Bibleguide.com Back to Afrikaans Books & Articles Geestelike Oorlogvoering Deur Prof JS Malan Opsomming: Die Christelike lewe speel basies op drie vlakke af, waarvan twee in die geestelike milieu is: dit is eerstens ons positiewe geestelike identifikasie en verhouding met die Here, en tweedens ons worstelstryd teen 'n bose geestelike mag onder aanvoering van Satan. Die derde vlak is dié van die sigbare, materiële wêreld waarin ons leef, en waarin die geestelike invloede wat op ons inwerk, hulle terdeë laat geld. Hoe ons in hierdie wisselwerking tussen die sigbare en onsigbare wêreld oorwinnend kan leef, is die onderwerp van hierdie artikel. Kennis van die volgende aspekte is van kardinale belang vir die Christen se verwering teen aanslae wat die sielevyand op hom maak: 1. STRYD TEEN DIE BOSE Die wêreld lê volgens 1 Johannes 5:19 in die mag van die Bose. Jesus het in Joh. 14:30 na die duiwel as die owerste van hierdie wêreld verwys. Paulus sê in 2 Kor. 4:4 dat Satan die god van hierdie wêreld is wat die sinne van mense verblind. Hieruit behoort dit vir elkeen duidelik te wees dat ons nie nou as konings in 'n vrederyk regeer nie, maar soldate van die kruis is wat teen die vyand van God se koninkryk in 'n stryd gewikkel is. Elke ware Christen wat deur die wedergeboorte van die heerskappy van Satan bevry is, is in 'n geestelike stryd teen die mag van die Bose gewikkel. Nie een Christen is van dié stryd gevrywaar nie. Om hierin te kan oorwin, moet daar doelbewustelik in die krag van die Here teen die Bose weerstand gebied word: "Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly" (Ef. 6:10-13). Die wapenrusting van God, wat in 'n volgende boodskap behandel sal word, is standaard toerusting vir alle gelowiges om die goeie stryd van die geloof te kan stry. Paulus verwys nie na spesiale toerusting wat slegs vir diegene bedoel is wat met demoniese besetenheid te doen het nie. Hy het die gewone, alledaagse stryd van die gelowige in gedagte. Hoewel hierdie stryd op 'n geestelike vlak gevoer word, is dit 'n baie werklike stryd teen 'n groot en gedugte mag van demone onder die aanvoering van Satan. Die omvangrykheid van die geestelike oorlog blyk uit die feit dat dit van vyf fronte af teen gelowiges gevoer word. In elke geval neem die vyand 'n ander gedaante aan en pas 'n verskillende strategie toe om sy verleidings- en ondermyningswerk te doen. In die vyf hoedanighede kom Satan of een van sy trawante as: * teëstander, * verleier, * misleier, * berower, en * aanklaer. Op elk van hierdie vyf terreine moet ons die gedaante en werkswyse van die vyand duidelik kan identifiseer sodat daar doeltreffend teen hom weerstand gebied kan word. Die Bybel sê die volgende hieroor: 1. Teëstander In die eerste en belangrikste opsig van die stryd word die duiwel as die Christen se teëstander beskryf, wat sy ondergang of benadeling op alle lewensterreine soek: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof" (1 Pet. 5: 8-9). Hierdie posisie van konfrontasie is onvermydelik: die duiwel is ons teëstander wat ons op allerlei wyses teëstaan en struikelblokke in ons weg werp. Ons opdrag is om hom in die geloof te weerstaan en dus ook sý teëstander wees. Ons moet nie ons oë vir sulke kontaksituasies sluit deur dit weg te redeneeer nie. Baie mense skryf probleme van dié aard aan omstandigheidsfaktore of ander oorsake toe, en sien nie die vyand van hulle siele se aandeel daarin raak nie. Dan soek hulle ook nie na geestelike oorwinnings oor hulle probleme nie. Hulle hoop maar vir die beste en aanvaar neerlae op 'n fatalistiese wyse. Sulke mense is verloorders in die stryd. Die intensiteit van Satan se teëstand ken geen perke nie, want as mensemoordenaar streef hy daarna om mense dood te maak. Oorloë, gevegte, noodlottige ongelukke, selfmoord, bakleiery en verskeie ander metodes word deur hom gebruik om aan sy moorddadige motiewe uiting te gee. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar binne sy beperkte beweegruimte werk hy met groot lis om sy doel te bereik. Satan en sy demone het ook 'n groot aantal stadige metodes waardeur hulle mense se lewens verwoes, soos bv. drank, dwelmmiddels en tabak. Baie vorms van teëstand word in dié oorlog aangewend om Christene moedeloos te maak, van hulle planne in die diens van die Here te laat afsien, die stryd gewonne te gee en in 'n donker put van depressie te laat wegsink. Hieronder is konflik tussen gesinsgenote, vriende, kollegas en andere. Die bitsige en knaende vyandskap van andersdenkendes, bv. diegene wat godsdienstig en ideologies van jou verskil, kan ook tot moedeloosheid lei. Sulke persone lê dan óf die strydbyl neer óf handhaaf ter wille van goeie verhoudinge en verminderde vyandighede 'n lae profiel. Die duiwel kan ook aanvalle op 'n mens se ekonomiese belange en materiële besittings doen om jou skade te berokken en moedeloos te maak. Al die veelvuldige wyses waarop hy jou aanval, hetsy deur mense of deur omstandighede, moet in die naam van die Here weerstaan en die stryd teen hom voortgesit word. Volg die voorbeeld van die Here Jesus in hierdie opsig, en stry in sy krag teen die magte van die Bose wat ook deur ander mense werk: "Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" (Heb. 12:3-4). 2. Verleier Satan is aktief besig om mense tot morele sondes te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Deur sondige suggesties en die aanwakker van die sondige natuur word mense tot sondige dade verlei. Hieronder is die volgende: Onsedelikheid, hoerery, owerspel, brassery, dronkenskap, toorn, twis, wraak, moord, hoogmoed, eiewaan, gierigheid, afguns, roof, diefstal, omkopery, leuens, valse getuienis, bedrog, en hebsug. Die oplossing teen sondes van vleeslike verleiding is waaksaamheid, selfbeheersing en gebed: "Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak" (Matt. 26: 41). Ons moet met groot vrymoedigheid in die gebed na die genadetroon nader, want die Here Jesus is die Oorwinnaar wat meer as bereid is om ons te help om in die stryd teen versoekings te kan oorwin. Hy weet wat versoekings is, en deur sy krag en outoriteit kán dit oorwin word: "Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word" (Heb. 