Uit die duisternis na die lig Deur Johan Malan Opsomming: Die Bybelse verlossingsleer was deur die eeue heen die onderwerp van vele aanvalle, verdraaiings en waninterpretasies. Omdat dit op die nou poort betrekking het waardeur ons tot die koninkryk van God moet toetree, werp Satan alles in die stryd om mense van hierdie belangrike stap te weerhou en aan hulle valse fondamente te bied. Maak seker dat u oor hierdie uiters belangrike leerstelling nie in die duister verkeer nie, want dit sal u baie duur te staan kom in 'n stadium wanneer genadetyd verby sal wees en u nie meer die saak sal kan regstel nie. STAPPE OP DIE HEILSWEG Daar is 'n duidelike pad wat die Here met 'n sondaar loop om sy siel te red, hom toe te rus vir diens en ook vir die ewige lewe in die hemel voor te berei. Die bereidwilligheid en volle samewerking van almal van ons, ooreenkomstig vaste Bybelse riglyne, is nodig indien ons die teleurstelling van 'n valse bekering wil voorkom. Ek nooi jou om saam met my die onnaspeurlike rykdomme van die Here se reddende genade in die Bybel te ontdek, en in die geloof vir jouself toe te eien. 1. Roeping Die Here gee self die eerste tree op die pad van die sondaar se redding. Hy roep hom tot bekering op en voorsien ook die middele vir sy verlossing. "God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Rom. 5:8). Sy roepstem gaan na alle mense uit om op grond van Jesus se kruisdood verlossing van sonde te verkry: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matt. 11:28). "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol" (Jes. 1:18). Vir hierdie doel het die Seun van God na die aarde gekom, om nuwe lewe aan 'n verlore mensdom te bied deur hulle tot bekering te roep: "Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering" (Matt. 9:13). Sonde en verlorenheid Dit is baie belangrik om die roepstem van die Here duidelik te hoor, want dit sal die aard van jou reaksie bepaal. Jy moet die omvang van jou probleem van verlorenheid deeglik besef, naamlik dat jy sonder Jesus Christus op 'n ramp in jou lewe afstuur. Daar is geen ruimte vir selfregverdiging wat jou donker geestelike toestand betref nie, want "daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie" (Rom. 3:10). Jy moet kennis oor sonde opdoen, en veral van jou eie sondes wat 'n skeidsmuur tussen jou en die Here is (Jes. 59:2). Daar moet geen twyfel by jou bestaan dat die ewige doodstraf oor sondaars uitgespreek is nie (Rom. 6: 23). Alle ongereddes moet hulle op die voltrekking van dié vonnis voorberei, want as hulle nie tot bekering kom nie, sal hulle voor die groot wit troon die volgende woorde hoor: "Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele" (Matt. 25:41). Verlossing deur die soendood van Jesus In die roeping van die Here word nie slegs jou probleem geïdentifiseer nie, maar ook die oplossing daarvoor. Die feit dat God jou liefhet en deur die kruisdood van die Here Jesus dit vir jou moontlik gemaak het om sondevergifnis en die ewige lewe te verkry, is die goeie nuus wat saam met die roeping verkondig word (Joh. 3:16). "Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes" (1 Joh. 4:10). "Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring - Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees" (1 Pet. 3:18). "Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom" (2 Kor. 5:21). Die roeping van God moet só tot die sondaar kom dat hy ook die volle implikasies van 'n kosteberekening sal besef. Jesus het vir Nikodémus duidelik laat verstaan dat teologiese kennis en 'n mooi lewe nie genoeg is om die koninkryk van God te beërf nie - hy móét weergebore word. Hiervoor is dit nodig om alle bewuste sondes te bely en te laat staan sodat jy volkome nuut gemaak kan word. Jesus het vir die ryk jongman gesê dat hy eers met sy sonde van materialisme moes breek (Luk 18:22). Vir hierdie jongman, wat andersins baie godsdienstig was, was dit moeilik om van sy boesemsonde af te sien, en hy het bedroef van die Here af weggegaan. Baie ander mense vind dit ook moeilik om tot bekering te kom, omdat hulle nie werklik met al hulle sondes wil breek nie. Vir almal wat met hierdie probleem worstel, sê die Here Jesus: "Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie" (Luk. 13:24). Om deur die nou poort in te gaan en 'n nuwe lewe in Jesus Christus te kry, is 'n onbeskryflike ondervinding en iets wat jy moet aanhou soek totdat jy dit vind (Luk. 11:9). Die gawe van die ewige lewe is 'n geskenk van God wat nie deur die mens verdien of gekoop kan word nie. Die kosteberekening kom egter daarby dat die besoedelde kleed van sonde afgelê moet word voordat jy met die kleed van geregtigheid beklee kan word (Ef. 4:22-24). Is jy bereid om met jou sonde te breek? Ontwaking om jou verlore toestand te besef 'n Sondaar wat die Here se roeping tot bekering ontvang het, ontwaak geestelik en kom tot die besef van sy verlore toestand. Sy oë gaan vir sy sondes oop, asook vir die oplossing van sy sonde-probleem. Dit gebeur onder die inwerking van die Heilige Gees wat deur die Woord van die Here met hom praat. 'n Ontwaakte sondaar is nog glad nie gered nie, maar hy het uit sy doodslaap wakker geskrik en besef dat hy na die verderf op pad is en dringend iets aan die saak moet doen as hy nie verlore wil gaan nie. Hy kan op die volgende twee maniere op die besef van sy sonde en verlorenheid reageer: * Hy kan gehoor gee aan die Heilige Gees wat hom van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig (Joh. 16:8). Dan moet hy sy sondes bely, die geregtigheid van die Here Jesus in die geloof toeëien en sodoende die oordeel oor sondaars vryspring. * Hy kan ook die roepstem van die Here tot sy eie ondergang weerstaan. "Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie" (Heb. 3:7). As hy sy hart aanhoudend verhard, dan vervaag die roepstem van die Here in sy lewe en raak dit al hoe moeiliker om daarop te reageer. Moenie toelaat dat jou hart só verhard raak dat jy later geen behae meer in die dinge van die Here het nie (Pred. 12:1). 2. Berou 'n Ontwaakte sondaar wat besef dat hy sy saak met die Here moet regmaak, het onder die oortuiging van die Heilige Gees groot berou oor sy sondige lewe. Hy regverdig nie meer homself nie en is diep onder die indruk van sy sonde en verwerplikheid. Hy voel aangekla en veroordeeld oor alles wat hy gedoen het. Sy skuldgevoelens dryf hom dan na die Here Jesus - dié Een wat so 'n vernederende dood vir die redding van sondaars gesterf het. Het jy al die intense droefheid en berou ervaar wat na 'n ware bekering lei? "Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding" (2 Kor. 7:10). Die droefheid wat God behaag is om 'n berouvolle hart te hê ['n innerlike inkering] wat na 'n ware bekering sal lei: "Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word" (Hand. 3:19). 'n Parafrase van hierdie teks lui só: "Kom dan tot inkeer [met berou en 'n veranderde gevoel oor julle sondes] en bekeer julle [draai om] sodat julle sondes uitgewis kan word." Droefheid of berou oor sonde is 'n direkte resultaat van die Heilige Gees se oortuiging van sonde in jou hart. Dit dryf jou na die Here en bewerk 'n bekering na die lewende God. Berou is 'n diep geestelike bewuswording van jou totale onwaardigheid voor die Here. Jy besef dat jy 'n helverdiende sondaar is wat geen aanspraak op begenadiging het nie. In hierdie toestand kan jy jouself maar net op 'n barmhartige God beroep om jou in genade aan te sien. Toe Petrus die Here Jesus verloën het, het hy buite toe gehardloop en bitterlik geween (Matt. 26:75). Dit is ware berou oor sonde, en hieruit vloei dié soort belydenis wat die voorwaarde vir vergifnis is. Hoe kan mens jou sondes opreg bely as jy nog nie vir die Heilige Gees die geleentheid gegee het om jou van die afskuwelike aard en gevolge van jou sonde te oortuig nie? Hierdie oortuiging kry jy wanneer jy die Woord van die Here aandagtig lees of daarna luister. As die Here jou roep, wys Hy jou presies waar jy met Hom staan. Die droefheid wat dan volgens sy wil en onder die leiding van die Heilige Gees oor jou kom, plaas jou op die pad na 'n ware bekering. Daar is geen plek vir bedekte hoogmoed en selfregverdiging wanneer jy na die Here toe kom sodat Hy jou siel kan red nie, want só 'n gesindheid sal ware berou, gebrokenheid van hart en 'n eerlike sondebelydenis teëwerk: "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade" (Jak. 4:6). Jy moet aan die einde van jouself kom, erken dat jy 'n mislukking van jou lewe gemaak het, en jou vertroue in die Here alleen stel. Jy verdien niks nie. 3. Bekering Wanneer die berouvolle sondaar besluit om die saak met die Here reg te maak, dan draai hy om op sy lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en nader die troon van genade met belydenis van sonde. Hy vra nie net vinnig en terloops dat die Here sy sonde moet vergewe nie, maar voldoen ook aan die voorwaarde vir vergifnis, naamlik 'n grondige en eerlike belydenis van sonde: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1 Joh. 1:8-9). Die Here Jesus wag dat jy jou sondes (in die meervoud, dus almal van hulle) sal bely én ook jou rug daarop sal draai. Jy moet daarmee breek en jou volle samewerking gee om nie daarmee voort te gaan nie: "Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13). Sowel sondaars wat tot bekering kom as teruggevalle Christene wat weer deur sonde in hulle lewe verstrik geraak het, moet ten volle bereid wees om uit die ou lewe uit te stap en belydenis van hulle oortredinge te doen. Die verlore seun het 'n duidelike besluit geneem en gesê: "Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u" (Luk. 15: 18). Toe Dawid sonde gedoen het, het hy dit erken en bely: "Ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë... was my, dat ek witter kan wees as sneeu" (Ps. 51:5-6, 9). Dit is duidelik dat daar 'n saak is om met die Here uit te maak voordat jy van 'n slegte gewete wat jou weens jou sonde veroordeel, gereinig sal word. 'n Vinnige, kollektiewe sondebelydenis sal nie deug nie. Dit help nie om net te sê: "Vergewe al my sondes" en daarmee die saak as afgehandel te beskou nie. Jy moet ordentlik gaan huis skoonmaak en die sondes een vir een bely soos wat die Heilige Gees jou daarvan oortuig. Slegs dan voldoen jy aan die Here se voorwaarde van 'n deeglike en eerlike selfondersoek, en 'n belydenis wat nie net met die verstand nie, maar ook met die hart gedoen word. Geloof 'n Belangrike vereiste by die belydenis van sonde en die aanvaarding van die Here Jesus as jou Verlosser, is dat dit in die geloof gedoen moet word. 'n Sondaar wat dood is in sy sondes en misdade en nog nie op die Here se roepstem ag geslaan het nie, het geen geloof nie - hy is nog 'n ongelowige met 'n verharde hart. Wanneer hy egter die evangelieboodskap gehoor het en ontwaak het om sy sondes en verlorenheid te besef, skenk die Here aan hom bekeringsgenade. Hy kan dan in die geloof om redding tot die Here uitroep soos wat die berouvolle tollenaar gedoen het, en weet dat die Here hom sal verhoor: "O God, wees my, sondaar, genadig!" (Luk. 18:13). Oor die verkryging van geloof om jou sondes te bely en die Here as jou Verlosser te ontvang, sê Paulus: "Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God" (Rom. 10:17). Wanneer 'n sondaar na 'n goeie bekeringsboodskap luister, die Bybel of 'n Christelike boek lees, wek die Heilige Gees geloof in sy hart op om te kan glo wat hy hoor, en ook daarop te reageer. Soms sê mense dat hulle nie kan glo nie. Die oplossing hiervoor is nie om die probleem teologies weg te redeneer of om iemand oor te haal om net met sy verstand te probeer glo nie, maar verdere blootstelling aan die Woord van die Here. Die beginsel bly steeds dat die geloof deur die Woord van God is. Laat die persoon lang gedeeltes in die Nuwe Testament lees en ook na evangeliese preke luister. Geloof sal weldra in sy dorre siel uitgestort word as hy met die lewende Woord omgaan. Die Here Jesus het gesê: "Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe" (Joh. 6: 63). Noudat hy kan glo, en ook 'n wilsbesluit geneem het om Jesus Christus as Verlosser in sy lewe te ontvang, kan hy in volle geloofsversekerdheid na die troon van genade gaan om vryspraak te verkry: "Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek" (Heb. 11:6). Die Here Jesus kan "volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree" (Heb. 7:25). Glo jy dit? Dan is die deur van genade ook vir jou oop om die vergifnis van die Here deelagtig te word. Deur die geloof tree jy op hierdie nuwe en lewende weg tot die genadetroon toe waar jy jou sondes bely en die Here Jesus as jou Saligmaker ontvang. Dit is 'n stap van bekering. In reaksie hierop sal die Here sy kant van die ooreenkoms nakom en sy genadewerk van reiniging en herskepping vir jou doen. Volgens 1 Johannes 1:9 is Hy getrou en regverdig om jou sondes te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig. Hy het beloof om niemand wat na Hom toe kom, ooit uit te werp nie (Joh. 6:37). Om in die Here Jesus te glo (Joh. 3:16; Hand. 16:31), is 'n meer omvattende begrip as net die aanvaarding van die basiese feit dat Hy na die aarde gekom en vir die redding van sondaars gesterf het. Ek moet glo: * dat Hy die waaragtige God is wat die redder van die wêreld is (1 Joh. 5:20; Luk. 19:10); * dat ek slegs op grond van sy kruisdood met God versoen kan word (Kol. 1:20); * dat ek deur bekering en sondebelydenis tot Hom moet nader om vergifnis te verkry (Matt. 9:13); * dat die Here volkome in staat is om die ou dinge in my lewe te laat verbygaan en alles nuut te maak (2 Kor. 5:17); * dat die Here Jesus my koop met sy bloed wanneer Hy my red, en dat ek dus sy eiendom word om deur Hom gebruik te word (1 Kor. 6:19-20; 1 Pet. 1:18-19); * dat ek deur die wedergeboorte 'n nuwe begin in die lewe sal maak en deur toewyding tot geestelike volwassenheid moet opgroei (Ef. 4: 13-14; Heb. 5:12-6:1); en * dat ek deur die vervulling met die Heilige Gees, Bybelstudie en my bereidwilligheid tot diensbaarheid as 'n getuie vir Christus voorberei moet word (Hand. 1:8; Ef. 5:18; 2 Pet. 3:18; 2 Tim. 3:16-17; 2 Tim. 4:2). 