wat verkeerd is te kan onderskei: "Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart" (Heb. 4:12). Dit bly egter nie by nuwe indrukke wat die Woord in my hart skep nie, want die evangeliewoord is ook 'n krag tot redding vir elkeen wat glo. Dit is in staat om my siel te red as ek daaraan vashou. Verder staan hierdie swaard ook met die oordele van Christus oor die goddeloses in verband. Dit sluit die kompromiemakers in Christelike kerke in. In Openbaring 19:21 lees ons dat mense gedood sal word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit. Profetiese toepassing Die kerk in Pergamus dui profeties op die kerperiode tussen 312 en 606 n.C. toe Christenvervolging in die Romeinese Ryk gestaak is. Hierdie belangrike wending het in 312 n.C. plaasgevind toe keiser Konstantyn die vervolging van Christene verbied en self die Christelike geloof aanvaar het. Op een van sy veroweringstogte het hy na bewering 'n kruis aan die hemel gesien met die volgende woorde daarby: "In hoc signo vinces" ("In dié teken sal jy oorwin"). Sedert hierdie gebeurtenis het hy aansienlike militêre welslae behaal en as gevolg daarvan die Christendom aangehang. Deur die Edik van Milaan het hy in 313 n.C. aan die Christendom gelyke regte met die ander godsdienste verleen. Sy persoonlike betrokkenheid was egter twyfelagtig omdat hy nie die heidense godsdienste veroordeel het nie en homself eers kort voor sy dood laat doop het. Die veranderinge was nogtans geweldig. Skielik is die vervolgde kerk amptelik erken en moes dit sy deure vir hoë amptenare en gesiene burgers oopgooi. Hulle het, soos Konstantyn, besluit om ook 'Christene' te word. Die eise van die evangelie is afgewater om die boodskap vir die nuwe gehore meer aanvaarbaar te maak. Die keiser het finansiële hulp vir die oprigting van indrukwekkende geboue aan die kerk geskenk. Op die ekumeniese konsilie van Nicea in 325 n.C. het 'n orde van biskoppe hulle houvas op die kerk gekry en openlike kompromie met die ander gelowe gemaak. Deur hierdie hervormings is die leer van die Nikolaïete ingevoer, wat in die Éfese tydperk reeds sy kop uitgesteek het. Gewone lidmate se regte en inisiatief vir selfstandige optrede is geleidelik onderdruk, en hulle het later slegs volgens die voorskrifte van die afvallige biskoppe en priesters gehandel. Hierdeur is growwe inbreuk op die gesag van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges gemaak. Belofte aan die oorwinnaars Aan sy getroue getuies in hierdie goddelose stad sê Jesus: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang" (Op. 2:17). Die verborge manna is Jesus self as die brood van die lewe. Hy is die vleesgeworde Woord wat na die aarde gekom het om aan ons lewe te gee. Elkeen wat Hom soek, sal Hom vind en Hy sal die geestelike honger van ons siele versadig. Die wit keursteen was in die tyd van Johannes iets spesiaals. In die Romeinse keiserlike huishouding kon die houer van só 'n steen elke dag by die paleis kom aanklop en is daar kosteloos in sy behoeftes voorsien. Die Here Jesus gee ook aan sy dissipels só 'n steen met die belofte daarby: "As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry" (Joh. 15:7). Dit is ons voorreg as ons aan Hom behoort. 'n Ander gebruik van stene was in hofsake. Jurielede het elk 'n wit en 'n swart steentjie gekry. Die swarte dui aan dat 'n persoon skuldig is en verdoem hom dus. Deur die wit steen word hy onskuldig verklaar en vrygespreek. Die Here Jesus het aan elke bloedgewaste kind van Hom 'n wit keursteen gegee wat op sy vryspraak dui. Sy skuld is betaal. Op hierdie steen word ook 'n nuwe naam geskryf. Dit was algemene gebruik in Bybelse tye om aan kinders van die Here nuwe name te gee ten einde hulle nuwe status en identiteit aan te dui. Abram het Abraham geword, Jakob het israel geword, Saulus het Paulus geword, en Simon het Petrus geword. Elke persoon wat vandag gered word, word 'n kind van God. Hy word 'n Christen genoem omdat hy 'n nuwe mens is. Het die Here al van jou 'n nuwe mens gemaak? 4. Thiatire: die afvallige kerk Die langste brief van die sewe gaan aan Thiatire wat die kleinste en onbelangrikste stad van almal is. Dit lê op die pad tussen Pergamus en Sardis. Thiatire was wel 'n vooruitstrewende handelstad waarvan die belangrikste handelsware kleurstowwe, wol, weefstowwe, tou, pottebakkery, leerwerk, linne en koperware was. 'n Persoon moes aan 'n gilde, of vakbond, behoort wat met die verering of diens van een of ander afgod verbind was. Dit het vir die Christene baie probleme geskep. Hulle is voor die keuse gestel om óf met die gildes en hulle heidense afgodsverering saam te gaan, óf om daarmee te breek en sodoende hulle bron van inkomste te verbeur. In Thiatire was die mense nie so fanaties oor hulle afgode soos bv. in Pergamus of Smirna nie. Daar was wél 'n paar afgodstempels, bv. vir Apollo en Artemes. Daar is egter met die uitsondering van gilde-lidmaatskap nie groot dwang op mense geplaas om aan die afgode te offer nie, dus het daar aansienlik minder vervolging van Christene plaasgevind. Die eerste persoon wat in Europa gered is, het van Thiatire af gekom. Dit was Lidia die purperverkoopster (Hand. 16:14). Sy het na alle waarskynlikheid 'n sterk aandeel in die stigting van die gemeente in Thiatire gehad. Indringende beoordeling Christus word aan hierdie gemeente voorgestel as "die seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper" (Op. 2:18). 'n Brief wat op hierdie wyse begin, gaan beslis nie vol gerusstellende gedagtes wees nie. Ons het hier te doen met die heilige Seun van God wat met groot outoriteit gaan praat met 'n gemeente wat die spoor byster geraak het. Sy oë is soos 'n vuurvlam wat dwarsdeur alle bedekkings en kamoeflerings kyk. Hy sien tot in die diepste wese van 'n saak, Hy ken die gemeente se dwalinge volkome, en Hy lees ook elke individu se gedagtes en motiewe. Hulle staan totaal ontmasker in sy teenwoordigheid. Sy voete soos blink koper dui op die vuur en smeltkroes van God se oordele. Hy kan sonde nie verdra nie - allermins nie in sy kerk nie. Die werke van Isébel móét dus ontmasker en veroordeel word. Die gesonde kerngroep Jesus sien die gesonde kerngroep in die gemeente raak en prys hulle vir hul liefde, diens, geloof en lydsaamheid. Te midde van al die misleiding en afvalligheid sien Hy dié groepie raak wat aan Hom getrou bly. Hulle word bemoedig om nie agter die meerderheid aan te gaan in wat verkeerd is nie, en nie die dieptes van Satan te leer ken deur by okkultiese dinge en afgodediens betrokke te raak nie. Hulle moes op die regte weg volhard ten spyte daarvan dat dit van hulle uitgeworpenes sou maak. 