2:18). "Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word" (Heb. 4:15-16). Ons word ook telkens vermaan om onsself te verloën en die ou natuur te kruisig, anders is ons 'n oop teiken vir morele sondes (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Trouens, as ons nié die ou natuur aflê en oorgee om gekruisig te word nie, sal oorwinning oor versoekings ons sekerlik ontwyk: "Wat die vorige lewenswandel betref, [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid" (Ef. 4:22-24). Sonder 'n volle oorgawe van hierdie aard sal u nog 'n innerlike stryd teen uself voer en nie die liste van die versoeker suksesvol kan weerstaan nie. 3. Misleier 'n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op 'n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die noodwendige gevolg hiervan: "Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang" (1 Tim. 4:1). Verval van hierdie aard is aan die orde van die dag in Christelike kerke (2 Tim. 4:1-4), terwyl geestelike bedrog en leuens ook die grondslag van al die nie-Christelike godsdienste in die wêreld vorm. In die eindtyd sal die gees van dwaling besonder aktief wees om die mensdom te mislei om die Antichris en sy valse profete te vereer en te aanbid: "Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei" (Matt. 24:4-5). "Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word" (2 Pet. 2:1-2). Verderflike ketterye word in baie van die vooraanstaande universiteite se teologiese fakulteite ingevoer, en sodoende word predikante in hulle studiejare al bedrieg en mislei. Dit is vandag algemeen dat Jesus se maagedelike geboorte en Godheid, sy opstanding uit die dode en die belofte van sy persoonlike wederkoms, asook die goddelike inspirasie van die Bybel, openlik en blatant deur 'n groot aantal teoloë ontken word. 'n Ander leuen wat toenemend gehoor word, is dat alle godsdienste dieselfde god aanbid en dus vir dieselfde wêreldmessias wag. Hierdie storie kom ook van die vader van die leuens en is daarop gemik om die weg vir die koms van die Antichris as die universele messias vir alle gelowe voor te berei. 'n Gebrek aan kennis oor wat in die Skrifte staan, is die teelaarde vir godsdienstige misleiding. Dit is egter nie nodig om in onkunde voort te leef nie, omdat die volle waarheid oor geestelike sake in die Bybel opgeteken is: "Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak" (Joh. 8: 32). As ons Hom maar net wil toelaat, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13). Die eindtydse vormgodsdienstiges is deur Satan verblind en het deur hulle eie toedoen en onkunde die stryd teen godsdienstige bedrog en leuens verloor. Hulle het vir hulleself leuenpredikers versamel, die oor afgekeer van die waarheid en hulle gewend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Hulle voer dus nie 'n geestelike oorlog teen die leuengees van dwaling nie, maar is reeds as buit weggevoer deur die vyand (1 Joh. 4:1-6). 4. Berower Een van die belangrike strategieë van Satan is om Christene te beroof. Hy wil hulle geestelik én materieel verarm. In plaas daarvan dat mense geestelik groei en aangaan met die Here, wil hy hulle verbitterd en moedeloos maak en laat terugval: "Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie" (Heb. 12:15). As die duiwel 'n mens van jou sielerus beroof en jou geloof verswak, raak jy verbitterd teen jou omstandighede, teen ander mense en selfs teen God. Dit kan daartoe lei dat jy terugval, jou geestelike bediening staak, en ook die genadeloon wat jy volgens die beloftes in 2 Korinthiërs 5: 10 en Openbaring 22: 12 vir 'n toegewyde lewe van diensbaarheid by die Here kon gekry het, verloor: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie" (Op. 3:11; vgl. Op. 2:25). Johannes waarsku ook dat ons op ons hoede teen die berower moet wees wat ons van ons genadeloon wil beroof: "Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar 'n volle loon ontvang" (2 Joh. v. 8). Behalwe die geestelike skade wat die berower mens kan aandoen, is hy ook daarop uit om jou van jou geld, besittings, gesondheid en baie ander dinge te beroof. Hy weet dat wanneer hy dit doen, jy beperk sal word in die mate waartoe jy die Here kan dien en sy werk op aarde finansieel en andersins sal kan ondersteun. Die duiwel is inderdaad 'n dief wat kom om in te breek en te steel, en mense op allerlei wyses van hulle erfenis te beroof. Jesus het gesê: "Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê" (Joh. 10:10). Is u waaksaam genoeg teen die listige strategieë en verborge planne van die Berower? Besef u watter groot skade u uself én andere kan aandoen deur nie 'n lewe van waaksaamheid en nougesetheid te leef nie? As u permissief begin leef en 'n agterdeur of venster vir die berower ooplaat, sal hy inkom en verwoesting in u persoonlike lewe, huishouding, huwelik én werk saai. Dit kan u duur te staan kom en in 'n woestyn van moedeloosheid laat beland. 5. Aanklaer In 'n belangrike opsig tree Satan ook as aanklaer op in die geestelike oorlog wat hy teen Christene voer. In die eerste plek kla hy hulle by die troon van God aan nadat hy hulle suksesvol verlei of mislei het. Satan het dus toegang tot die troon van God, en sal dit hê tot in die middel van die verdrukking wanneer hy finaal neergewerp sal word: "...die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag" (Op. 12:10). Wat hierdie aanklagte betref, gee die Bybel aan ons die volgende versekering: "Ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is 'n versoening vir ons sondes" (1 Joh. 2:1-2). Ons moet natuurlik sorg dra dat ons in die lig wandel en alle sondes wat ons gedoen het, onmiddellik bely (1 Joh. 1:7). Daardeur word Satan weer van enige invloedsfeer ontneem wat hy in jou lewe verkry het. In die tweede plek kla Satan die Christene ook by die ongeredde wêreld aan waarna Paulus as "die teenwoordige bose wêreld" verwys (Gal. 1:4). Hier word ons gehaat en vervolg Jesus het gesê: "In die wêreld sal julle verdrukking hê" (Joh. 16:33). Dit is die gevolg van Satan se aanklagte teen die kinders van God. Die doel hiermee is om die Christene in onguns te bring en Christelike voorregte soos Christelike onderwys en godsdiensvryheid aan hulle te ontneem. Derdens kla Satan die broeders by mekaar