Die koninkryk van Satan Deur Johan Malan Opsomming: Daar is verskeie aanduidings in die Bybel oor die strukturele samestelling van die koninkryk van die duisternis, die doelstellings van Satan en sy demone, asook oor hulle werkswyse. Onkunde oor dié koninkryk en sy strategieë lei tot 'n onvermoë om die geestelike stryd waarin Christene gewikkel is, na behore te begryp en effektief daarteen weerstand te bied. In hierdie publikasie word die Bybelse soeklig op die sielevyand en sy ryk geplaas. Inleiding Die relevansie van 'n studie van hierdie aard blyk onder andere uit die volgende oorwegings: Daar is wêreldwyd 'n drastiese toename in okkultiese en satanistiese bedrywighede. Hierdie stelling kan deur letterlik honderde boeke, artikels en nuusberigte van oor die hele wêreld gesubstansieer word. Dit sluit ook Suid-Afrika in. Opvattings en aktiwiteite van dié aard strek oor 'n wye spektrum wat wissel van openlike satanisme, heksery, towery (sjamanisme) en spiritisme, tot by die groot aantal verborge (okkultiese) kragte wat deur sekere "kenners" of "ingewydes" manifesteer. Laasgenoemde kategorie sluit mistiese praktyke van die koninkryk van die duisternis in, soos bv. astrologie, waarsêery, transendentale meditasie, joga, hipnotiese terapie, die verkryging van alternatiewe bewussynstoestande, Oosterse vorms van geloofsgenesing, holistiese genesing, visualisering, afstandswaarneming, psigokinese, heldersiendheid, suggestologie, suggestopedie, telepatie, buitesintuiglike waarneming, levitasie, astrale projeksie, ens. Okkultiese hulpmiddels soos kristalballe, ander divinasiemetodes, piramides en besweerde amulette word algemeen gebruik en tot die beskikking van beginners gestel. Om duidelik onder die indruk van die geweldige toename van hierdie mistiese verskynsels in moderne samelewings te kom, buite sowel as binne kerke, kan mens maar net Dave Hunt se boeke The new spirituality en Occult invasion - the subtle seduction of the world and the church lees. 'n Baie belangrike terrein waarop okkultiese kragte bekend gestel word en sterk onder miljoene sogenaamde 'Christene' werksaam is, is deur die bemiddeling van valse profete binne-in Christelike kerke en nominaal Christelike bewegings. Hieronder tel veral die "Word-Faith" beweging. Hier kom die duiwel en sy medewerkers soos engele van die lig na vore om na bewering God se krag deur verskynsels soos val in die gees, lag in die gees, profeteer in die gees en 'n groot aantal tekens en wonderwerke bekend te stel. Dit kom neer op 'n "ander Jesus" wat bekend gestel word, 'n "ander evangelie" wat verkondig word, en 'n "ander gees" wat onder talle naïewe mense werksaam is (2 Kor. 11:4). Dit is ook 'n verskynsel wat in die eindtyd aan die toeneem is, soos in 1 Tim. 4:1 beklemtoon: "Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang." Hierdie werke en leringe van duiwels binne die verband van die Christendom is volledig beskryf in boeke soos Christianity in crisis deur Hank Hanegraaf, The great evangelical disaster deur Francis Schaeffer, The seduction of Christianity deur Dave Hunt, en The signs and wonders movement exposed deur Haville, Foster en Glover. Hoeveel mense is nie in Suid-Afrika alleen deur leringe en ondervindinge van hierdie aard mislei en in verwarring gedompel nie. Baie van hulle moes gaan hulp soek by beraders omdat hulle nie mooi besef het wat geestelik met hulle verkeerd gegaan het nie. Uit 'n dispensasionele oogpunt behoort veral chiliaste begrip vir die toename in praktyke van hierdie aard in die eindtyd te hê. Die groot afval van die laaste dae is ter voorbereiding van die verskyning van die mens van sonde "wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen" (2 Thess. 2:9). Die krag van geestelike misleiding moet nie onderskat word nie. Die heel eerste teken van die eindtyd wat die Here Jesus in sy profetiese rede noem, is: "Pas op dat niemand julle mislei nie" (Matt 24:4). Hy sê ook: "Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (Matt. 24:24). Die meerderheid mense raak maklik deur die manipulering van okkultiese kragte in vervoering, en het meesal nie die vermoë om tussen goddelike wonderwerke en mistiese (okkultiese) verskynsels te kan onderskei nie: "Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan" (1 Joh. 4:1). Uit onkunde stel mense hulself vir enigiets oop en sal hulle gemaklik ook die Antichris aanbid wanneer hy op die toneel verskyn en sê dat hy Christus is. Hulle sal verwonderd agter hom aan gaan. Die aard van die stryd "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug" (Ef. 6:12). 'n Verskerpte stryd is besig om tussen die koninkryke van die lig en die duisternis te ontwikkel. Daar is verskeie terreine waarop hierdie stryd gevoer word, onder andere tussen engele en demone in geestelike sfere. Die belangrikste gevegsterrein is egter menselewens wat na die beeld wat God geskape is. In die duiwel se direkte aanvalle op die koninkryk van die lig probeer hy om God te onttroon en in sy plek die heerser van die heelal te word. Sy stryd op aarde is daarop gerig om alle mense gees, siel én liggaam te beheer en deur hulle aanbid te word. Daar is verskillende vlakke en grade van die beheer wat Satan tans oor mense het, en dit is sy groot doel om hierdie beheer verder uit te brei. As die Bybel sê dat "die hele wêreld in die mag van die Bose lê" (1 Joh. 5:19) dan kwalifiseer hy die aard daarvan. Die koninkryk van God het ook gevestigde belange en 'n aansienlike aantal aanhangers hier. God het in elk geval onbetwiste soewereiniteit in die heelal. In sy raadsplan het Hy egter besluit om aan die mens 'n vrye wil te gee sodat hy self kan besluit aan watter een van hierdie twee koninkryke hy wil behoort. Die meerderheidsteun wat die koninkryk van die duisternis op aarde geniet (dit is die bewandelaars van die breë weg), is die rede waarom die Bybel van "die teenwoordige bose wêreld" praat waaruit die Here alle mense wil red (Gal. 1:4). Die groot massa volgelinge van Satan is "die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het" (2 Kor. 4:4). Die hoof van die goddelose wêreld is Satan wat die owerste van hierdie bose, gevalle wêreld is (Joh. 14:30), maar hy regeer nie oor die Christene nie omdat die Here Jesus die werke van die duiwel in hulle lewens verbreek het (1 Joh. 3:8). Hulle is wél in 'n hewige stryd teen die bose aanslae op die koninkryk van die lig gewikkel, daarom sê die Bybel: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel" (Ef. 6:11). Daar is 'n duidelike graadverskil in die strategieë wat deur Satan gevolg word om die finale doel met sy eeue oue oorlog teen die koninkryk van die lig te bereik. Geleidelik word daar tot meer intensiewe aanvalle en 'n groter mate van regstreekse beheer oor mense oorgegaan om die einddoel van 'n ten volle ontplooide sataniese orde op alle lewensterreine te vestig. Die stryd om die verskerping van demoniese beheer wat Satan onder mense voer wat die kroon van God se skepping is, neem die vorm van verskeie oorloë aan: 1. Godsdienstige oorlog Dit is 'n hoë prioriteit by Satan om die mensdom geestelik te mislei en in sy mag te kry. Dit word deur verskillende metodes