Valse Voorstellings van Jesus Deur Prof JS Malan Opsomming: Die aanslag op die Bybel as die geïnspireerde Woord van God het nou na 'n openlike aanval op die Persoon, Messiasskap en Godheid van Jesus Christus uitgeskring. 'n Groot aantal teoloë neem aan hierdie debat deel en dit is duidelik dat die agnostici wat nie "die Jesus van die geloof" aanvaar nie, in baie kringe die oorhand begin kry. Fundamentele stellings oor die Godheid van Jesus, asook oor geloof, word in antwoord hierop aangebied. Die Persoon van Jesus Christus - sy identiteit en posisie as 'n historiese figuur, sy Godheid en die wyse waarop Hy deur Christene aanbid word - is vir die soveelste keer in die kerkgeskiedenis 'n erg omstrede saak waaroor daar in baie kringe, ook in teologiese fakulteite en seminariums, hewige debat gevoer word. 'n Sterk beweging is rondom die misleidende idee gebou dat die historiese Jesus (die sg. ware Jesus) duidelik onderskei moet word van die mitiese Jesus of die kultiese Jesus wat in die Christelike kerk vereer en aanbid word. Een van die mees skokkende feite omtrent die huidige veldtog teen die Jesus van die Bybel is dat so baie van die leidende teoloë aan universiteitsfakulteite van teologie dit aktief ondersteun. Hulle bevraagteken openlik die gevestigde dogmatiese beskouinge oor Jesus as Christus (die beloofde Messias) en Seun van God. In die proses van die 'ontdekking' van die historiese Jesus, stroop hulle die verkondigde Jesus van sy Godheid in 'n poging om die twee voorstellings van Hom te versoen. 'n Evangeliese Christen wat 'n sterk standpunt teen hierdie veldtog inneem, is die Dr. Douglas Groothuis van die VSA. In sy boek Searching for the real Jesus (1996) sê hy die volgende in Hoofstuk 2: "Akademici is normaalweg nie bekend vir toneelspel nie, maar vir hulle vakkundigheid. Die ivoortoring sien neer op Hollywood se eindelose manewales van selfverheerliking, vertoon en propaganda. Of so het ons altans gedink. 'n Groep Nuwe Testamentiese geleerdes wat hulleself die Jesus Seminaar noem, het die media onlangs met hulle hoogs omstrede idees oor Jesus oorstroom. Die groep is in 1985 tot stand gebring met die uitdruklike doel om die oningeligte Christene in te lig oor wat die wetenskap ons van die Nuwe Testament en van Jesus kan vertel. Een van die Seminaar se lede, John Dominic Crossan, sê dat 'die soeke na die historiese Jesus reik nou verder as wetenskaplike kringe uit om ook predikante, gewone lidmate, die populêre pers en die televisiebedryf in te sluit.' Hulle verseker ons dat die ware Jesus nie die tradisioneel liefdevolle Jesus is nie, maar 'n radikalis wat die kerk in dié hoedanigheid ernstig moet leer opneem. Die meesterbrein van die Seminaar, Robert Funk, sê: 'Ons wil Jesus bevry. Die enigste Jesus wat mense wil hê, is die mitiese een. Hulle wil nie die ware Jesus hê nie. Hulle wil een hê wat hulle kan aanbid - die kultiese Jesus.' 'n Ander lid van die Seminaar, Roy Hoover, sê dat dit hulle doel is 'om Jesus te red van die [ongeloofwaardige] storievertellers wat die Evangelies opgestel het'." Unisa se bydrae Teoloë van Suid-Afrikaanse universiteite, veral aan die Universiteit van Suid-Afrika, het met mening tot die debat oor Jesus toegetree. Hulle volg hoofsaaklik die benadering van die Jesus Seminaar in die VSA in hulle pogings om 'n beeld van die historiese Jesus te skep. In die proses word die Bybel óf bevraagteken óf verdraai, en sodoende as 'n betroubare bron van inligting verwerp. In die meeste gevalle word ander bronne van inligting oor Jesus geraadpleeg. Navorsing oor hierdie onderwerp deur Unisa se Instituut vir Teologie en Religie het in September 1997 op 'n konferensie oor Jesus uitgeloop. Die referate wat gelewer is, is kort daarna in 'n boek gepubliseer onder die titel Images of Jesus. Die boek het onder redaksie van prof. C.W. du Toit verskyn, wat die direkteur van die Instituut is. Die volgende is 'n kort oorsig oor sommige van die hoofstukke in die boek: * Op soek na die historiese Jesus, deur prof. A.G. van Aarde, NT, Univ. van Pretoria (Hervormde Kerk) Die outeur verwys na die [onwerklike] Jesus tot wie die Christene bid asof hulle tot God bid. Hy sê dat hierdie gebruik deur kerkvaders soos Clement en Ignatius gevestig is, maar dat die Nuwe Testament (NT) meesal reserverings het om Jesus God te noem (bl. 1). Volgens prof. Van Aarde is dit ook problematies om Jesus 'Christus' te noem. In dié verband verwys hy na Den Heyer se boek, Opnieuw: Wie is Jezuz? (1996:78-80), waarin hy Jesus beskryf as "'n Messias wat nie 'n Messias wou wees nie." Die professor beweer dat daar 'n verskil is tussen die historiese Jesus (die sogenaamde 'werklike Jesus') en die Jesus van geloof (die gepredikte Jesus, soos die kerk voorgestel): "Waarom tref navorsers hierdie verskil? Die antwoord is daarin geleë dat Jesus homself nie as die Christus, die Seun van die mens, die Seun van God, of as God beskou het nie. Die mense van sy tyd het hom ook nie as die Seun van God beskou nie. Die Bybel (NT), die latere kerkvaders, en die opstellers van die vierde eeuse belydenisskrifte het hom in hierdie terme beskryf." (bl. 3). * Die fiktiewe transfigurasie van Jesus: Beelde van Jesus in die literatuur, deur prof. C.W. du Toit van Unisa In stryd met tekste soos Filippense 3:10 en 2 Petrus 3:18 verklaar prof. Du Toit soos volg: "Dit is onmoontlik om werklik die historiese Jesus te ken. Die Jesus van die geskiedenis word dikwels met Christus van die geloof verwar. Die Christus van geloof kan nie 'n bevoorregte posisie bó die historiese Jesus beklee nie." (bl. 65). 