'n Toekomsverwagting van 'n regering van regverdigheid in die millennium word as belofte aan hulle voorgehou. Hier sal hulle nie 'n verwerpte minderheidsgroep wees nie, maar mederegeerders saam met Christus: "Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatire is, almal wat hierdie leer [van Isébel] nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee" (Op. 2:24-28). Die môrester is Jesus self. In Openbaring 22:16 sê Hy: "Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester." Jesus sal ná die huidige donker nag van sonde en ongeregtigheid terugkom om in die vrederyk 'n nuwe dag van geregtigheid en vrede in te lui. Die afvalliges Ernstige geestelike misleiding is deur 'n vrou in hierdie gemeente ingedra en deur die meerderheid van die lidmate aanvaar: "Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet" (Op. 2:20). Die vrou, Isébel, het haar valse lering in die gemeente ingedra. Sy was 'n prominente vrou met 'n sterk persoonlikheid en het eenvoudig die gemeente oorgeneem en mislei. Soos suurdeeg het dit deurgewerk en vernietigende gevolge gehad. In stryd met die bepaling in 1 Timótheus 2:12 "Ek laat die vrou nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie," is Isébel verdra en aanvaar. Die Here het die gemeente hieroor erg verkwalik. Hulle word ook gewaarsku dat hierdie vasle godsdiens en sy aanhangers op die groot verdrukking afstuur: "Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie" (Op. 2:22). Profetiese toepassing Thiatire is 'n uitbeelding van die Middeleeuse verleiding van die kerk. In die jaar 606 is Bonnifasius III as universele biskop gekroon. Hierdeur is die lang tydperk van Rooms-Katolieke oorheersing ingelui, waarin die kerk deur 'n magsbehepte hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse regeer is. Die gesag van die kerk se leerstellings is verhef tot bokant dié van die Bybel, en die beginsel van onfeilbaarheid is ook ten opsigte van die pous se ex cathedra uitsprake aanvaar (dit is dié wat hy van sy troon af doen). Jesus Christus se middelaarsposisie is deur hierdie hervormings aangetas en selfs uitgeskakel, en later het mense ook hulle sondes teenoor priesters gebieg en geld vir die vergifnis van hulle oortredinge aan hulle betaal. As gevolg van die Babiloniese invloede wat langs verskillende weë na die Rooms-Katolieke Kerk oorgedra is, het ernstige teologiese afwykings en kompromie met heidense gebruike plaasgevind. Hieronder is die aanbidding van Maria, wat in werklikheid net die Christelike weergawe van die Babiloniërs se hemelkoningin, Semiramis, is. Maria is in 381 n.C. vergoddelik, en daar word ook beweer dat sy na die hemel opgevaar het. Hierdie beskouing word nog steeds in die Rooms-Katolieke Kerk gehandhaaf. Die jaar van 17 Julie 1987 tot 15 Augustus 1988 is deur die pous tot 'n spesiale jaar van toewyding aan die Madonna verklaar. Sy word die sondelose Moeder van God, asook die hemelse Moeder van die Kerk genoem. Verskeie verslae is in Marian Update (1994) oor verskynings van 'Moeder Maria' aan volgelinge van haar in Switserland, Italië, Kentucky, Arizona en die Oekraine gepubliseer. In dié bonatuurlike verskynings het sy onder meer gesê dat die Roomse Kerk aan die hoof van 'n ekumeniese liggaam van wêreldgodsdienste moet staan: • "Ek begeer dat die Katolieke Kerk die katalisator moet wees om alle gelowiges onder een dak te verenig." • "Die Koninkryk van Christus, die Koning, sal onder die heerskappy van die Moeder van God gevestig word." Isébel het dus in die gedaante van Maria teruggekeer om haar valse leringe voort te sit. Dit is duidelik dat die Middeleeuse misleiding van hierdie kerk nog steeds voortduur, en aan die eindtyd weer sterk na vore tree. Sy en al haar misleides sal in die komende groot verdrukking die gevolge van hulle afvalligheid moet dra (Op. 2:21-22). Die Thiatire periode in die kerkgeskiedenis het dwarsdeur die Middeleeue tot met die Kerkhervorming voortgeduur. Die Dag van die Here 5. Die kerk op aarde [3] (Openbaring 2 en 3) Inhoudsopgawe 5. Sardis: die dooie kerk Sardis was die hoofstad van Lidië asook 'n vooruitstrewende handelsentrum wat bekend was vir sy rykdomme. Die stad is egter deur die Perse verower en van sy rykdomme beroof. Hulle wapens is ook gekonfiskeer. In die jaar 17 n.C. het 'n verwoestende aardbewing die stad getref. Dit is nooit weer tot sy vorige glorie herstel nie. In die tyd toe Johannes die brief aan die plaaslike Christelike gemeente geskryf het, het Sardis reeds drasties agteruitgegaan en was ekonomies en polities van min belang. Die stad het nog net 'n naam en 'n trotse verlede gehad om op te roem. Dieselfde agteruitgang geld ook op geestelike gebied vir die gemeente in Sardis. Die Here sê: "...jy [het] die naam dat jy leef, en jy is dood" (Op. 3:1). Die gemeente was waarskynlik redelik aktief en het van buite af die indruk geskep dat hulle 'n lewendige gemeente is. Dit was egter 'n misleidende beeld, want volgens die Here Jesus se beoordeling het Hy hulle werke nie volkome voor God gevind nie (Op. 3:2). Dit was menslike werke, en nie werke wat deur die krag van die Heilige Gees gedoen is nie, daarom was dit verwerplik. Ons kan nie die Here behaag as ons Hom in die krag van die vlees dien nie, al gaan dit uiterlik ook hóé goed met ons organisasie of gemeente. Hy is die Een wat ons met sy Heilige Gees kan vervul sodat ons vir diens in sy koninkryk bekwaam gemaak kan word. Hiersonder sal ons werke nooit volkome wees nie. Hierdie gemeente is nie as gevolg van afgodediens of kompromie met die wêreld verkwalik nie, maar weens hulle lewelose vormgodsdiens. 'n Dooie kerk is vir die Here nét so verwerplik as 'n valse of 'n wêreldgelykvormige kerk. Voordat die lidmate nie waarlik weergebore en met die Here se Gees vervul is nie, is hulle nie deel van sy koninkryk nie en beteken vir Hom niks nie. Hulle is geestelik dood en het iets meer as net die reputasie en goeie naam van die stigters van die gemeente nodig gehad om uit God se oogpunt 'n sukses te kon maak. Die Here Jesus het gesê: "Stry hard om deur die nou poort in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie" (Luk. 13:24). 'n Mens moet aan die einde van homself kom, sy sondelas aan die voete van die kruis neerlê, en ook ophou om op sy goeie werke of prestasies van die verlede te roem voordat hy deur die nou poort sal kan ingaan. Wanneer hy hierdeur ingegaan het, sal die Here aan hom die instaatstellende krag van die Heilige Gees gee om werke te kan doen wat by die bekering pas. Profetiese toepassing In die profetiese toepassing van hierdie brief dui die Sardis periode op die kerk van die Hervorming. Dit is oënskynlik 'n weerspreking dat dié kerk as dood beskryf word. Tóg sê die Here: "Ek ken jou werke dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood" (Op. 3:1). Die feit is dat die kerk in hierdie tyd teologies hervorm is deurdat die Roomse dwalinge uitgewys en die genadeleer weer herstel is, maar dat die uiterlike godsvrug in die algemeen nog ontbreek het. Die hervormingsbeweging het inderdaad nie na alle vlakke van die kerklike lewe deurgedring nie. Daar het ook nie dinamiese en vinnig groeiende gemeentes ontstaan wat sterk evangeliserend was en na die heidendom rondom hulle uitgereik het nie. Die Here vermaan die Sardis gemeente sterk oor hierdie saak: "Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe" (Op. 3:2). Christus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die sewe Geeste van God het. Dit staan in 'n direkte verband met hulle probleem, want hulle toon nie die ywer vir evangelisasie wat van 'n Geesvervulde gemeente verwag word nie. Hulle begin was wél goed, maar hulle het nog nie die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword nie. Die geskiedenis bevestig die feit dat die kerk van die Hervorming in die 200 jaar van sy bestaan minder evangelisasiewerk gedoen het as wat gedurende slegs 20 jaar in die daaropvolgende Filadelfia tydperk gedoen is. Dit was die gevolg van starre formalisme sonder die nodige toewyding en oorgawe vir ware dissipelskap. Dit is egter nie 'n algemene beswaar wat tot die kerk van dié tyd gerig word nie, omdat 'n aantal sleutelpersone in die hervormingsbeweging wél bereid was om uit te staan en in die openbaar standpunt vir 'n ware geloof in te neem. Aan hulle word die versekering gegee: "Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is" (Op. 3:4). 