4. Regverdigmaking Die sondaar se redding deur die Here sluit twee aspekte in, nl. die uitdelging van sy sondeskuld (regverdigmaking), en die gawe van die ewige lewe wat aan hom geskenk word (wedergeboorte). Dié twee sake staan in 'n noue verband met mekaar, want die gevalle mens is geestelik dood as gevolg van sy sondes en misdade. Die grondslag vir die vergifnis van 'n mens se sonde is die kruisdood van die Here Jesus, waardeur Hy die doodstraf vir ons sonde betaal en sodoende sy groot genade en liefde vir 'n verloregaande mensdom bewys het: "Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof" (Rom. 3:23-25). "Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom" (Jes. 53:5). "In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade" (Ef. 1:7). Elkeen van ons het 'n skuldbrief of klagstaat van sonde op grond waarvan die duiwel ons aankla en op ons lewe aanspraak maak. Hierdie lys van onbelyde sondes is ook die rede waarom ons geestelik dood is. Die vraag is nie of die Here voldoende voorsiening vir die vergifnis van ons menigvuldige sondes en misdade gemaak het nie. Hy hét dit gedoen! Die vraag is of jy al voor Hom gekniel en jou sondes met berou bely Het? Indien wel, dan sal Hy jou deur middel van toegerekende geregtigheid regverdig verklaar én 'n nuwe lewe aan jou skenk: "En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael" (Kol. 2:13-14). 5. Wedergeboorte Die konsep van wedergeboorte is van die allergrootste belang in die redding van sondaars. Hierdeur sê die Here vir ons in duidelike taal: * dat ons geestelik dood was weens ons sonde, en deur Hom lewend gemaak moet word; en * dat ons ou lewe tot in sy kern verdorwe is en nie gerehabiliteer of verbeter kan word nie - ons moet nuut gemaak word deur die wedergeboorte om deelgenote van sy koninkryk te kan word. "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh. 3:3). Verder dui die wedergeboorte op die opstandingslewe van die Here Jesus. Op grond van sy kruisdood moet ons van ons sonde verlos word en daarvoor sterwe, en terselfdertyd lewend gemaak word in Hom sodat ons sy opstandingslewe kan verkry: "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode" (1 Pet. 1:3). Hy vergewe dus nie net jou sondes nie, Hy maak ook van jou 'n nuwe mens. Het jy Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, al só leer ken deur sy Woord dat jy die onontbeerlike belofte oor wedergeboorte in die geloof aanvaar het? (1 Pet. 1:23). As jy maar sy roepstem tot redding gehoor en daarop ag geslaan het: "Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn" (Ef. 5:14). Die Heilige Gees doen die werk van wederbaring in jou hart op grond van die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis: "...na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser" (Titus 3:5-6). 6. Heiligmaking Aan die ware kerk van Jesus Christus, m.a.w. diegene wat reeds wedergebore is, kom die duidelike opdrag in die Bybel om hulleself te verloën, met die Heilige Gees vervul te word, rein en ingetoë te leef en vrug te dra wat by die bekering pas. Die eerste opdrag op die pad van heiligmaking en dissipelskap is baie duidelik: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg" (Luk. 9:23). Volgens Lukas 14:27-33 staan hierdie kruis van selfverloëning duidelik in verband met die kosteberekening vir dissipelskap. Jy moet 'n besliste keuse maak of jy die hartstogte en begeerlikhede van die vlees (die ou, wêreldsgesinde natuur met al sy neigings) wil bevredig, en of jy werklik bereid is om van daardie dinge af te sien en die Here met jou hele hart en alles wat jy het, te dien. Jy kan nie die rykdom en eer van die wêreld najaag én ook nog die Here Jesus behaag en dien nie. Dit is onversoenbare ideale. Kan jy saam met Paulus getuig dat al wat vir jou werklik belangrik is die gekruisigde Here Jesus is, en dat jy jouself deur sy kruisdood as dood vir die wêreld en sy begeerlikhede beskou? "Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld" (Gal. 6:14). As ek onvoorwaardelik en vasberade die sondige begeerlikhede van die ou natuur aflê, dan sál die Here my met sy heiligheid en oorwinningskrag beklee: "Wat die vorige lewenswandel betref (moet julle) die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan... en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (Ef. 4:22, 24). 'n Kruis van selfverloëning moet elke dag opgeneem word sodat die ou natuur gekruisig kan bly, anders gaan hy weer vir my 'n probleem word. Vanuit hierdie posisie kan ek dan in die geloof erns met die volgende opdragte maak omdat ek aan die voorwaarde daarvoor voldoen: "...word met die Gees vervul" (Ef. 5:18). "Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Pet. 1:15-16). "Dit is die wil van God: julle heiligmaking... hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het" (1 Thess. 4:3, 8). Deur die ondervinding van heiligmaking, en my voortgesette toewyding daarna, maak die Here van my 'n rein kanaal waardeur Hy kan werk. Hy rus my ook toe om die vrug van die Gees te dra, teen die aanslae van die sielevyand te triomfeer (Ef. 6:10-11), aan die eise van dissipelskap te voldoen, te midde van teëstand by my beginsels en geloofsoortuigings te bly, en op die smal weg te volhard totdat Hy kom (Heb. 12:1-2). Deur te versuim om aan die opdrag van heiligmaking te voldoen, beperk baie Christene hulleself tot die betreurenswaardige lae geestelike standaard van die selfgesentreerde gemeente in Korinthe: "En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?" (1 Kor. 3:1-3). Die meeste kerke in die wêreld word knaend deur die probleme van 'n geestelik passiewe, vrugtelose, kragtelose, bemoeisieke, twisgierige, vleeslike Christendom geteister. Dan praat ons nie van die groot aantal naamchristene wat nie eers gered is nie en net 'n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5). Wat nog meer verontrustend is, is die groot aantal stemme van veroordeling wat uit hierdie dekadente en afvallige kerke opgaan om 'n aanval op die leer van heiligmaking te doen! Toe dr. Andrew Murray en sommige van sy tydgenote die leerstellings oor wedergeboorte en heiligmaking in hulle volle diepte met groot oortuiging verkondig het, was daar herlewing in verskeie gemeentes in Suid-Afrika. Siele is gered en baie Christene is met die Heilige Gees vervul. Hulle het getuies vir die Here Jesus geword en die evangelie ook na donker sendingvelde in Afrika uitgedra. Die instaatstellende krag van die Heilige Gees is ook tot ons beskikking om in hierdie laat uur groot dinge vir die Here te doen. Dit hang af of ons die Here met ons hele hart wil dien. Sal Hy ons besig vind met die uitvoering van die groot opdrag van wêreldevangelisasie wanneer Hy kom om ons te kom haal? Of sal ons dalk as gevolg van ons laksheid in die geselskap van die kompromiemakende, oppervlakkige en slapende kerk van die eindtyd gevind word? Die Here Jesus wil nie passiewe volgelinge hê wat net in Hom glo en verder niks doen vir die uitbreiding van sy koninkryk nie. Hulle moet getuies van sy reddende genade wees en ook 'n aktiewe gebedslewe lei. "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is" (Matt. 7:21). Deur die krag van die Heilige Gees is dit moontlik om 'n godvrugtige lewe te lei en die wil van ons hemelse Vader te doen. As jy nie op aarde 'n behae daarin het om sy wil te doen nie, hoe sal jy ooit in die hemel kan aanpas waar net sy wil geskied? Ons werk nie vir die Here om gered te word nie [werke-heiligheid], maar omdat ons gered is. Die Here Jesus het gesê: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook" (Joh. 20:21). Ons is gestuurdes, en ons het 'n baie groot taak om te vervul. Hiertoe wil die Heilige Gees ons daagliks toerus en gebruik. Is jy beskikbaar? 7. Verheerliking Die laaste stap op die heilsweg is verheerliking. Dit sal by die eerste opstanding plaasvind, wanneer die ontslape én lewende Christene met onsterflike opstandingsliggame beklee sal word: "Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:51-52). Die volle besonderhede van ons verheerlikte posisie in die hemel is nog nie aan ons geopenbaar nie, maar ons weet dat wat ons onverganklike opstandingsliggame betref, ons aan Christus gelyk sal wees. Hy sal steeds die Hoof van die gemeente wees, maar ons sal saam met Homom HomH wees en in sy onuitspreeklike heerlikheid deel: "Ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam" (Fil. 3:20-21). "Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1 Joh. 3:2-3). In afwagting op ons verheerliking moet ons nóú vir ons hemelse bestaan voorberei word, en in alle opsigte rein en heilig leef. Vir ons toekomstige verheerliking is dit van groot belang hoedanig ons geestelike lewe op aarde daar uitsien. Behalwe dat ons wedergebore moet wees, word ons ook opgeroep om Geesvervulde lewens te lei en die Here te dien. Vir ons arbeid in die Here sal ons genadeloon by die Regterstoel van Christus ontvang (2 Kor. 5:10). Die volgende krone word genoem: * Die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19). * Die onverwelklike kroon vir 'n heilige lewe (1 Kor. 9:24-25). * Die kroon van die lewe vir Christenmartelare (Op. 2:10). * Die kroon van heerlikheid vir getroue herders (1 Pet. 5: 2-4). * Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet (2 Tim. 4:8). Sal jy eendag by die verheerliking met leë hande voor die Here staan, of sal Hy jou as 'n getroue dienskneg bevind, aan wie gesê sal kan word: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer" (vgl. Matt. 25:21). Die volle pad Dit is duidelik dat die Here Jesus nie net gekom het om mense van die hel te red nie, maar om dissipels te maak. Hy wil nie slegs jou Verlosser wees nie, maar ook jou Koning, Leidsman en hemelse Bruidegom. Dit is waarom Hy jou hele lewe wil vernuwe. Jy word uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig, en daarna toegerus om oorwinnend te leef en jou plig in die evangelisering van die wêreld te doen. In dié opsig is jy 'n medewerker van God in Christus Jesus (1 Kor. 3:9), en nie 'n passiewe meeloper nie. Jy word ook in hierdie lewe voorberei om eendag saam met die Here Jesus as koning te regeer. Jy moet eerstens leer om in jou eie lewe oor sonde en ongeregtigheid te oorwin. In die gesag en Naam van Christus moet daar dan ook uitbeweeg word om oorwinnings vir sy koninkryk in hierdie bose wêreld te behaal. Moet dus nie by die toetreepunt van redding vassteek nie, maar loop die hele pad met die Here. Leer om sy wil te doen sodat jy 'n gesant van Christus kan wees wat daarna streef om Hom in alles te behaag. Die oppervlakkige naamchristendom van ons tyd skiet ver kort van die Here se standaard van geestelikheid. Die meeste lede van Christelike kerke is heeltemal tevrede met die lae standaarde, en leef nie op na die hoë roeping van God in Christus Jesus nie (Fil. 3:14). Die rede hiervoor is dat baie van hulle nie eers gered is nie, terwyl diegene wat wél gered is, met slegs enkele uitsonderings nie in die krag en oorwinning van die Heilige Gees leef nie. Ek wil jou uitdaag om jouself geestelik baie krities te evalueer in die lig van die Here se Woord. Ondersoek jouself of jy in die geloof is, m.a.w. of jy hoegenaamd gered is (2 Kor. 13:5). Hieronder is 'n lys van valse fondamente waarop baie mense hul lewens bou, terwyl hulle in die selfmisleidende veronderstelling leef dat hulle Christene is. Oor jou werklike geestelike stand moet jy volkome duidelikheid hê omdat jou ewige toekoms daarvan afhang. Indien jy die getuienis van die Heilige Gees in jou hart het dat jy 'n kind van God is, kyk dan of jou lewe aan die verwagtinge van die Here voldoen. Dra jy vrugte wat by die bekering pas, en gebruik jy die talente wat Hy aan jou gegee het in sy diens? Die Here gaan ook dié vraag aan jou vra wanneer al sy diensknegte rekenskap van hulleself voor die Regsterstoel van Christus moet gee. VALSE FONDAMENTE Daar is talle valse fondamente wat deur die sielevyand en sy medewerkers aan mense gebied word wanneer hulle na die Here en die krag van die Heilige Gees soek. Sy eerste mikpunt is om hulle daarvan te weerhou om met die Here deur te gaan en weergebore te word. Indien hy nie daarin kan slaag nie, gee hy nog lank nie die stryd gewonne nie. Hy probeer dan om hulle geestelik op 'n syspoor te laat beland, tot moedeloosheid te dryf en hulle as gevolg van wêreldsgesindheid en teologiese dwalinge die krag van die Heilige Gees te laat verbeur. Hieronder is 'n aantal van die valse fondamente en misleidende metodes waardeur baie mense geestelik beroof en verblind word: Onduidelike roeping As gevolg van oppervlakkige prediking en boeke met flou, afgewaterde boodskappies ontvang baie mense nie 'n duidelike roeping om hulle saak met die Here reg te maak nie. Hulle word aan die slaap gesus en onder die indruk gelaat dat hulle Christene is as hulle lede van 'n Christelike kerk is en 'n Christelike geloofsbelydenis huldig. As gevolg hiervan soek hulle nie na 'n ontmoeting met die Here nie en gaan met 'n gedaante van godsaligheid deur die lewe. Moralisering Dikwels word die idee aan mense opgedis dat aangesien hulle goeie mense is, hulle aan die standaard van Christenskap voldoen. As gevolg hiervan kom hulle nooit werklik onder sonde-oortuiging nie en besef nie hulle verlore toestand nie. Hierdie houding lei daartoe dat hulle in hul morele onberispelikheid roem, en daarop ingestel is om goeie dade te doen waardeur hulle die guns van die gemeenskap, die kerk én die Here kan wen. Hierdie goeie mense gaan egter verlore omdat hulle nie geestelik weergebore is nie. Hulle besef nie dat hulle goeie lewens sonder bekering wegwerplik is nie, en leef in hulle noodlottige onkunde voort. Doopbekerings Baie duisende mense baseer hulle Christenskap op hul doop en aanneming. Daar word geredeneer dat die doop hulle in 'n ewige verbondsverhouding met die Here plaas, en dat hulle dus vir tyd en ewigheid veilig in sy hand is. As gevolg hiervan is redding en wedergeboorte nie nodig nie. Die belydenis van geloof by aanneming word as voldoende beskou om die dooplidmaat tot volle lidmaat van die kerk van Christus te verklaar, meesal sonder 'n duidelike getuienis van redding. Die opsigtelike feit dat baie van hulle ten spyte van die kerklike ritualisering nie kinders van die Here is nie, en steeds deur hulle sondige natuur oorheers word, word geïgnoreer en aan die algemene sondigheid van alle Christene toegeskryf. 