'n Sterk saak word dan uitgemaak om die ware Jesus beter d.m.v. literêre voorstellings te leer ken: Die teologie en die literatuurwetenskap is nou aan mekaar verwant; hulle beïnvloed mekaar wedersyds en oorvleuel ook. Die tradisionele Christelike teologie word egter tot 'n groot mate deur die Bybel, dogma en belydenisskrifte beperk. Die verhaal is egter vry en kan kritiese en uitdagende vrae stel wat van onskatbare waarde vir die teologie is, maar wat ongemaklik vir die God van dogma en belydenisskrifte is. Die verhaal kan ook die verbeelding kreatief gebruik. Die verbeelding is van groot waarde in 'n eeu waarin die mensdom voel dat hy geen objektiewe basis vir die waarheid het nie, en met 'n god wat homself onttrek het (deus absconditus). (bl. 68). Fiktiewe transfigurasies van Jesus wat in novelles, poësie en drama gevind word, help ons om uit 'n nuwe perspektief na die Evangelies te kyk. Waardevolle vrae word oor die historiese betroubaarheid en genoegsaamheid van teologiese interpretasies van die Evangelies gevra. (bl. 69). Onder 'goeie' voorbeelde van sulke voorstellings van Jesus word Nikos Kazantzakis se novelle The last temptation genoem. (bl. 71). 'n Ander voorbeeld is The brook Kerith deur George Moore. Hierin word Jesus geïnterpreteer soos beskou uit die oogpunt van 'n marginale Bybelse figuur, Josef van Arimathéa. Jesus word aan die einde van sy lewe as 'n bittere apokaliptikus uitgebeeld wat slegs gedeeltelik by sy sinne is. Hy word onbeheerbaar kwaad en tot die dood veroordeel. Josef kry Jesus se liggaam ná sy kruisiging, vind dat hy nie dood is nie, help hom om by te kom en neem hom na 'n nabygeleë Esseense klooster by die spruit Kerith. Josef word kort hierna om die lewe gebring en Jesus verlaat die klooster om vier jaar lank 'n skaapwagter te word. Hy dink terug aan die verlede en verwerk die trauma van sy kruisiging. Hy het bittere berou oor sy messiaanse pretensies, sy apokaliptiese, wêreld-hatende pessimisme, en sy taal van verdoeming en haat. In hierdie voorstelling ontmoet Jesus later vir Paulus maar verberg aanvanklik sy identiteit. Hy hoor vir die eerste keer by Paulus van die Christendom. Nadat Jesus sy volle verhaal aan Paulus vertel het, vlug Paulus verwilderd weg. Jesus volg hom en sê vir hom dat sy evangelie op 'n leuen gebaseer is. Paulus verwerp dié verhaal as 'n leuen en beskou Jesus as van sy sinne beroof. Jesus sê dan aan hom: "Alle dinge is God, Paulus: jy is God en ek is God. As ek sou sê dat jy 'n mens is en ek is God, dan sou ek die kranksinnige persoon wees wat jy dink dat ek is." (bl. 74). Oor hierdie godslasterlike wanvoorstelling van Jesus deur George Moore sê prof. Du Toit: "Moore se Jesus het waarlik opgestaan - hy het opgestaan om 'n volkome mens te wees met 'n innige meegevoel en liefde vir die wêreld." (bl. 74). Daar word ook na die 'waarde' van verskeie ander lasterlike voorstellings van Jesus gekyk, bv. die politieke rol van Comrade Jesus en Breyten Breytenbach se Zen-Boeddhistiese beskouings dat die mens sy eie verlosser is, dat God magteloos is en Jesus 'n mite. Prof. Du Toit sluit sy relaas dan só af: "Die persoon van Jesus is en sal 'n bron van inspirasie in die wêreld van die letterkunde bly. Hoe hy voorgestel sal word, is onvoorspelbaar. Miskien as die eksistensiële verklaarder van die lewe, as 'n maatskaplike hervormer, 'n politieke aktivis, 'n geestelike leier, 'n moralis, 'n intergeloofsbemiddelaar, 'n kulturele leier of 'n kosmiese gids. Voorstellings van Jesus wat buite kerklike dogma gemaak word, en onafhanklik van teologiese interpretasie is, moet verwelkom word. Dit verseker 'n kritiese en kreatiewe kyk op die mensdom en sy godsdiens." (bl. 89). * From Galilee to Hollywood: Jesus on the screen, deur prof. J. Engelbrecht, NT Unisa Die lewe van Jesus as 'n filmster word in hierdie hoofstuk beskryf. Melding word van verskillende (meesal lasterlike) Jesus-films gemaak, soos bv. King of kings, Godspell, Jesus Christ Superstar, The last temptation of Christ, en Jesus of Montreal. Die sterk openbare reaksie teen die onbybelse en godslasterlike aard van sommige van hierdie films, word só deur Prof. Engelbrecht verantwoord: "Baie van die bevindinge van die Jesus Seminaar en ander geleerdes word deur kerke verwerp. Dit word óf nie in kerke gehoor nie, óf net by wyse van afkeuring. Na my mening het die Jesus film meer as een rol om te speel. Eerstens, in 'n sekulêre wêreld waarin die kerk en die Bybel nie meer die invloed in baie mense se lewens het wat dit 'n geslag of twee gelede gehad het nie, kan die storie van Jesus op film weer gehore aan die Man van Galiléa voorstel. Dan moet ons egter nie oor moderne of kontemporêre interpretasies van hom frons nie. Tweedens kan eietydse interpretasies van Jesus help om die moderne skeptici, sowel as fundamentaliste, van 'n letterlike benadering tot die Bybel, en van die Evangelies in die besonder, te bevry. (bl. 120). * Jesus in the world of religions, deur G.A. van den Heever, NT Unisa Die outeur sê dat die 'gekonstrueerde' beeld van Jesus Christus heeltemal tuis in die wêreld van godsdienste is, omdat dit met die middelaarsmites van ander religieë ooreenstem. Jesus word in dié hoofstuk met Boeddha, Zoroaster en Krishna vergelyk. Die gevolgtrekking word gemaak dat sy ondervindings en aansprake 'n herhaling is van dit wat in ander godsdienste voorgekom het. Die volgende is een van die paragrawe in hierdie vergelykende studie: "In Boeddhisme, Hindoeïsme en die Christendom is daar 'n sterk geloof dat God die mensdom in 'n menslike liggaam besoek. Daar word geglo dat sowel Boeddha as Jesus 'n voor hulle geboorte reeds bestaan het. In beide tradisies is daar 'n mate van onsekerheid oor die finaliteit van Sakyamuni en Jesus. In Boeddhisme is daar die geloof in Boeddha Maitreya wat nog moet kom, terwyl daar in die Christendom die geloof in die wederkoms van Jesus is. Boeddha en Jesus is albei volgens oorlewering uit koninklike linies afkomstig. Lang geslagsregisters word aangebied, waarin daar sterk ooreeenkomste is. 