6 Filadelfia: die evangeliserende kerk Filadelfia is die jongste van die sewe stede wat genoem word. Attalus, die heerser van Pergamus, het die stad gestig. Hy het so 'n groot liefde vir sy broer gehad dat sy bynaam Filadelfos was - Hy wat sy broer liefhet. Na aanleiding hiervan is die nuwe stad Filadelfia genoem wat Broederliefde beteken. Hierdie gemeente, saam met dié in Smirna, is die enigste twee wat geen vermaninge en teregwysings weens sonde, vormgodsdiens, afgodery, liefdeloosheid of afvalligheid ontvang nie. Hulle word net bemoedig om ten spyte van hulle klein getal, min invloed en beperkte middele voort te gaan om die Woord van die Here te verkondig. Deur die eeue heen was dit nog altyd klein groepies getroue dissipels wat deur die Here gebruik is om sy werk te doen. Hulle was diep afhanklik van Hom, en dus ook getrou aan sy Woord. Die Here beloof dat Hy self aan hulle 'n geopende deur sal gee wat niemand kan toemaak nie. "Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie" (Op. 3:8). Deur die eeue heen was dit nog altyd 'n kenmerk van evangeliese Christene dat hulle die Woord van die Here bewaar en sy Naam nie verloën het nie. Hulle glo aan die foutloosheid en Goddelike inspirasie van die Bybel, en neem ook die beloftes daarin in die geloof aan. Hulle het eerbied en ontsag vir die Naam van die Here, hulle bely en verkondig die maagdelike geboorte van Christus, asook sy Godheid en al sy ander attribute. Juis omdat hulle in hierdie opsigte getrou is, seën die Here hulle, bemoedig hulle, gaan voor hulle uit en gee aan hulle geopende deure. Hoe anders is dit nie vandag, met soveel teoloë wat nie die Bybel as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie, en boonop die Here Jesus verloën deur sy Godheid en maagdelike geboorte te ontken. Hulle word egter nie in Filadelfia se gemeente aangetref nie - miskien eerder in Thiatire, Sardis of Pergamus. Diegene in Filadelfia het waarlik die broeders én die Here lief, en eer ook sy Woord. Beloftes Die Here bemoedig sy diensknegte wat onder moeilike omstandighede werk, om tot die einde toe te volhard en nie moedeloos te word nie. Hy gee ook aan hulle die wonderlikste beloftes: "Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar [uit] die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die inwoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op Hom die Naam van my God skrywe..." (Op. 3:10-12). Die getroue kinders van die Here word bemoedig om te volhard tot die einde toe, en nie toe te laat dat hulle moedeloos en afvallig raak, of dat hulle liefde teenoor die Here verkoel nie. Hulle moet oppas dat niemand hulle kroon sal neem nie. Die duiwel is die berower wat probeer om die Christene te laat verslap en sodoende dalk hulle genadeloon te laat verbeur. Voor Johannes nog na Patmos verban is, het hy aan die broeders geskryf: "Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar 'n volle loon ontvang" (2 Joh. v. 8). Paulus het gesê: "Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie" (Gal. 6:9). Laat ons dus volhard tot die einde toe, en onbeweeglik vas staan op die Rots, Jesus Christus. Mag Hy ons besig vind met sy werk wanneer Hy kom! Profetiese toepassing Die broederliefde van Filadelfia dui op die liefde van God wat in die harte van sy kinders uitgestort word vir hulle medebroeders, maar ook vir 'n verloregaande wêreld. Juis dít was die dryfkrag agter die herlewingsdienste en wêreldsendingaksies wat tussen 1750 en 1900 onderneem is. Vervul met die Heilige Gees het manne in die geloof uitgegaan om as pioniers die lig van die evangelie na haas onbekende gebiede in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die eilande uit te dra. Met uiters gebrekkige middele en dikwels in lewensgevaar van vyandige inboorlinge, tropiese siektes en selfs wilde diere, het hierdie sendelinge die moeilike uitdaging aanvaar. Groot toewyding is aan die dag gelê om inboorlingtale aan te leer, Bybelvertalings te doen, skole te begin en gesondheidsdienste te lewer met die beperkte fondse en karige middele tot hulle beskikking. Ondanks al die probleme het die werk voortgegaan omdat die Here daarin was. Onder die geloofshelde van hierdie tyd, wat die wêreld deur hulle prediking vir Christus aan die brand gesteek het, is manne soos George Whitefield, John Wesley, Charles Finney, R.A. Torrey, D.L. Moody, Jonathan Edwards, Hudson Taylor, William Carey, Andrew Murray en vele ander. Sommige van hierdie herlewingspredikers is deur die groot kerke van hulle tyd verwerp toe hulle hulself baie sterk teen die dooie vormgodsdienstige tradisie van daardie kerke uitgespreek en siele na die Here begin lei het. Hulle moes die Here in die geloof vir hulle finansiële en ander behoeftes vertrou, en het dikwels maar karige middele tot hulle beskikking gehad. Ook wanneer hulle voor toe deure te staan gekom het, kon hulle net in die gebed tot die Here roep. Dit is Hy wat aan sy getroue gesante sê: "Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee" (Op. 3:8). Evangeliese gemeentes soos Filadelfia was baie algemeen tot aan die begin van die 20ste eeu, maar soos wat hierdie eeu gevorder het, het vormgodsdiens en afvalligheid geweldig toegeneem terwyl die kerkperiode van Laodicea gevestig geraak het. Nogtans sal daar tot aan die einde evangeliese Christene wees wat aan die Here en sy Woord getrou bly. Hulle ontvang die belofte om uit die uur van beproewing bewaar te word wat oor die hele aarde sal kom. Hierdie uur van beproewing is die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris. Die Griekse voorvoegsel ek dui aan dat die Christene buite die uur van beproewing sal wees. Dit stem met Luk. 21:36 ooreen, waar gesê word dat die ware Christene al hierdie dinge wat kom, sal ontvlug en voor die Seun van die mens sal staan. 