aan in 'n poging om broedertwiste aan te blaas en 'n wig tussen die medegelowiges in te dryf. Aan griewe en wraakgedagtes van hierdie aard moet geensins toegegee word nie, want dan kry die sielevyand sy sin en benadeel sodoende die werk van die Here. Weerstaan al die onrusstokery van die vyand en bewaar die vrede tussen die broeders: "Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen" (Kol. 3:13). Jy moet 'n broeder wat in een of ander opsig struikel "reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie" (Gal. 6:1). Ons moet wél weerlê, bestraf en vermaan as dit nodig is, maar dit moet in alle lankmoedigheid en lering geskied (2 Tim. 4:2). Moenie dat die duiwel jou beïnvloed om die broeders te verwerp, te haat en selfs te vervolg nie. Sodoende verswak hy die Christendom en hou hulle met binnegevegte besig. Só sal ons onsself oneindige skade aandoen en nooit die stryd waartoe ons verbind is, kan wen nie. In die vierde plek kla die duiwel Christene ook by hulleself aan. Hierdeur poog hy om hulle aan 'n skuldkompleks te laat ly. Hy kla hulle nie net oor hul onlangse sondes aan nie, maar ook oor dit wat lank gelede gedoen is en reeds volkome vergewe is. Deur hierdie ou koeie uit die sloot te grawe probeer hy om ou probleme, griewe en sondes weer te laat herleef en jou op grond daarvan te verdoem en verwerplik te laat voel. Op hierdie manier takel Satan die vertroue en geloof van 'n persoon af en vestig 'n minderwaardigheidskompleks by hom. Die persoon moet dink dat hy só baie sondes gedoen het dat die Here hom nie meer sal vergewe nie. Ook moet hy dink dat hy só 'n mislukking is dat hy niks vir God kan doen nie. Die suggestie word dan by hom geplant dat hy hom van alle aktiwiteite moet onttrek en 'n lae profiel moet hou sodat meer bekwame mense die werk kan doen. Wanneer die ongelukkige slagoffer dít doen, het die aanklaer van die broeders in sy doel geslaag. Dan is daar nóg 'n soldaat wat uit die linies van die Christendom onttrek het om homself iewers af te sonder en op sy mislukkings, swakhede en verontregting in die lewe te teer. In sy hart is daar 'n wortel van bitterheid wat deur hernude vleeslikheid en negatiewe herinneringe gevoed word. Ons moet die dinge wat agter is, vergeet, die geloofsoog op die Oorwinnaar, Jesus Christus, gevestig hou en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, terwyl ons alle laste aflê én die sonde wat ons so maklik omring. Dit is die pad van oorwinning! 2. Oorwinning oor bose gedagtes Verkeerde gedagtes is dikwels die oorsprong van sonde in 'n mens se lewe, en dit verleen aan Satan 'n vastrapplek: "Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus" (2 Kor. 10:3-5). Elke weergebore Christen is by 'n geestelike oorlog teen sonde, vleeslikheid, wêreldsgesindheid en 'n dooie vormgodsdiens betrokke. Al hierdie dinge is vestings van Satan waardeur hy werk om sy koninkryk te bevorder. Die vier teikens wat in 2 Korinthiërs 10:4-5 genoem word, is ten nouste aan mekaar verbonde. Wanneer 'n vesting val, dan val saam met dit die planne [strategie], skanse teen die waarheid [morele regverdiging] én die rebelse gedagtes [verkeerde idees] waaruit dit ontstaan het. Christene wat die oprigting van sondige vestings in hulle lewens wil voorkom, moet dus by die vertrekpunt van sonde weerstand bied, naamlik op die gedagtevlak. Hierdie vier vlakke is só met mekaar geskakel: 1. Dwalende en onchristelike gedagtes Verkeerde idees en voornemens is die vertrekpunt vir sondige dade. Hierdie gedagtes en slegte begeertes kan uit die mens se eie onderbewussyn en vleeslike natuur na vore kom, want: "...elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde" (Jak. 1: 14-15). Dit wat ek met my oë sien, is dikwels die oorsaak van sonde (Matt. 5:28; 1 Joh. 1:15-16). Verleidende gedagtes kan ook uit verkeerde leesstof en opruiende of moreel afbrekende gesprekke voortspruit: "Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes" (1 Kor. 15:33). 'n Ander bron van sondige gedagtes is regstreekse beïnvloeding deur die duiwel. Hy kan vurige pyle op jou afvuur (Ef. 6:16) waardeur hy jou gedagtes verwar en onchristelike suggesties by jou plant. Soms kan hierdie gedagtes goed voorkom, maar dan is dit nogtans 'n bedekte aanval op jou Christelike waardes. Om hierdie rede moet alle gedagtes ondersoek en tot gehoorsaamheid aan Christus onderwerp word. Die duiwel slaag dikwels daarin om Christene se gedagtes geweldig te laat dwaal wanneer hulle bid of na 'n goeie boodskap luister. Omdat sonde by gedagtes begin, moet elke gedagte gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Indien dit nie gedoen word nie, raak hierdie verkeerde gedagtes gevestig en word 'n oorsaak tot sonde. 2. 'n Skans teen die kennis van God Indien daar nie teen sondige gedagtes weerstand gebied word nie, dan beteken dit dat hulle stilswyend aanvaar en mettertyd in jou hart en verstand gevestig raak. Hierna soek jy morele regverdiging om uitvoering daaraan te gee. Jy beredeneer die saak dan na alle kante toe en begin om jou sondige voorneme goed te praat. In die proses bou jy 'n skans vir die leuen in jou lewe. Jy gebruik en verdraai selfs die Bybel om morele en godsdienstige regverdiging vir jou beplande dade te kry. Die duiwel het 'n Bybelteks aangehaal toe hy die Here Jesus versoek het (Luk. 4:9-11), en hy gebruik nog steeds hierdie metode om die Bybel te verdraai om 'n skans teen die ware kennis van God op te bou. Só 'help' hy jou om in 'n leuen te lewe en jou deur misleiding teen die grondwaarhede in God se Woord te verset. 3. 'n Plan van aksie Noudat die sondige gedagte gevestig én 'geregverdig' is moet 'n strategie, of plan van aksie, vir die implementering daarvan uitgewerk word. Daar is geen einde aan die vindingrykheid, bose planne, skelmstreke, geheime ontmoetings en knoeiery waarmee mense vorendag kom om uitvoering aan sondige idees te gee nie. As hierdie planne nie verbreek word nie, word hulle uitgevoer en kom die sonde tot volle verwerkliking. 4. 'n Sondige vesting Wanneer die sondige daad gepleeg word, word 'n oorwinning vir die magte van die duisternis in die persoon se lewe behaal. 