'n Uitstaande kenmerk van Boeddhisme is sy ingesteldheid op die redding van die ganse mensdom, en sy sending-ywer om die dharma in die hele wêreld te verkondig. Hierdie eienskap vind 'n korrelasie in Christus se sendingopdrag aan sy dissipels, en die sending-ywer van die Christendom. Die universalistiese beskouing van Christus se belangrikheid vir alle mense stem ooreen met die Boeddhistiese siening dat Boeddha 'n inkarnasie vir die redding van die hele menslike geslag was." (bl. 212). Van den Heever eindig sy betoog met 'n sterk pleidooi vir 'n multigodsdienstige beskouing van die posisie en rol van Jesus. Dit blyk 'n logiese konklusie vir 'n boek van hierdie aard te wees: "Indien dit waar is dat die 'konstruksie' van Jesus in die vroeë Christendom ooreenkomstig dié van Boeddha, Zoroaster en Krishna is, dan moet die vraag beantwoord word oor watter voordele daar in 'n vergelykende studie van hierdie aard geleë is... Om die vroeë Christendom en sy 'gekonstrueerde' verlosser in die vreemdheid van 'n Oosterse godsdiens aan te tref, moet sekerlik nuwe en onverwagte maniere aan Christene bied om Jesus Christus te 'konstrueer'. Dit is veral belangrik vir die debat oor die kontekstualisering van die Christendom in die Afrika-konteks. Meer nog, behoort dit Christene, Jode, Boeddhiste en Hindoes tot 'n gesonder en meer verdraagsame interaksie op die kulturele en godsdienstige front aan te moedig. Hoe sterk ons ook al in ons eie uniekheid wil glo, drink ons almal uit dieselfde fontein." (bl. 221). DIE WARE JESUS Die ware Jesus is nie die historiese Jesus van die moderne teologiese wetenskap en letterkunde wat van al die aspekte van sy goddelike wese gestroop en tot 'n profeet sonder 'n kruis of evangelieboodskap gereduseer is nie. Jesus het nie ontken dat Hy die Seun van God is nie, en dit nie aan sy latere volgelinge oorgelaat om Hom as sodanig te verkondig nie (kyk Matt. 26:63-64; Joh. 5: 17-18 en 10:36). Deur die Jesus van geloof te degradeer tot 'n sterflike mens wat sy roeping as Verlosser en Lam van God probeer ontwyk het, skaar die moderne skrifgeleerdes hulle by hul eerste eeuse eweknieë wat feitlik eendragtig die aanspraak verwerp het dat Jesus die Messias van Israel, die Seun van God en die Verlosser van die wêreld is. Die ware Jesus het dit nie aan die latere kerkvaders oorgelaat om Hom tot Christus en God te verklaar nie. Hy en sy onmiddellike volgelinge het dit self gedoen: * "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God... In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid" (Joh. 1:1-4, 14). * "En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is" (Matt. 16:16-17). * Jesus het ronduit verklaar: "Ek en die Vader is een" (Joh. 10:30). "Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien... Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?" (Joh. 14:9-10). * "En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!" (Joh. 20:28). * Petrus het het van Jesus Christus gesê: "Hy is die Here van almal" (Hand. 10:36). In groot eerbied verwys hy in sy sendbrief na "onse God en Saligmaker, Jesus Christus" (2 Pet. 1:1). * Johannes beskryf die grondslag van ons geloof as hy van ons verhouding met die Here Jesus sê: "Ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe" (1 Joh. 5:20). * Paulus het gesê dat Christus na die vlees "oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid" (Rom. 9:5). "In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik" (Kol. 2:9). Die ware Jesus is ook nie die kosmiese Jesus van alle gelowe nie, daarom is daar geen band of ooreenkoms tussen hom en Boeddha, Krishna, Zoroaster, of watter ander heidense godsdienstige figuur ook al nie. Hy staan nie in die diens van 'n verwarde en misleide mensdom om die weg tot die vereniging van alle godsdienste aan te dui nie. Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem as ons bereid is om dit teenoor Hom, as die enigste Verlosser, te bely en te laat staan. Dit sluit ook enige verbintenis met afgodediens in. Oor al die vervalsings van Jesus sê Douglas Groothuis in sy boek Searching for the real Jesus: "Jesus is nie 'n vrysinnige figuur waarop ons na willekeur ons nietige teorieë, hoop en vrese kan projekteer nie. Hy is 'n lewende werklikheid wat deur niemand bemeester kan word nie omdat Hy die Meester van die heelal is. Hy daag elke namaaksel met sy opregtheid uit, en elke verdraaiing met sy waarheid... Die kruis bly 'n historiese feit en die evangelie is steeds die enigste wyse waardeur mense vrygemaak kan word (Joh. 8:31-32)." Die prys vir misleiding Die prys vir geestelike misleiding en bedrog is onberekenbaar hoog. Om die ware Jesus te verwerp, lei tot die ewige val van die mens omdat hy die enigste weg tot die opstanding en die lewe versmaai. Simeon het gesê: "Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word" (Luk. 2:34). Die Bybel stel dit duidelik dat enige vervalsing van Jesus onder die direkte inwerking van Satan geskied, omdat dit sy doel is om die mens van die ware Verlosser af weg te hou: "Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval" (2 Kor. 11:3-4). Alle karikature en vervalsings van Jesus vorm deel van Satan se eeue oue plan om die wêreld voor die wederkoms van die ware Jesus onder die beheer van 'n valse Jesus - die Antichris - te plaas. Die ander Jesusse waarteen Paulus die Korinthiërs waarsku is dus almal verdraaiings van die ware Jesus waarmee Satan die Christelike kerk binnedring om mense te mislei en hulle uiteindelik aan die Antichris uit te lewer. Alle mense skakel, geestelik gesproke, met net een van twee koninkryke in: die koninkryk van God of die koninkryk van Satan. Vir wêreldlinge is dit egter baie moeilik om tussen hierdie twee koninkryke te onderskei, omdat Satan daarin spesialiseer om mense godsdienstig te mislei. Hy weet dat die meeste mense godsdienstig is, en bied dan