7. Laodicéa: die kerk van menseregte Die welvarende nywerheids- en handelstad, Laodicéa, was omtrent 65 km. suidoos van Filadelfia op die pad na Kolosse geleë. In 60 n.C. is die stad deur 'n aardbewing verwoes, maar as gevolg van die inwoners se rykdom en ondernemingsgees het hulle weer die stad herbou. Hulle het op hul eie vermoë staatgemaak om dinge te doen, hulle was trots en selfs arrogant oor wat hulle bereik het, en het gemeen dat hulle niemad se hulp nodig het nie. Hulle was die bepalers van hulle eie lotgevalle. Dieselfde gees van selfgesentreerdheid, arrogansie en selfregverdiging het die gemeente in Laodicéa gekenmerk. Hulle het die Naam van die Here met hulle lippe bely, maar in hulle harte was hulle vol van hulleself en het net op hulle eie prestasies geroem. Dit was 'n vorm van humanisme in sy ergste graad, en dit word ook deur die naam Laodicéa weerspieël wat Menseregte beteken. Hierdie ingesteldheid en houding was só afstootlik vir die Here Jesus dat Hy Homself totaal van hulle gedistansieer het: "Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim. 6:7-12). Dit is die enigste van die sewe gemeentes wat geen enkele woord van goedkeuring van die Here ontvang het waarin Hy sekere werke of eienskappe van hulle prys nie. Hulle was uiters walglik vir Hom, soos lou water in die mond. Die Laodicense het hierdie beeldspraak verstaan omdat die water vir hulle stad 'n paar kilometer ver met 'n pypleiding van Hierapolis af gekom het. Teen die tyd dat die water in Laodicéa aangekom het, was dit louwarm en glad nie aangenaam om te drink voordat dit afgekoel het nie. Soos daardie lou water, was hulle godsdiens ook nie vir die Here aanvaarbaar nie. Hoewel Paulus nooit in Laodicéa was nie, het hulle vormgodsdiens en verwaande houding tot sy kennis gekom en vir hom 'n groot stryd veroorsaak. Hy het hulle saam met die Kolossense die Here se verborge geestelike rykdomme toegebid in die plek van die uiterlike voorspoed wat vir hulle so belangrik was: "Want ek wil hê dat julle moet weet wat 'n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader van Christus" (Kol. 2:1-2). Vermaning Die Here gee vir hierdie gemeente 'n oplossing vir hulle ernstige probleme: "Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Op. 3:18). Die geestelike bate wat die Here aan hulle bied, is 'n gelouterde geloof wat kosbaarder is as goud wat deur vuur gelouter word (1 Pet. 1:7). Dit is 'n vorm van rykdom wat die welvarende ekonomie en ryk banke van Loadicéa nie aan hulle kon bied nie. Ook word hulle aangeraai om die kleed van geregtigheid by die Here te kry. Dit is ook iets wat die weef- en klerenywerheid van hulle stad nie kon voorsien nie. Hierdie nywerheid was bekend vir 'n swart kleed wat hulle van swart wol gemaak het. Die Here se kleed is egter van suiwer wit wol. Ook sê die Here Jesus dat Hy aan hulle oogsalf kan gee sodat hulle geestelike insig kan hê. Vir hulle geestelike blindheid help die oogsalf van Laodicéa se mediese skool wat in die tempel van Asklepios was, glad nie. Daar is dus 'n oplossing vir hierdie morsdooie en selfregverdigende gemeente. Hulle moet egter eers van hulle probleme kennis neem, want hulle weet nie eers dat hulle beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Die Here Jesus staan gereed met die oplossing, daarom klop Hy aan die deur van hierdie gemeente en bied sy reddende genade aan hulle. Profetiese toepassing Die lou, selfvoldane, selfgesentreerde en geestelik bankrot gemeente van Laodicéa is kenmerkend van die kerk van die 20ste eeu, en as sodanig verteenwoordig dit die laaste periode in die kerkgeskiedenis. Soos in die vorige periodes, is daar nou ook elemente van al sewe die gemeentes aanwesig, maar die oorheersende kenmerk is dié van Laodicéa. 'n Sorgwekkende toestand heers in hierdie gemeente. As gevolg van hulle humanistiese oriëntasie het hulle 'n horisontale ingesteldheid op menseregte wat op die poilitieke, grondwetlike en sosio-ekonomiese aspekte van mense se lewens betrekking het. Die mens-God-verhouding ontvang bykans geen klem nie omdat die mens in die humanistiese filosofie die oppergesag het en die bepaler van sy eie lotgevalle is. Dit is waarom hy vir homself die reg opeis om die Bybel as 'n onvolmaakte en menslike boek te beskryf en openlike twyfel oor Jesus se maagdelike geboorte, sy Godheid en sy persoonlike wederkoms uit te spreek. Tevrede met slegs 'n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan die gemeente van Laodicea voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van hulle geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook. Van só 'n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself en Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen. Die voorspoedsteologie van Laodicea, op grond waarvan hulle sê: "Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie," is op selfregverdiging en 'n gemaklike aardse lewe ingestel, maar word deur geestelike bankrotskap gekenmerk. Die prediking deur ewe materialistiese en selfvoldane leraars is slegs daarop gerig om mense se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4). Die gevolg hiervan is dat die jong geslag deur 'n Laodicese gees bemeester word. Binne hierdie teologiese raamwerk is die kwessie van sonde irrelevant omdat die begeertes van die eie-ek die botoon oor die bepalinge van die Bybel voer. Die god van hierdie wêreld, Mammon, swaai die septer oor die vervalle kerk van Laodicea wat deur die Here Jesus uit sy mond gespuug is. Mammon mislei die moderne geslag om rykdom, populariteit, sukses en 'n wêreldse selfbeeld na te streef. In hierdie leefwyse is daar plek vir arrogante selfverheerliking, roem op jou eie prestasie, asook vrye teuels aan vleeslike begeerlikhede na drank en al die ander dinge van die wêreld. Die selfvoldane en selfvergenoegde mens erken nie geredelik sy afhanklikheid van God nie en buig nie maklik die knie voor Hom nie. Die kerk as instituut staan in die diens van die mens om die samelewing nóg meer humanisties te hervorm, met die gevolg dat daar in die totale opset net 'n gedaante van godsaligheid oorbly. Die kloof tussen die menseregte-ideologie en die evangelie is onoorbrugbaar. Die humanisme gaan van die standpunt uit dat die mens inherent goed is en slegs deur sy uiterlike omstandighede benadeel kan word. Die evagelie van Jesus Christus stel dit duidelik dat alle mense geestelik bedorwe is en van nature sondaars is. Hulle moet deur die wedergeboorte innerlik verander word voordat hulle kinders van God genoem kan word. Hierdie beskrywing van die mens is vir die humaniste totaal onaanvaarbaar, en hulle beskou dit as 'n belediging. Laodicéa beeld die rasionele, agnostiese en selfregverdigende mens uit. Hy redeneer alles met sy verstand uit, gevolglik bestaan sy godsdiens net uit uiterlike kennis van die Bybel. Die werklike geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor wedergeboorte en heiligmaking ken hy nie, hoewel hy dit teologies kan beredeneer. Hierdie ingesteldheid lei tot 'n naamchristendom en kerke wat hulleself volgens menslike kriteria evalueer en op grond hiervan as baie goed beskou. Dit is egter 'n ernstige vorm van selfmisleiding, omdat hulle nie werklik aan die Here behoort nie. Wanneer hulle wél agterkom dat daar nog iets skort, neem hulle hul toevlug tot kerklike ritusse soos die doop en Nagmaal, asook sielkundige berading en selfs hipnose, om oplossings te soek. Hierdeur dryf hulle ál hoe verder van die Here af weg, omdat daar geen plaasvervanger vir ware geloof is nie (Heb. 10:38). Die Here Jesus distansieer Homself van hierdie soort oppervlakkige vormgodsdiens. Nogtans maak Hy steeds met die geestelik "arm en blinde" lidmate bemoeienis