'n Vesting word dan vir die betrokke sonde opgerig waarin dit homself ingrawe en verskans. Die persoon word dan 'n slaaf van daardie sonde en doen dit oor en oor. Dit maak nie saak of dit tabak- of drankverslawing, gewelddadigheid, owerspel, materialisme, leuens, diefstal of wat ook al is nie, maar hierdie sonde kry beheer oor sy slagoffer en regeer hom as't ware uit die vesting wat in sy lewe opgerig is: "...want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword" (2 Pet. 2:19; kyk ook Joh. 8: 34). Met verloop van tyd word die verslawing erger, die vesting van Satan word versterk en nuwe vestings kom by. Die pad van sonde Die ontwikkelingspad van sonde wat hierbo bespreek is, is duidelik. Dit begin by die gedagtes wat ongehoorsaam aan Christus is, dan word dit geregverdig, daarna word planne beraam om dit uit te voer, en uiteindelik word die sondige dade gedoen en raak in jou lewe gevestig. 'n Klassieke voorbeeld van hierdie pad van verleiding is die geval van koning Dawid. Hy het 'n mooi vrou gesien bad en haar begeer. Hy het nie hierdie gedagte in die lig van God se Woord geëvalueer nie, anders sou hy dit dadelik verwerp het omdat dit strydig met die wet van die Here is: "Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie" (Ex. 20:17). Hy was oop vir die 'voorstel' wat aan hom gemaak is, en het dadelik na fase 2 oorgegaan. Hierin het hy regverdiging vir die gedagte gevind deur 'n leuenagtige skans teen die kennis van God op te rig en te redeneer dat hy as die koning van Israel enige vrou kon neem wat sy hart begeer. In fase 3 het hy 'n bose plan beraam om van die vrou se man ontslae te raak en haar dan vir hom te vat. In fase 4 het hy die plan laat uitvoer, die man se dood op die slagveld bewerkstellig en sy vrou gevat. Hierdie vesting van sonde het egter nie lank in Dawid se lewe gebly nie, want hy het hom grondig daarvan bekeer: "Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur 'n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil!" (Ps. 51:11-16). Dawid kon homself baie verdriet en ellende gespaar het as hy in 'n vroeë stadium teen sondige gedagtes en begeerlikhede weerstand gebied het. Baie mense het in ons tyd vestings van sonde in hulle lewens. Vestings van valse godsdienste word op allerlei bedenklike maniere geregverdig, selfs uit die Bybel. Die sonde van materialisme word geregverdig op grond van die stelling dat ons koningskinders is en alles behoort te hê wat ons oë sien. Sodoende word daar vir die geldgod, Mammon, plek in ons lewe gegee. Een bose vesting berei die weg vir 'n ander, en almal word deur sondige gedagtes geregverdig. 3. Die wapens van die lig Die stryd waarin ons teen die sonde, die vlees en die wêreld gewikkel is (almal kanale wat deur Satan gebruik word), word primêr op die geestelike vlak gevoer: "Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp..." (2 Kor. 10:3-4). Daar is 'n kragtige arsenaal van ten minste vyf van hierdie wapens van die lig wat vir geestelike oorlogvoering tot ons beskikking is. Ons moet nie net daarvan kennis neem nie, maar ook vaardig in die gebruik daarvan word: Geloof My geloofsverhouding met die Here moet baie sterk en onwankelbaar wees, sodat ek my vertroue onder alle omstandighede volkome in Hom sal stel om van my meer as 'n oorwinnaar in die Here Jesus te maak. Ek moet weet en glo dat Hy wat in my is, groter en sterker is as hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4). Sonder geloof in die Oorwinnaar is ek weerloos in die stryd teen sonde en ongeregtigheid. Die volgende tekste onderstreep die feit dat ons in 'n geestelike stryd is waarin ons geloof in die Here 'n kragtige oorwinningswapen teen die Bose en al sy planne is: * "Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?" (1 Joh. 5:4-5). * "...neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus" (Ef. 6:16). * "Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het" (1 Tim. 6:12). * "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof" (1 Pet. 5:8-9). Blus jy die vurige pyle van die Bose met die skild van jou geloof in die Here Jesus uit, of is jy oop en bloot vir al die verwarrende, verleidende en onrein gedagtes wat die Bose op jou afvuur? Verskans jou in Christus teen die aanvalle van die sielevyand: "Die Naam van die Here is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut" (Spr. 18:10). Onthou dat jy net in die Here meer as 'n oorwinnaar kan wees - nooit in jou eie krag nie. Die bloed van die Lam Dit is belangrik om te begryp dat ons oorwinning op die kruisdood van die Here Jesus gebaseer is. Hy het 'n menslike liggaam aangeneem "sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het - dit is die duiwel" (Heb. 2:14). Die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het toe Hy sy lewe afgelê het, het krag oor al die versoekings en planne van Satan. Op grond hiervan kan alle sondes vergewe en die bande daarvan verbreek word: "In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade" (Ef. 1:7). Gedurende die groot verdrukking, wanneer die duiwel met dubbele woede onder mense op aarde werksaam sal wees (Op. 12:12), sal die Christene van daardie tyd wél almal fisies as martelare sterf, maar geestelik sal hulle die Antichris "oorwin deur die bloed van die Lam" (Op. 12:11). Pleit jy die bloed van Christus oor jouself wanneer die duiwel jou aanval, en ook oor jou geliefdes en andere vir wie jy intree, wat beskerming dringend nodig het? Die bloed van Christus is geestelik lewegewend (Joh. 6:53-56), dit reinig ons voortdurend van sonde (1 Joh. 1:7), en verleen ook krag in die stryd teen die Bose (Op. 12:11). Christelike getuienis Om jou op die Here Jesus en sy oorwinningswerk aan die kruis te beroep, gaan hand-aan-hand met die vrymoedigheid om in die openbaar daarvan te getuig, asook die bereidwilligheid om vir sy Naam te ly: "En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie" (Op. 12:11; kyk ook Heb. 10:35 en 13:13; Matt. 5:14-16). Getuienis speel 'n uiters belangrike rol in die lewe van die Christen. Daardeur bevestig hy sy geloof en doen 'n basiese geestelike werk waarsonder sy geloof as dood beskou sou kon word (Jak. 2:14-26). Paulus verduidelik die noue verband tussen geloof en getuienis só: "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding" (Rom. 10:9-10). Ons het 