aan hulle valle godsdienste aan om hulle in sy mag te kry. In die Christelike wêreld kom hy met valse voorstellings van Jesus wat in assosiasie met 'n dooie vormgodsdiens of ander vorms van misleiding aan mense gebied word. U moet die feit duidelik begryp dat daar 'n valse vorm van Christenskap is wat onder Satan se beheer staan, en waardeur hy mense mislei. Hierdie mense gaan eendag hel toe, al beroem hulle hulself ook op die naam van "Jesus" (Matt. 7:21-23). Hulle is nie weergebore nie en dien 'n ander Jesus. Net so ook was daar in die tyd van Jesus 'n meerderheid van die godsdiensleiers in Israel wat, hoewel hulle die God van Israel met die mond bely het, in werklikheid kinders van die duiwel was (Joh. 8:41-44). Dit is 'n onvermydelike feit dat mens óf 'n kind van God óf 'n kind van die duiwel is. Jy aanbid óf die ware Christus óf jy staan onder die misleiding van die Antichris. Die Jode wat die ware Jesus verwerp het, is duidelik gekonfronteer met die feit dat hulle geestelike verblinding daartoe gaan lei dat hulle 'n verbond met die valse messias sal sluit: "Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een [die valse messias] in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem" (Joh. 5:43). Dieselfde beginsel geld ook vir mense in ons tyd wat die ware, Bybelse Jesus, vervals deur sy openbarings en uitsprake te verwerp, evangeliese dogma as 'n hindernis te beskou en lasterlike wanvoorstellings van Hom te maak. Hulle sal 'n verbond met die valse Christus sluit as hulle hul nie bekeer nie. Openbarings van God 'n Groot bron van kommer is dat talle teoloë hulle eie wetenskap ondermyn deur die geloofwaardigheid van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring. Die gevolg is dat baie van hulle dit nie meer toegewyd ondersoek nie, maar hulle tot die onsekerheid en misleiding van buite-Bybelse bronne (bv. fiksie, die filmbedryf en die nie-Christelike godsdienste) wend om iets oor Jesus te leer. Deur hierdie kanale word 'n dik stroom leuens en valse voorstellings die wêreld ingestuur en word die mensdom van sy enigste betroubare en vaste grondslag van die waarheid ontneem. In teenstelling met wat die Jesus Seminaar en die Unisa konferensie doen om Jesus beter te leer ken, kry elke mens die beproefde raad om "die heilige Skrifte te ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus" (2 Tim. 3:15). Die Here Jesus openbaar Homself as Verlosser aan die wêreld deur die verkondiging van sy Woord (Joh. 17:20). In assosiasie met die Woord van God oortuig die Heilige Gees mense ook van Christus en sy evangelieboodskap (Joh. 16:13-14). Hierbenewens is daar deur byna tweeduisend jaar van kerkgeskiedenis 'n groot wolk van getuies oor die liefde van God wat aan 'n gevalle mensdom bewys word deur die enigste Redder en Leidsman, Jesus Christus (Heb. 12:1-2). 'n Vriendelike uitnodiging Ek wil graag weer, soos wat ds. E. Zevenster en ek 'n aantal jare gelede per brief aan sowat tagtig teoloë by Unisa gedoen het, 'n vriendelike uitnodiging aan teoloë en godsdienswetenskaplikes in ons land rig om hulle standpunte ten opsigte van Jesus Christus opnuut in die lig van Bybelse uitsprake te evalueer en biddend in oorweging te neem. Daar is geweldig baie op die spel: eerstens u eie sieleheil, daarna dié van u studente wat deur u opgelei word, en uiteindelik ook die kerke en die breër gemeenskap wat deur u bedien word. Ons leef in tye van groot veranderings in ons land én in die wêreld. Akademici het 'n groot invloed om die toekomstige koers van onderwys, godsdiensbeoefening en verwante dissiplines te help bepaal. Die populêre stroom van denke is in die rigting van holisme, sintese en eenwording as boustene vir 'n nuwe wêreldorde. Die godsdienstige sinkretisme wat hieruit vloei, is absoluut skrikwekkend. Dit spel die einde van 'n fundamenteel Christelike benadering in verskeie openbare strukture uit, insluitende Christelike onderwys in staatskole. Dit is juis op hierdie terrein van botsende ideologieë dat die uitspraak van die ware [Bybelse] Jesus duidelik gehoor moet word: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh. 14:6). "Hy wat nie met My is nie, is teen My" (Matt. 12:30). "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matt. 11:28). As ons Jesus Christus nie erken, bely en aanbid vir wie en wat Hy is nie, is ons gedoem. 'n Lewe wat nie op die Rots, Jesus Christus, gebou is nie, sal sekerlik in die storm van God se oordele omkom. Dieselfde geld ook vir 'n land wat nie Christelike standaarde wil aanvaar en toepas nie. Die dae van só 'n koninkryk is getel. Moet dus nie populariteit soek deur in die huidige klimaat van openlike kompromie en samegroeiing met 'n antichristelike bestel die ware Jesus te verloën en met vreemde godsdienste hande te vat nie. Die uitwissing van grense (ook dogmatiese grense) berei die weg vir die universele wêreldmessias van alle gelowe voor. Hy sal die groot teëstander van die ware Jesus wees, en die verpersoonliking van al die valse voorstellings wat nou van Hom gemaak word. In hierdie laat uur, terwyl 'n misleide mensdom openlik met God en sy Seun die spot dryf, die gesag van sy Woord verwerp en die evangelieboodskap minag, word genade steeds aan die misleides gebied: "Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie." (Heb. 3:12) "Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie." (Heb. 3:7) (NS: As antwoord op die boek Images of Jesus bied ons u die boekie Wie is Jesus? deur prof. J.S. Malan. Dit is ook in Engels beskikbaar as: Who is Jesus? U kan dit teen R4 elk, posgeld ingesluit, bestel by Die Basuin, Posbus 31378, Totiusdal 0134, RSA. Dit vorm deel van 'n stel van 12 boekies oor die fundamentele Christelike waarhede van die Bybel. Die hele stel kos R40,00 posvry). Joodse geleerde skryf oor Jesus 'n Onlangs gepubliseerde boek, Jesus, deur prof. David Flusser, bevat inligting en beskouings wat tans 'n groot reaksie in Christelike én Joodse kringe uitlok. Flusser is 'n afgetrede professor van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem. Hy word as die voorste Israeli navorser oor die Tweede Tempel periode (die tempel van Herodes), die lewe van Jesus en die geskiedenis van die vroeë kerk beskou. Die nuwe uitgawe van sy boek is die produk van 'n leeftyd se navorsing in die Evangelies, Joodse, Christelike en ander klassieke bronne, asook argeologiese navorsing oor die betrokke tydperk. Een van die besprekings in Flusser se boek is gebaseer op die vraag wat Jesus aan sy dissipels gevra het: "Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elia, en ander Jeremia of een van die profete. Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God." (Matt. 16:13-16). Oor Jesus se tweede vraag: "Maar julle, wie sê julle is Ek?" sê Flusser die volgende: "Ek is oortuig daarvan dat daar betroubare verslae is dat die Gekruisigde Een aan Petrus verskyn het, toe aan die twaalf. Daarna het hy by een geleentheid aan meer as 500 broeders verskyn... Laaste van almal het hy ook aan Paulus op die pad na Damaskus verskyn... "Toe Jesus die hoëpriester se vraag oor sy Messiasskap beantwoord het met die woorde: 'Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God' (Matt. 26:64), het hy dalk geglo dat hy die lot sou ontvlug wat op hom gewag het? Of, wat baie meer waarskynlik is, het hy geglo dat hy uit die dode sou opstaan? Hoe dit ook al sy, die hoëpriester het reg verstaan dat Jesus deur sy woorde te kenne gegee het dat hy die Messias is." (bl. 154-155) Flusser se gevolgtrekkings moet gesien word in die konteks van die teologiese debat oor Jesus se beskouing oor Homself - wie het Hy gedink en gesê dat Hy was? In die beskermde akademiese wêreld het liberale teoloë vir dekades die siening gehuldig dat Christologie (die geloof dat Christus die ewige Seun van God is wat vlees geword het om te ly en te sterwe vir ons sonde, en wat na sy troon teruggekeer om te regeer en oor almal te oordeel) die produk van die nie-Joodse kerk rondom die derde eeu is. Flusser weerlê hierdie siening en bied getuienis van die geloof in 'n Messias aan wat o.a. in die laaste dae as regter sal optree (om die koring en onkruid van mekaar te skei, of die skape en die bokke, soos Jesus dit gestel het). Dié idees was nie tot Jesus en sy dissipels beperk nie. Daar was ook 'n algemene Messiaanse verwagting in die tyd van die Tweede Tempel. Die prediking van die apostels dat Jesus die Messias is, was sterk op Jesus se eie onderrig oor sy sending op aarde gefundeer. Einstein se getuienis oor Jesus Die volgende is deel van 'n onderhoud wat jare gelede met die wêreldberoemde wetenskaplike, Albert Einstein, gevoer en in die Saturday Evening Post gepubliseer is: Vraag: Tot watter mate is u deur die Christendom beïnvloed? Antwoord: As kind het ek onderrig in sowel die Bybel as die Talmoed ontvang. Ek is 'n Jood, maar ek is bekoor deur die skitterende Persoon van die Nasaréner. Vraag: Het u Emil Ludwig se boek oor Jesus gelees? Antwoord: Emil Ludwig se Jesus is vlak. Jesus is té majestueus vir die pen van praatjiesmakers, hoe kunstig hulle ook al mag wees. Niemand kan die Christendom met 'n kwinkslag (Fr. bon mot) afskryf nie. Vraag: Aanvaar u die historiese bestaan van Jesus? Antwoord: Ongetwyfeld! Niemand kan die Evangelies lees sonder om die werklike teenwoordigheid van Jesus te ervaar nie. Sy persoonlikheid is die polsslag van elke woord. Geen mite is met sulke lewe gevul nie. Wat is ware geloof? Die verskerpte aanslag wat daar die afgelope tyd uit die akademiese (teologiese) wêreld op die Jesus van geloof gemaak word, onderstreep een feit baie duidelik, nl. die rol van geloof in die mens se begrip van en verhouding tot Jesus Christus as Here en Seun van God. Sonder geloof kan Hy nie ten volle geken word nie. Die hele wêreld word geestelik gesproke in net twee groepe verdeel, nl. gelowiges en ongelowiges. Onder die groep ongelowiges is daar ook baie kerkmense wat die Here met hulle lippe dien, maar hulle harte is ver van Hom af. Hulle assosieer breedweg op 'n verstandelike vlak (op grond van familie- of volkstradisies) met die Christendom, maar hulle harte is nog nie deur die wedergeboorte nuut gemaak nie. Sulke mense word skynheiliges of vormgodsdienstiges genoem omdat hulle net 'n uiterlike gedaante van godsaligheid het. Hulle het nog nie 'n geloofsverhouding met Jesus nie en hou hulle met opinies oor Jesus besig. Hulle kan dus nie in genade én kennis van Jesus toeneem nie. Geloofsaanvaarding Geloof is nie 'n funksie van die menslike brein nie, maar 'n gawe wat God deur die Heilige Gees aan mense verleen. Die sintuie en brein van die mens speel wél 'n belangrike rol in die verkryging van geloof, maar dit kan nie geloof genereer nie: "Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? ... Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God." (Rom. 10:13-14, 17). Dit is dus duidelik dat die mens eers op 'n verstandelike vlak van die basiese feite omtrent sy sondigheid en verlore toestand, asook van die genade van God en die versoeningswerk van Jesus Christus aan die kruis, moet kennis neem voordat hy gered kan word. Hy moet aan evangeliese prediking blootgestel word. Die woord van God moet in gesproke (of geskrewe) vorm aan hom geopenbaar word. Dit is eers op hierdie punt dat ware geloof ter sprake kom. Die feite omtrent die evangelieboodskap word nie net tot die verstand van die mens gerig nie maar ook tot sy hart [of gees]. Die verstand kan enigiets aanvaar wat binne sy raamwerk van logika redelik klink. Die hart funksioneer egter op 'n dieper geestelike vlak en is van geloof afhanklik om die waarheid te aanvaar. Daar moet dus 'n geloofsaanvaarding van bepaalde feite gedoen word. Wanneer die evangelie só aanvaar word, word 'n ongelowige tot 'n gelowige herskep; doodsheid verander in lewe en die duisternis gaan oor in lig. Die oorsprong van geloof Die vraag is: hoe kan die mens iets in die geloof aanvaar as hy van nature 'n ongelowige is wat geestelik dood is? Hoe kan hy in 'n Bybelse sin glo as hy met sy verstand net sekere aannames kan maak wat nie op die vlak van 'n ware geloof is nie? Die antwoord is in die dinamiese krag van die Woord van God geleë: "Die geloof is... deur die woord van God." (Rom. 10:17). Watter unieke attribute het hierdie woord dan? "Die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart." (Heb. 4:12). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible knowledge commentary, bl. 789-790) sê die volgende oor bg. vers: "Die Woord van God is lewend (zõn) en kragtig (energes). Nie net dít nie, die indringende krag daarvan is groter as dié van enige tweesnydende swaard en bereik die diepste wese van 'n persoon waar dit die gedagtes en houdings van sy hart openbaar. Dit is in staat om duidelik te kan onderskei tussen wat geestelik in 'n mens is en wat bloot uit sy siel [die intellek, wil en emosies] afkomstig is. Hierdie swaard dring deur tot by die skeiding van die siel en die gees, en doen dit selfs wanneer hierdie dikwels weersprekende elemente só met mekaar verenig is soos die gewrigte en die murg. Die innerlike lewe van 'n Christen is soms 'n vreemde mengsel van motiverings waarvan sommige opreg geestelik en ander volkome menslik is. 'n Bonatuurlike hulpmiddel soos die Woord van God is nodig om onderskeid te tref en te openbaar wat geestelik en wat vleeslik is. Mense verkeer soms onder die indruk dat hulle sekere stappe uit suiwer geestelike oorwegings beplan terwyl dit, soos die Woord van God hulle sal wys, uit ongeloof gebore mag wees." Die Woord van God wat gelees of verkondig word, word deur die werking van die Heilige Gees lewendig gemaak sodat die stem daarvan diep in ons harte gehoor kan word; daarom is dit 'n lewende Woord. Jesus het gesê: "Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en lewe." (Joh. 6:63). Dit oortuig ons van ons sonde as die oorsaak van ons geestelike doodsheid, maar bring ook die blye tyding van sondevergifnis en 'n nuwe lewe in Christus tot ons kennis. Só 'n persoon is 'n ontwaakte sondaar en moet op grond van die feite waarvan hy nou verstandelik én geestelik bewus geword het, 'n besluit neem. Die Heilige Gees wat hom van sy sonde oortuig het, asook van die Here Jesus wat gekom het om te soek en te red wat verlore is, verleen aan hom die vermoë om te kan glo (bekeringsgenade). Hy kán hom dus nou bekeer en 'n saligmakende geloof in die Here Jesus beoefen. Mense reageer egter verskillend op die evangelieboodskap: * Sommiges verwerp die Woord deur dit te betwyfel, nie as die geïnspireerde Woord van God te erken nie, as irrelevant vir die 20ste eeu te beskou, as 'n harde woord van hulle af weg te stoot, of deur die eise daarvan (bv. wedergeboorte) af te maak en as onnodig vir gedoopte kerklidmate te beskou. Deur dit te doen, weerstaan hulle ook die pleitende stem van die Heilige Gees wat deur die Woord spreek, en blus Hom in hulle lewens uit. Hierdeur beperk hulle hulself tot die kategorie van ongelowiges, al probeer hulle ook hóé godsdienstig voorkom. Sulke mense se godsdiens is nie op Jesus Christus se versoening gebaseer nie maar op eiegeregtigheid (goeie werke). Hulle ken nie die Jesus van geloof nie, en verwerp Hom maklik as die kultiese Jesus wat aanbid word. * Sommiges hoor net die Woord, en op grond van die goeie nuus-element daarin neem hulle dit met blydskap aan. Blydskap dui op 'n emosionele reaksie en nie op geloof nie, daarom hou sulke valse bekerings nie lank nie (Matt. 13:20-21). Baie van hierdie mense hou 'n geestelike front voor deur by 'n kerk aan te sluit en aan sekere aktiwiteite deel te neem. Hulle prys ook die Here met hulle lippe, hande en voete, maar gee daardeur net uiting aan godsdienstige sentimente en emosies (omtrent soos wat Saul na die harpmusiek geluister het). Hulle harte is egter, geestelik gesproke, koud en donker. Daar is ook baie donker kolle in hul lewens as broeiplekke vir sonde. * Diegene wat hulle harte oopstel en die evangelieboodskap aanvaar, ontvang die genade om Jesus in die geloof as Verlosser te erken en te aanvaar. Die Heilige Gees herskep hulle donker, sondige harte tot tempels van God. Hy gee aan hulle geestelike insig (verligte oë van die verstand) en die motivering om die gekruisigde en verrese Here Jesus as die Verlosser van die wêreld aan andere te verkondig. Dit is ongelukkig so dat 'n ware geloof nie een van die uitstaande kenmerke van die eindtydse wêreldgemeenskap sal wees nie: "As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" (Luk. 18:8). Hy sal baie godsdiens aantref - selfs 'n hele wêreld wat verwonderd agter 'n valse Christus aangaan en hom aanbid (Op. 13:3-4, 8) - maar geloof in die ware Christus sal tot 'n klein minderheid beperk wees. Ons leef in 'n tyd waarin die ware Jesus van geloof ten gunste van populêre vervalsings verwerp word. Sodoende word die weg vir die verskyning van die kosmiese Christus voorberei, wat deur die Bybel die mens van sonde en teëstander van God genoem word. (2 Thess. 2) Die vraag is: "Aan watter Jesus se kant is jy - die ware Jesus van geloof wat Homself deur sy onfeilbare Woord, sy Gees en deur baie getuies geopenbaar het, of die valse Jesus wat deur demoniese beïnvloeding geskep is om by die gevalle mens se verwronge sienings, sy ongeloof en sy humanistiese strukture in te pas?" Geloof en 'n gereinigde gewete Deur dr. Andrew Murray "Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water." (Heb. 10:19-22) Neem tyd om die Woord in jou hart te oordink en te bewaar, terwyl jy voortdurend jou vertroue in die Here Jesus stel. Dit is geloof in Christus wat red, nie geloof in 'n onpersoonlike woord nie. Die beloftes in die Bybel moet in gebed na die Here Jesus geneem en in sy Naam toegeëien word voor dit in jou lewe van krag sal word. "Laat ons toetree... die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete". Die hart is die sentrum van die menslike lewe, en die gewete is weer die sentrum van die hart. Deur 'n mens se gewete ken jy jou verhouding met God. 