'Ons is almal sondaars' Aan ongeredde kerklidmate wat met sondes worstel, word dikwels gesê dat ons maar almal sondaars is, en vrede met ons sondige neigings moet maak. Ons moet net ons bes probeer om dit onder bedwang te hou en matige sondaars te wees. Die enigste verskil tussen kerkmense en wêreldlinge is dat die kerkmense geredde sondaars is terwyl al die ander ongeredde sondaars is. Hierin is 'n groot dwaling opgesluit, want só 'n persoon mag dikwels om die vergifnis van sy sondes bid sonder om ooit sy totaal verlore toestand voor die Here te erken en om die redding van sy siel te bid. Kopbekerings Ons leef in 'n tyd waarin baie van die prediking in oorredende woorde van menslike wysheid is, en nie in die betoning van gees en krag nie (1 Kor. 2:4). Die gevolg is dat net die mens se verstand deur koue teologiese argumente aangespreek word, en nie sy gees en siel nie. Só 'n persoon bely die Here met sy lippe, maar sy hart is ver van Hom af. Sy verstand sê vir hom dat hy 'n Christen is en deur die Heilige Gees gelei word, terwyl dit hoegenaamd nie die geval mag wees nie (Luk. 16:15). Sy hart is steeds koud en onaangeraak, omdat hy slegs 'n kopbekering ondergaan het. Dié persoon het nie 'n Heilige Gees gewerkte berou oor sy sonde gehad nie, hy het nie 'n oortuigende getuienis nie en sy lewe het net oppervlakkig verander. Emosionele bekerings Dikwels word mense net emosioneel geraak en neem dan 'n besluit wat nie in die geloof gefundeer is nie, maar op 'n emosie. 'n Besluit van dié aard bring geen blywende verandering nie en verloor ná 'n tyd sy effek: "En by wie op rotsagtige plekke gesaai is - dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik" (Matt. 13:20-21). Let daarop dat die betrokke persoon die woord met blydskap aangeneem het. Dit is 'n emosie en moet nie met geloof verwar word nie. Oppervlakkige emosionele en verstandelike bekerings wat nie op 'n dieper geloofsaanvaarding van die Here Jesus as Verlosser uitloop nie, is valse bekerings. Sulke persone het selfs datums waarop hulle tot bekering gekom het, maar dit baat hulle niks nie. Hulle mislei hulleself daardeur. Kitsbekerings Ons leef in 'n tyd van maklike kitsoplossings en massaproduksie. Ongelukkig het massa-evangelisasie in baie opsigte ook by hierdie denkwyse ingeskakel en 'n moderne bedryf geword wat op vinnige resultate ingestel is. Sonder om persoonlike aandag aan mense te gee, word groot groepe ná uitnodigings gelei om 'n kort gebedjie agter 'n prediker aan te bid, waarna hulle salig verklaar word. Baie van hulle is dan nog net aan die beginstadium van sonde-oortuiging. Hulle het nog nie 'n behoorlike kosteberekening gemaak en met berou belydenis van hulle sondes gedoen nie, wanneer die proses kortgeknip en as afgehandel beskou word. Hulle word daarna gemaan om nooit aan hulle redding te twyfel nie, terwyl dit dalk glad nie eers plaasgevind het nie. 'n Ontnugtering en valse bekering van hierdie aard ontmoedig sulke persone om weer te probeer. Sommiges wat gereed vir die stap was, kan egter wél onder omstandighede soos dié gered word, maar aan baie ander mense se siele kan onberekenbare groot skade gedoen word. Besluiteloosheid is sleg, maar so ook geforseerde besluite. Net berekende besluite onder die leiding van die Heilige Gees, gefundeer in 'n sterk oortuiging, sal die toets deurstaan. Goedkoop genade Goedkoop genade word deur baie predikers as 'n geskenk bemark wat onvoorwaardelik deur almal verkry kan word. Hoewel dit 'n gawe van God is ['n geskenk] is dit nogtans nie goedkoop nie omdat dit aan duidelike voorwaardes gekoppel is. Sonde moet eers met berou bely en laat staan word voordat vergifnis verkry word. Dit help nie om net lippediens aan die Christelike verlossingsleer te bewys en te dink dat jou saak met die Here dan reg is nie. Op hierdie maklike wyse sal jy nooit die getuienis van die Heilige Gees in jou hart ontvang, wat saam met jou gees sal getuig dat jy 'n kind van God is nie (Rom. 8:16). Volg die weg van die Here, en laat sy Gees toe om jou diep onder die indruk van jou sonde en verlorenheid te bring, maar ook van die geregtigheid en reddende genade van die Here Jesus. Dan alleen sal jy op die regte koers vir 'n grondige en blywende herskepping van jou lewe wees. 'Glo net' Nog 'n vorm van goedkoop genade is dat jy net moet glo en niks doen nie. Werke, waaronder ook sondebelydenis, word met groot wantroue bejeën en as deel van 'n mensgemaakte werkeheiligheid gesien. Hierdie mense haal graag Efésiërs 2:8-9 aan, wat sê dat ons uit genade gered is deur die geloof, nie uit die werke nie, sodat niemand kan roem nie. Hierdie stelling is heeltemal waar, maar om uit genade gered te kan word, móét die sondaar homself met belydenis van sy sondes tot die Here bekeer. Hy moet dus gewilliglik van alle boosheid in sy lewe afstand doen, en tot die Here om genade roep. Ná sy redding moet hy dan 'n lewe van goeie werke lei - nie om sy saligheid te verdien nie, maar om God te behaag en uitvoering aan die opdragte van die Bybel te gee. Die opdrag oor werke volg direk ná Efésiërs 2:8-9: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel" (Ef. 2:10). Christenskap is 'n aktiewe en dinamiese lewe wat jou volle samewerking vra. Jy moet ná jou bekering 'n toegewyde medewerker van God in Christus word (1 Kor. 3:9), en ook jou wil inspan om dit te doen. Misplaaste trooswoorde 'n Ontwaakte sondaar wat sterk onder sonde-oortuiging is, soek dikwels by ander Christene raad oor die donker skuldgevoelens in sy gemoed. Dit is 'n baie groot fout om só 'n persoon se selfbeeld te probeer verbeter deur aan hom te sê dat hy glad nie so sleg is as wat hy homself voorstel nie. Familie is geneig om so iets uit meegevoel vir een van hulle lede te sê. Hierdeur kan die redding van die persoon verydel word. Hy moet eerder tot die besef gebring word dat sy probleem nóg erger is as wat hy dink. Sonde is verfoeilik in die oë van die Here, en die hel is 'n grusame en skrikwekkende plek. Dit is nou die tyd om aan hom die oplossing te verkondig, naamlik dat die Here Jesus gesterf het om ons sondes te vergewe en aan ons die ewige lewe te skenk. Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek en ons volkome van ons sondes te verlos, ook van 'n slegte gewete. Wanneer daar aan mense leiding en voorligting gegee word, moet die erns van die probleem van sonde so sterk as moontlik gestel word, want dit is waar die oortuigingswerk van die Heilige Gees ook begin: by sonde. Selfbejammering Dikwels ly mense aan selfbejammering oor hulle mislukte lewe, of oor dinge wat met hulle gebeur het. Hieruit kan geestelik niks goeds kom nie, want "die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood" (2 Kor. 7:10). Berou wat uit sonde-oortuiging spruit, kom van die Heilige Gees af en lei jou na die kruis waar die oplossing vir jou sondeprobleem, ellende en verlorenheid is. Selfbejammering laat jou egter na troos, meegevoel en verontskuldiging soek. Op dié pad sal jy na jou eie ondergang voortstrompel - dit lei nie na bekering, 'n hartsverandering en die einde van jou sorge nie. Gaan lees die Woord van God en ontdek jou eie aandadigheid aan jou probleme onder die oortuiging van die Heilige Gees. Dan sal 'n sielsdeursoekende droefheid oor jou kom wat jou om genade na die Here sal laat roep. 'Alle Christene is met die Heilige Gees vervul' Op grond van die feit dat Christene deur die Heilige Gees wederbaar word, word dikwels beweer dat aangesien die Heilige Gees 'n Persoon is, alle Christene reeds met Hom vervul is. Hulle kan nie net die helfte van 'n Persoon hê nie, en hoef dus nie 'n tweede genadewerk te ontvang om met die Gees vervul te word nie. Hierby volstaan hulle dan. Dié stelling is lynreg in stryd met die Bybel, en weerhou baie Christene van 'n Geesvervulde, oorwinnende lewe. Die feit is dat sonder 'n volle oorgawe en selfontlediging, die ongekruisigde vleeslike natuur in jou met die inwonende Heilige Gees in botsing kom. Die sielevyand sal alles in sy vermoë doen om jou in dié kragtelose posisie te hou, want dan sal jy nie vir hom 'n groot bedreiging wees nie. Indien jy egter die kruis van selfverloëning opneem en om die vervulling met die Heilige Gees bid (Luk. 11: 13), dan neem Hy beheer van jou lewe oor. Is die eie-ek dalk nog op die troon van jou hart? "Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie" (Gal. 5:16). Fisiese manifestasies van die Gees 'n Dwaling wat nou vinnig veld wen, is dat die Heilige Gees nie soseer in die geestelike sfeer werksaam is nie, maar op die sinlike vlak. Dit gee tot 'n ervaringsteologie aanleiding waarin jy nie glo dat die Here vir jou iets gedoen het voordat jy 'n sigbare en tasbare ervaring gehad het nie. Jy moet eers op die vloer val, snaakse dieregeluide maak of onbeheersd lag. Dan, glo jy, is jy gered. Van sonde-oortuiging en 'n diep geestelike ontmoeting met die Here is hier geen sprake nie. Dié valse fondament is een van die baie plaasvervangers vir 'n ware geloof, en miljoene word daardeur mislei. "Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is" (Jes. 55:6). GROEI IN GENADE (Epiloog deur Charles Finney) Daar moet altyd vooruitgang in 'n Christen se lewe wees. Nadat hy of sy uit die duisternis na die lig gekom het, moet die vordering op die pad van die Here steeds voortduur: "Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe" (Spr. 4:18). Die volgende gedagtes oor groei in genade is deur die bekende herlewingsprediker, Charles Finney, uitgespreek: "Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus" (2 Pet. 3:18). Genade is onverdiende guns. In die Bybel dui die woord genade dikwels 'n geskenk aan. Die genade van God is dus die guns van God, sy geskenk aan ons. Die opdrag om te groei in genade verbind ons nie aan die beginsel om die sonde geleidelik af te lê en te laat staan nie. Vreemd genoeg is daar mense wat so dink, maar nêrens gebied die Bybel ons om die sonde bietjie vir bietjie te laat staan nie. Dit word van ons verwag om onmiddellik en volkome daarmee te breek. Ons moet in God se guns toeneem, in sy beoordeling van ons, en dus in die waardigheid van ons lewenswandel. Voorwaardes vir geestelike groei Ons is in God se genade. Net soos wat die groei en toename in enigiets 'n begin impliseer, impliseer die groei in God se guns die feit dat ons reeds guns in sy oë gevind het. Ons is "in die genade" omdat ons deur Hom begunstig is. Ons sondes is afgelê en vergewe. 'n Groei in genade berus op die veronderstelling dat ons onsself reeds van alle bekende sondes bekeer en dit afgelê het. Om deur God aanvaar te word, beteken dat Hy ons ter wille van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vergewe en in guns aanneem. Sy gunsbewys vereis dat ons alle vorms van rebellie teen Hom sal aflê, omdat die Bybel duidelik aantoon dat die voorwaarde vir God se guns die versaking van alle bewuste sondes is, asook geloof in Christus om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons kan nie God se guns geniet terwyl ons bewustelik in sonde teenoor Hom leef nie. Om dus in genade te kan groei, moes genade al begin het. Voortdurende groei. Wanneer ons in hierdie toestand is, is daar geleentheid vir voortdurende groei. Soos wat ons God beter leer ken, sal ons ook in staat wees om Hom meer te kan liefhê en 'n breër en dieper vertroue in Hom te stel. Ons liefde en geloof in Hom kan volkome wees tot die mate waartoe ons Hom ken, en dit sal sy guns oor ons lewe verseker. Die potensiaal van ons groei in genade en kennis van Hom is eindeloos. Hoe meer ons liefhet en glo, des te beter sal ons God ken soos wat Hy Homself deur Jesus Christus aan ons openbaar. Terselfdertyd sal ons in sy guns toeneem en ook meer en groter gawes van Hom ontvang. Volkome toewyding. Om te kan groei in genade moet ons ook groei in ons kennis van wat dit behels om onsself geheel en al aan die Here oor te gee. 'n Ware bekering sluit die toewyding van onsself en alles wat ons het aan die Here in. Jong gelowiges is egter nog nie van die volle implikasies van hoër vorms van toewyding bewus nie. Aanvanklik dink hulle net daaraan om hulle siele te ontbloot, op die altaar te plaas en aan God te wy. Daarna word dit duidelik dat hulle nog nie hulle besittings en ander dinge naby hulle aan die Here oorgegee het nie. Hulle aanvanklike oorgawe was volkome volgens die lig wat hulle gehad het, maar hulle het toe nog nie volle insig gehad nie. Die gevolg is dat hulle nie elke voorkeur, neiging, begeerte en liefde volledig aan God oorgegee het nie. Om kennis hieroor te kry, neem tyd. 'n Voorwaarde om in God se guns toe te neem, is om alles wat ons is, wat ons het, begeer en liefhet ten volle aan Hom oor te gee die oomblik wanneer dit tot ons kennis kom. Soos wat ons kennis toeneem, sal die Here ons roep om ook in genade toe te neem deur elke objek van ons kennis, begeertes en liefde aan Hom toe te wy. Soos wat jy meer lig ontvang, moet jou toewyding ook elke dag en elke uur toeneem, anders sal jy ophou om te groei. Die oomblik wanneer jy iets terughou en nalaat om dit op die altaar van toewyding te plaas, sal jy ophou groei in genade. Laat hierdie waarheid diep in jou hart insink. Verdiep jou geestelike kennis. Jy moet deur die verligting van die Heilige Gees altyd na dieper geestelike insig soek. Jy kan geen besondere geestelike insig verkry as die Gees jou nie leer en in dieper waarhede inlei nie. Bid vir sy onderrig en waak daarteen om Hom te weerstaan of te bedroef. Deur die Gees wil Christus jou leermeester wees. Pas jou lewenswyse hierby aan. 'n Verdere voorwaarde vir groei is dat jy jou oortuigings en lewenswyse voortdurend by die onderrig van die Heilige Gees moet aanpas. Jou Christelike ervaring moet dus verdiep tot dieselfde mate as wat die oortuiging van jou plig en die kennis van God se wil in jou hart verdiep. 'n Volkome geloof in God. Ons het behoefte aan 'n vertroue in God wat só volkome is dat ons in donker tye net so onwrikbaar in Hom sal glo as in tye van voorspoed, ongeag of ons sy weë verstaan of nie. 'n Volkome geloof is die geloof van 'n Abraham, wat nie gewankel het nie al het God se belofte ook hoe onwaarskynlik gelyk. Só 'n geloof rus onvoorwaardelik in God, in sy beloftes, sy getrouheid en sy liefde; dit maak nie saak hoe veeleisend en oënskynlik onredelik die Here se opdragte of sy leiding deur omstandighede is nie. Volkome heiligmaking. 