deur voor die 20ste eeuse kerkdeur (d.m.v. buitekerklike roepstemme) met hulle te praat en hulle tot bekering op te roep: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:20). Behalwe vir sekere kerke en individuele gemeentes wat beslis nie as Laodicees geklassifiseer kan word nie, is die meeste van die leidende kerke besig om kompromie met die wêreld te maak en kliphard politieke, ekonomiese en maatskaplike oplossings vir die mens se probleme te soek. Die teologiese verval en oppervlakkige waardes wat hiermee gepaard gaan, duur voort totdat die Here die ware gelowiges kom haal. As gevolg van sy selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die wegraping van die bruidsgemeente sal dus vir sy teoloë, leraars en lidmate as 'n geweldige skok kom wat nie sonder 'n diepgaande herwaardering van Bybelse feite verklaar sal kan word nie. Geseënd is hulle wat wél vir antwoorde na die Bybel gaan en hulle saak met die Here regmaak. Die ander sal op die weg van misleiding voortgaan en tot hulle eie ondergang 'n verbond met die Antichris sluit. Die Dag van die Here 6. Die kerk in die hemel (Openbaring 4 en 5) Inhoudsopgawe Die volgende toneel van Openbaring speel in die hemel rondom die troon van God af. Die inleidingswoorde van Openbaring 4 is: Ná hierdie dinge. Dit kom dikwels in die boek voor en is 'n verdere bevestiging daarvan dat die inligting chronologies aangebied word. Wanneer Johannes in Openbaring 4:1 sê: "Ná hierdie dinge..." dui hy uitdruklik daarmee aan dat wat hy nou gaan beskryf, ná Openbaring 2 en 3 se beskrywing van die kerk op aarde volg. Ons het dus van hoofstuk 4 af te doen met "die dinge wat gaan gebeur" (Op. 1:19) nadat die bedeling van die kerk op aarde afgesluit is. Dit word as twee parallelle reekse gebeure beskryf, nl. gebeure rondom die troon in die hemel waar die verheerlikte kerk ook is (Op. 4 en 5), en die verskrikking van God se oordele op aarde tydens die verdrukking van sewe jaar (Op. 6 tot 19). Johannes is in sy visioen na die hemel opgeroep om 'n kykie in die heerlike bestemming van die kerk te kry. Hy het 'n stem soos 'n basuin met hom hoor spreek, wat gesê het: "Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur" (Op. 4:1). Dit is 'n soortgelyke geklank van die basuin van God wat ware weergebore gelowiges sal hoor wanneer die Here Jesus weldra sal kom om hulle te kom haal: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug" (1 Thess. 4:16-17). Hierdie wegvoering of wegraping geskied "in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin, want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:52). Die wegraping is die wyse waarop die kerk van sy aardse bestaan in Openbaring 2 en 3 af na sy verheerlikte posisie rondom die troon in Openbaring 4 en 5 verander en verplaas word. Die belofte van ontvlugting uit die rampgebied Die belofte van die wegraping is van kardinale belang vir die verstaan van Openbaring. Omdat dit as gevolg van teologiese verval so 'n omstrede onderwerp geword het wat meestal totaal verwerp word, moet die saak hier net weer bo verdenking gestel word. Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4:17 (harpazo in Grieks) beteken om vinnig weggeruk te word. Die bewering deur sommige teoloë dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is hoogs misleidend. Die woord harpazo kan vertaal word as: wegvoer, wegraap, of vinnig wegruk. Hierdie woord kom onder andere ook in Openbaring 12:5 voor: "En (die vrou) het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon." Hierdie teks verwys na die hemelvaart van Jesus. Hy is dus weggeruk of weggeraap na God en sy troon. Behalwe die heerlike bestemming waarna die bruidsgemeente d.m.v. die wegraping geneem word, moet hierdie belofte ook aanvaar word in die lig van ons beloofde ontvlugting uit die oordele van die verdrukking. Soos in die geval van Noag en Lot, sal die ware gelowiges uit die rampgebied van God se oordele verwyder word kort voordat die uur van die duisternis aanbreek: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk. 21:36). In die Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich, word die woord ontvlug (ekfeugo in Grieks) vertaal as: na veiligheid ontsnap, ontvlug, vermy of ontwyk. Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as 'escape tribulations' (ontvlugting uit die verdrukking) aangedui. Die Here bied dus aan u ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis 'n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:16-17). Die belofte van ontvlugting uit die komende verdrukking word met die ontvlugting van die gelowiges in Noag en Lot se tyd vergelyk, toe hulle fisies uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder is. Die groot meerderheid van die mense het die belofte van ontvlugting geminag en geen ag daarop geslaan nie. Hulle het aangegaan met hulle lewe van eet, drink, losbandigheid en materialisme, en glad nie die donker wolke van die naderende oordele raakgesien nie. Mattheus sê hulle het dit "nie verstaan nie voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees" (Matt. 24:39). In sy dolle gejaag na plesier, bandeloosheid en rykdom sien die eindtydse wêreld ook glad nie die tekens van naderende oordele raak nie. Christene wat waak en bid, is egter hierop bedag en sal geestelik waardig wees om die oordele te ontvlug! "In daardie nag sal twee op een bed lê; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word..." (Luk. 17:34-35). Die teëhouer Die Bybel bevestig ook die feit dat die Antichris nie geopenbaar kan word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie: "En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en met die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak" (2 Thess. 2:6-8). "...hy wat hom teëhou" is die ligaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Dit is uit 2 Thessalonicense 2:6-8 ook duidelik dat die Antichris 'n eindtydse diktator is wat ná die bedeling van die kerk op die wêreldtoneel verskyn, en wie se optrede sewe jaar later deur die sigbare koms van die Here Jesus beëindig sal word. Dit is baie belangrik om te begryp dat die kerk van Jesus Christus 'n teëhouende rol ten opsigte van die verskyning van die Antichris het. Ons mag nooit ophou om die lig van 'n donker wêreld en die sout van 'n bedorwe aarde te wees nie. Ons kan dus nie maar gelate toekyk hoedat antichristelike strukture geskep en goddelose lewenswyses gevestig word nie. Nie net moet Christene hierteen gewaarsku word nie, maar ook die staat, die media, die vermaaklikheidswêreld en enige instansie wat vir antichristelike praktyke verantwoordelik is, moet gewaarsku word: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai" (Gal. 6:7). Geen naasbestaan is tussen die ware kinders van die Here en die Antichris as geopenbaarde wêreldleier moontlik nie. Daar is dus geen sprake van 'n wegraping in die middel van die verdrukking nie, want dit sou beteken dat die liggaam van Christus as die teëhouer van die Antichris nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels! Indien ons 'n suiwer Bybelse toekomsverwagting het, dan wag ons vir die Here Jesus wat soos 