'n staande opdrag om die Here Jesus se getuies in 'n donker en goddelose wêreld te wees (Joh. 20:21; Hand. 1: 8). Hierdeur is al baie oorwinnings vir die kruis behaal en is die koninkryk van die hemele op 'n kragtige wyse in baie wêrelddele uitgebrei. Sonder Christelike getuienis en prediking sou miljoene mense in geestelike duisternis voortgeleef het, met hulle sinne wat deur die die god van hierdie wêreld [die duiwel] verblind word. Gebed Nog 'n magtige geestelike wapen wat die Here aan ons gegee het, is gebed: "Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag" (Jak. 5:16). Gebed werk saam met geloof: "...hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie" (Jak. 1:6-7). Om oorwinnende gebede te kan bid, moet ons "toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete" (Heb. 10:22). Ons moet dus rein en heilig leef. Ons moet ook in die Bybel vasstel wat die wil van die Here is, en in ooreenstemming daarmee bid: "En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil" (1 Joh. 5:14). Wanneer ek tot die genadetroon nader en myself in gebed aan die genade en almag van God onderwerp, dan vlug die duiwel van my af weg: "Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug" (Jak. 4:7). Wanneer ek sy aanslae ignoreer, as 'n illusie wegredeneer, deur eie krag, of slegs met mediese en sielkundige hulp probeer neutraliseer of afslaan, verdiep die probleem en word later monsteragtig groot. As ek egter 'n gebedsaak daarvan maak, en ook andere se voorbidding verkry, neem ek my toevlug tot die Here en dan verswak die vyand se greep op my dadelik. Deur volhardende gebed sal ek volkome bevryding verkry, en die sielevyand sal op die vlug slaan. Hy sal later weer terugkom, maar dan behoort ek te weet waar my krag en my sterkte is: in gebed neem ek my toevlug na die Here wat my sal uitred. Die Woord Die Bybel is 'n belangrike deel van die Christen se geestelike wapenrusting, daarom sê Paulus: "Neem die swaard van die Gees op - dit is die woord van God" (Ef. 6: 17). Dit is 'n lewende en kragtige woord wat tot diep in my lewe indring en sy oortuigingswerk daar doen: "Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart" (Heb. 4: 12; kyk ook Joh. 6:63 en Jer. 23:29). Die Bybel is die finale maatstaf vir die waarheid, en in die lig daarvan beoordeel ek gedagtes as goed of kwaad. Omdat die Woord soos 'n skerp swaard is wat tot in die dieptes van my siel indring, kan dit die aard van my gedagtes en motiewe ten volle openbaar. Dit werk saam met my gewete om aan my te toon wat reg en verkeerd is. Die evangelie van Jesus Christus is 'n dinamiese krag tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Dit het die vermoë om elke ongeredde persoon uit satansmag te verlos as hy daaraan glo. Die Woord het 'n outoriteit en krag wat deur die Here self onderskryf en gewaarborg word: "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen" (2 Kor. 1: 20). Maak seker dat jy elke dag die vrymakende krag van die Woord in jou lewe ervaar en in die lig daarvan wandel: "En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak" (Joh. 8:32). Is jou voetstappe in die Woord van God geanker? "Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie" (Ps. 119:133) Ons kán meer as oorwinnaars in die stryd teen die magte van die duisternis wees as ons nie links of regs van die pad van die Here afwyk nie. Verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Onthou altyd dat van die veelvuldige bedieninge van die Heilige Gees, daar twee grondliggende redes is waarom Hy jou met krag uit die hoogte wil beklee. Die eerste rede is om jou te bekragtig om 'n getuie vir Christus te kan wees (Hand. 1:8). Die tweede rede is om jou vir geestelike oorlogvoering toe te rus en bekwaam te maak, daarom sê Paulus: "...word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel" (Ef. 6:10-11). Dit is net vanuit die posisie van 'n Geesvervulde lewe dat ons kragtige getuies kan wees en die Bose kan oorwin. Doen Jy die Wil van God in Jou Lewe? Deur Prof JS Malan Opsomming: Dit is belangrik om te besef dat die mens 'n vrye wil het en dus aanspreeklikheid vir sy eie keuses en besluite sal moet aanvaar - ook teenoor die Here. As ons wil op verkeerde dinge ingestel is ooreenkomstig die aard van ons gevalle natuur, en ons van 'n nuwe lewe in Christus kennis neem, is dit ons keuse of ons deur die Here nuutgemaak wil word of nie. Indien ons positief hierop reageer, is dit die eerste stap om die wil van God te doen. Hierna volg verdere uitdagings om ook die volmaakte wil van God te doen. Dit is nodig om te weet of ons lewens in ooreenstemming met die wil van God is. Dit is per slot van sake net diegene wat die wil van die Here doen, wat eendag hemel toe sal gaan: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is" (Matt. 7:21). Dit is vir elke mens op aarde van die grootste belang om God se wil te ken en ooreenkomstig dit te handel. Die eerste tree op hierdie pad is om alle vorms van sonde en rebellie teen God te staak en tot bekering te kom. Daarna moet die geredde persoon sy hele lewenswandel volgens die wil van God inrig. Daar is dus 'n toetreepunt m.b.t. God se wil, maar ook voortgaande vordering tot die volheid daarvan: "Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is" (Rom. 12:2). In hierdie teks is daar duidelik van drie vlakke van die wil van God sprake, nl. sy goeie, sy welgevallige en sy volmaakte wil. Dié onderskeid word breedvoerig in Tim LaHaye se boek, Ontdek God se wil in 'n verwarde wêreld, verklaar. Sy goeie wil Om God se goeie wil te doen, vereis dat ek deur bekering in sy wil sal inkom vanuit 'n ongeredde lewe wat buite sy wil gelei is: "Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom" (1 Tim. 2:3-4). Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering sal kom (2 Pet. 3:9). Dit is dus God se uitdruklike wil dat jy gered moet word. In Handelinge 17:30 staan daar: "God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer." Die woord verkondig (paranggello in Grieks) beteken verklaar of opdrag gee. In die King James Version is dit meer korrek as commandeth vertaal. Mens kan die opdrag om tot bekering te kom, in 'n sekere sin met 'n regering se oproepinstruksies vir militêre diensplig vergelyk. Wanneer jy 'n opdrag van hierdie aard ontvang, het jy net twee opsies - jy kan dit óf gehoorsaam óf jy kan besluit om dit te ignoreer en buite die kamp te bly. Lg. maak van jou 'n rebel wat jouself doelbewustelik aan strafbare ongehoorsaamheid skuldig maak. Omdat jy 'n vrye wilsbesluit het om ooreenkomstig God se opdrag tot bekering te kom, kan jy dit weerstaan en verwerp. Dan sal jy maar die gevolge daarvan moet dra. Vir die inwoners van Jerusalem het Jesus gesê: "Hoe dikwels wou Ek (julle) bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!" (Matt. 23:37-38). Stéfanus het die ongeredde vormgodsdienstiges in Israel van dieselfde onbekeerlike gesindheid beskuldig: "Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees" (Hand. 7:51). Moenie die Heilige Gees weerstaan wat met 'n vriendelike uitnodiging na jou toe kom om jou sondes te bely en te laat staan, jou saak met die Here reg te maak en Hom te dien nie (Joh. 16:8; Matt. 21:28-32). Sal jy die wil van die Here begin doen? Die "Here Jesus Christus (het) Homself gegee vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader" (Gal. 1:3-4). "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het... in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander" (Ef. 2:1-3; vgl. 1 Pet. 4:2-3). Die mensdom is in net twee families verdeel - die kinders van God en die kinders van die duiwel. As ons die goeie wil van God doen, noem die Here Jesus ons sy familie (Mark. 3:31-35) en ook seuns en dogters van ons hemelse Vader (2 Kor. 6:17-18). Die wêreldlinge en ongeredde vormgodsdienstiges word kinders van die duiwel genoem (Joh. 8:44; Hand. 13:10). Doen God se wil en word 'n lid van sy familie! Dit is sy versoek, begeerte én opdrag aan almal van ons. Sy welgevallige wil 'n Persoon wat gered is, het die opdrag om 'n heilige, diensbare en God welgevallige lewe te lei. Dit is sy redelike godsdiens, en die Here is met niks minder as dit tevrede nie. 'n Marginale Christelike lewe van vleeslikheid en onvrugbaarheid word as onredelik beskou en is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Sulke mense sal eendag met leë hande voor Hom staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:1-3, 9-17). Doen jy die Here se wil m.b.t. heiligmaking en diensbaarheid? "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is" (Rom. 12:1-2). 'n Geheiligde lewe, gees siel én liggaam, is nodig ten einde insig in God se wil te hê en 'n lewe te kan lei wat vir Hom welgevallig is. Is jou hart gereinig en dra jy vrug wat by die bekering pas, of bedroef jy die Heilige Gees in hierdie opsig? Onderwerp jou dan aan God se wil wat dié saak betref: "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het" (1 Thess. 4:3, 7-8). Ek moet van alle onreinheid gereinig word en in my hele lewenswandel heilig word (1 Pet. 1:15). Die beklemtoning van hoerery hierbo bevestig maar net die feit van die algemene voorkoms daarvan. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die mens word deur die Satan uitgebuit, en seksuele versoekings kom oor feitlik alle mense se pad. Die hele wêreld is in die greep van wellus vasgevang, en die vervaardigers en uitgewers van pornografiese films en tydskrifte word skatryk. Nog 'n algemene struikelblok in die weg van 'n heilige, Geesvervulde lewe, is drankgebruik: "Julle (moet) nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul" (Ef. 5:17-18). Tabak, dwelms en baie ander dinge besoedel jou ook, "want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword" (2 Pet. 2:19). Die oplossing is duidelik: As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Joh. 8:36). Moenie met hierdie besoedelinge saamleef nie, maar doen daarvan afstand en stel jou liggaam as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer in sy diens: "Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring" (2 Kor. 7:1). Sy volmaakte wil 'n Persoon wat in 'n volle oorgawe die stap van heiligmaking geneem en in die kennis en genade van Christus begin groei het, sal noodwendig na die volmaakte wil van die Here vir sy of haar lewe begin soek. Dit behels onder meer duidelikheid oor jou roeping, asook die beste wyse waarop dit uitgeleef kan word. Paulus sê: "Ek vermaan julle dan... om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is" (Ef. 4:1). Ons moenie die Here net nou en dan behaag en slegs met tussenposes onsself aan Hom wy nie. Ons moet ook nie met min vrug tevrede wees as ons veel meer vir die Here kan bereik nie. Daar moet na die volmaakte wil van die Here vir ons lewe gesoek word. Paulus se gebed vir die Kolossense is: "dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei" (Kol. 1:9-10). Die doel van hierdie gebed vir die Kolossense is: "dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God" (Kol. 4:12). Hulle moet dus daarna streef om ook God se volmaakte wil te ken en te doen - nie net sy goeie en welgevallige wil nie. Baie Christene vorder nie in hulle geestelike lewe nie, en word dus nooit regtig diensbaar in die koninkryk van God nie. Die volgende aanklag van geestelike stagnasie kan aan hulle gerig word: "Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie... Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan: (Heb. 5:12, 6:1). Het jy al die Here se volmaakte plan vir jou lewe ontdek? Die Bybel sê dat jy onder die leiding van God se Gees verligte oë van die verstand moet hê sodat jy jou geestelike roeping en erfdeel onder die heiliges kan verstaan (Ef. 1:18). Jy moet ook bid dat die Heilige Gees jou met krag versterk in die innerlike mens, sodat jy in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat jy daarin gewortel en gegrond kan word en vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19). Verval uit God se wil Dit is nie vanselfsprekend dat as jy die welgevallige en volmaakte wil van God doen, jy dit altyd sal aanhou doen nie. Soos nooit tevore nie sal jy in jou bediening teëstand en stryd ervaar. Die duiwel sal jou op allerlei wyses aanval en probeer ontmoedig om met die Here se werk voort te gaan. Hy sal jou versoek om sonde te doen, en jou ook aktief deur middel van leerstellige dwalings probeer mislei. Dit sal van jou standvastigheid, eerlikheid, gehoorsaamheid en toewyding