gedoen: Valse profete In sy mees verbloemde en onregstreekse vorm val Satan die kerk van Christus aan deur dit met die bemiddeling van valse profete wat hulleself as gesante van Christus voordoen, binne te dring (2 Kor. 11:13-15; Matt. 7:15; 1 Joh. 4:1). Sodoende word verwarring gesaai en mense van Christus afvallig gemaak (2 Kor. 11:2-4). Valse godsdienste Op 'n meer openlike wyse word die mensdom deur middel van die nie-Christelike godsdienste mislei om die afgode te aanbid wat in werklikheid demone is (1 Kor. 10:19-20). Die aanhangers van hierdie gelowe weet nie dat hulle met Satan en sy demone besig is, wat hulleself agter die maskers van valse gode verskuil nie. Hierdie is dus nog steeds 'n verbloemde strategie, maar die konfrontasie met die ware Christendom is meer regstreeks. Dit blyk egter dat die valse, misleide Christendom met sy universele ekumene geen beswaar het om met die nie-Christelike gelowe hande te vat nie omdat almal van hulle "die god van hierdie wêreld" aanbid (2 Kor. 4:4). Okkultiese magte 'n Nóg meer progressiewe openbaring van Satan is deur middel van okkultiese, of mistiese, praktyke. Nog steeds koppel hy dit nie regstreeks aan sy naam en sy koninkryk nie, sodat mense makliker mislei kan word om van die ware God afvallig te word. Deur middel van die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde instellings soos towery, spiritisme, meditasie, fortuinvertellery, psigiese kragte, astrale projeksie, selfgenesing, suggestopedie, buitesintuiglike waarneming, parapsigologie, ens., word die krag van Satan bemark en stel baie mense hulleself daarvoor oop. Satanisme Die regstreekse openbaring van Satan kan, weens die inherente afstootlikheid van die idee, net aan hoogs misleide en geestelik totaal vervalle mense gedoen word. In die verlede was dit tot klein groepies beperk, maar tans neem dit geweldig in omvang toe. Onder hierdie mense openbaar hy homself en sy demone in al hulle afskuwelikheid en bloeddorstigheid, en dring hy op regstreekse aanbidding aan. 2. Oorlog teen morele waardes Die morele norme van die mens wat God deur sy wette en voorskrifte, asook deur die gewete van die mens, vasgestel het, word onverpoosd deur Satan bevraagteken, aangeval en afgebreek. Morele verval word deur demone bevorder sodat God se moraliteit vir die mens uiteindelik wêreldwyd met die teenoorgestelde waardes van 'n sataniese immoraliteit vervang kan word. Hierdie twee pole kan só teenoor mekaar gestel word: God se moraliteit Satan se immoraliteit Waarheid Leuen Geregtigheid Ongeregtigheid Selfbeheersing Bandeloosheid Eerlikheid Valsheid en diefstal Sedelike kuisheid Onsedelikheid Nugterheid Dronkenskap Opregtheid Agterbaksheid Eerbied teenoor God Belastering van God Rein gewoontes 'n Onrein, vuil lewe Ordelikheid Wanordelikheid Saggeaardheid Wreedheid Vredeliewendheid Gewelddadigheid Vergewensgesindheid Wraaksugtigheid Liefde Haat Bewaring Verwoesting Satan besef dat hy met sy oorlog teen morele waardes 'n baie groot slag in die oorname, beheer en vernietiging van die mensdom kan speel. Die Romeinse ryk het bv. nooit militêr tot 'n val gekom nie, maar het as gevolg van morele verval intern verrot geraak en homself vernietig. Swelgery, dronkenskap, hoerery, homoseksualisme, materialisme, korrupsie, diefstal en omkopery was vir een skandaal ná die ander verantwoordelik. Dit het die integriteit en doeltreffendheid van die regerings in Rome en Konstantinopel totaal vernietig. Jakobus stel ook die moraliteit van God teenoor die morele verdorwenheid van 'n gevalle wêreld wat in die mag van die Bose lê: "Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak" (Jak. 3:13-18). Die wêreld word stadig maar seker onder die dekmantel van humanistiese hervormings in die rigting van 'n demoniese immoraliteit gevoer. Wanneer dié proses ver genoeg gevorder het, sal die Antichris as die mens van sonde geopenbaar word. Hy sal die leidende figuur in die nuwe wêreldorde se sondekultuur wees. Hy sal doen net wat hy wil (Dan. 11:36), deur middel van duiwelse magte regeer (Op. 13:2), God belaster (Op. 13:5-6), saam met Satan deur 'n moreel en godsdienstig erg vervalle mensdom aanbid word (Op. 13:4), 'n geweldenaar en massamoordenaar wees (Dan. 11:44), en almal laat teregstel wat weier om hom te aanbid (Op. 13:15). 3. Politieke oorlog Satan voer baie duidelik ook 'n politieke oorlog teen die mensdom. God se orde vir nasies is gebaseer op die beginsel van onafhanklike en selfbeskikkende volke wat elk sy eie regering en grondgebied het. Handelinge 17:26 sê dat die Here grense tussen die nasies gestel het. Die heel eerste rebellie wat Satan teen die bestaande orde van onafhanklike nasies aangeblaas het, was by die vestiging van die antieke Babiloniese ryk en die bou van die toring van Babel. Die grondmotief vir hierdie poging was politieke, godsdienstige, ekonomiese en taalkundige eenheid op aarde (Gen. 11:4-6). Dit was egter verkeerd in die oë van die Here, daarom Hy self hulle planne verwar en die deelnemende nasies laat wegtrek om sonder die oorheersing deur 'n wêreldregering hulle eie regering in te stel en hulle eie bestaan te voer. Die duiwel het egter nooit sy planne vir 'n alternatiewe orde gebaseer op die internasionale politieke oorheersing van die nasies laat vaar nie. Verskeie goddelose wêreldregerings het deur die eeue heen ontstaan. Hulle het almal die volke onderdruk, 'n heidense wêreldgodsdiens op hulle afgedwing en deur middel van net een taal regeer. Daar was ook verskeie onsuksesvolle pogings in hierdie rigting, waarvan die mees onlangse dié van Hitler in die Tweede Wêreldoorlog is. Telkens wanneer Satan 'n poging in hierdie rigting loods, berei hy vir hom 'n sterk leier voor wat 'n magsposisie verkry en homself as 'n politieke en militêre diktator vestig. Deur magsuitbreiding lyf hy dan ander volke by sy ryk in en bevorder só sy planne vir wêreldheerskappy. Weens hulle inherente immoraliteit, korrupsie, en die onderdrukking en uitbuiting van volke het hierdie ryke egter altyd weer tot 'n val gekom. Volgens die Bybel gaan Satan voor die wederkoms een van sy sterkste pogings aanwend om God se orde van selfbeskikkende nasies omver te werp en in die plek daarvan 'n nuwe wêreldorde van internasionale politieke, godsdienstige, ekonomiese, sosiale en taalkundige eenheid in te stel. Die man wat hy vir hierdie taak voorberei, word in die Bybel die Antichris genoem (asook die dier). Die wêreldryk wat hy sal vestig, sal 'n herhaling van die Babiloniese ryk van Nimrod wees, daarom word die eindtydse ryk van die Antichris op 'n gepaste wyse Babilon genoem (Op. 17 en 18). Net soos Nimrod, sal die Antichris homself ook vergoddelik en deur misleiding en onderhandelinge ander nasies oorreed om by die nuwe wêreldorde in te skakel. Dit sal aanvanklik dus 'n gesamentlike, onderhandelde inskakeling wees: "Kom laat ons vir ons 'n stad bou [as wêreldhoofstad] en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik ['n magtige wêreldgodsdiens]; en laat ons vir ons 'n naam maak [as wêreldburgers], sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie" (Gen. 11:4). Die diplomatieke onderhandelinge vir die vestiging van 