'n dief in die nag sal kom op 'n uur wanneer niemand dit verwag nie. Voorbereiding vir sý koms is 'n heilige en godvrugtige lewenswandel. In hierdie laat stadium van genadetyd moet siele gered en soos brandhout uit die vuur geruk word, sodat die bruilofsaal kan vol word! Die ontvlugting in die middel van die verdrukking, wat dikwels met die wegraping verwar word, is wanneer Israel sy verbond met die Antichris sal verbreek en dan inderhaas vir oorlewing na die berge in die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-21; Op. 12:13-14). Dit is egter nie die wegraping nie! Dit is opvallend dat daar in Openbaring 2 en 3 dikwels na die gemeente verwys word: "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê" (Op. 3:22). Daarna verdwyn die gemeente misterieus van die toneel af en tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 4 en 5 in die hemel aan. In die donker dae van die verdrukking word daar geen melding van die bruidsgemeente op aarde gemaak nie - wél van heiliges, maar nie in gemeenteverband nie. Ons lees eers in Openbaring 19:7-14 weer van die bruidsgemeente wanneer sy saam met Christus terugkom aarde toe. Kinders van die Here wat gered én gereed is, het niks om te vrees in verband met die komende oordele van die verdrukking nie. Soos in die dae van Noag en Lot, is ons ook nie vir God se oordele en toorn bestem nie: "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe" (Joh. 5:24). Paulus bevestig ook die feit dat die Christene nie vir die oordele van God bestem is nie, wanneer hy aan die Thessalonicense sê: "Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus" (1 Thess. 5:9). Een van die belangrikste redes waarom mense verwar word as hulle die boek Openbaring lees, is omdat hulle die eenvoudige waarheid van die wegraping vóór die donker dae van die verdrukking miskyk. Daar is geen aanduiding in die Bybel dat die kerk tydens enige deel van die verdrukking op aarde sal wees nie. Net so seker as wat die ware gelowiges in die tyd van Noag en Lot die goddelike oordele ontvlug het, sal die ware gelowiges ook die oordele van die verdrukking ontvlug en voor die Seun van die mens staan. Die hemelse gesig Onmiddellik ná die basuingeklank van Openbaring 4:1 was Johannes in die Gees in die hemel: "En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag. En rondom die troon was daar 24 trone, en op die trone het ek die 24 ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad" (Op. 4:2-4). Dit wat Johannes aanskou het, was onuitspreeklik mooi. Die naaste wat hy aan 'n beskrywing van die Here se glansryke voorkoms kon kom, was om dit met skitterende edelgesteentes te vergelyk. Hy het soos die glans van die jaspis- en sardiusstene gelyk. In Openbaring 21:11 word gesê dat jaspis 'n kristalhelder steen is, en dié beskrywing dui veel eerder op 'n diamant. Die vlekkelose heiligheid van God word hierdeur uitgebeeld. Sardius het 'n dieprooi skynsel, en dit wys heen na die kosbare bloed van die Lam. Die groen reënboog rondom die troon versinnebeeld die ewige lewe wat daar in Christus Jesus is. Die sirkel is die simbool van oneindigheid, en die groen kleur stel lewe voor. Die 24 ouderlinge met die krone op hulle hoofde is 'n voorstelling van die verheerlikte kerk van Christus. Hulle identifiseer hulleself bo enige twyfel wanneer hulle in aanbidding voor die Lam neerval en Hom as Verlosser bely: "U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie" (Op. 5:9). Hulle is die bloedgewaste kinders van die Here uit alle volke, en het deur die opstanding van die regverdiges hulle verheerlikte liggame ontvang. As lede van die liggaam van Christus sit hulle rondom die troon om saam met Hom die wêreld in die verdrukking te oordeel (1 Kor. 6:2). Die simboliek wat hier gebruik word om die bruidsgemeente van die Here Jesus mee uit te beeld, is baie paslik. Ouderling is 'n Nuwe Testamentiese amp en veronderstel nie alleen iemand wat deur die genadewerk van Christus verlos is nie, maar ook iemand wat die opdrag tot dissipelskap en arbeid in die oeslande van die Here ernstig opgeneem het. Die getal 24 is ook betekenisvol. In 1 Kronieke 24 het koning Dawid 24 familiehoofde aangewys om die priesterlike dienswerk in die tempel te verrig. Elke groep sou in 'n vaste siklus vir twee weke per jaar aan diens wees. Die 24 families het dus al die priesters ingesluit wat die Here gedien het. In 1 Petrus 2:9 word alle gelowiges in die Nuwe Testament tot 'n heilige priesterdom geroep "om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig." Geloof moet dus tot diensbaarheid lei omdat geloof sonder werke dood is. Die 24 ouderlinge sluit al die 'priesters' van die Here uit elke stam en taal en volk en nasie in. Hulle het goue krone op hul hoofde, en dit is 'n aanduiding van hulle Christelike dienswerk wat deur die Here bekroon is (Op. 22:12). Om met leë hande voor die Here te staan, is soos om jou talente te begrawe en dan op die dag van die wederkoms beskaamd te staan (1 Joh. 2:28). Ouderlingskap is soos dissipelskap, waarin geloof en werke hand aan hand gaan. Dit moet egter nie vleeslike werke wees wat uit die mens se eie vernuf en insig voortspruit nie, maar dit wat onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees gedoen word. Die lossingsreg In Openbaring 5:1-5 vind ons die voorspel tot 'n dramatiese bevrydingsproses wat gedurende die sewe jaar van die verdrukking gaan plaasvind. Dit word as die beoefening van die lossingsreg voorgestel waardeur die aarde en sy inwoners deur middel van groot oordele uit die hand van die Berower (Satan) en sy tiranne bevry en op 'n volkome en absolute wyse aan die gesag van sy regmatige eienaar, Jesus Christus, onderwerp gaan word: "En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek" (Op. 5:1-5). In die boek Rut is 'n goeie voorbeeld van die lossingsreg opgeteken. 'n Vergelyking tussen Rut se omstandighede en dié van ons sal veel lig op die toneel in Openbaring 5 werp: Naomi, haar man en twee seuns het tydens 'n groot droogte en hongersnood van hulle grond naby Betlehem weggetrek om as vreemdelinge in die velde van Moab te vertoef. Op 'n soortgelyke wyse is die stamvader en stammoeder van die ganse mensdom, Adam en Eva, tydens 'n geestelike droogte in die sondeval van hulle regte op hulle erfdeel ontneem, en moet ons as gevolg hiervan vandag nog as vreemdelinge en bywoners in 'n bose wêreld vertoef. In Naomi en haar gesin se ballingskap is drie van die gesinslede dood en nog een het besluit om in Moab agter te bly. Twee sou egter genade in die oë van die Here vind en na hulle erfdeel terugkeer. By wyse van toepassing kan gesê word dat baie mense in hulle afgedwaalde toestand as sondaars sterf, maar vir dié wat die Here met hulle hele hart soek, is daar herstel en redding. Terug op hulle grond in Betlehem het Naomi en haar skoondogter, Rut, 'n enorme probleem gehad. Die opgehoopte skuldlas op die familie-eiendom was só groot dat hulle dit glad nie kon betaal nie. Hulle sou 'n ryk familielid moes vind wat as losser kon optree sodat die grond behoue kon bly. Hy sou ook vir Rut as vrou moes neem sodat die familie van die oorledene