'n Volkome geheiligde siel - die sentrum van ons begeertes, gevoelens en emosies - is nog 'n voorwaarde om in God se guns te kan groei. In sy gevalle toestand is die menslike natuur sleg en bedorwe. Selfs al onderwerp jy jou wil aan God, kan versoeking nog steeds deur jou siel op jou inwerk en jou probeer weglok. Die wil veg teen hierdie begeerlikhede om hulle aan God se wil onderworpe te hou. Indien die menslike wil sy integriteit behou en aan God se wil vashou, word sonde nie gedoen nie. Hierdie rebelse neigings hinder nogtans die wil in die diens van God en weerhou geestelike groei, "want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie" (Gal. 5:17). Soos wat die siel meer en meer onderwerp word en in harmonie met die wil se toewyding aan God kom, raak ons vry om onbelemmerde diens aan God te bewys. Hoe meer volkome die heiligmaking van die siel, des te meer sal ons in God se guns verkeer. Hy wil ons gees en siel en liggaam volkome heilig maak (1 Thess. 5:23-24). Vervulling met die Heilige Gees. Om in die Here te kan groei, vereis 'n groter teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens. Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon nie dat elke stap in die Christen se lewe onder die leiding van die Heilige Gees geneem moet word. Streef daarna om deur die Heilige Gees onderrig te word, sodat Hy jou in alle sake kan lei. "Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie" (Gal. 5:16). "As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe" (Rom. 8:13). Om in genade te kan groei, moet jy ook in die volheid van die Heilige Gees in jou hart groei. 'n Meer intieme wandel met Jesus Christus. Ons moet Jesus beter leer ken en meer intiem met Hom wandel. Hy is 'n Persoon en ons moet 'n persoonlike verhouding met Hom handhaaf. In sy heilige teenwoordigheid "word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid" (2 Kor. 3:18). Jesus het beloof om Homself te openbaar aan almal wat Hom liefhet en aan Hom gehoorsaam is. Ken Hom in al sy volheid deur Hom in die geloof vir elke aspek van jou verhouding met Hom te aanvaar. Beklee jouself met die Here Jesus en eien Hom vir jou toe, want Hy is jou wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing; jou Profeet om jou te leer, jou Koning om jou te regeer, jou Hoëpriester om versoening vir jou te doen, jou Middelaar, jou Advokaat, jou krag, jou Verlosser, jou skuilplek, jou Leidsman, jou skild, jou verdediging en jou beloning. Ken Hom in elkeen van hierdie hoedanighede deur Hom in die geloof toe te eien. Dit is 'n onontbeerlike voorwaarde vir jou groei in genade. Valse tekens van groei in genade Daar is 'n aantal dinge wat jou kan mislei om te dink dat geestelike groei plaasvind, terwyl dit in werklikheid nie die geval is nie. Die volgende is valse tekens van groei: * Die groei in kennis is nie 'n absolute bewys van groei in genade nie. Kennis is noodsaaklik om in God se guns te kan wandel, omdat toenemende kennis 'n voorwaarde vir toenemende genade is. Kennis in sigself is egter nie genade nie, dus lei 'n toename in kennis nie noodwendig na 'n toename in genade nie. 'n Persoon kan ontplof van kennis en nogtans geen genade hê nie. Kennis moet na toewyding aan God lei, anders word dit nie in 'n geestelike bate omskep nie. * 'n Groei in gawes is nie 'n bewys daarvan dat 'n individu nader aan die Here leef nie. 'n Persoon wat bely dat hy Christus ken, kan beter bid en preek sonder dat hy noodwendig meer heilig is. Sulke aktiwiteite kan deur oefening aangeleer word. Dit is baie algemeen dat mense wat geen guns by God geniet nie, in allerlei uiterlike godsdienstige gebruike uitblink. * Die feit dat 'n persoon dink dat hy geestelik groei, beteken nie dat dit inderdaad die geval is nie. Soms is mense baie beïndruk met hulle eie vooruitgang, terwyl dit vir andere duidelik is dat hulle eintlik agteruitgaan. Iemand wat geestelik besig is om te verrot, is selde daarvan bewus. Ons beoordeel altyd ons geestelike statuur volgens een of ander standaard. Indien ons Christus in al sy volheid as ons standaard neem, sal ons altyd ons prestasies laag beoordeel. As ons egter die kerk of ons vriende as maatstaf neem, sal ons moontlik onsself as geestelike reuse sien. Bewyse van groei in genade Daar is verskeie bewyse dat ons in God se genade groei: * 'n Meer volkome en kinderlike geloof in God is 'n duidelike bewys van groei in genade. Jou lewe sal hierdeur gekenmerk word, en jyself én andere sal kan sien dat jy toenemende guns by God geniet. * As jy los van die wêreld is, en jou siel vir die begeerlikhede van die wêreld gekruisig is, het jy geestelik vooruitgang gemaak op die pad na groter oorwinning. * Minder gevoelens van weerstand wanneer jy gevra word om jouself te verloën, openbaar 'n groei in genade. Jou eie gevoelens is minder oorheersend, en die wil verkry die oorhand sodat die siel in harmonie met die wil optree. * Minder versoekings vir die sonde van versuim, bv. om die kruis te vermy en pligte soos Bybelstudie en stiltetyd na te laat. Soos wat heiligmaking van die gees, siel en liggaam toeneem, verloor hierdie versoekings hulle krag. * Toenemende ywer vir die saak van die Here. Soms verflou 'n Christen se ywer vir geestelike werk, maar as dit weer sterk word, dan groei hy in genade. * Selfbewustheid en hoogmoed is twee vleeslike gesindhede. Wanneer dit kwyn en wegsterf, neem genade toe. Moenie selfbewus wees en jou teen jou eie swakhede blind staar nie, maar moet ook nie in hoogmoed verval en die eer van mense begin soek nie. * Die aanvaarding van die volle geopenbaarde wil van God is 'n teken van geestelike groei. Sommige Christene verwerp aspekte van die Here se wil en sy bestier van sake. * 'n Kalmte onder uiters moeilike omstandighede is 'n bewys daarvan dat die siel stewig aan Christus geanker is. * Lankmoedigheid en verdraagsaamheid onder provokasie, asook blydskap en oorwinning te midde van teleurstellings, dui op 'n groei in genade. Jy tel jou seëninge in plaas van jou beproewings. * 'n Afnemende ingesteldheid op ander se foute en tekortkominge. Jy is nie meer so sarkasties en veroordelend nie. 'n Sagter geaardheid en vergewensgesindheid gaan ook hiermee gepaard. * 'n Bereidwilligheid om opofferings te maak om andere te help. As mense se geestelike nood ons aanspreek en die redding van hulle siele 'n belangrike ideaal vir ons word, het ons grootliks in die guns van die Here toegeneem. * Wanneer die eer van die Here se Naam en die heiligheid van die kerk vir ons ernstige oorwegings is, het die genade van Christus oorvloedig in ons geword. Hoe om in genade te groei Hoe groei mens in genade? Deur voldoening aan die voorwaardes vir geestelike groei wat vroeër genoem is. Ons moet onthou dat elke stap van geestelike vooruitgang in die geloof geneem word, en nie deur werke nie. Baie Christene maak groot foute op hierdie terrein. Sommiges beweer dat heiligheid deur werke en die nakom van uiterlike reëls verkry word. Hulle noem heiligmaking deur die geloof 'n absurditeit en beskryf die proses van groei in genade as die aanleer van gewoontes van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan God. Dit is verbasend. Die feit is dat elke stap van vooruitgang in die Christen se lewe in die geloof deur 'n vars en voller toeëiening van Christus, en deur 'n nuwe vervulling en salwing met die Heilige Gees, verkry word. Wanneer ons swakhede, gebreke en sondes deur omstandighede aan ons geopenbaar word, is die Here Jesus ons enigste hoop. Ons groei slegs op na geestelike volwassenheid namate ons meer en meer met Hom beklee word, van onsself ontledig word, die valse hoop van heilige gewoontes verwerp, en met toewyding na dieper aanrakings deur die Heilige Gees soek. Die einde van die reis Die eindbestemming van die Christen se pelgrimsreis uit die duisternis tot die lig is sy ewige tuiste in die hemel - in die nuwe Jerusalem waar die Here Jesus vir ons plek gaan berei het. In die moeilike dae van ons aardse bestaan gee ons geloof in die Here en die vaste wete van ons wonderlike toekoms aan ons krag om te volhard tot die einde toe. Die hoop op Christus se koms en ons verheerliking is 'n anker vir die siel wat veilig en vas is, en ingaan tot by die genadetroon (Heb. 6:19). Die Here is dus self ons anker. Ons weet dat ons toekoms veilig in sy hand is en dat Hy ons sal deurdra. "Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe" (2 Kor. 4:16). Die voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam en die vernuwende krag van die Heilige Gees, stel ons in staat om van oorwinning tot oorwinning op dié pad te beweeg. As ons kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte sal ons nooit onder die geledere van die vleeslikes, kragteloses of teruggevallenes gereken word nie. Terwyl ons opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus, sal ons geestesvermoëns verkry, deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Dan sal ons vinnig vorder. Heiligmaking Deur Johan Malan Opsomming: Die leer van heiligmaking behels twee duidelik onderskeibare aspekte, nl. die krisisondervinding wat op 'n volle oorgawe aan die beheer van die Heilige Gees uitloop, en die proses van voortgesette oorwinning oor menslike swakhede wat daarna volg. Alle Christene, ook diegene wat Geesvervuld is, is voortdurend aan versoekings en geestelike misleiding blootgestel, en moet leer om hieroor te triomfeer. OORWINNING OOR DIE VLEES: DIE STAP VAN HEILIGMAKING "...as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. "Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat elkeen wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is... "Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het" (Ef. 4:21-32). 'n Leerstelling wat die grondslag vir herlewing in die kerkgeskiedenis was, ook in Suid-Afrika in die tyd van Andrew Murray, is dié van heiligmaking. In ons tyd ontbreek die ervaring van heiligheid, oorwinning en ware dissipelskap in die meeste Christene se lewens. Weens onkunde, laksheid of misleiding ontwyk die seën van die volheidslewe die grootste deel van die 20ste eeu se kerk. Talle moderne kerke het in oppervlakkigheid, teologiese dwalinge, vleeslikheid en wêreldsgesindheid verval omdat hulle nie deur die Gees wandel nie. Omdat baie predikante, teoloë en belydende lidmate nie Geesvervuld is nie, weet hulle nie wat dit is om geestelik op te groei, onder die leiding van die Heilige Gees Bybelstudie te doen en in die dieper dinge van God se Woord onderrig te word nie (1 Kor. 2:10). Baie van hulle berus by hierdie toestand van vleeslikheid en geestelike onvolwassenheid, terwyl andere weer hulle gebreke en tekortkominge probeer aanvul deur valse herlewings te soek wat op tekens en wonderwerke gebaseer is. 'n Christen wat van wedergeboorte kan getuig (inisiële heiligmaking), moet besef dat dit net die begin is van 'n pad wat na geestelike volwassenheid, insig en diensbaarheid moet lei. Sulke mense moet hulle beywer om in kennis en genade toe te neem sodat hulle geestelik volkome kan wees: "En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak..." (1 Thess. 5:23). Uit die aangehaalde skrifgedeelte (Ef. 4:21-32) is dit baie duidelik dat 'n Christen die oue mens moet aflê. Dit behels die verloëning of kruisiging van die vlees en sy sondige gewoontes en begeerlikhede. Iemand wat dit nie doen nie, bedroef die Heilige Gees en kan uit die aard van die saak nie 'n Geesbeheerde lewe lei nie. Die opdrag is egter om hierdie hindernis op grond van die Here Jesus se verlossingswerk af te lê. In die plek daarvan moet ons met 'n lewe van heiligheid en godsvrug beklee word en daarin tot volwassenheid opgroei. Die Gees en die vlees Romeine 8:1 sê dat ons nie deur die vlees moet wandel nie, maar deur die Gees. Om dit te kan doen, behels meer as 'n blote oorskakeling van 'n vleeslike na 'n geestelike gedragspatroon. Die oue mens, wat in beginsel reeds gekruisig is, moet ook prakties afgelê word sodat ons met die nuwe mens beklee kan word. As ons dit nie doen nie, herwin die vlees sy heerskappy en gaan staan in ons pad "omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie" (Rom. 8:7). "As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe!" (Rom. 8:13). Daar is geen sprake daarvan dat die vlees mak gemaak, of dalk net geïgnoreer of onderdruk kan word nie. Omdat die oue mens onrehabiliteerbaar sleg is, sê die Bybel, móét hy dood: "...aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie" (Rom. 6:6). Paulus sê hy roem in die kruis van die Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir hom gekruisig is en hy vir die wêreld (Gal. 6:14). Christus het nie net vir Paulus gesterf nie - Paulus moes ook vir die wêreld sterf. Ons moet duidelik verstaan dat by die stap van bekering ons sonde vergewe word (regverdigmaking) én die nuwe lewe van die Here Jesus word deur die wedergeboorte aan ons geskenk (inisiële heiligmaking). Die ervaring van volkome heiligmaking, of hartsreiniging, kom daarby in dat ons met die krag van die Heilige Gees beklee word om die geregtigheid van Christus 'n sigbare werklikheid in ons lewe te maak. Hiervoor is die aktiewe samewerking en gehoorsaamheid van die kind van die Here nodig, want: * Ek moet by 'n punt kom waar ek myself ook in my verstand en gemoed dood reken vir die sonde (Rom. 6:11). Ek moet dus ophou om in die sondes van die ou lewe te wandel en volkome daarmee breek. Dit beteken dat ek die werke van die vlees moet aflê. Hoewel ek reeds vergewe is en in beginsel saam met Christus gekruisig is (toegerekende geregtigheid, of inisiële heiligheid), moet ek nou doelbewustelik met Hom saamgroei deur die gelykvormigheid aan sy dood. Ek moet 'n oorgawe maak waarna ek saam met Paulus sal kan sê: "Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, eie-ek] leef nie meer nie, maar Christus leef in my" (Gal. 2:20). * Ek moet die volle beheer van my lewe aan die Heilige Gees oorgee. Deur in die nuwe lewe met Hóm saam te werk, moet ek deur die Gees die werke van die vlees doodmaak. As ek deur die Gees wandel sal ek nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Hy sal my volkome heilig maak sodat ek gees, siel en liggaam onberispelik kan wandel (1 Thess. 5: 23-24). Dan kan die sonde nie oor my heers nie. * By die ondervinding van heiligmaking, wat 'n volle oorgawe behels, moet die nuwe lewe wat by my bekering al begin het, prakties in my uitwerk. Ek moet my daarmee beklee en daarin opgaan. Alle struikelblokke moet oorwin en uit die weg geruim word. Toegerekende heiligheid moet ervaarde heiligheid word, m.a.w. innerlike heiligheid moet daadwerklik in uiterlike heiligheid oorgaan. 