aan die Here afhang of jy in sy volmaakte wil sal bly. Volgens Finney het predikers in die herlewingstyd dit nodig gevind om gemiddeld elke drie weke hulleself deeglik te ondersoek en opnuut aan die Here toe te wy. Hoeveel te meer het ek en jy dit nie nodig om gereeld die suurdeeg van sonde uit ons lewens te suiwer, met vars olie gesalf te word en 'n hertoewyding aan die Here te doen nie? Hoe sal ons die regte besluite kan neem as ons nie meer duidelik die stem en leiding van die Here kan onderskei nie? Net soos wat ons geestelik vooruit kan gaan en volmaak en volkome in die ganse wil van God kan staan, kan ons ook agteruitgaan en in ons geestelike lewe veld verloor. Ons kan uit God se volmaakte wil uitbeweeg sonder om radikaal van ons roeping weg te breek. Ons sal dan minder vrug dra, nie meer honderd- en sestigvoudig nie, maar nog steeds die Here dien en dinge doen wat vir Hom welgevallig is. Deur selfondersoek en hertoewyding kan ons weer volkome herstel word. Ons kan egter ook totaal ontbetrokke in die werk van die Here raak, maar nog steeds aan ons getuienis as Christene vashou (God se goeie wil). Petrus en die dissipels het in 'n stadium besluit om hulle roeping te laat vaar en weer te gaan visvang. Hulle het egter geen sukses hiermee gehad nie, en die Here het hulle geestelike roeping weer herbevestig (Joh. 21:3-17). Volgens Tim LaHaye (en dit word ook in die Bybel bevestig) kan mens heeltemal uit die wil van God verval, maar dan weer uit daardie toestand herstel word. Sommiges word net tot in die Here se goeie wil herstel, maar andere tot in sy welgevalle of volmaakte wil. Daar ís wel mense, soos bv. predikante wat in skandalige situasies betrokke was, wat nie weer in hulle vorige roeping en bediening kan (of behoort) herstel te word nie. Dit beteken egter nie dat hulle nie geestelik herstel kan word en die Here in ander hoedanighede kan dien nie. Dit hang af of hulle regtig wíl. Die pad terug is oop. Die verlore seun in die gelykenis in Lukas 15 is 'n voorbeeld van iemand wat sy vaderhuis vaarwel toegeroep het toe die roepstem van die wêreld vir hom té groot geword het. Gedurende die tyd van sy afdwalinge het hy die wêreld voluit gedien en vrye teuels aan sy sondige hartstogte gegee. Ten spyte van die dieptes van sy verval het hy weer tot besinning gekom en gesê: "Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge" (Luk. 15:18-19). 'n Persoon wat só terugkeer en nie net sy sondes bely nie maar homself bereid verklaar om weer van harte in sy Vader se diens te staan, keer na die goeie én welgevallige wil van God terug, en verklaar homself ook tot volkome gehoorsaamheid bereid. Neem in ag dat hy vir 'n tyd lank totaal buite die wil van sy vader was. Die vader bevestig dit self wanneer hy aan die ouer broer sê: "...hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind" (Luk. 15: 32). Hy was dus in dié tyd 'n verlore sondaar wat geestelik dood was, maar het weer teruggekom huis toe! Daar is ander diensknegte van die Here wat nie net ontrou raak en uit sy wil verval nie, maar met hulle afvalligheid en sondes volhard tot die einde toe: "Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word" (Luk. 12:45-47). Kyk na Jesus In verband met die wil van God, en die absolute bereidwilligheid om net dit te doen, moet ons na die volmaakte voorbeeld die Here Jesus kyk. Hy het gesê dat Hy nie sý wil soek nie, maar die wil van die Vader wat Hom gestuur het (Joh. 5:30). In die krisisuur in Getsémané het Hy sy wil uitdruklik ondergeskik aan die wil van sy Vader gestel (Matt. 26:39). Dit het behels dat Hy Homself moes oorlewer om gekruisig te word: "Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei... Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom... om u wil te doen, O God... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal" (Heb. 10:5, 7, 10). Ons moet die wil van God doen deur hierdie offer te aanvaar, en ook ons wil in alle opsigte volkome aan sy wil te onderwerp. Dan sal ons die verdorwenheid van hierdie verganklike wêreld ontvlug en deelgenote van die ewige hemelse koninkryk van die Vader wees: "Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie... Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig" (1 Joh. 2:15, 17). As ons deur die vervulling met die Heilige Gees verander en vernuwe word in ons gemoed, sal ons weet wat die goeie, die welgevallige en die volmaakte wil van God is omdat Hy die verborgenheid van sy wil aan ons bekend sal maak (Rom. 12:2; Ef. 1:9). In die lig van die kennis van sy wil sal ons ons lewens heilig en toewy, en ook ooreenkomstig die Here se wil gebede bid wat verhoor sal word: "En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil" (1 Joh. 5:14). Doen jy sy wil van harte? (Ef. 6:6). Die besonderhede van sy wil Binne die breë raamwerk van God se wil moet die fyner besonderhede daarvan steeds op 'n gereelde basis bepaal en nagevolg word. Hoe moet ek die besluite neem waardeur ek uitvoering aan my roeping gee, en wat moet ek doen as ek voor 'n kruispad of 'n toe deur te staan kom? Vir hierdie en vele ander sake moet ook ooreenkomstig God se wil uitsluitsel verkry word. Soms is die antwoord duidelik en voor die hand liggend, maar dikwels twyfel mens of jy die regte besluit geneem het. Die volgende riglyne word aan die hand gedoen om God se wil in spesifieke situasies te bepaal: Die Bybel Die Here praat met ons deur sy Woord en gee dikwels uitdruklike opdragte wat ons kan navolg. Soms kry ons net breë beginsels en riglyne waaraan ons op die beste moontlike manier uitvoering moet gee. Ons moet egter ook bereid wees om nee vir 'n antwoord te vat en nie aanhou om Bybel te lees totdat ons ons eie vooropgestelde antwoorde gekry het nie. Gebed Die Here sê dat ons Hom moet raadpleeg en ken in al ons weë. Moet dus nie eensydige besluite neem voordat jy gebid en die Here in 'n saak geken het nie. Hy belowe dat as jy soek, sal jy vind (Matt. 7:7). Dit geld ook die nodige wysheid om besluite ooreenkomstig sy wil te kan neem: "As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid... en dit sal aan hom gegee word" (Jak. 1:5). Die Heilige Gees Die Heilige Gees is "die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here" (Jes. 