nie sou uitsterf nie, maar voortleef. Só 'n persoon het hulle in Boas gevind. Hy het die lossingsreg beoefen deur die skuld te betaal en ook vir Rut, die Moabitiese, wat onder die vleuels van die God van Israel kom skuil het, as vrou geneem. Rut en Naomi was vol vreugde en diepe dankbaarheid teenoor Boas, want as hy nie tot hulle hulp en redding gekom het nie, sou hulle eiendom in die hande van hulle skuldeisers beland en hulle familienaam ook uitgesterf het. Ons losser is Jesus Christus. Hy het die skuldlas van ons sonde op Hom geneem en die volle prys daarvoor betaal. Hierdeur het ons mede-erfgename van Hom geword en sal ons ook saam met Hom oor ons erfdeel regeer. Meer nog - Hy het vir ons, wat soos Rut uit 'n heidenwêreld afkomstig is, as sy bruid geneem omdat ons by Hom kom skuil het. Wat 'n vreugde dat ons só 'n naasbestaande kon vind wat Hom oor ons ontferm het, ons skuld vereffen, ons die ewige lewe geskenk en vir altyd onder sy persoonlike beskerming en sorg geneem het. Die ouderlinge se vreugde het geen perke geken toe hulle besef dat hulle Redder, Jesus Christus, die Losser is wat nie alleen hulle sondeskuld betaal het nie, maar ook die hele aarde van die mag van die Bose gaan bevry. Hierdeur sal hulle weldra die Goddelike gesag van Génesis 1:28 oor hulle erfdeel terugkry en saam met Christus as konings daaroor heers: "U het ons vir God met u bloed gekoop... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers" (Op. 5:9-10). Wanneer dít aan die begin van die duisendjarige vrederyk gebeur, sal die tydperk ná die sondeval waarin "die hele wêreld in die mag van die Bose lê" (1 Joh. 5:19), finaal beëindig wees. Dit was die gebruik in Israel om die bemaking van eiendom in 'n boekrol op te skryf, en elke keer nadat sekere inskrywings gemaak is, is die betrokke deel verseël. Die testament waarin die erfreg en heerskappy oor die aarde beskryf word, is met sewe seëls verseël. Christus alleen is waardig om die testament se seëls te breek en dit te open. Hy is nie alleen die wettige eienaar van die aarde en sy mense nie, maar het ook al die skuld wat uit Satan se berowing van die menslike beheer oor die eiendom voortgespruit het, betaal. Wanneer die seëls een vir een gebreek word, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde uitgestort. Hierdeur sal 'n onverskillige mensdom tot verantwoording geroep word en die mag van Satan en sy trawante stelselmatig afgebreek word totdat daar niks van sal oorbly nie. Die ouderlinge kyk in afwagting toe vir die breek van die eerste seël. Wanneer die eerste seël gebreek word, maak die Antichris skielik sy verskyning op aarde en neem die dramatiese gebeure van Openbaring 6 'n aanvang. Dan is die kerk van Christus saam met Hom rondom sy troon en sal die regverdigheid van sy oordele oor 'n goddelose wêreld telkens bevestig. Jy sal weet of jou bestemming by die Here Jesus is, en of jou lewe dalk sodanig is dat jy glad nie 'n toonbeeld van sy liefde en reddende genade is nie. Dan stuur jy op die verdrukking af, en op die misleiding en onderdrukking van die Antichris wat die groot rebel en mens van sonde sal wees. Daar is egter 'n meer uitnemende weg, en dit is die weg wat by die kruis van die Here Jesus begin. As jy bereid is om op die pad van sonde om te draai en na die Here te gaan, dan sal Hy jou sonde vergewe en jou tot 'n kind van Hom herskep. Wanneer Hy sy kerk kom haal, sal jy dan saam met Hom in hemelse plekke wees terwyl miljoene mense op aarde aan die skrikbewind van die Antichris onderwerp sal word. Diegene wat nie erns met die Bybel en die roepstem van die HereHere maak nie, se lewenspad gaan deur 'n donker dal van verskrikking loop wat by Openbaring 6 begin en gaandeweg al hoe erger word na die einde toe. Die meeste van hulle gaan glad nie eers hierdie geweldige rampe en oordele oorleef nie. Miljoene mense sal só deur die krag van die dwaling oormeester word dat hulle die Antichris blindelings sal navolg en sal meen dat hulle die regte ding doen. Kom liewer nóú oor uit die duisternis na die lig en ontvlug só die komende oordele! Die kinders van God word skielik met die aanvang van die gebeure van Openbaring 4 na hemelse plekke verplaas, terwyl die uur van die duisternis op aarde aanbreek. Eers in Openbaring 19 maak die bruidsgemeente saam met Christus in triomf haar opwagting op aarde om saam met Hom in sy vrederyk te regeer. Die Dag van die Here 7. Die regterstoel van Christus (Openbaring 4 en 5) Inhoudsopgawe Die 24 ouderlinge wat in Openbaring 4 en 5 bekend gestel word, is die verheerlikte kerk. Hulle het almal krone op hul hoofde, wat daarop dui dat hulle genadeloon van die Here af ontvang het: "En rondom die troon was daar 24 trone, en op die trone het ek die 24 ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad" (Op. 4:4). Petrus sê die tyd is daar dat die oordeel in die huis van die Here moet begin (1 Pet. 4:17). Dit verwys na die oordeel oor die werke van gelowiges. Dit is waarom die Here Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" (Op. 22:12). Wanneer die Here kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon en die sondaars te straf: "U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf" (Op. 11:18). Die goue krone wat die verheerlikte kerk sal kry, kom in werklikheid aan die Lam toe daarom word dit voor sy voete neergelê: "[toe] val die 24 ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag..." (Op. 4:10-11). Alleen Hy is waardig om die eer te kry vir dit wat deur sy getroue diensknegte op aarde bereik is. Dit is deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees dat hulle vir die Here kon werk en getrou bevind kon word in dit wat Hy aan hulle opgedra het. Nogtans vra dit toewyding, gehoorsaamheid en volharding van hulle kant af, maar die genademiddels om hulle taak te kan verrig, kom alles van die Here af. Hoewel die regterstoel-oordeel van Christus nie pertinent in Openbaring bespreek word nie, word dit as 'n gegewe aanvaar, en is dit baie duidelik dat dit nét ná die wegraping sal plaasvind. Aan die martelaarsgemeente van Smirna sê Jesus: "Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Op. 2:10). Daar is dus 'n spesifieke kroon wat hulle sal kry. Aan sy getroue getuies in afvallige Thiatire sê Hy: "Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee" (Op. 2:25-26). By sy wederkoms sal Hy hulle dus beloon. Aan die getroues in die dooie Sardis gemeente beloof Hy: "Wie oorwin, sal beklee word met wit klere" (Op. 3:5). Aan sy geliefde diensknegte wat Hom te midde van groot armoede en probleme in Filadelfia dien, sê Hy: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie" (Op. 3:11). Hulle moet dus tot aan die einde waardig bly om hulle krone te kan ontvang. Oor hierdie gees van volharding tot die einde toe het Johannes al voor sy verbanning na Patmos aan die gemeentes geskryf: "En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" (1 Joh. 2:28). Dit het toe al vir Johannes duidelik geword dat ernstige probleme en geestelike veragtering in Christelike gemeentes ingetree het. Die tweede geslag Christene was in die meeste gevalle nie meer op standaard nie. Baie van die oueres se voete het ook gegly. Nie almal is oorwinnaars nie. Die afspraak Alle Christene het 'n duidelike afspraak voor die regterstoel van Christus, of hulle goeie diensknegte was of nie. Sommige sal loon ontvang, terwyl ander met leë hande daar sal staan. Die feit is dat die diensknegte van die Here rekenskap van hulleself sal moet gee. Paulus sê aan die gemeente in Korinthe: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (2 Kor. 5:10). Die woord "kwaad" kan ook met "nutteloos" vertaal word. Daar gaan baie werke van mense wees wat op dié dag nutteloos gaan blyk te wees omdat dit geen ewigheidswaarde het nie. Die Here Jesus sê aan elke gemeente: "ek ken jou werke..." Hy gaan elkeen volgens sy werke vergeld, of dit goed is of waardeloos. Aan die Christene in Rome sê Paulus dieselfde: "...ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... so sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee" (Rom. 14:10, 12). Aan die Korinthiërs verduidelik Paulus in veel meer detail hoe die werke van gelowiges aan God se vuurproef onderwerp sal word. Hieruit blyk dit baie duidelik dat dit geloofswerke is wat ná bekering gedoen word, maar waarvan sommiges nogtans vleeslik en verwerplik sal wees. Hy toon ook aan dat ons as medewerkers van God 'n besliste taak het om in sy koninkryk te verrig. Ons moet egter oppas hoe ons dit doen - nie in die krag van die vlees nie, maar in die krag van die Heilige Gees: "Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels - elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?" (1 Kor. 3:9-16). 'n Paar sake is hieruit baie duidelik: Die fondament van bekering, wat die begin van 'n nuwe lewe in Christus is, moet éérs in ons lewe gelê word voordat ons vir die Here kan werk. Ná ons bekering het ons 'n opdrag om vir die Here te werk deur ons lig in die wêreld te laat skyn en sy getuies te wees. Ons moet sy medewerkers in die uitbreiding van sy koninkryk wees. Dit is nie vanselfsprekend dat ons altyd net aanvaarbare werke onder die leiding van die Heilige Gees sal doen nie, omdat 'n Christen ook nuttelose dinge in die krag van die vlees kan doen (1 Kor. 3:1-3). Dié werke is die hout, hooi en stoppels wat nie ewigheidswaarde het nie. Aan diegene wat onaanvaarbare werke in die vlees doen, word die vraag gevra: "Weet julle nie dat die Gees van God in julle woon nie? Hulle moet hulle lewens aan die beheer van die Heilige Gees oorgee en in sy krag die Here begin dien. Dit is standaard Christenskap. Die Here Jesus het in 'n gelykenis in Lukas 19:11-27 ook na die dag verwys wanneer sy diensknegte rekenskap oor hulle lewens sal moet doen. Hy sê dat Hy aan elkeen van hulle 'n pond gegee het, wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, m.a.w. 'n Godgegewe werksvermoë in sy koninkryk. Wanneer Hy as Koning terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte ontbied om te sien wat hulle deur arbeid verdien het. Aan dié een wat met sy pond tien ponde wins verdien het, sal Hy sê: "Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede" (Luk. 19:17). 'n Ander een kry gesag oor vyf stede, en die een wat sy pond begrawe het en met leë hande voor sy Heer verskyn, word sterk verwyt. Die grondslag van beoordeling Die Here het voor sy regterstoel 'n afspraak met diegene wat aan Hom behoort. Uit die aard van die saak gaan hulle nie op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van geloof in hulle lewe beoordeel word nie. Hulle is almal uit genade gered, deur die geloof, en dit is 'n gawe van God. Omdat hulle almal glo, is die grondslag van hulle beoordeling iets anders, nl. werke van geloof. Dit is die werke wat uit 'n lewende geloof móét voortvloei. Jakobus sê: "Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood" (Jak. 2:26). Paulus stel dit in Efésiërs 2:8-9 duidelik dat ons deur geloof gered word, sonder werke. Niemand kan dus sy saligheid verdien deur daarvoor te werk nie. Redding is 'n genadegawe van God. Nadat 'n persoon egter gered is en 'n gelowige geword het, word dit van hom verwag om 'n lewe van godsvrug en goeie werke te lei. In die teks net ná redding uit geloof sonder werke, sê Paulus: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel" (Ef. 2:10). Ons is tot 'n lewe van goeie werke geroep. Ons moet vrugte dra wat by die bekering pas. As daar nie vrugte in ons lewe is nie, is dit 'n bewys daarvan dat ons 'n dooie geloof het. 'n Loot wat vrug dra, word skoongemaak dat hy meer vrug kan dra. Ons lewens moet gereinig en met die Gees vervul word, sodat ons meer vrug kan dra. Die loot wat geen vrug dra nie, word afgekap. Hy het 'n valse bekering ondergaan, soos die saadjies wat in die vlak grond of tussen die die dorings beland het (Matt. 13:3-23). Só 'n persoon moet maar weer voor begin met sy geestelike lewe. Uit hierdie agtergrond behoort dit duidelik te wees dat die Here ons nie gaan beloon vir dit wat ons vír Hom gedoen het nie, maar net vir dit wat Hy déúr ons gedoen het. Ons is werktuie in sy reddende regterhand. Wat ons doen, moet deur die krag van sy Heilige Gees wees. Ek moet nie my eie kop volg nie, maar die Here raadpleeg en ken in al my weë. As ek wil praat, moet ek deur Bybelstudie en gebed eers die boodskap by die Here kry, sodat ek kan sê: "So spreek die Here." My lewe moet ook rein en heilig wees, anders sal die Here my nie gebruik nie. Die Here gebruik nie vleeslike en wêreldsgesinde mense as sy medewerkers nie. As hulle nie na hulle eerste liefde terugkeer nie, neem Hy hulle kandelaar van hulle af weg, soos wat Hy dit ook van 'n hele gemeente kan wegneem wat Hom mishaag. Hy sal dan iemand anders kry om te gebruik. Krone Die Here sê dat Hy sy kinders se werke ken, en aan hulle genadeloon sal gee wanneer Hy weer kom. Kort nadat ons met die wegraping en die eerste opstanding ons verheerlikte liggame kry, sal ons ook by die regterstoel van Christus krone vir getroue diens kry. Ons moet onsself beywer om dié weke te doen wat vir die Here behaaglik is en waarvoor hy ook krone sal toeken. Dan weet ons dat ons lewe op aarde nie tevergeefs was nie, maar deur die krag van die Heilige Gees werke opgelewer het wat ewigheidswaarde het. Ons sal dan ook die stem van die Here hoor wat sê: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer." Die volgende krone word aan die oorwinnaars beloof: (1) Die onverwelklike kroon vir 'n heilige lewe Heiligmaking het basies met twee sake te doen, nl. reiniging en afsondering vir diens. Wanneer 'n Christen homself in 'n volle oorgawe aan die volkome beheer van die Heilige Gees onderwerp, moet hy twee reaksies verwag: Eerstens sal hy onder die oortuiging van sonde en vleeslikheid in sy lewe kom wat hy sal moet bely en laat staan. Die Gees van God is die Gees van heiligheid en Hy kan nie volle beheer oor 'n onrein tempel neem nie. Paulus sê: "Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1). Tweedens sal hy homself onvoorwaardelik vir die saak van die Here diensbaar moet stel. Paulus het die atlete se strawwe oefenprogramme in Griekeland gesien en gesê: "Elkeen wat aan 'n wedstryd deelneem, onthou hom in alles - hulle nogal om 'n verwelklike