'n nuwe wêreldorde het reeds onder die leiding van Amerika, die VVO en ander wêreldliggame begin. Wanneer die Antichris kom, sal hy hierdie onderhandelinge tot hulle logiese uiteinde van wêreldeenheid onder sy eie leierskap deurvoer: "Hy sal een week lank [sewe jaar] met baie [nasies] 'n sterk verbond sluit" (Dan. 9:27). Wanneer die Antichris egter as wêreldleier aanvaar word, sal dit ten koste van die misleide nasies wees met wie hy 'n verbond gesluit het. Hy sal nie in hulle diens staan nie, maar in die diens van Satan self wat hom vir hierdie pos voorberei het: "...en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag" (Op. 13:2). Ons moet goed begryp dat die duiwel benewens sy aanvalle op individue en groepe ook 'n strategie volg om die nasies te verlei sodat hulle aan hom dienstig word en by sy sataniese orde vir nasies inskakel. Ons lees in Openbaring 20:3 dat die duiwel ná die wederkoms gebind sal word "sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie." Daarna sal hy losgelaat word en die nasies nog een maal verlei deur hulle vir 'n gesamentlike stryd teen die koninkryk van God te verenig en vir militêre optrede te mobiliseer (Op. 20:7-10). Tans word die nasies polities mislei om hulle soewereiniteit prys te gee, soos bv. in Europa, en toenemend by die nuwe wêreldorde in te skakel. Individuele volke word summier van hulle godgegewe selfbeskikkingsreg beroof en by groter eenhede ingeskakel. Sodoende word lande, streke, kontinente, en uiteindelik ook die hele wêreld, polities verenig in voorbereiding op die koms van die Antichris. Dit is 'n politieke en ideologiese oorlog wat vanuit die hel teen volke gevoer word, en waarteen hulle groot weerstand behoort te bied. 4. Sosiale oorlog God het as die Skepper van mense ook reëls oor sosiale identiteit en groepsvorming neergelê sodat menslike samelewings ordelik kan voortbestaan. Hierdie instellings is almal die teiken vir hewige aanvalle deur Satan: God het die mens as man en vrou gemaak, met verskillende ingesteldhede en sosiale rolle wat aan elkeen se identiteit gekoppel is. Hulle voorkoms, houding, kleredrag en haarstyle moet hierdie verskille reflekteer en eerbiedig. Die mans moet in alle opsigte eg manlik en die vrouens eg vroulik wees. Die duiwel poog egter om hierdie verskille uit te wis. 'n Gelykmakingsproses word ingestel en homoseksualisme tot 'n aanvaarbare alternatiewe leefwyse verhef. Die samelewing word ook op 'n nie-seksistiese grondslag geherorganiseer sodat die rolverskille tussen mans en vrouens kan verdwyn. Omdat God die man as hoof oor die vrou aangestel het, en die meeste samelewings steeds paternalisties is, word radikale feminisme nou deur Satan en sy misleide humanistiese medewerkers ingespan om 'n gelykmakingsproses van stapel te stuur. Op dieselfde wyse word kultuurverskille ook in menslike samelewings uitgefaseer sodat mense van hulle volksverbande vervreem en almal saam as wêreldburgers geklassifiseer kan word. Dit is die grondslag van die Antichris se neo-Babiloniese wêreldsamelewing. Almal wat aan hierdie gelykmakings- en vermengingsproses deelneem, is medewerkers van Satan in sy stryd om sosiale en kulturele chaos en identiteitloosheid op aarde te skep. Dit is 'n oorlog teen God se standaarde en reëls vir individue, groepe en nasies. 5. Ekonomiese oorlog In die koninkryk van die duisternis word geld as 'n baie belangrike wapen beskou. Hierdeur beheer die duiwel mense se lewens, koop hulle om en bied aan hulle allerlei genietinge van die wêreld en die vlees. As hy daarin kan slaag om 'n materialistiese lewenshouding by 'n persoon te skep, weet hy dat dit 'n vorm van afgodediens is. Die geldgod is Mammon. Volgens die Bybel kan ons nie vir God én Mammon gelyk dien nie (Matt. 6:24). Satan streef ook daarna om 'n sentrale geldmag wêreldwyd te vestig. Dit sal kontantloos wees en deur 'n nommerstelsel bedryf word. Hierdeur wil hy alle mense se lewens volkome beheer sodat niemand sal kan koop of verkoop sonder 'n nommer nie (Op. 13:16-18). Om mense se geldsake internasionaal te kan beheer, beteken dat 'n oorlog teen ekonomiese onafhanklikheid gevoer moet word. Die individu moet deur skuld in die hande van die regering of geldmaginstansies val. Dieselfde moet op 'n hoër vlak met lande en regerings gebeur. Hulle buitelandse skuld by die groot banke, die IMF en die Wêreldbank moet só groot word dat hulle verplig sal wees om buitelandse, en uiteindelik wêreldbeheer, oor hul ekonomieë te aanvaar. Dit is op hierdie vlak dat die duiwel d.m.v. die Antichris die wêreld ook ekonomies sal oorneem en regeer. Satan se regeringstelsel Die vyf genoemde oorloë wat Satan wat Satan teen die mensdom en teen God se koninkryk voer, word vanuit sy eie koninkryk gekoördineer. Hoewel hy uit geestelike sfere optree, het hy 'n gesagshiërargie en tipiese regeringsinstellings wat met bepaalde opdragte belas is. Dit is teen die optrede van hierdie gesagstrukture dat ons weerstand moet bied: "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug" (Ef. 6: 12). Dié koninkryk het die volgende ses departemente: 1. Departement vir persoonlike aanvalle Hierdie departement funksioneer soos die intelligensie-afdeling van 'n regering, met dié verskil dat hulle inligting oor alle mense op aarde versamel. Dit word dan gebruik om mense se swakhede uit te buit, hulle drifte aan te blaas, hulle te verlei, te mislei, teë te staan, aan te kla, te beroof en selfs dood te maak. Op hierdie vlak is elke persoon by geestelike oorlogvoering betrokke om die aanslae teen hom in die krag en in die naam van die Here Jesus te weerstaan. Sulke persoonlike aanvalle is vir elkeen op wie dit gerig word 'n "dag van onheil" (Ef. 6:13) waarin hy moet oorwin en staande bly. 2. Departement vir groepe en regerings Die Bybel maak duidelike melding daarvan dat vanuit die ryk van die duisternis spesifieke aanvalle op alle belangegroepe en regerings gemaak word in 'n poging om hulle visie en doelstellings te vertroebel en hulle ideologies te mislei. Dit sluit van die kleinste beweging af alles tot by regerings, internasionale organisasies en wêreldstrukture in. Wêreldse, humanistiese ideologieë (kennissisteme, wysgerige stelsels of beleidsrigtings) word aan hulle opgedis om hulle sodoende in Satan se hand te laat speel. Ons word teen misleiding en leringe van duiwels gewaarsku: "Pas op dat niemand julle as 'n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie" (Kol. 2:8). Die verdorwe, goddelose wêreld het dus sy eie ideologiese beginsels. Voorbeelde van sulke misleidende ideologieë wat deur regerings, politieke partye, opvoedkundige instellings en ander groepe aangehang word, is: humanisme, sosialisme, kommunisme, liberalisme, eksistensialisme, relativisme, pragmatisme, globalisme (internasionalisme of nuwe eraïsme), asook al die valse godsdienste. Indien net een van hierdie ideologieë beheer oor 'n organisasie of 'n land verkry, verteenwoordig dit 'n groot oorwinning vir die koninkryk van die duisternis. Dink maar aan die potensiaal vir massamisleiding in lande wat deur kommunisme, of 'n nie-Christelike godsdiens, oorheers word. Omdat 'n regering wye magte het om die denkklimaat in 