11:2). Hy sal jou in die hele waarheid lei (Joh. 16:13) sodat jy telkens die waarheid van God se wil van alle gevaarlike vorms van misleiding sal kan onderskei. Ook in hierdie opsig is veel gebed en verootmoediging nodig om by die regte besluit of standpunt te kan uitkom. Omstandighede Die Here lei jou ook deur omstandighede. Hy sê: "Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie" (Op. 3:8). Hou jou oë op geleenthede wat oop deure is. Let egter ook op omstandighede en geleenthede wat strydig met die wil van die Here is, en vermy dit. Moenie teen 'n toe deur skop en jou eie wil op 'n situasie afdwing nie. Vrede in jou hart "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus" (Fil. 4:7). Mens kry vrede in jou gemoed as jy God se wil doen. Die mens wat nie hierdie vrede in sy hart het nie, sal 'n onrustigheid en selfs 'n innerlike stryd ervaar. Hy sal dan weet dat wat hy beplan of doen, nie in die wil van God is nie. Laat vrede jou skeidsregter wees (Kol. 3:15). Gesonde verstand Jou verstand word geheilig en op die Woord van God ingestel as jy die Here met jou hele hart, jou hele verstand en al jou krag liefhet. Deur die Heilige Gees gee die Here aan ons verligte oë van die verstand sodat ons sy wil kan verstaan en na die beste van ons oordeel uitvoering daaraan kan gee. Hy leer ons dus om ons gesonde verstand in sy diens te gebruik (Titus 2:11-12; 1 Pet. 1:13). Die begeertes van jou hart Die Heilige Gees wek goeie begeertes in jou hart op wat tot eer van die Here is, "want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (Fil. 2:13). "Verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart" (Ps. 37:4). Jou eerste aanduiding van God se wil kan begeertes wees wat Hy self in jou hart gewerk het (Kol. 3:1). Jy móét die dinge van die Here begeer en bedink. As dit sy wil is, sal Hy jou 'n oop deur gee om dit te doen. Raad van Christenvriende Bespreek jou situasie met 'n Christenvriend of -berader wat goeie raad uit die Bybel aan jou kan gee. Pas egter op vir selfaangestelde profete wat sommer maklik vir jou sal sê dat die Here aan hulle 'n duidelike opdrag gegee het oor wat jy moet doen. Dit kan die begin van ernstige misleiding en teleurstelling wees. Indien ander Christene jou dus nader om raad, moenie sommer ligtelik aan hulle enigiets sê wat in jou gedagtes opkom nie. Identifiseer breë riglyne en beginsels in die Bybel en bid saam met hulle. Kyk na al die padtekens as jy God se wil soek, nie net na een of twee nie. Moet in elk geval nie handel voordat jy ten minste drie aanduidinge van God se wil het nie. Mense wat volgens God se roeping in die geloof leef en die Here vir al hulle behoeftes vertrou, sê dat ten minste drie aanduidings nodig is voordat jy met sekerheid kan weet dat jy op die regte koers is: Die eerste kan die oortuiging of begeerte in jou hart wees om 'n bepaalde saak aan te pak. Hierna moet jy dan bevestiging in die Bybel kry, en daarna moet jy wag totdat die Here vir jou 'n deur oopmaak deur bv. die geld te voorsien of omstandighede te skep wat vir jou nodig is. Moenie impulsiewe, oorhaastige besluite neem nie. Die Here antwoord nie altyd dadelik nie. Wag die tyd af: "Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word" (Heb. 4:16). Geloofstoetse Wanneer mens 'n bepaalde roeping het en jouself voorgeneem het om onvoorwaardelik die wil van die Here te doen, moet jy beslis geloofstoetse verwag. Benewens die aanslae van die Bose wat jou van jou roeping wil laat afsien, gaan die Here jou aan een of meer toetse onderwerp voordat Hy jou beproef sal verklaar. Jou vasberadenheid gaan te midde van teëstand en verdrukking getoets word, die les gaan aan jou geleer word dat jy sonder Hom niks kan doen nie, en die beginsel gaan by jou ingeskerp word dat jy die Here altyd moet raadpleeg en nooit op jou eie insig moet steun nie. Baie mense dop hierdie geloofstoetse, stel die Here baie teleur, dryf hulleself tot moedeloosheid en verloor hulle visie. Die Here gee mens egter die geleentheid om jouself reg te ruk, uit jou foute te leer en die volgende geloofstoets met veel groter krag en vertroue tegemoet te gaan. Abraham het in die land Kanaän 'n geloofstoets gedop toe hy tydens 'n droogte en hongersnood nie die Here se hulp gevra het nie, maar na Egipte afgetrek het om in die 'wêreld' 'n heenkome te soek. Groot benoudheid het daar oor hom gekom, en hy moes maar net terugkom na die plek van waar hy aanvanklik uit die Land van Belofte weggetrek het (Gen. 12:8-13:3). Later, toe Abraham voor 'n veel groter toets te staan gekom het om sy enigste seun aan die Here te offer, het hy onwrikbaar in die geloof voortgegaan en streng volgens die voorskrifte van die Here gehandel (Gen 22). Dit het aan hom 'n beproefde en gelouterde geloof verleen wat nooit weer gewankel het nie. Daar is sekere stappe van herstel wat jy moet neem indien jy aan die wil van die Here ongehoorsaam was: * Beoordeel jou omstandighede in die lig van die aanduidings van God se wil en kyk waar jy verkeerd gegaan het. * Besef dat jou ongehoorsaamheid sonde is (Luk. 15:21). * Toon berou oor jou verkeerde wilsbesluite (Ps. 51:6). * Bely alle bewuste sondes teenoor die Here (1 Joh. 1:9). * Onderwerp jou lewe opnuut aan God se wil en vra Hom om vir jou 'n rein hart te skep (Ps. 51:12). * Herstel jou stiltetyd en persoonlike toewyding aan die Here Jesus. * Vertrou die Here vir 'n nuwe toerusting met krag uit die hoogte, sodat jy met vrymoedigheid sy lof kan verkondig (Luk. 24:49). * Bid die Here om jou roeping te herstel en jou opnuut in sy diens te gebruik (Ps. 51:14-15). Ons is baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk, en meer as ooit tevore word mense mislei om totaal verkeerde sieninge te huldig oor wat die wil van die Here vir hulle lewe is. Leerstellige dwalinge, morele verval en valse tekens en wonders is besig om soos 'n vloedgolf deur kerke te stroom en hulle op die pad van verval mee te sleur. Die vormgodsdienstige verweer van hierdie misleide kerkmense sal geen gewig voor die groot wit troon van God dra nie, en aan hulle die skok van hulle lewe besorg (Matt. 7:21-23). Dan sal dit egter té laat wees om van hulle dwaalweë af om te draai en die wil van God met 'n rein hart te doen.