'n Slegte gewete sê vir jou dat alles nie reg is tussen jou en die Here nie - nie alleen die feit dat jy sonde doen nie, maar dat jy sondig is en vervreem van God. 'n Goeie of skoon gewete getuig van 'n lewe wat vir God aanvaarbaar is (vgl. Heb. 11:5). As jy die heiligdom wil betree, moet jou hart van 'n slegte gewete gereinig word. Besprenkeling met die bloed van Christus sal jou gewete en hart reinig sodat jy God kan dien sonder om oor onbelyde sonde aangekla te word. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6). Ons moet die heiligdom met volle geloofsversekerdheid betree. Die krag van die bloed van die Lam het die sonde só volkome oorwin dat niks ons van gemeenskap met God kan weerhou nie. Ons het 'n Hoëpriester wat volkome kan red dié wat deur Hom tot God gaan. Ons moet in die geloof ten volle hiervan versekerd wees. Hy help ons om hierdie waarhede in die geloof toe te eien. Deur Hom aan te sien, sy wonderlike liefde, sy volmaakte versoeningswerk, sy kosbare bloed waarin krag tot redding en reiniging is, word geloof in ons opgewek en versterk. Hy wek nie alleen geloof deur sy Heilige Gees in ons harte op nie, maar hou dit ook in stand en versterk dit. Onthou dat geloof deur die Woord van God kom; nie die letter van die Woord nie, maar die Woord as die stem van die Here Jesus. In Hom is elke belofte in die Woord ja en amen. Verdere stellings oor geloof 'n Gebrek aan geloof is die een ding waaroor Christus sy volgelinge verkwalik het. Hy het hulle nooit verwyt oor 'n gebrek aan intellek, kulturele gesofistikeerdheid of materiële besittings nie. Die afwesigheid van geloof, of 'n swak geloof, was die basiese rede vir hulle vrese, probleme en wanopvattings. Die eerste goeie werk wat jy ooit kan doen is om in die Here Jesus Christus te glo. Totdat jy dit gedoen het, is al jou werke, gebede en goeie voornemens tevergeefs. Die geloof wat jy het, sal getoets word. Die Here bou nie 'n skip sonder om dit die see in te stuur nie. Die enigste kroon wat 'n gelowige en getroue persoon ooit van die wêreld of van 'n wêreldse (vleeslike) kerk sal kry, is 'n doringkroon. Die eenvoud van 'n lewe van geloof het 'n bekoring wat net deur diegene geken word wat dit deelagtig is. "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag." (Heb. 11:6) Godsdienstige Dwalinge Deur Prof JS Malan Opsomming: Ons leef in 'n tyd waarvan die Bybel sê dat mense van die geloof afvallig sal raak en verleidende geeste en leringe van duiwels ten prooi sal val (1 Tim. 4:1). Die verkondiging van valse Jesusse, valse evangelies en valse geeste is die gevolg hiervan. Maak seker dat u nie 'n slagoffer van geestelike dwalinge is nie. Misleide mense weet nie dat hulle mislei is nie. Dit is eers as hulle met die volle waarheid kennis maak dat die waarheid hulle sal vry maak. Polarisasie tussen lig en duisternis Die huidige verwikkelinge op godsdienstige gebied dui op 'n verskerpte stryd tussen lig en duisternis. Die spanning en polarisasie tussen God se ryk en Satan se ryk neem as 'n voorspel tot die openbaring van die Antichris en die begin van die groot verdrukking drasties toe. Hierdie stryd manifesteer toenemend in die samelewing deurdat individuele Christene, asook gemeentes en denominasies, duidelike keuses oor betrokkenheid by die ekumeniese beweging en die intergeloofsbeweging moet maak. Terwyl die wêreld met sy valse godsdienste hulle inklusiewe agenda vir godsdiensgelykheid en godsdienseenheid voortsit, sal evangeliese Christene hul eksklusiwiteit moet bewys deur hulleself uitdruklik van hierdie antichristelike strukture en bewegings te distansieer. Om as oorwinnaars uit dié hewige stryd te kan tree, is dit nodig dat elke Christen die vyand en sy strategieë goed sal ken, met die volle wapenrusting van God beklee sal wees, en ook van die Here die nodige geestelike onderskeidingsvermoë sal afbid. Omdat dit 'n stryd tussen twee geestelike magte is wat ons voer, is ons óf aan die kant van die ware Christus, óf aan die kant van die Antichris. Ons sal onsself ernstig moet afvra hoedanig die kwaliteit van ons verhouding met die Here Jesus is. Baie mense weet só min van Hom dat hulle nie eers in staat is om die ware Jesus van die baie ander Jesusse, wat antichristelike vervalsings van die waarheid is, te kan onderskei nie. In hierdie boekie wil ons u oor die valse voorstellings van Jesus inlig, sodat u paraat vir die stryd teen geestelike misleiding kan wees, wat binne-in Christelike kerke woed. Wanneer u van al hierdie dwalinge kennis geneem het en die gevaar daarvan besef, moet u as deel van die oplossing van die probleem die boekie Wie is Jesus? lees. Slegs deur die waarheid en die leuen duidelik teenoor mekaar te stel, kan die dwaling volkome ontmasker en die waarheid ten volle begryp en aanvaar word. Vervalsings Sedert die vroegste tye het die meeste Christelike kerke 'n betreurenswaardige onvermoë getoon om tussen die waarheid van God se Woord en die baie vervalste weergawes daarvan te kan onderskei. Paulus sê: "Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!" (Gal. 1:6-8). Die Korinthiërs het dieselfde gebrek aan geestelike insig en onderskeidingsvermoë gehad: "Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval" (2 Kor. 11:2-4; my beklemtoning). Uit die aangehaalde gedeelte is dit duidelik dat daar drie sake is wat deur die sielevyand vervals word om Christene in die war te bring en op 'n dwaalweg te laat beland, nl.: * 'n ander Jesus; * 'n ander gees; en * 'n ander evangelie. Kom ons kyk kortliks na die belangrikste vervalsings wat in moderne tye op dié drie terreine gepropageer word om subtiele dwaalweë populêr en aanvaarbaar te maak. 