'n land te beïnvloed, onderwysbeleid te bepaal en mense se lewens op baie ander terreine te beheer, is die Satan as 'n hoë prioriteitsaak op die verleiding en beheer van nasies en hulle regerings ingestel. Ons lees in Daniël 10:13 en 20 van die vorste van Persië en Griekeland, wat hooggeplaaste demone was met die opdrag om die hele nasie te mislei en as instrumente in Satan se stryd teen die volk van God te gebruik. Hierdie demone het die engel van die Here teëgestaan, dus woed daar ook 'n oorlog in die lug tussen engele van God en gevalle engele van die Satan. In hulle bekende kommentaar (The Bible Knowledge Commentary, bl. 1366-7, sê proff. Walvoord en Zuck die volgende oor die oorlog teen Satan se engele wat beheer oor sekere nasies uitoefen: "In Dan. 10:12-14 verduidelik Gabriël aan Daniël die rede vir die vertraging in God se antwoord op sy gebed. God het vir Gabriël met die boodskap gestuur, maar hy is deur die vors van die Perse weerstaan, wat 'n sataniese teëstander is wat beheer oor Persië uitgeoefen het. "God het die engele in verskillende range ingedeel. Gabriël en Migael het gesag oor die engele wat diens aan die volk Israel doen (vgl. Dan. 10:21, 12:1 en Judas v. 9 oor Migael se posisie). In nabootsing hiervan het Satan blykbaar ook senior demone in gesagsposisies in sy koninkryk aangestel. Die vors van Persië was 'n sataniese verteenwoordiger wat oor Persië aangestel is. "In 'n poging om te verhoed dat Gabriël se boodskap by Daniël uitkom, het hierdie vors vir Gabriël aangeval en teëgestaan. Dit gee aan ons insig in die oorlog wat daar tussen God se engele en Satan se demone gevoer word. Die stryd tussen Gabriël en die vors van Persië het drie weke lank geduur totdat Migael, een van die groot vorste onder die engele (Dan. 12:1), tot Gabriël se hulp gekom het. Hierdie konflik tussen engele en demone dui vir ons op die mag wat Satan het." Hoeveel nasies en regerings in ons tyd toon nie duidelik hoedat hulle deur die ryk van Satan beïnvloed en selfs beheer word nie! Sulke regerings slaan ag op die roepstem van die vors van die duisternis deur Christelike grondwette waarin die oppergesag van die Drie-enige God erken word, te herroep, Christelike onderwys uit te faseer, die Christelike godsdiens op 'n intergeloofsvlak saam met die ander godsdienste te groepeer, en in die algemeen die morele peil in 'n land te verlaag deur bv. prostitusie en aborsie te wettig. Sodoende word 'n wettelose, sedelose, gewelddadige en barbaarse leefwyse in die hand gewerk. Al wat dan nog moet gebeur, is dat die mens van sonde, die Antichris, geopenbaar moet word om as Satan se regeerder oor 'n vervalle mensdom te heers. 3. Departement vir die infiltrering en vervalsing van die Christelike geloof In hierdie departement word daar sterk op toneelspel gekonsentreer. Die kerk van Christus word bestudeer en nageboots sodat dit suskesvol geïnfiltreer en mislei kan word. Die demone wat hier werksaam is, en wat natuurlik vry is om die metodes en inligting van al die ander departemente ook te gebruik, soek vir hulle geskikte menslike medewerkers uit om hulle vuil werk te doen. Van hierdie mense word dan valse profete (valse leraars of valse teoloë, m.a.w. wolwe in skaapsklere) gemaak. Dit is gewoonlik gesiene en invloedryke mense wie se opinies baie gewig dra. Die dwalinge moet ook so subtiel as moontlik aangebied word, sodat dit nie baie maklik van die waarheid onderskei kan word nie. Die betrokke persone moet dus as baie vroom beskou word, en selfs as gesante wat vir 'n bepaalde doel deur God gesalf en in sy diens uitgestuur is: "Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie" (2 Kor. 11:13-15). Hierdie mense saai groot verwarring in die koninkryk van God. Die volgende eienskappe is kenmerkend van die valse profete: Misleidende Fariseërs "Julle lyk van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid" (Matt 23:28). Hulle gee voor om te wees wat hulle nie is nie. Hulle verkondig hul dooie vormgodsdiens oral "om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak hulle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as hulleself" (Matt. 23:15). Ons word duidelik teen dié ketters gewaarsku: "Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is" (Matt. 7:15). Struikelblokke in God se koninkryk "Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie" (Matt. 23:13). Hierdie mense is 'gesiene' geestelike leiers wat nie net self ongered is nie, maar nog aktief as struikelblokke optree om ander te verhinder wat graag by die Here wil uitkom. Die duiwel gebruik hulle om duisende mense ongered deur die kerke hel toe te sleep. In hulle prediking kloof hulle hare oor nietighede, terwyl die groot saak van sonde, verlorenheid en redding glad nie aangespreek word nie: "Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!" (Matt. 23:24). Verkondigers van 'n valse vrede 'n Valse profeet verkondig ter wille van populariteit 'n valse vrede om mense gerus te stel sodat hulle met hul sondes kan voortgaan sonder die gevaar dat 'n liefdevolle God hulle ooit sal oordeel. Intussen hou hierdie valse profete wat deur die duiwel gebruik word, hulle nog met bedrog en selfverryking besig: "Van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! terwyl daar geen vrede is nie" (Jer. 6:13-14; kyk ook Jer. 14:13-16). Hulle verkondig fabels Die openbare steun waarna valse leraars soek, lei daartoe dat hulle nie die evangelie reg verkondig nie en dus geen ware bekeerlinge maak nie. Hulle verkondig net fabels en mites, soos bv. dat alle gedoopte kerklidmate verbondskinders is wat hemel toe gaan. Hulle hoef dus nie weergebore te word en heilig te leef nie. Hulle kan maar met 'n lewe van drink, dobbel, leuens, diefstal en hoerery voortgaan, "want al hulle sondes is 2000 jaar gelede al vergewe." Sulke predikante het dikwels groot gemeentes wat vol afvallige vormgodsdienstiges sit: "Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels" (2 Tim. 4:3-4). Hulle verloën Christus "Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word" (2 Pet. 2:1-2). Die gesante van Satan geniet dus groot openbare steun. Hulle verafsku en bespot die evangeliese kerke wat nog sterk standpunte oor 'n Bybelse verlossingsleer het, gebaseer op die maagdelike geboorte van die Here Jesus, sy Godheid, sy soendood aan die kruis, asook oor sy opstanding en wederkoms. Die valse profete voer ook 'n veldtog teen diegene wat in die foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel glo, en stel hulle as naïef, oningelig en oudmodies voor. Klein godjies, tekens en wonderwerke In die eindtyd verskyn daar baie valse profete op die toneel wat die mensdom deur skouspelagtige tekens en wonderwerke mislei. Hierdie mense skroom selfs nie om hulleself as klein godjies voor te stel nie. Hulle het magte om mense te laat val, lag, skreeu, blêr, brul en enigiets wat baie snaaks en ongewoon is. Bybelse regverdiging word dan daarvoor gegee. Hierteen is die volk van God lank gelede al gewaarsku: "En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei... Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (Matt. 24:11, 24). Moet dus nie Satan se departement vir die infiltrering en vervalsing van die Christelike geloof onderskat nie. Wees hierop bedag en waak daarteen. Die Here Jesus het "die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer" (Kol. 2:15). Ons moet ook die valse profete en hulle leringe onder die leiding van die Heilige Gees kan identifiseer as ons net krities na hulle wil kyk en luister: "Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan" (1 Joh. 4:1). 4. Die departement vir valse godsdienste Dit is duidelik dat Satan homself grootskaals op die vestiging en propagering van valse godsdienste toespits om die mensdom te mislei. Hierdeur opponeer, konfronteer en vervolg hy die Christendom van buite af en mislei miljoene mense om valse gode te aanbid. Nog steeds verberg hy en sy demone hulleself agter maskers, sodat die misleides moet dink dat hulle met gode, voorvadergeeste en opgevare meesters van wysheid te doen het. Deur aan hierdie gode te offer, word daar egter aan 'n gekamoefleerde demoon geoffer: "Wat sê ek dan? Dat 'n afgod iets is, of dat 'n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie" (1 Kor. 10:19-20). Die Bybelse opdrag is: "Vlug vir die afgodediens" (1 Kor. 10:14). 5. Die departement vir okkultiese kragte Vanuit sy mistiese, bonatuurlike sfere, kan Satan en sy demone 'n groot verskeidenheid okkultiese kragte op aarde onder die mense laat manifesteer. Dit geskied egter selektief en word op só 'n wyse bekend gestel dat mense nie moet agterkom dat dit van die duiwel af kom nie. Dit het te doen met bonatuurlike vermoëns soos buitesintuiglike waarneming, wonderwerke, okkultiese genesing, toordery, goëlery, astrale projeksie, levitasie, die vermoë om oor warm kole te loop, waarsêery, fortuinvertellery, heldersiendheid, spiritisme, ens. In Ou Testamentiese tye is mense al teen okkultiese praktyke van hierdie aard gewaarsku: "Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan - wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here 'n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die Here jou God hulle voor jou uit. Want hierdie nasies... luister na goëlaars en waarsêers" (Deut. 18:10-14). 6. Die departement vir satanisme Die sesde departement in die koninkryk van die duisternis staan in verband met die openlike aanbidding van Satan self as die wrede, wraaksugtige, bloeddorstige en magshonger god van 'n gevalle wêreld. Weens die hoogs grusame aard van hierdie praktyk is dit net mense wat in die donkerste dieptes van geestelike en morele verval verkeer, wat tot dié uiterstes geneig en aangetrokke is. Hoe meer verval daar in die wêreld plaasvind, des te meer menslike wrakke is daar wat 'n behae in geweld, rebellie, vervloekinge, bloedvergieting, doodsbeendere, seks-orgies en die mees makabere satanistiese rituele het. Wat vroeër klein groepies mense was wat in donker hole in verlate plekke bymekaargekom het om Satan te aanbid en aan hom te offer, het nou gegroei na duisende volgelinge in feitlik alle dorpe en stede van Suid-Afrika. Benewens die feit dat Satan 'n rebel en 'n mensemoordenaar is, begeer hy ook om deur sy volgelinge aanbid en vereer te word. Diegene wat bereid is om hom ten spyte van al sy wrede en vuil karaktertrekke te aanvaar, met hom te identifiseer, en hom nogtans te vereer en te aanbid raak by satanisme en, in Amerika ook by die kerk van Satan, betrokke. Hulle neem oral in die wêreld vinnig toe. Omdat daar in satanisme 'n rangorde is waardeur 'n lid na die topstruktuur kan beweeg, is daar baie van die nuwe lede wat nog net beperkte begrip het van wie en wat Satan werklik is. Mettertyd leer hulle hom beter ken en word dan meer en meer soos hy. Daar is 'n verskeidenheid redes waarom mense by satanisme betrokke raak. Soms is dit 'n gees van uiterste rebellie. Mense kom teen die hele samelewing en teen alle gesag en standaarde van ordentlikheid in opstand, en wend hulleself dan tot die verering en navolging van die groot Rebel, Lucifer. Andere het weer 'n hunkering na mistiese bonatuurlike kragte en gaan soek dit by die duiwel. Daar is diegene met moorddadige neigings wat hulleself tot dié kringe wend. 'n Baie algemene trekpleister is die seks-orgies wat daar plaasvind, asook die beskikbaarheid van drank en dwelmmiddels. 'n Verdere rede waarom mense hulle tot Satan wend is om finansiële voorspoed te verkry. In Amerika is dit veral die lede van popgroepe wat dikwels die hoëpriester of heks van 'n satanistegroep nader om 'n kontrak met Satan aan te gaan in ruil vir rykdom. Met hul eie bloed teken hulle dan hul siele aan Satan af. Daarna is hulle verplig om temas soos heksery, towery, dwelmmiddels, Oosterse kultusse of selfs Satan-verering deur middel van hulle liedjies te bevorder. Een van die belangrikste aktiwiteite in 'n byeenkoms is offers aan Satan wat met gebede aan hom gepaard gaan. Diere word aan hom geoffer, maar soms ook mense. Daar is gevalle bekend waarin ontvoerde mense aan Satan geoffer is, asook die buite-egtelike babas van kultuslede. Bloed wat met drank of dwelmmiddels gemeng word, word ook deur lede gedrink. Demone verskyn ook by die byeenkomste en neem van mense besit. Hierdie gevangenes van Satan verkeer op die laagste punt van geestelike en morele verval wat daar is. Dit is met baie goeie redes dat die Bybel sê: "En gee aan die duiwel geen plek nie" (Ef. 4:27). Jakobus se raad is: "Onderwerp julle dan aan God, weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug" (Jak. 4:7). Petrus sluit hierby aan as hy sê: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof" (1 Pet. 5:8-9). GRONDBEGINSELS VAN DIE KONINKRYK VAN DIE DUISTERNIS Uit 'n studie van Satan se werkswyse onder mense in die algemeen, asook in die binnekringe van die sataniste-beweging waar hy sy bose karakter ten volle openbaar, blyk die volgende 13 grondbeginsels waarop sy koninkryk berus: 1. Rebellie Satan beteken Teëstander. Sy rebellie en teëstand teen God het in die hemel begin. In die boek Jesaja sê die Here van Satan: "Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! [verwysende na hom as Lucifer]. Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim op die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos 'n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie?" (Jes. 14:12-17). Satan is nog steeds die teëstander wat alle gesag en wette verwerp en anargisme in die hand werk. Hy ondermyn goddelike én menslike gesagsinstansies in 'n poging om totale chaos te skep. Dit is deel van die eeue oue stryd wat hy vanuit die koninkryk van die duisternis teen die koninkryke van die lig voer. Sataniste is ook deur dieselfde gees van rebellie en anargie besete. Hulle gee hulle opstandigheid duidelik te kenne deur die anargie-simbool (A) op mure of vloere in openbare plekke te verf. Die sirkel wat om die simbool is, is die sirkel van mag. Baie van die sataniese simbole word in 'n sirkel geplaas. Die okkultiese mag van Satan moet binne die sirkel gehou word en gevaar daarbuite. 