'n Heilige temperament is nie genoeg nie - dit móét ook in 'n heilige lewenswandel sigbaar word. Die nuwe lewensbeginsels moet deur geloof, gebed, getuienis, volharding en selfverloëning versterk word. Ons roem vir die volle oorwinning oor die Adamiese sonde-natuur is in die kruis van die Here Jesus geleë. Die bloed van Christus reinig my van alle sonde, maar sy kruisdood verlos my ook van die ou, sonde-geneigde natuur. Ek moet só met sy kruisdood identifiseer dat ek as 'n geestelike lewenswyse die kruis van selfverloëning sal opneem waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig word. In die plek van die ou natuur moet ek met die natuur van die nuwe Adam beklee word, wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Baie Christene maak nie erns met die opdrag tot heiligmaking nie. Hulle skuif die morele verantwoordelikheid vir 'n heilige lewe van hulle af weg, en sê dat Christus namens hulle hieraan voldoen. Christus het wél namens jou die straf vir jou sonde gedra om jou tot 'n nuwe mens te kan herskep. Deur jou aktiewe toewyding aan Hom moet jy egter heilig leef, vrug dra en tot volwassenheid opgroei. Christus skenk aan jou deur die Heilige Gees die krag en genademiddels om dit te kán doen, maar Hy doen dit nie namens jou nie! Mense wat die verantwoordelikheid vir en opdrag tot heiligmaking van hulleself afskuif, maak daardeur implisiet vrede met hulle "sondetjies" en gaan met 'n lewe van wêreldsgesindheid voort. Vir hulle sê Paulus: * "Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?" (Rom. 6:1-2). * "Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul" (Ef. 5:18). * "Dit is die wil van God: julle heiligmaking... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het" (1 Thess. 4:3, 7-8). Deur te versuim om aan die opdrag tot heiligmaking te voldoen, ontneem 'n Christen homself die beloofde krag tot oorwinning, diensbaarheid en geestelike groei. Hy minag daardeur die belofte van die Here Jesus aan sy geredde volgelinge, nl. dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Hulle moes hulself ondersoek, toewy en in ernstige gebed op hierdie belofte wag totdat hulle dit ontvang het. Het jy dit al gedoen en die toerusting met krag uit die hoogte ontvang? Sonder dit wag daar vir jou die swakheid en geestelike neerlae wat Petrus voor Pinksterdag geteister het. Hy het ook voor dié aanslae geswig. Die Here se opdrag in die Bybel is: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Pet. 1:16). Dit sluit alle aspekte van ons bestaan in: "Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word" (1 Pet. 1:15). Hoewel heiligmaking 'n proses is, het dit 'n beginpunt by die stap van volle oorgawe. Christene wat nie dié saak ernstig opneem nie, leef onder die oorheersing deur die swakhede van hulle ou lewe voort, val dadelik weer onder die mag daarvan, en bevind hulleself in die vleeslike toestand van die gemeente van die Korinthiërs. Hulle was klein kindertjies in Christus wat deur geestelike kragteloosheid en onvolwassenheid gekenmerk is, en deur sondige gesindhede soos twis, jaloersheid en tweedrag oorheers is (1 Kor. 3:1-3). Dit is 'n sekere resep vir geestelike rampspoed, daarom waarsku Paulus hulle baie ernstig oor hulle sonde en onkunde m.b.t. heiligmaking: "Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle" (1 Kor. 3:16-17). Dit is 'n baie algemene verskynsel vandag dat mense by evangelisasiedienste tot bekering kom, maar ná 'n ruk val die meeste van hulle weer terug in die ou lewe. Tot 'n groot mate is dit die skuld van predikers en kerke wat nie 'n duidelike leer oor heiligmaking verkondig nie. Die groot herlewingsprediker, Charles Finney, het die volgende oor hierdie ernstige probleem gesê: "Dit is duidelik waarom so baie mense terugval. Ek is daarvan oortuig dat wanneer 'n rampspoedige geestelike verval ná 'n herlewing plaasvind, die rede daarvoor feitlik altyd die gebrek aan tydige en behoorlike opvolgwerk is. Bybelse onderrig oor heiligmaking en geestelike groei moet onder die leiding van die Heilige Gees gegee word." Wedergeboorte en 'n lewe van heiligmaking loop hand aan hand. Dit is soos 'n nuwe takkie wat in 'n ou boom ingeënt word. Die nuwe lewe kan nie gedy as die ou takke nie teruggesnoei word sodat die lewensap na die nuwe loot gevoer kan word nie. Uit die gelykenis van die wynstok is dit ook duidelik dat die loot skoongemaak moet word sodat dit meer vrug kan dra. 'n Loot wat nie vrug dra nie, word afgekap en verbrand. Geloof sonder werke is dood. 'n Dooie geloof kan 'n mens tog nie red nie! 'n Christen wat nie heiligmaking najaag en vrugte dra wat by die bekering pas nie, is soos 'n onvrugbare loot wat gevaar loop om afgekap te word. Dit beantwoord glad nie aan sy doel nie. Baie naamchristene in kerke kom nooit by die stap van heiligmaking uit nie omdat hulle nog nie werklik gered is nie. Dit is soos die saad wat op die vlak grond of tussen die dorings beland het. Daar is nooit enige vrug nie. Hierdie naamchristene is soos die ontwaakte maar ongeredde mens van Romeine 7. Hulle het wel die woord van die Here gehoor en wil ook graag daaraan voldoen. Soos die oppervlakkige hoorders van die saad in die vlak grond, neem hulle die boodskap met blydskap aan. Dit is egter net 'n emosionele reaksie en 'n kopbekering, en by die eerste versoeking val hulle heeltemal terug. Hulle beskou hulleself egter nog as Christene, maar tot hulle eie ondergang moet hulle erken: "Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde... Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek [aanhoudend]" (Rom. 7:14, 19). Romeine 7 is glad nie 'n beskrywing van ware Christenskap nie. 'n Ontwaakte sondaar moet eers uit die dood opstaan sodat Christus oor hom kan skyn. Hy moet grondig tot bekering kom. Die eerste werk ná sy bekering moet wees dat hy kragtig van sy nuwe lewe getuig, want "met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons [met betrekking] tot redding" (Rom. 10:10). As hy dit nie met vrymoedigheid kan doen nie, moet hy soek na 'n aanraking met krag uit die hoogte. Die belofte van die Here Jesus is: "Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees..." (Hand. 1:8). Prediker, verkondig die volle raad van God en sien toe dat deur hulle heiligmaking en geestelike groei die kinders van God volkome is, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:17). Hiervoor is 'n volle oorgawe tot heiligmaking en diensbaarheid onontbeerlik. Dit is opvallend hoe baie boeke daar in die herlewingstyd oor die onderwerp van heiligmaking en 'n volkome toewyding aan die Here geskryf is. Sulke boeke is ook in Suid-Afrika deur dr. Andrew Murray geskryf. Predikers het self heilig geleef, hulle was nederige manne van gebed en geloof, daarom het hulle die noodsaaklikheid van heiligheid vir alle Christene besef. In ons tyd ontbreek dit egter grootliks. In die plek daarvan word 'n dooie vormgodsdiens aangebied, of ervarings deur talle misleidende tekens en wonderwerke. Die groot werk van die Heilige Gees om mense van sonde te oortuig, word oor die hoof gesien. As jy 'n ernstige soeker na die volheid van God is, sal Hy Hom deur jou laat vind, jou uit genade red, aan jou oorwinning oor die ou lewe gee en jou ook met sy Heilige Gees vervul. OORWINNING OOR SWAKHEDE : DIE PROSES VAN HEILIGMAKING "Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word" (Heb. 4:14-16). In verband met die bespreking van menslike swakhede is dit belangrik om bewus te wees van die feit dat daar drie gebruike vir die begrip "vlees" in die Bybel is: Die sondige natuur. Die ongeredde [natuurlike] mens is "vleeslik, verkoop onder die sonde" (Rom. 7:14). In hierdie verband verwys die term "vlees" na die sondige lewensbeginsel wat ná die sondeval deel van alle mense geword het. Dit is ons Adamiese natuur wat altyd net na die sonde neig. Hiervan word ons in beginsel by die bekering verlos en met die nuwe natuur van Christus beklee: "Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig" (Gal. 5:24). Die menslike liggaam, ongeag die aard van die geestelike beheer waaronder dit is. As Christen moet die lewe van Jesus in my sterflike liggaam geopenbaar word (2 Kor. 4:11). Paulus sê: "Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, sondige Paulus] leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe [in my menslike liggaam] leef ek deur die geloof in die Seun van God" (Gal. 2:20). Die sondige natuur van Paulus is dus dood, maar andersins leef hy nog as die nuwe mens in sy liggaam. Christene wandel dus ook in die vlees hoewel hulle hul ou, vleeslike natuur afgesterf het: "Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie (2 Kor. 10:3). God is ook in die vlees geopenbaar (1 Tim. 3:16), bedoelende dat Jesus Christus 'n menslike gestalte aangeneem het. Menslike swakhede. Paulus sê: "Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees..." (Rom. 6:19). Hier praat hy nie van die voortdurende en onafgebroke sonde-geneigdheid van die ou, vleeslike natuur nie, maar van swakhede van die vlees wat ook deur die geredde en Geesvervulde kinders van die Here ervaar word. As gevolg hiervan sit baie van hulle nog hulle ou, sondige gewoontes voort en jaag nie heiligmaking na nie. Sommige van hierdie swakhede is die gevolg van die sondeval wat die mens in baie opsigte skeef getrek het, en andere is bloot net deel van mens wees. Swakhede moet in 'n ernstige lig beskou word omdat dit die oorsaak van sonde kan wees. Een van die mens se ernstige swakhede is dat sy liggaam hom blootstel aan versoekings. Hy is ook onvolkome in sy kennis, beperk in sy kragte en traag in sy ywer. Hy kan siek word, moedeloos raak, smarte ly en pyn verduur. Omdat die Here Jesus 'n menslike liggaam gehad het, kon Hy versoek word, en pyn en smarte verduur. Hy was 'n man van smarte en bekend met krankheid. Hy was egter 'n volmaakte mens omdat Hy nooit 'n sonde-geneigde natuur gehad het of aan die gevolge daarvan gely het nie. Hebreërs 7:28 sê: "Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan wat vir ewig volmaak is." Juis hierom was Hy 'n volmaakte offer vir ons sondes en swakhede. Omdat Hy self onder versoekings gely het, kan Hy dié help wat versoek word. Hy is 'n Hoëpriester wat medelye met ons swakhede het. Uit genade vergeef Hy ons sondes wat uit swakheid begaan is. Ons moet egter die goeie stryd van die geloof stry en oorwinnig hieroor kry: "Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie" (Rom. 13:14). Die volgende is die algemeenste swakhede wat die Here ons deur die krag van die Heilige Gees wil help om te oorkom, sodat dit nie 'n oorsaak tot sonde word nie: Versoekings Hoewel 'n Geesvervulde persoon 'n nuwe natuur het wat uit God gebore is, leef hy in 'n gebrekkige menslike liggaam wat vyf poorte na die wêreld het. Dit is jou vyf sintuie wat aan jou 'n bewussyn van die wêreld verleen, en waardeur die bose wêreld jou ook probeer beïnvloed en intrek. Jy kan sien, hoor, voel, ruik en proe. Omdat versoekings op jou sintuie gerig word, moet jy streng beheer daaroor uitoefen. Dit is nie sonde om versoek te word nie - Jesus is self versoek - jy moet egter nie daaraan toegee nie en dit oorwin. Hebreërs 2:18 sê van Jesus: Omdat Hy "self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word." Die volgende is 'n paar voorbeelde van sintuiglike versoekings en die sondes waartoe dit kan lei: "Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld" (Joh. 2:16). Net deur dit wat jy sien, kan jy wêreldsgesind raak en sondig. Jy kan ook 'n mooi vrou sien, haar begeer en in jou gedagtes met haar owerspel pleeg. Kan jy sien hoedat mens oor die swakhede van jou liggaam en sy poorte na die wêreld moet waak? Dieselfde geld ook vir jou ander sintuie. Deur jou gehoor kan jy aan versoekings van verkeerde gedagtes blootgestel word. Jou gevoelsintuig kan na dwelmverslawing lei, insluitende nikotien en alkohol, asook onbeheerde of verwronge seksuele gewoontes. Jou smaak- en reuksintuie kan na vraatsug lei, ens. Die mag van die gewoonte Benewens die mens se sintuie het jou liggaam ook ledemate soos jou hande, jou voete, jou verstand, jou mond, ens., waarmee jy werke kan doen. Met hierdie krag of vermoëns kan jy òf sonde doen òf goeie dinge doen en die Here dien. Weens onkunde, onverskilligheid en die mag van die gewoonte, hou baie Christene nog aan om sekere sondes te doen. Terselfdertyd laat hulle ná om die Here met hulle hele lewe en al hulle kragte te dien. Aan sulke misleide mense sê Paulus: "Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?" (Rom. 6:2). Dan gee hy ook die oplossing hiervoor: "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat dan die sonde in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God" (Rom. 6:11-13). Vergeetagtigheid 'n Algemene menslike swakheid is vergeetagtigheid. Israel is vroeg in sy bestaan al hierteen gewaarsku. Moses het vir hulle gesê: "Neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie" (Deut. 6:12) "Wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak" (Deut. 4:9). Tog hét die volk die Here vergeet. Eeue later het Jesaja vir hulle gesê: "Jy het die God van jou heil vergeet en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke" (Jes. 17:10). In Jeremia 2:32 sê die Here: "My volk het My vergeet, dae sonder getal." Hulle het die rug op Hom gedraai en sonder Hom geleef. Vergeetagtigheid is ook 'n Nuwe Testamentiese probleem. Jakobus sê: "Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen" (Jak. 1:23-25). Petrus sê dat 'n persoon wat nie heilig leef nie, iemand wat nie by sy geloof ywer, kennis, selfbeheersing, godsdvrug en broederliefde voeg en ook hierin toeneem nie, is "blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet" (2 Pet. 1:9). Hy het vergeet van die fondament wat by sy bekering in sy lewe gelê is, en bou glad nie onder die leiding van die Heilige Gees daarop voort nie. Traagheid en onvrugbaarheid Luiheid, die ontduiking van pligte en die hou van 'n lae profiel wanneer jy in werklikheid jou kant móét bring, is 'n tipiese menslike swakheid waaroor ons oorwinning moet kry. Paulus sê: "Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid... so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking... Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe" (Rom. 6:19, 22). Paulus het 'n sterk veldtog teen die swakhede van sy vlees, soos luiheid en onvrugbaarheid, gevoer: "Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie" (1 Kor. 9:27). Waarom is mens verwerplik as jy nie die Here dien nie en net nominaal in Hom glo? Geloof sonder werke is 'n dooie geloof. Die loot wat geen vrug dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi. Aanvaar die uitdaging dat die nuwe lewe wat in jou ingeplant is, moet groei en vrug dra. Anders het dit geen bestaansreg nie en word verwyder. Besoedeling van die gees, die siel én die vlees Omdat ons ín die wêreld is, bring kontak met die wêreld en al sy booshede noodwendig besoedeling mee waarvan ons voortdurend gereinig moet word. As ons iets onheiligs sien, hoor of beleef, besoedel dit ons. Indien ons onsself doelbewustelik daaraan blootstel of aan dit deelneem, dan sondig ons. Paulus sê: "Laat ons ons van alle besoedeling van die gees en die vlees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1). Vermy alle deelgenootskap met die sonde. "Moenie dwaal nie, slegte gesprekke bederf goeie sedes" (1 Kor. 15:33). Hierdie dinge besoedel jou. Baie mense is egter onverskillig en stel hulleself moedswillig aan besoedeling bloot deur bv. pornografiese boeke te lees en aan verkeerde dinge mee te doen. Dan deurboor jy jouself met baie smarte. Hoogmoed Dit is 'n algemene neiging by mense om belangrik te voel, na erkenning te soek en in aansien by die wêreld te wil wees. Die Bybel het goeie raad oor hoe om dié neiging te hanteer: "Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie" (Matt. 20:27-28). "Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie" (Gal. 5:26). As ons met hierdie houding voortgaan, verbeur ons die seën van die Here: "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade" (Jak. 4:6). Wil jy toeneem in genade? Moet dan nie jouself verhef nie. "Hý moet meer word, maar ék minder" (Joh. 3:30). Emosionele swakhede Die mens is 'n emosionele wese wat wisselende emosies beleef. Baie swakhede in gedrag en houdings kan hieruit spruit as jy nie 'n Geesbeheerde temperament het nie. Jy kan in moedeloosheid en belangeloosheid verval. Jy kan ook deur driftige en ongetemde emosies op sleeptou geneem word. Waak ten alle tye daarteen dat jou emosies hand uitruk en na sonde lei: "Word toornig en moenie sondig nie" (Ef. 4:26). Wat ook al jou persoonlikheidstipe met al sy kenmerkende sterk en swak punte is, deur die krag van die Heilige Gees kan jy jou emosionele swakhede oorkom en jou sterk eienskappe uitbou. Jou emosies moet altyd 'n sekondêre rol ten opsigte van jou geloofslewe vervul. 'n Gebrek aan liefde en onderskeidingsvermoë Paulus bid die Christene liefde, wysheid en onderskeidingsvermoë toe: "En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus" (Fil. 1:9-10). Vir die Efésiërs sê hy dat hulle uit hul toestand van geestelike swakheid en onvolwassenheid moet opgroei tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat hulle nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:13-14). Met 'n groei in heiligmaking kom daar ook dieper insig in hierdie dinge. 'n Onvermoë om te kan preek en getuig Die volgende aanklag word aan die meeste Christene gerig: "Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is. Maar vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan" (Heb. 5:12-6:1). Onkunde om reg te kan bid "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge" (Rom. 8:26). Ook skep die Heilige Gees die oortuigings in ons harte waaroor ons moet bid en gee aan ons die vermoë en vrymoedigheid om in die openbaar te kan bid. Vleeslike swakheid om te kan waak "So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak" (Matt. 26:40-41). Hoe dikwels faal ons nie as gevolg van vleeslike swakheid daarin om ons goeie voornemens uit te voer nie. Ons besluit bv. om vroeg op te staan en te bid, maar dan is dit té lekker om nog 'n bietjie te slaap en te sluimer. Ons moet bid sonder ophou en ook daarin waak met danksegging. Dissiplineer jouself en koop die tyd uit om die Here te dien. Moegheid Dikwels word ons moeg vir al die werk wat ons moet doen, of sien bloot net op teen die moeite wat dit vir ons meebring. Paulus sê: "En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie" (Gal. 6:9). Die probleem is gewoonlik dat as jy jou godsdienstige pligte om een of ander rede ter syde skuif, dan begin jy om in die plek daarvan die wêreld te dien. Hou dus ten spyte van moegheid of moeite aan om die Here te dien en die werk te doen wat Hy aan jou gegee het. Hy sê self: "Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom - en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie en op 'n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande" (Matt. 24:45-51). Lyding en siekte Paulus sê: "...[daar] is my 'n doring in die vlees gegee dat ek my nie sou verhef nie... En [die Here] het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring... Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk" (2 Kor. 12:7-10). Baie mense dink dit is 'n sonde om swaar te kry, te ly of om siek te wees. Ons lees egter dat Jesus 'n man van smarte was, bekend met krankheid. Dit is waarom Hy medelye met ons menslike swakhede kan hê. Omdat Hy aan ons menslikheid gelyk geword het, het Hy ook gely. Hy is deur Satan versoek, maar sonder sonde. Jesus neem soms die swakhede en teisteringe van ons liggaam heeltemal weg, maar in baie gevalle gee Hy aan ons krag en vertroosting in ons swakheid en krankheid. Paulus het drie keer vir verlossing en genesing van die doring in sy vlees gebid, maar dit nie verkry nie. Hy het egter die duidelike belofte van die Here gekry dat sy genade vir Hom genoeg is, m.a.w. dat Hy hom ten spyte van sy gebreke sal deurdra. Die krag van die Here word in ons swak liggame volbring, daarom weet ons dat die eer en roem vir dit wat bereik word, altyd net aan Hom behoort. Moedeloosheid as gevolg van teëstand, vervolging en versoekings "Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" (Heb. 12:3-4). Soos Elia, voel die kind van die Here soms moedeloos a.g.v. al die aanslae teen hom. Moet egter nie hieraan toegee nie. Vertrou die Here om aan jou 'n nuwe vervulling met krag uit die hoogte te gee. Sit dan die stryd met 'n vaste toewyding voort. Konflik en onvergewensgesindheid Dit is 'n vleeslike swakheid en sonde om gedurig in stryd en konflik met andere betrokke te wees, en as gevolg daarvan verbitterd en onvergewensgesind te raak. Daardeur vernietig jy jouself geestelik en besoedel ook andere met wie jy in kontak is: "Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie" (Heb. 12:14-15). WORD STERK IN DIE HERE Ons opdrag is om nie deur ons menslike swakhede en tekortkominge afgetrek te word nie, maar om ons met die nuwe mens te beklee en oorwinnend in Christus te leef. Ons het verskeie beloftes en opdragte tot dié effek: * "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees" (Hand. 1:8). * "Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan..." (Ef. 6:10). * Aan die dissipels is gesê: "Julle moet in Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte" (Luk. 24:49). * "Julle moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus" (2 Pet. 3:18). Die apostels het hieraan voldoen en hulle lewens het absoluut hiervan getuig. Stefanus was bv. vol van geloof en krag. As ons nie in hierdie krag toeneem en oorwinnend en heilig leef nie, sal ons ons menslike swakhede ten prooi val en begin dwaal en sondig. Aan ons sal dan ook gesê kan word: "Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie" (Matt. 22:29). Ons moet met die Here se krag bekragtig word want sonder Hom kan ons niks doen nie. As oorwinnende Christene moet ons dan die geestelik swakkeres help en bemoedig: * "En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie" (Rom. 15:1). * "Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie" (Gal. 6:1). * "Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie" (1 Kor. 10:12). * "Ons moet des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie" (Heb. 2:1). * "Vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie" (Heb. 3:13). Ons kán te midde van al die aanslae en versoekings meer as oorwinnaars in Christus Jesus wees! Vanuit 'n posisie van krag en vrymoedigheid in die Here moet ons dan uitbeweeg om die lig van Christus in 'n donker wêreld te laat skyn. Kinders van die Here moet gemotiveer word om met groter volharding en geloof vir die redding van siele te bid. Hulle moet die Here ook vir herlewing onder die lou en wêreldsgesinde Chrstene vertrou. Die bediening van Bybelse vermaning en tug moet ook onder die leiding van die Heilige Gees, en met die gesag wat die Here hiertoe aan ampsdraers in die kerk verleen, met groter fermheid beoefen word. Die opdrag is: "...weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie" (2 Tim. 4:2-3). Daar moet ernstig gesprek gevoer word met die predikante en lidmate van Laodicese kerke wat in hul selfvoldaanheid sê: "Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie" terwyl Here sê dat hulle geestelik bankrot is (Op. 3:17-18). Dit is slegs die Heilige Gees van God wat 'n mens bekwaam maak en krag gee om te midde van veel teëstand vir die waarheid uit te staan. Die Hel Deur John Rice Opsomming: Dit is nodig om te begryp dat daar 'n duidelike antitese in die Christelike godsdiens is. Die antitese vir God is Satan. Die antitese vir Christus is die Antichris, vir die Heilige Gees die gees van dwaling, vir die hemel die hel, vir die lig die duisternis, en vir die waarheid die leuen. Mense wat nie in hierdie groot teenstellings glo nie, verwerp die idee van 'n duiwel, 'n hel en ewige verlorenheid. Sommiges versag die antitese deur te sê dat die hel nie 'n brandende poel van vuur is nie. In hierdie artikel maak dr. John Rice dit baie duidelik dat daar beslis 'n hel is wat op alle onbekeerde sondaars wag! 1. Hoe kan ons meer van die Hel leer? "En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. "En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in die lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur - want ek het vyf broers - om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan" (Luk. 16: 19-31). Die Hel, wat 'n skrikwekkende gedagte! Indien daar 'n plek van ewige smarte is waar verdoemde siele te midde van 'n onophoudelike vlammesee tevergeefs om water smeek, is dit die verskriklikste en mees ontstellende feit in die heelal! Die blote moontlikheid dat hierdie lot op die sondaar wag is só skokkend dat geen ander saak in belangrikheid hierteen opweeg nie. Hoe kan vandag se oorvloed of honger, kleding of naaktheid, eer of skande, plesier of pyn, in belangrikheid teen 'n miljoen jaar se lyding en smarte van die liggaam, gees en gewete opweeg? Ek pleit by elke sondaar om te besef hoe oor en oor die moeite werd dit is om kennis te neem van wat die Here oor die Hel te sê het. Mede-Christen, as een van jou geliefdes in gevaar van die Hel se vuur verkeer, hoe ontsteld en benoud moet jy nie wees nie! Hoe ernstig behoort jou smekinge en gebede nie te wees nie, en hoe onophoudelik jou pogings om hom of haar van die verdoemenis van verlore siele te red! Ja, as mense na só 'n verskriklike Hel toe gaan, behoort familiebande nie die grense van ons gebede en pogings te wees nie. Ons behoort 'n passie vir die redding van siele te hê. Ons moet weet hoe om self die Hel te ontvlug, en ook andere daarvan te red. Die Bybel ons enigste bron van kennis oor die Hel Dit is net die Bybel wat ons oor die Hel kan onderrig. Die mens se wetenskap weet niks van die lewe ná die dood nie. Menslike ervaring reik ook nie tot anderkant die graf nie. Dit is slegs God se Woord wat aan ons kennis en insig hieroor kan gee. Die aangehaalde gedeelte aan die begin van hierdie artikel is wat Jesus self oor die Hel gesê het. Hy het ook baie ander uitsprake hieroor gemaak, soos wat in die Nuwe Testament opgeteken is. Hy het meer oor die Hel gesê as enige ander prediker in Bybelse tye. Mense praat dikwels van die Here Jesus as 'n nederige en saggeaarde Man. Dit ís so dat Hy die menslike toonbeeld van God se liefde is, maar terselfdertyd is sy waarskuwings oor die verskriklike gevolge van sonde die reguitste en skerpste in die hele Bybel. Neem byvoorbeeld die volgende stellings deur Jesus oor die Hel in ag: * "...elkeen wat (vir sy broeder) sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur" (Matt. 5:22). * "En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel" (Matt. 10: 28). * "Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande" (Matt. 13:40-42). * "So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande" (Matt. 13:49-50). * "Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?" (Matt. 23:33). * "Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele" (Matt. 25:41). * "En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe" (Matt. 25:46). * "En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. Want elkeen sal met vuur gesout word" (Mark. 9:43-49). Die bogenoemde woorde is almal deur die Here Jesus uitgespreek. Die Hel was vir Hom 'n verskriklike maar tog 'n noodsaaklike feit. Met heilige verontwaardiging het Hy teen sonde gepreek, en mense deur ernstige waarskuwings vermaan om te vlug vir die toorn wat aan die kom is. Predikers wat Jesus wil navolg, moet ook oor die Hel preek en mense teen die oordele van God waarsku. Ek vestig die aandag weer op die gedeelte in Lukas 16: 19-31 wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is. Dit is 'n stukkie geskiedenis met 'n baie ernstige boodskap. Dit is nie 'n gelykenis nie. Die Bybel noem dit nie 'n gelykenis nie, en dit het ook nie die tipiese kenmerke van 'n gelykenis nie. Abraham en Lasarus is bekende historiese figure wie se name hierin genoem word. As ek nie hierdie gedeelte glo nie, dan glo ek ook nie die Here Jesus nie. Indien die skrifgedeelte oor die Hel nie absoluut geloofwaardig is en as deel van die waarheid aanvaar word nie, dan moet ek die Bybel as die Woord van God en Jesus as die Seun van God verwerp. As ek nie kan glo wat die Bybel oor die Hel sê nie, kan ek ook nie glo wat dit oor die Hemel, oor God, oor Christus, oor redding en oor reg en verkeerd sê nie. Dan is die Bybel nie goddelik geïnspireerd nie, maar 'n menslike boek, en is die Christelike godsdiens niks beter as enige ander mensgemaakte godsdiens nie. Indien die Bybel waar is, dan moet ek glo wat dit oor die Hel sê. Die verhaal van die ryk man in die Hel word in die woorde van Jesus Christus self vertel. Hy het meer oor die Hel gesê as enigiemand anders in die Bybel. Ons moet alles op sigwaarde aanvaar wat Jesus oor die Hel gesê het. Indien ons dit verwerp of die spot daarmee dryf, sal ons die vloek oor onsself haal van die ongereddes wat na hierdie Hel toe gaan. Waarom die duiwel mense oor die Hel mislei Van die tuin van Eden af tot vandag toe is die duiwel besig om mense te leer om te sondig en teen God te rebelleer. Die beste argument wat hy gebruik om mense te oorreed om te sondig, is om te sê dat God nie sonde straf nie. Nadat die Here oor die verbode vrugte aan Eva gesê het: "Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe," het die duiwel geantwoord: "Julle sal sekerlik nie sterwe nie" (Gen. 2:17 en 3:4). Vir Israel het hy mislei om te glo: "Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordeninge te onderhou?... Nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!... Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy 'n behae" (Mal. 3:14-15 en 2:17). Die duiwel val aktief die Bybelse leerstelling oor die Hel aan deur die volgende leuens daaroor te versprei: * Daar is nie 'n Hel nie. * Die Hel is die graf. * Die begrip Hel is figuurlik en dus nie 'n letterlike plek nie. * Mense sal in 'n oomblik pynloos in die Hel uitbrand en dan ophou bestaan. * Mense sal ná hul dood nog 'n kans kry om gered te word. * God is só goed dat Hy niemand Hel toe sal stuur nie. Indien mense aan een of meer van hierdie leuens glo, het die duiwel in sy doel geslaag om hulle oor die werklikheid van die ewige Hel te mislei. Hulle sal dan met hulle sonde voortgaan en sodoende Hel toe gaan. Die duiwel se leuens oor die Hel vind aansluiting by die modernisme wat ontken dat die mens inherent sleg is, en wat ook die Godheid van Christus, versoening deur sy bloed, en die goddelike inspirasie van die Bybel ontken. In plaas van die skepping van die mens, sy val in die tuin van Eden en die verdorwe harte van alle mense wat in die Bybel geleer word, glo die modernis dat die mens die produk van evolusie is en al die tyd beter word. In plaas van redding deur die bloed van Christus, 'n soenoffer wat deur die Seun van God vir sondaars gedoen is, propageer die modernis 'n selfverlossingsleer wat op die mens se werke en karakter gebaseer is. In plaas van 'n Bybel wat die geïnspireerde Woord van God is waarin die mens as 'n groot sondaar voorgestel word wat tot 'n angswekkende Hel gedoem is, en waarin daar vrye verlossing deur 'n groot Verlosser aangebied word, glo die modernis in die leringe van mense, in wetenskaplike teorieë en in die menslike rede. Die Hel is 'n onpopulêre onderwerp. Dr. J.M. Dawson het in die Homiletic Review van Januarie 1930 gesê dat "die ou idees oor die Hel besig is om uit te sterf, en dat die predikante van moderne, gesofistikeerde kerke weier om hierdie idees te laat herleef." 'n Man van God wat in die Bybel glo móét egter die verskriklike waarheid van die Hel verkondig, anders sal hy aandadig wees aan die ondergang van mense wie se tevergeefse uitroepe sal weerklink in 'n ewige Hel waarteen hulle nie gewaarsku is nie. 2. Die Hel is 'n letterlike plek van smarte Diegene wat mense aanmoedig om Christus te verwerp, sê soms dat die Hel slegs die graf is. Hoe dwaas is dit, want ons hoor die ryk man se uitroep in die Hel: "Ek ly smarte in hierdie vlam!" Hy was nie slegs in die graf nie. Hy wou gehad het dat sy broers hulle moet bekeer, "sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie." Bekering sou sy broers nie van die graf gevrywaar het nie, maar van die Hel. Jesus praat van die Hel as 'n plek "waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie" (Mark. 9:48). Ons word ook meegedeel dat die Hel 'n ewige "vuurpoel is wat met swawel brand" (Op. 19:20): "En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie" (Op. 14:11). Die Bybel is so duidelik oor die Hel dat enige persoon wat sê dat die graf die Hel is, óf 'n onkundige óf 'n doelbewuste misleier is. As ek wou, kon ek in geleerde terme oor Sheol, of Hades, of Tartarus, of Gehenna praat. Dit is die Bybelse woorde in Hebreeus en Grieks vir die Hel. Ek kon daarop wys dat die Hebreeuse woord Sheol en die Griekse woord Hades - laasgenoemde word in Lukas 16:23 in die gedeelte oor die ryk man in die Hel gebruik - slegs "die onsigbare toestand" in die graf beteken. Die Hel is egter nie net die graf nie. Die manier waarop die Here Jesus dié woord gebruik het, dui baie duidelik aan wat Hy daarmee bedoel, nl. die Hel, die plek van die verdoemdes. Die Hel is 'n plek Die ryk man in die Hel het geweet dat hy nie net in een of ander geestelike toestand verkeer nie, want hy wou sy broers laat waarsku dat hulle nie ook "in hierdie plek van pyniging kom nie." Die Hel is dus nie 'n toestand nie, dit is 'n plek. Let daarop dat die woord "Hel" in hierdie artikel, soos die name van ander plekke, deurgaans met 'n hoofletter geskryf word. Indien plekname soos Chicago en Amerika met 'n hoofletter begin, dan moet die Hel, daardie stad van die verdoemdes, die land van verlore siele, ook só geskryf word. Dit is 'n plek! Geen onderbreking tussen dood en Hel nie Moenie mislei word deur te dink dat die sondaar ná sy dood nog 'n kans sal kry om hom te bekeer nie. Die Bybel sê: "En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was..." (Luk. 16:22-23). Lasarus is dadelik deur die engele na sy bestemming weggevoer. Daar was geen proeftydperk of tussenstadium van sielerus nie. Wanneer die Christen sterf, bevind hy hom sonder versuim in die heerlike teenwoordigheid van die Here. Toe die rower aan die kruis tot bekering gekom en kort daarna gesterf het, is hy dadelik saam met die Here Jesus na die Paradys toe (Luk. 23:43). Dieselfde reël geld ook vir die sondaar wat op pad Hel toe is. Die ryk man het onmiddellik ná sy begrafnis sy oë in 'n plek van pyniging in die Hel oopgemaak. Daar is geen bewyse van 'n vertraging van sy straf nie. Let ook daarop dat die straf van die ryk man tydens die leeftyd van sy broers al begin het, en nie in die verre toekoms nie. Wanneer 'n verlore persoon sterf, gaan hy onmiddellik Hel toe. Dit is die duidelike boodskap van die Bybel. Roomse leer oor die vaevuur is onbybels Die Rooms-Katolieke het die leer oor die vaevuur, of limbo, as 'n tussenstadium tussen die dood en die Hel, uitgedink. Hulle beweer dat as 'n persoon 'n tyd lank in die vaevuur gely het, hy toegelaat kan word om hemel toe te gaan. Priesters sê dikwels aan hulle lidmate dat gebede, goeie dade en geld wat aan die priester betaal word, die bevryding van hulle geliefdes uit die vaevuur sal verseker. Dit is 'n leerstelling wat op priesterlike hebsug gebaseer is, sonder 'n enkele teks in die Bybel wat dit ondersteun. Die Bybel noem nie eers limbo, die vaevuur of enige sodanige plek nie. Jesus het geen aanduiding gegee dat as 'n persoon ongered sterf, hy daarna weer 'n kans sal kry nie. As jy enige waarde aan jou siel heg, arme verlore sondaar, moet jy nie jou hoop stel op genade of 'n geleentheid op redding ná jou dood nie. Die ryk man het nie sy oë in die vaevuur oopgemaak nie, maar in die Hel! Hy sou natuurlik baie bly gewees het om te verneem dat hy daar kon uitkom, en gehoop het dat iemand hom uit die Hel sou bid. Sy pyniging sou soveel draagliker gewees het as hy, soos in die gevangenisse in ons land, weens goeie gedrag vrygelaat kon word, of as hy loskoopgeld aan 'n priester kon betaal om na die Paradys oorgeplaas te word. Miskien het hy gehoop dat die grense van die Hel oorgesteek kon word, want hy het uitgeroep: "Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam" (Luk. 16:24). Die antwoord wat hy gekry het, was nie vir hom goeie nuus nie, want hy moes hoor dat niemand ooit van die Hemel af na die Hel kan oorgaan nie: "...by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan kom nie" (Luk. 16: 26). Die groot kloof tussen die Hel en die Paradys, of die Hemel, is permanent gevestig. Niemand kan ooit van die een na die ander oorgaan nie! Daar is geen limbo of vaevuur in die middel nie. Anderkant hierdie lewe is daar net 'n ewige Hel en 'n ewige Hemel wat vir ewig van mekaar geskei is! Die Hel 'n plek van onuitspreeklike smarte Die smarte wat in die Hel gely word, is een van die belangrikste stellings wat in hierdie gedeelte deur die Here Jesus gemaak word. Die ryk man was "in smarte" (v. 23). In vers 24 sê hy: "ek ly smarte in hierdie vlam." In vers 25 sê Abraham aan hom: "jy ly smarte." Daar is pyniging en smarte in die Hel! Dit is die enigste kykie wat God ons ooit in die Hel gegee het, en in die smarte wat daar heers. Hoe verskriklik is dit nie! Hier is 'n man, eers ryk en nou arm. Tevore het hy alles gehad wat sy hart kon begeer, en nou het hy niks anders as smarte in die helse vuur nie. Hierdie man in die Hel is dieselfde persoon as wat hy op aarde was. Hy het dieselfde verstand en geheue. Hy het Lasarus erken en sy broers onthou. Hy onthou ook dat hy hom nie bekeer het nie. Hy het dieselfde liggaamlike begeertes as wat hy op aarde gehad het, en het na 'n druppel water gesmag om sy tong af te koel. Hy is nog nie liggaamlik in die Hel nie, maar hy het sy liggaamlike sintuie behou. Wanneer die vriendelike stem van Abraham uit die Hemel tot hom spreek: "Kind, onthou..." dan is dit duidelik dat 'n verlorene se geheue deel van sy lyding in die Hel is. Gestel dat die ryk man in die tyd van Jesus gesterf en Hel toe gegaan het, dan "onthou" hy al 2000 jaar lank. Hy kan elke sonde onthou wat hy gedoen het. Hy kan sy gemene liefdeloosheid teenoor God onthou. Hy kan elke geleentheid onthou wat hy gehad het om hom te bekeer, waarvan hy nie gebruik gemaak het nie. Die Hel is 'n plek waar mense by hulle volle bewussyn is, terwyl hulle geheue en gewete ook normaal funksioneer. Daar is geen aanduiding dat die ryk man in die Hel God liefgehad en homself wou bekeer het, meer as wat die geval voor sy dood was nie. Soos vroeër, het hy sy broers liefgehad. Sy natuur het nie verander nie, en sy siel het nie geslaap nie. Hy het bewuste lyding en smarte in die Hel verduur. Fisiese liggame sal Hel toe gaan Jesus sê dat die ryk man begrawe is en sy oë in die Hel opgehef het. Sy liggaam was in die graf, maar dit verhoed hom nie om sintuiglike ervarings te hê nie. Die oomblik sal egter aanbreek wanneer die ryk man én alle sondaars met hulle fisiese liggame in die Hel sal wees. Openbaring 20:11-15 verwys na die tyd wanneer die ongeredde dooies uit die Hel sal kom, hulle opstandingsliggame uit die grafte sal kry, in veroordeling voor God sal verskyn, en dan vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word. Hulle sal liggame kry: "...sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader" (Fil. 2:10-11). Letterlike knieë sal buig en met letterlike tonge sal die verlorenes bely dat Christus die Here is, en dat hulle self sondaars is. Hierna sal hulle met hulle fisiese liggame in die poel van vuur gewerp word. Dit is van fisiese liggame in die Hel wat Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat sondaars in die helse vuur gewerp sal word (Matt. 18:8-9). Oor die aard van die ewige dood wat hulle sal sterf, het Hy gesê: "Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel" (Matt. 10:28; beklemtoning bygevoeg). Die duiwel het mense wat God se Woord nie ken nie, mislei om te glo dat die Hel 'n onwerklike, spookagtige plek is waar daar wél 'n bietjie ongerief verduur sal word, maar nie bewuste lyding en fisiese smarte nie. Sodoende word alle vrees vir die oordele van God by mense weggeneem. Mag die Here ons help om te besef dat die geweldigste marteling op die verdoemde siele wag wat Christus verwerp het en as gevolg daarvan Hel toe sal gaan. Is daar 'n letterlike vuur in die Hel? Ons het reeds gesien dat die Hel 'n letterlike plek is waarin mense met fisiese liggame sal wees. Die vraag ontstaan nou of daar 'n letterlike vuur in die Hel is waardeur die verlore sondaars gepynig sal word? Die antwoord van die ryk man is baie duidelik: "Ek ly smarte in hierdie vlam." Die Bybel verwys herhaaldelik na die vuur van die Hel. Jesus praat van mense wat in "die helse vuur" verantwoording sal doen (Matt. 5:22). Hy sê ook dat hierdie vuur nie uitgeblus sal word nie (Mark. 9:47-48). In Openbaring 20: 14-15 word die Hel "die poel van vuur" genoem. As ons die Woord van God glo, dan moet ons glo dat mense met fisiese liggame van die groot wit troon af na die poel van vuur gestuur sal word. 3. Die Hel is 'n ewige straf Die Hel wat die Bybel van praat, is 'n ewige Hel. Hiermee bedoel ek nie net dat die plek vir ewig sal bestaan nie, maar dat mense vir ewig daarin gemartel sal word. Die ryk man is nog steeds in die Hel, net soos wat Lasarus nog steeds in die Hemel is. Die tydsduur in die twee gevalle is dieselfde. Omdat daar 'n groot kloof tussen die twee plekke is, kan niemand ooit uit die Hel uitkom nie. Die Here het die versekering gegee dat alle sondaars geoordeel sal word, daarom móét hulle uit die dood opstaan: "Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik" (Dan. 12:2). Let daarop dat die verlore mense net so seker as die regverdiges opgewek sal word. Jesus het dit ook bevestig: "Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling" (Joh. 5:28-29). Die verlore mense wat in die graf is, sal die Here se stem hoor en uitgaan tot die opstanding van die veroordeling! Die ryk man is begrawe, en het sy oë in die Hel oopgemaak. Solank as wat sy liggaam in die graf is, sal hy in die Hel bly. Die miljoene wat in die Hel is, kan nie daar uitkom en kan ook nie ophou bestaan nie, want die Here het beloof om hulle weer in 'n liggaamlike bestaan op te wek. Openbaring 20:11-15 vertel ons van die opstanding van verlore mense uit hulle grafte. Lees hierdie verse noukeurig, want daarin word beskryf hoedat sondaars uit die Hel sal kom nadat die duisendjarige vrederyk van Christus verby is. Hulle liggame sal uit die see en die land versamel word, en hierdie mense sal liggaamlik voor Christus verskyn om hul ewige verdoemenis te ontvang! "En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp" (Op. 20:11-15). Die ryk man moet dus, saam met al die ander miljoene verlorenes, in die Hel bly en gepynig word in vlamme terwyl hulle alles onthou wat tot hulle ondergang aanleiding gegee het, totdat hulle Jesus voor die groot wit troon sal ontmoet. Dan sal hulle opstandingsliggame kry en die knie voor Christus buig om te erken dat Hy die Here is! Ewige straf ná die oordeel Indien elke sondaar 'n paar dekades, 'n paar eeue of selfs 'n paar duisend jaar lank in die Hel moes ly totdat die groot wit troon oordeel aanbreek, sal dit al erg genoeg wees. Sondaars sal dan uit die Hel kom, hulle opstandingsliggame kry en met bewing voor die hemelse Regter verskyn. As hulle daarna in die poel van vuur gewerp word en in 'n oomblik se tyd uitbrand, sou