2. Vernietiging van God se skepping Die ganse skepping van God is 'n teiken vir Satan se vernietigingswerk. Hy wil die aarde en sy natuurlike hulpbronne só besoedel, verbrand en verwoes dat die wêreld onleefbaar raak en in 'n barre planeet omskep word. Dit is opmerklik dat dit net lande en beskawings met Bybelse norme is wat die aarde en sy hulpbronne op 'n verantwoordelike wyse bewerk, bewaar en veredel. Hoe meer beheer Satan oor 'n volk en sy kultuur kry, des te meer verblind hy mense se sinne, stomp hulle verantwoordelikheidsgevoel en sin vir waardes af, maak van hulle hebsugtige mense wat op 'n gevoellose en gewetelose wyse die natuur verwoes om hulleself te kan bevoordeel. Bome word afgekap sonder om dit te vervang, weivelde word oorbenut en verwoes, erosie word geskep en ongehinderd laat voortduur, land- en seediere word uitgewis sonder om aan hulle 'n herstel- en oorlewingskans te gun, die water en lug word só besoedel deur vullis en fabrieksafval dat dit soms lewensgevaarlik vir mense én diere word. Dit is Satan se duidelike agenda om hierdie aarde wat die Here vir bewoning en bewerking aan die mens gegee het, onbewoonbaar gemaak moet word. In die groot verdrukking gaan hy baie naby aan die verwesenliking van sy bose plan van 'n totale ekologiese ineenstorting op aarde kom. 3. Vernietiging van God se instellings Satan se koninkryk is nie net daarop uit om die fisiese skepping te vernietig nie, maar ook al God se instellings vir die sinvolle en ordelike voortbestaan van menslike samelewings. Hieronder is die huwelik en regeringsinstelllings die belangrikste teikens. Vloeke word oor die huwelike van Christene uitgespreek sodat dit ontbind moet word en ouers hulle gesag oor kinders kan verloor. Voortdurende pogings word ook aangewend om regerings en hulle instellings vir die handhawing van gesag, orde en morele standaarde tot 'n val te bring. Die polisie wat dikwels op sataniste jag maak, word verag en alle pogings aangewend om hulle te ondermyn en selfs ook te infiltreer. Die sataniste gebruik kodename vir mekaar by byeenkomste, gepaard met geheimhouding oor hul adresse en werksplekke, sodat 'n lid wat deur die polisie gevang en ondervra word, nie bruikbare inligting oor ander lede kan verskaf nie. Sodoende probeer Satan om chaos in menslike samelewings te skep. 4. Sabotasie en ondergrondse bedrywighede In Satan se ryk is daar 'n sterk verbintenis tot sabotasie in 'n poging om af te breek wat daar reeds opgebou is. Dit geld nie net die afbreek, afbrand of verwoesting van geboue, motors en ander eiendom nie, maar ook nie-materiële dinge soos die geestesbesit van 'n volk. Dit sluit die sabotasie van onderwysstandaarde in, asook ander vorms van akademiese terrorisme waardeur die tersiêre instellings in 'n land bedreig en ontwrig word. Die meeste van hierdie bedrywighede word ondergronds beplan en uitgevoer. Die duiwel maak ook van 'n groot netwerk van geheime organisasies gebruik om sy bose planne ten uitvoer te bring. Paulus verwys hierna as die verborgenheid van die ongeregtigheid (2 Thess. 2:7). Die planne van Satan word in die verborgene, in diep geheimhouding, beplan en dan deur sy medewerkers befonds en op 'n listige wyse deur frontorganisasies in die openbaar geïmplementeer en bevorder. Hierdie organisasies en groepe verwoes Christelike standaarde en instellings en is dus bondgenote met die sataniste-beweging. 5. Leuens en leringe van duiwels Omdat die duiwel die vader van die leuen is, word alle vorms van die waarheid beveg en met leuens vervang. Dit lê ten grondslag van 'n ideologie van omgekeerde waardes waarin dit wat goed is as sleg voorgestel word. Mooi, skoon, eerbare en behoudende dinge word verag. In die plek daarvan word lelike, vuil, oneerbare en afbrekende dinge aan die mens opgedis. Vuil, pornografiese lektuur word oral uitgestal om die proses van geestelike, sielkundige en liggaamlike besoedeling te bevorder en Satan se stempel op die samelewing af te druk. Dit sluit ook godsdienstige, politieke en filosofiese ideologieë in. Leringe van duiwels word ingespan om 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing met humanistiese, duiwelse idees te vervang. Kerke, regerings, politieke partye en universiteite vertoon duidelik die gevolge van hierdie aanslag uit die onderwêreld. Die teologiese dogmas aan die meeste van ons universiteite toon ook in hulle huidige vorm onmiskenbaar die hand van Satan. Die belangrikste hiervan is dié leringe waardeur die Godheid en maagdelike geboorte van Jesus, die goddelike inspirasie van die Bybel, asook 'n verlossingsleer wat op wedergeboorte gebaseer is, deur moderne teoloë ontken word. Sataniese tekens en wonderwerke word ook saam met leringe van duiwels in sommige kerke deur valse profete opgedis. Dit het al aan die lig gekom dat sataniste sulke kerke en Christelike groepe vooraf binnesypel om die saad van valsheid en bedrog te saai. 6. Vervloeking en lastering Die duiwel en sy trawante haat, verwerp en belaster die Drie-enige God, die Christene én Israel. Duiwel beteken lasteraar, en dit is wat hy by uitstek doen. 'n Uitgebreide woordeskat van vloekwoorde en lastertaal word gebruik. Verder word daar ook vloeke oor individue, groepe, kerke en selfs oor lande uitgespreek en bindinge op hulle geplaas. Die Antichris sal onder die leiding van die duiwel ook 'n geweldige lasteraar wees: "En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek... en hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster" (Op. 13:5-6). Elkeen wat God se Naam ydelik gebruik en ook die Christene belaster, speel direk in die hande van Satan. 7. Teëstand teen die kruis van Jesus en die Christelike kerk Die koninkryk van die duisternis is fanaties teen die kerk van Jesus Christus gekant, en probeer dit op elke denkbare wyse teëstaan, bevraagteken, ontmoedig, vervals, infiltreer, omver werp en verwoes. Sommige simbole wat hulle in dié verband gebruik, is die volgende: Die gebreekte kruis In hierdie simbool word die kruis van Jesus onderstebo gedraai en die dwarsbalke gebreek sodat hulle skuins na onder wys. Dit stel die omverwerping en vernietiging van die Christendom voor - iets wat elke ingelyfde satanis moet doen. Hekse gebruik hierdie selfde teken, daarom staan dit ook as die heksepoot bekend. 'n Aantal radikale vredesbewegings gebruik ook dié simbool, soos bv. demonstreerders teen die gebruik van kernwapens. Hoewel hulle 'n goeie saak bevorder, soek hulle onder die leiding van die engel van die lig, Satan, na 'n humanisties vrede buite Christus. Hierin is daar vir vrede met God op grond van die kruis van Jesus geen plek nie. Die kruis moet juis verbreek en omver gewerp word sodat die mens onder die leiding van Satan, wat die god van hierdie wêreld is, sy eie vrede kan skep. Die onderstebo kruis Dié kruis is nie gebreek nie, maar slegs onderstebo gedraai sodat hy op sy kop staan. Dit dui op die verwerping en minagting van Jesus Christus. Omgekeerde simbole is tipies van die omgekeerde, teenoorgestelde en agterstevoor waardes wat deur die sataniste nagestreef word. Mense wat soms tydens die sataniste se Swart Sabbat, wat met die Paasfees saamval, aan Satan geoffer word, word onderstebo gekruisig. Die kruis van verwarring Dit is 'n kruis waarvan die lang onderste balk gekrul is sodat dit soos 'n omgekeerde vraagteken lyk. Dit is ook 'n sataniese kruis waardeur die egtheid en krag van Jesus se kruis bevraagteken word. Die rock-groep 'Blue Oyster Cult' gebruik hierdie simbool op hulle plaatomslae. Die Ankh kruis Dit is 'n antieke Egiptiese simbool van lewe, waarvan die kort boonste balk 'n sirkel vorm. Hierdie kruis is 'n kombinasie van die vroulike en manlike tekens van Isis en Osiris. Sataniste gebruik dit as 'n sekssimbool vir hulle orgies. 8. Immoraliteit Omdat die Bybel hoë morele norme voorstaan, is dit die Teëstander se doel om hierdie standaarde af te breek en met die ergste moontlike vorms van immoraliteit en wangedrag te vervang. Vuil gewoontes, onrein gedagtes, anti-sosiale gedrag, wreedaardigheid, die vernietiging van lewe, aborsie, korrupsie en diefstal, onbeteuelde wellus, brassery en dronkenskap, hoerery, prostitusie en homoseksualisme is alles deel van Satan se immorele leefwyse wat hy onophoudelik bevorder. Hy is die outeur van sonde, en streef daarna om 'n kultuur van sonde wêreldwyd te vestig. Dit is die rede waarom daar ook na sy toekomstige wêreldleier, die Antichris, as "die mens van sonde" en "die seun van die verderf" verwys word (2 Thess. 2:3). Tydens die ryk van die Antichris sal die dekadensie en morele verval vergelykbaar met die dae van Noag en Lot wees. In die tyd van Noag "was die boosheid van die mens op die aarde groot en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg... En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld" (Gen. 6:5, 13). In die dae van Lot was 'n uiterste sondige leefwyse, waarvan gewelddadigheid en homoseksualisme die uitstaande kenmerke was, aan die orde van die dag. God het op grond hiervan groot oordele oor die betrokke mense uitgestort. In die komende bewind van die draak, die dier en die valse profeet, sal dit in 'n oortreffende mate die geval wees. Die wêreld sal aan 'n groot verdrukking oorgegee word soos wat daar nog nooit op aarde was nie; en as daardie dae nie verkort word nie, sal geen vlees gered word nie (Matt. 24:21-22). Sonde is die rede waarom God mense oordeel. Satan maak dit sy besigheid om individûe, groepe, en selfs hele gemeenskappe en nasies in sonde te dompel en dit as 'n aanvaarbare leefwyse te vestig. In die sataniste-beweging gebeur dit reeds sonder enige teëhouding. 9. Okkultiese krag Satan beskik ongetwyfeld oor aansienlike mag en krag wat hy aktief vir die bevordering van sy koninkryk se belange aanwend. Dit word tot die beskikking van sataniste, towenaars, hekse, waarsêers, spiritiste en talle ander beoefenaars van okkultiese praktyke gestel. Deur hulle word dit na die breër gemeenskap gekanaliseer. Hierdie kragte word ook aan valse profete gebied wat Christelike kerke binnedring en tekens en wonderwerke doen om mense mee te verbyster. Veral in die eindtyd sal dit sterk na vore kom. Die Here Jesus het self hierteen gewaarsku: "Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen" (Matt. 24:24). Sodoende sal Satan deur sy medewerkers die weg baan vir die verskyning van die leier van die valse christusse, nl. die Antichris. Paulus sê: Sy koms sal wees "volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen" (2 Thess. 2:9). Die valse profeet sal oor dieselfde sataniese magte beskik. Johannes sê in Openbaring van die valse profeet: "En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier [dit is die Antichris] aanbid... Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal... En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen" (Op. 13:12-14) 10. Universele heerskappy In sy koninkryk stel Satan homself graag as die god en heerser van die heelal voor. Mense moet hom ook in hierdie hoedanigheid aanvaar as hulle kontrakte met hom sluit. Dit is sy groot begeerte en doel om heerskappy oor alle mense te voer. Hy het reeds 'n groot mate van beheer oor die koninkryke van die aarde, maar hy is nie daarmee tevrede nie. Hy streef daarna om, soos dikwels in die geskiedenis al, 'n goddelose wêreldregering met diktatoriale magte in te stel. Alle onderdane moet met 'n ystervuis regeer en summier tereggestel word by die geringste aanduiding van dislojaliteit. 'n Sataniese wêreldregering gaan inderdaad onder die leiding van die Antichris ingestel word, en dit sal 'n herlewing van die ou Babiloniese en Romeinse wêreldryke wees. Okkultiese kragte en afgodediens het in dié ryke gefloreer. Satan sal sy krag en mag aan die Antichris oorgee om die mensdom polities en militêr te onderwerp. 11. Moord en doodslag Satan is 'n mensemoordenaar van die begin af. Hy het 'n behae daarin om mense af te maai en na die verderf te sleep waar die ewige dood op hulle wag. Sy volgelinge het ook 'n behae in moord en moordwapens, asook in doodsbeendere, veral kopbene. Ook het hulle 'n beheptheid met bloed, harte en ander liggaamsdele van hulle slagoffers. Hoe wreder en grusamer die moordtoneel is, hoe meer hou hulle daarvan. Wanneer Satan sy eie volgelinge klaar gebruik het, dryf hy hulle tot selfmoord of gebruik ander mense om hulle te vermoor. Anton LaVey, die persoon wat op die sesde dag van die sesde maand in 1966 die Eerste Kerk van Satan in Amerika gestig het, en ook die sataniste-bybel geskryf het, is in 1997 op 'n geheimsinnige wyse dood. Hy het die laaste paar maande voor sy dood erg aan depressie gely, en daar is sterk sprake dat hy selfmoord gepleeg het. 12. Demoniese besetting 'n Gevestigde beginsel en werkswyse in die koninkryk van die duisternis is demoniese besetting. Satan en sy gevalle engele is geeste wat wél die vermoë het om 'n sigbare gestalte aan te neem, maar wat afhanklik van mense is om hulle te beset en deur hulle te werk. 'n Demoon wat van 'n persoon besit neem, verander die persoonlikheid van sy slagoffer heeltemal, oefen beheer oor sy wil en emosies uit, intimideer en beveel hom deur middel van telepatiese opdragte of deur selfs in 'n hoorbare stem met hom te praat, en pynig en martel hom as hy ongehoorsaam is. Die slagoffer kry angswekkende nagmerries, word gedwing om makabere prente teen die mure van sy kamer te plak en swart klere te dra. In die sataniste-kultus is daar hoëpriesters wat verskeie demone het wat elk sy eie naam het, en ook deur die priester beveel kan word om sekere opdragte uit te voer. 13. Die aanbidding van Satan Satan is die onbetwiste hoof van sy koninkryk en hy eis die lojaliteit en aanbidding van al sy onderdane op. Die sataniste moet hom ook almal aanbid en gedurig offers aan hom bring. Hulle gebruik hoofsaaklik die naam Heer Satan (Lord Satan), maar hulle draai dié naam soms om tot Natas. Ook spreek hulle hom as Lucifer aan of as Leviátan. In illustrasies word hy as 'n menslike wese met 'n bokkop voorgestel, of net as 'n swart bok. Die simbool wat die meeste met hom in verband staan, is die onderstebo pentagram met die een punt na onder. Die bokkop word dikwels in 'n pentagram geteken. Hoewel Satan en die demone in sy ryk die onregstreekse aanbidding van miljoene mense geniet wat die verskillende afgode aanbid, is dit sy einddoel om in sy onvermomde vorm as Lucifer aanbid te word. Saam met die Antichris, wat die koning van die toekomstige sataniese wêreldryk sal wees, wil die draak (Satan) deur alle mense aanbid word. Weiering om dit te doen, sal met die dood strafbaar