dit 'n groot straf wees. Die Bybel is egter baie duidelik oor die feit dat sondaars ná die eindoordeel vir ewig in die poel van vuur gepynig gaan word. Die woorde wat in die Bybel oor die Hel en die verdoemenis van verlore mense gebruik word, is nie woorde met 'n betekenis van tydelikheid nie. Hulle dui almal 'n ewigheid van smarte aan. Daniël 12:2 sê dat sommige sal ontwaak "tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik." In Markus 3:29 waarsku die Here teen die gevaar van die "ewige oordeel." In Openbaring 14 word daar 'n duidelike en skrikwekkende prentjie van die ewige smarte van die verlorenes geskilder wat saam met die Antichris in die Hel sal wees: "(Hulle) sal drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en (hulle) sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie..." (Op. 14:10-11). Die rook van hulle pyniging styg dag vir dag op tot in alle ewigheid. Mense mag dalk hoop dat as hulle in die vuur van die Hel uitgebrand het, hulle rook vir altyd hoër en hoër sal opstyg. Die res van die vers maak dit egter duidelik dat sondaars nie sal ophou bestaan nie, maar vir ewig sal ly, want "hulle het dag en nag geen rus nie." Die nag bring geen rus van die marteling van die dag nie, en die aanbreek van elke nuwe dag ná 'n nag van verskrikking en smarte, beloof nog meer smarte in daardie rustelose plek van foltering vir mense wat Christus verwerp het en nie sy genade wou aanvaar nie. Dit is die soort Hel waarvan Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat "hulle wurm nie sal sterf en die vuur nie uitgeblus sal word nie." Ek weet nie wat met die voortgesette vertering deur wurms bedoel word nie. Ek weet dat in die huidige wêreld alle kwale en pyn deur sonde veroorsaak word. Infeksie deur bakterië, die plae van parasiete wat die menslike liggaam aanval, die vertering deur kanker en ander kwaadaardige gewasse - al hierdie dinge is die gevolg van sonde. Dit kon nie met 'n volmaakte Adam in die tuin van Eden gebeur het nie. Dit mag wees dat 'n duisend sulke onuitspreeklike verskrikkinge van liggaamlike lyding ná die opstanding en die eindoordeel op sondaars in die Hel wag. Dit sal hul smarte soveel groter maak. Straf van die Antichris en die valse profeet Die beskrywing van die oordeel van die Antichris en die valse profeet bevestig ook die ewige oordeel. Hulle sal mense met fisiese liggame wees, net soos ons, en in die poel van vuur gegooi word. Openbaring 19:11-21 beskryf die wederkoms van Christus tydens die slag van Armagéddon. Dan sal die Antichris en die valse profeet lewendig in die poel van vuur gewerp word: "En die dier (die Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand" (Op. 19:20). Die Hel waarin hierdie twee manne lewendig gewerp sal word, is 'n fisiese plek, die poel van vuur. Hulle sal na "siel sowel as die liggaam" in die Hel wees (Matt. 10:28). In Openbaring 20 lees ons van die ou slang, die duiwel en Satan, wat 'n duisend jaar lank in die bodemlose put gebind sal word terwyl die heiliges saam met Christus op aarde regeer. Aan die einde van die duisend jaar sal hy vir 'n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot rebellie te stig. Hy sal dan gevang en in die poel van vuur gegooi word, waar die Antichris en die valse profeet al 'n duisend jaar lank is: "En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid" (Op. 20:10). Die liggame én siele van verlorenes sal aan ewige smarte in die Hel onderwerp word. Sondaar, moenie dat die duiwel jou oor hierdie saak mislei nie. Net so seker as wat die Bybel God se Woord is, só seker is daar ook 'n Hel - 'n plek van ewigdurende pyniging vir almal wat Christus verwerp het. 4. Sal 'n liefdevolle God 'n sondaar Hel toe stuur? Ongelowiges sê graag dat hulle wat swak, sondige mense is, nie hulle kinders Hel toe sal stuur nie; en dat as God sy kinders liefhet, Hy hulle ook nie Hel toe sal stuur nie. My antwoord hierop is dat ongeredde sondaars nie God se kinders is nie. Niemand is 'n kind van God voordat hy weergebore is nie. Die ongeredde mense is die kinders van die toorn. Jesus het aan die Fariseërs gesê: "Julle het die duiwel as vader" (Joh. 8:44). God se kinders gaan nooit Hel toe nie, maar die duiwel se kinders gaan wél. Hoe dwaas is dit nie om God van verkeerde optrede te beskuldig omdat mense Hel toe gaan. Die Hel is die gevolg van mense se sonde. Hulle gaan Hel toe omdat hulle behoort te gaan, en nie omdat God hulle haat nie. Sonde is 'n gehate onderwerp vir diegene wat nie van die Bybelse leer oor die Hel hou nie, omdat sonde die oorsaak van die Hel is. "Die loon van die sonde is die dood" (Rom. 6: 23). Toe God in die tuin van Eden aan Adam gesê het: "...die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe," het Hy nie slegs na die fisiese dood verwys nie, maar ook na die dood van die siel. Toe Adam sonde gedoen het, het hy begin om fisies te sterf, maar hy het onmiddellik geestelik gesterf. Hy het 'n verlore siel geword, en as dit nie vir die genade van God was nie sou hy in die Hel beland het. Die tweede dood is, soos die eerste dood, deur sonde veroorsaak. Tensy God al sy wette verander wanneer ons in die volgende wêreld kom, sal daar 'n plek móét wees waar sonde gestraf word. Sonde bring lyding in hierdie wêreld; waarom dan nie ook in die Hel nie? Sonde bring pyn en lyding in hierdie wêreld mee. Dit lei na tragedie en vernietiging en uiteindelik bring dit die dood voort. Is God hiervoor te blameer? Nee, daarom móét daar 'n Hel wees waar sondaars gestraf word. Iemand wat nie in die Hel kan glo nie, is nie intelligent nie; hy neem glad nie die getuienis hieroor in ag nie. Jy wat sê jy kan nie glo dat 'n liefdevolle God 'n sondaar Hel toe sal stuur nie, laat ek aan jou 'n paar vrae stel: * Glo jy dat 'n liefdevolle God sonde sal toelaat om 'n mens met 'n siek liggaam in die hospitaal te laat opneem? * Glo jy dat God sonde sal toelaat om 'n persoon in die tronk te laat beland waar sy vryheid vir maande, jare, of selfs lewenslank van hom ontneem sal word? * Glo jy God laat toe dat sondaars tereggestel word om te betaal vir moord? Of jy daarvan hou of nie, laat God dit nie toe nie? * Laat God nie sonde toe om huisgesinne te vernietig, en siekte, dood en ellende te bring nie? * Laat God nie sonde toe om oorlog te bring, met al die wreedhede daarvan vir die nasies wat Hom vergeet het, en dood vir miljoene nie? Indien dieselfde God aan die beheer van sake is aan die ander kant van die dun sluier van die dood, kan jy daarvan seker wees dat 'n sondaar in die ander wêreld sal maai wat hy gesaai het, en sy eerlike loon sal ontvang. Elke arme, bose, Christus-verwerpende, Hel-verdiende sondaar sal in 'n plek van pyniging kom, wat voorberei is vir hulle wat hulle nie bekeer het nie, en nie vir Christus vertrou het om hulle te red nie. Die mens wat nie in die Hel glo nie is 'n hardkoppige dwaas wat nie wil glo wat sy oë sien nie. * "...die loon van die sonde is die dood" (Rom. 6:23). * "...julle sonde sal julle uitvind" (Num. 32:23). * "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai" (Gal. 6:7). * "...as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort" (Jak. 1:15). Wanneer jy die vernietigende gevolge van die mens se sonde sien, sê vir my, asseblief, is die Here hiervoor te blameer? In hierdie wêreld is probleme, tragedie, hartseer, vernietiging en die dood die gevolge van sonde. Ons kan seker daarvan wees dat in die volgende wêreld God se wette oor sonde nie verander het nie. Mense gaan Hel toe omdat hulle sondaars is. Die smarte van die Hel is die gevolg van hulle sonde. Mense gaan Hel toe omdat hulle moet, omdat dit reg so is. Die Hel is die plek vir sondaars. Verskillende grade van straf in die Hel Sommige mense is meer boos as andere, daarom verdien hulle ook 'n swaarder straf. Party het meer geleenthede gehad en dit verwerp. Hulle sal strenger aanspreeklik gehou word. Die Bybel leer dit. Die Hel is warmer vir sommige mense as vir andere. In Openbaring 20:12-13 lees ons dat die dooies volgens hulle werke geoordeel sal word. Die leer dat die Hel vir sommige meer draaglik as vir andere sal wees, word ook elders in die Bybel aangetref. Jesus sê dat Sodom, Tirus en Sidon dit verdraagliker in die oordeel sal vind as Górasin, Betsáida en Kapérnaüm, asook ander stede wat die evangelie gehoor en dit verwerp het (Luk. 10:10-15). Hoe groter die geestelike verligting en hoe meer die geleenthede wat 'n sondaar in sy lewe gehad het om tot bekering te kom, des te groter sal sy straf wees as hy dit verwerp het: "En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word" (Luk. 12:47-48). Die Here tree altyd reg op. Ons kan daarvan seker wees dat 'n man wat Christus vyftig jaar lank verwerp het, en ten spyte van groot geestelike verligting God nog steeds weerstaan, 'n swaarder straf as 'n jonger persoon sal ontvang. Iemand wat sy hele lewe lank in 'n Christelike land die evangelie gehoor het en sonder Christus sterf, sal die Hel beslis warmer en meer smartlik as 'n heiden vind wat slegs die verligting van die wet gehad het wat in sy hart geskryf is, dit is sy gewete, asook die getuienis in die natuur rondom hom dat daar 'n God is. Die Hel is die gevolg van mense se sonde wat hulle gedoen het. Groter sonde bring 'n erger straf in die Hel mee. Sonde word in die Hel voortgesit Die smarte van die Hel lyk so verskriklik! Verdien 'n kort lewe van sonde op aarde 'n ewige straf in die Hel? Is die Here regverdig om iemand vir altyd in die Hel te pynig vir sy sonde in hierdie lewe? Dit is 'n intelligente vraag, en daar is 'n intelligente antwoord daarop. Die rede waarom sondaars in die Hel moet bly, is omdat hulle steeds sondaars sal wees. Die Hel is nie net 'n plek van straf vir sonde wat op aarde gedoen is nie; dit is ook 'n plek waar sonde voortgesit sal word. Toe die ryk man gesterf en sy oë in smarte in die Hel oopgemaak het, was hy nog steeds dieselfde sondaar, onveranderd in hart en karakter, as wat hy tydens sy uitspattige lewe op aarde was toe hy hom nie bekeer het nie. Hy het geen woord van berou oor sy sonde in die Hel uitgespreek nie. Hy het Abraham om genade gevra, maar nie vir die Here nie. As 'n verlore Jood het hy die herinnering aan Abraham, die stamvader van die Hebreërs, geëer, maar hy het God nie liefgehad nie. Hy het water gevra sodat sy tong verkoel kon word, maar hy het nie gevra dat sy sondes vergewe word nie. Hy het geweet dat hy in die Hel is omdat hy hom nie bekeer het nie - nogtans het hy hom nie bekeer nie! Hy het sy broers op aarde liefgehad, en hulle met dieselfde natuurlike liefde in die Hel liefgehad, maar hy het God nie liefgehad nie. Hy was 'n sondaar op aarde en het 'n sondaar in die Hel gebly. Daar is alle rede om te glo dat daar in die Hel 'n oorgawe aan boosheid sal wees soos wat nie op hierdie aarde moontlik was nie. Op aarde was daar baie teëhouende faktore wat nie in die Hel sal funksioneer nie. Hier is daar talle Christene wat die sondaar teëhou en waarsku. Daar sal hy vir altyd in die teenwoordigheid wees van diegene wat God haat. Daar sal hy nooit 'n evangelie-diens of 'n Christelike lied hoor nie. Die invloed van ordentlikheid sal daar afwesig wees, en verlore mense sal hulleself vir altyd aan onbeheerste sonde oorgee. Hulle bose harte sal met die tyd nóg boser word. Die Heilige Gees sal hulle ook nie daar van sonde oortuig nie. Sondaars sal dus voortgaan om die Hel te maak wat dit is. Eerlose en skaamtelose mense in die Hel Duisende mense wat hulleself in hierdie wêreld as eerbare persone beskou, gaan Hel toe. Onthou dat om jou kruideniersrekening te betaal, nie van jou 'n Christen maak nie. "Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie" (Joh. 3:7). Ons kan verseker daarvan wees dat niemand in die Hel baie lank 'n eerbare persoon sal bly as elke motief vir deugsaamheid en opregtheid verdwyn het nie. Duisende der duisende deugsame vroue wat goeie moeders was, sal ook in die Hel beland. Menslike deugde is nie genoeg om jou siel te red nie. "Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God." Jesus is die enigste weg tot verlossing. Eerbare en kuis vroue sal nie lank hulle morele deugde in die Hel behou nie. Die Hel is aan bose geeste oorgelewer, en die leidende geeste daar is "moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars" (Op. 21:8). 'n Wanvoorstelling van die Hel Daar is predikers, waaronder ook goeie manne, wat sondaars in die Hel voorstel as mense wat hulle bekeer, God liefhet en om vergifnis smeek, terwyl die Here vir hulle lag en met hulle lyding die spot dryf. Dit is nie wat die Bybel ons oor mense in die Hel leer, of oor God se optrede t.o.v. hulle nie. Die ryk man in die Hel was jammer om te maai wat hy gesaai het. Hy wou genade vir sy gefolterde liggaam hê, maar het nie vergifnis vir sy sonde gesoek nie. Die Here verbly Hom nie oor die smarte van sondaars in die Hel nie. Die rede waarom hulle daar gehou word, is omdat hulle nog dieselfde gees van rebellie, boosheid en ongeloof het as wat hulle op aarde gehad het, geïntensiveer deur die omgewing van die Hel, en onbeteueld deur 'n enkele goddelike invloed. Kan jy sien waarom sondaars wat Christus verwerp, doelbewus die kwaad in plaas van die goeie kies, en wanneer hulle Hel toe gaan, met hulle sonde voortgaan? Kan jy sien waarom hulle straf moet voortgaan? Die sondaars in die Hel maak hulle eie Hel. Mense gaan Hel toe omdat hulle dit verdien. Hulle bly daar om dieselfde rede. Die straf gaan voort omdat sonde in die Hel voortgaan. Sondaars sou die Hemel verwoes Gestel dat sondaars Hemel toe sou gaan, of na die verheerlikte aarde sou terugkeer waar Christus en God die Vader vir ewig met die gereddes sal regeer. Daar sal al die miljoene engele en verlostes die Here prys, maar die sondaars verag Hom in hulle harte. Sommige van hulle het Hom gekruisig, en almal van hulle het Hom verwerp. "Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie" (Luk. 19:14), het hulle gesê. In die Hemel sal daar nie plek vir wellus, dronkenskap, gierigheid of leuens wees nie; al die bose mense het Hel toe gegaan omdat hulle dié dinge liefhet. Sondaars sou miserabel in die teenwoordigheid van 'n God wees vir wie hulle nie liefhet nie, en as hulle daar moet lewe volgens reëls wat net die regverdiges geniet. Die Hemel sal Hel vir 'n sondaar wees. Sondaars sou ook die Hemel in 'n Hel vir die regverdiges omskep. Sondaars wat uit die Hel vrygelaat word, sou die goud op die strate van die nuwe Jerusale