wees: "En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die Antichris] aan gegaan. En hulle het die draak [Satan] aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk, Wie kan teen hom oorlog voer? ...en [hy] maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie" (Op. 13:3-4, 15). Toekomstige verwikkelinge Nou moet ons ook kyk hoe die stryd tussen die koninkryke van die lig en die duisternis in die toekoms gaan verloop. Volgens die Bybel beweeg die wêreld weens sy eie verdorwenheid onwrikbaar in die rigting van 'n sataniese oorname. Op die hoogtepunt van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking sal satanisme die enigste amptelik erkende en verpligte wêreldgodsdiens wees. Dit sal gedurende die laaste 31/2 jaar van die verdrukking wees. Hierdie donker uur in die wêreldgeskiedenis sal aanbreek pas nadat daar 'n oorlog tussen engele en demone in die lug plaasgevind, en die duiwel op die aarde neergewerp is. Hy sal dan met dubbele woede op die aardbewoners toeslaan om sy vernedering te wreek en vir homself aanbidding op te eis: "En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie... en die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp... Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (Op. 12:7-9, 12). Die Satan sal weet dat hy nog net 31/2 jaar het om sy planne vir wêreldheerskappy en die aanbidding deur alle mense in werking te stel. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die Here Jesus aan die einde van die groot verdrukking met 'n hemelse leër sal kom, sy voete op die Olyfberg sal sit en met sy vyande sal afreken. Omdat die duiwel dus sal weet dat hy min dae het, gaan hy alles in werking stel om teen Jesus en sy hemelse leërs te veg wanneer Hy terugkom aarde toe. Dit sal die slag van Armagéddon wees. Satan sal alle nasies op aarde vir hierdie oorlog in Israel mobiliseer: "En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon" (Op. 16:13-16). Die slag van Armagéddon sal nie lank duur nie, want verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God. Satan en al sy misleide trawante se val sal vinnig en finaal wees: "En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien om oorlog te voer teen Hom [Jesus Christus] wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand... En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp - die ou slang wat die duiwel en Satan is - en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie" (Op. 19:19-20:3). Voor Christus se wederkoms wanneer die draak, die dier en die valse profeet oorwin sal word, wag daar dus 'n sataniese magsmonstering soos wat hierdie wêreld nog nooit beleef het nie. Die duiwel sal weet dat sy tyd min is, en die Antichris sal ook van die profesie kennis dra dat hy deur die verskyning van Christus se wederkoms tot niet gemaak sal word (2 Thess. 2:8). Sy haat en vergeldingsdrang sal geen perke ken nie, daarom sal hy "met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref" (Dan. 11:44). Is jou saak reg? In die lig van al hierdie inligting is daar 'n paar vrae wat elkeen van ons sal moet beantwoord. Hoe geskok ons ook al met die planne en werkswyse van die koninkryk van die duisternis mag wees, moet ons geensins onder die illusie verkeer dat ons niks daarmee te doen het nie. Satan het nie 'n enkele mens op aarde oorgeslaan nie. As gevolg van die sondeval wat deur Satan beplan is, word alle mense met 'n sondige natuur gebore waarvan hulle verlos móét word! Die resultaat van hierdie sondige natuur is dat alle mense sonde doen en as gevolg daarvan velore gaan - op pad na die hel waar hulle saam met die duiwel en sy engele vir ewig gestraf sal word. "Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Rom. 3:23). "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie" (Rom. 3:10). Die vraag is nie of jy jouself aan satanisme skuldig gemaak het, valse godsdienste beoefen, met okkultiese kragte geëksperimenteer het of deur valse profete mislei is nie. Hierdie is alles daadwerklike gevare en mense wat daardeur gevang is, het dringend verlossing nodig. Die meeste mense gaan egter nie as gevolg daarvan verlore nie, maar as gevolg van hulle eie sonde, al was hulle in die algemeen gesproke goeie mense. Daar moet 'n keuse vír die Here en téén jou sonde gemaak word. Die feit dat jy as gevolg van die duiwel se toedoen 'n sonde-geneigde natuur geërf het, onthef jou nie van die verantwoordelikheid om iets daaraan te doen nie. Die Here het aan elke mens 'n vrye wil gegee om selfstandige besluite te kan neem. As gevolg van die feit dat jou sondige natuur deel van jou persoonlikheid is, word jy self vir jou sondige dade aanspreeklik gehou: "Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word" (Jak. 1:14). Die duiwel buit wel jou sondige hartstogte uit en blaas dit aan, maar as gevolg van jou sondige natuur doen jy meesal sondige dade sonder die duiwel en sy demone se regstreekse bemoeienis met jou. Elke keer neem jy 'n wilsbesluit om òf 'n versoeking te weerstaan òf daaraan toe te gee. Word jou lewe deur voortdurende sonde gekenmerk, of is jy weergebore met 'n nuwe natuur wat na God geskape is in ware geregtigheid? Leef jy 'n heilige lewe in die krag van die Heilige Gees? As jy in sonde leef, gaan jy net so seker hel toe as al die misleide slagoffers van Satan waarna ons in hierdie boodskappe verwys het. Ondersoek jouself dus of jy in die geloof is en vrugte dra wat by die bekering pas. Miskien sal 'n paar vragies jou help om duidelikheid hieroor te kry: "Meneer, is jy 'n slagoffer van 'n dooie vormgodsdiens sonder 'n getuienis van wedergeboorte? Dan het jy net 'n gedaante van godsaligheid en mislei jouself. Hoe sien jou lewe by die werk daar uit - word jy deur woedebuie oorheers en verloor jy dikwels jou humeur? Is jy eerlik, vermy jy korrupsie en weerhou jy jou van vuil gesprekke? Hoe sien jou lewe by die huis daar uit? Slaan jy jou vrou? Is jy getrou aan haar en lief vir haar? Stel jy aan jou huisgenote die voorbeeld van 'n heilige wandel en godsvrug? Hoe lyk jou persoonlike lewe? Is jy dalk 'n slagoffer van oordrewe materialistiese begeertes of onrein gedagtes? Hou jy gereeld stiltetye en bestudeer jy die Bybel vir raad, voorligting en antwoorde op al jou probleme? Lees jy goeie geestelike boeke? Hierdie vrae sal jou help om duidelikheid in jou gemoed te kry of jy aan die Here Jesus behoort of aan die duiwel. Alle sondaars is kinders van die duiwel. Jesus het aan ongeredde godsdiensleiers gesê: "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen [nl. sonde]" (Joh. 8:44). As 'n kind van die Here sonde doen, is dit 'n ramp in sy lewe en moet hy dit dadelik bely en daarvan afstand doen. Ons Bybelse lewensreël is dat ons nie moet sondig nie (1 Joh. 2:1). Ons moet weerstand bied teen die sonde (Heb. 12:4). As jy 'n verloste van die Here is, staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygemaak het. Help andere wat deur satansmag gebind is, om bevryding by die enigste Verlosser van die wêreld te kry. Die Here Jesus het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8). As die Seun jou dan vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Joh. 8:36). Prys sy Naam!