'N ANDER JESUS Die volgende is die sewe algemeenste vervalsings of namaaksels van Jesus wat aan die wêreld gebied word in 'n poging om die verlossingswerk van die ware Lam van God ongedaan te maak deur aan die mense net 'n gedaante of skewe beeld daarvan voor te hou: 1. Jesus die profeet In baie gelowe, byvoorbeeld Islam en die Jehovasgetuies, word Jesus se Godheid ontken en word Hy net as 'n profeet en menslike leermeester voorgehou. Hy word ook as Seun van God geloën. "Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie" (1 Joh. 2:22-23). Sekere Israelvisiegroepe ontken nou ook die Godheid van Jesus omdat hulle "net in een God glo en nie in 'n veelgodendom nie." Die leer van die Drie-eenheid word dus ook verwerp. In die Nuwe Afrikaanse Bybel is die Drie-eenheidstelling in 1 Johannes 5:7-8 uit die Bybel uitvertaal, en is hierdie twee verse nou dieselfde as in die Jehovasgetuies se New World Translation. 2. Jesus die voorbeeld Daar word dikwels in swak prediking net na Jesus se lewe as 'n voorbeeld verwys wat nagevolg moet word. In afgewaterde boodskappe van dié aard word die kruis en die bloed van Jesus wat vir sondaars gestort is, verswyg. Die eis van wedergeboorte word ook nie erken nie, en mense word net aangemoedig om soos Jesus 'n mooi lewe te lei. Een van die gevolge van hierdie sienswyse is dat Jesus só onwerklik vir mense word dat Hy net as 'n denkbeeldige Jesus vaagweg in hulle gedagtes bestaan. Hulle dien Hom deur verstandelike instemming, maar geestelik is Hy nie vir hulle 'n werklikheid nie omdat hulle Hom nog nie in die geloof in hul lewens ontvang en deur die wedergeboorte nuwe mense geword het nie. Hoewel hulle van Jesus of God praat, ken hulle Hom nie regtig as 'n Persoon nie en vereer net 'n denkbeeld van Hom. 3. Jesus die gewer van gawes Baie mense dien 'n Jesus wat net gawes en voordele aan hulle bied. Hy moet hulle gesond maak, krag gee en hulle seën deur in al hulle materiële behoeftes te voorsien. Jesus word as die tweede Adam gesien wat aan ons alles kom teruggee het wat die eerste Adam deur die sondeval verloor het. Ons kry nie net beheer oor die skepping nie, maar selfs ons woorde kry skeppingskrag omdat ons deur die wedergeboorte in klein godjies getransformeer word. Dit is dus net ons eie skuld as ons swak, siek of arm is. Die navolgers van hierdie Jesus wat van mense gode maak, identifiseer nie met die gekruisigde Here Jesus nie, en verwerp vervolging, lyding en siekte as die gevolge van 'n swak geloof. Hulle is positiewe denkers wat hul eie werklikheid d.m.v. positiewe belydenis skep. Jesus het baie populêre volgelinge gehad toe Hy siek mense genees en wonderwerke gedoen het. Die massas opportuniste het Hom egter verlaat toe Hy van sy bloed en die kruis as die grondslag vir ware eenheid met Hom gepraat het. Baie mense skep nog steeds hul eie populêre Jesus. 4. Jesus die politieke verlosser In die Derde Wêreld word dikwels 'n Jesus verkondig wat met die onderdruktes assosieer en vir hulle 'n vryheidsvegter is. Nie net verbreek hy die kettings van politieke onderdrukking en slawerny nie, maar hy hef die miskendes ook sosiaal en ekonomies op. Dié Jesus is net by die sekulêre lotgevalle van die mens betrokke. Hy bevry hulle nie van sonde nie, maar van alle onaangename omstandighede. Hy help hulle in hulle bevrydingstryd teen die onderdrukking van die kapitaliste en kolonialiste. 5. 'n Jesus wat in die hel gesterf het Nog 'n ernstige verdraaiing van Jesus se verlossingswerk wat baie veld wen, word deur Word of Faith predikers soos E.W. Kenyon, Kenneth Hagin, Kenneth Copeland, Charles Capps en andere verkondig. Volgens hulle siening is die fisiese kruisdood van Jesus nie van kardinale belang nie omdat Hy geestelik in die hel vir die sondes van die wêreld gesterf het. Die onbybelse en lasterlike bewering word gemaak dat Jesus 'n sondige natuur aangeneem en daardeur, soos Adam, vir Satan as stiefpa aanvaar het. In die hel is Hy vir drie dae deur demone bespot totdat Hy opgestaan en oor Satan en sy magte getriomfeer het. Sodoende het Hy die regte en voorregte van die eerste Adam vir die hele menslike ras teruggewen. Die toneel is dus nou vir die Christendom voorberei om sy verlore magte en heerskappy terug te kry, die wêreld oor te neem en daaroor te heers. 6. Jesus die sondaar Die Jesus wat in Hollywood se films uitgebeeld word, is 'n sondaarmens wat, soos enige ander gevalle mens, deur sondige hartstogte oorheers word. Hierdie hoogs lasterlike voorstelling van Jesus is die tema van films soos Jesus Christ Superstar, The last temptation of Jesus en Jesus of Montreal. In laasgenoemde film leef Jesus saam met ander jongmense in 'n woonstel. Hulle drink en leef 'n permissiewe, onsedelike en losbandige lewe. Soms word Jesus as homoseksueel uitgebeeld, en op 'n skildery wat in aartsbiskop Tutu se katedraal in Kaapstad uitgestal is, as 'n hulpelose Vigslyer wat vol sere is. In die Bybelse tyd is Jesus al as 'n sondaar, 'n wetsverbreker en 'n drinker bestempel (Joh. 9:16, 24; Matt. 11:19). Hierdie is duidelik ook 'n ander Jesus wat geen sondaar se siel kan red nie. As gevolg van die doelbewuste bespotting van die ware Jesus wat sonder sonde was (Heb. 4: 15; 7:26), haal mense vir hulleself God se toorn op die hals: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie" (Gal. 6:7). 7. Die kosmiese Jesus Die groot eindtydse vervalsing van Jesus is daarop gemik om die verskyning van die Antichris en sy misleidende meelopers moontlik te maak. Saam vorm hulle 'n hiërargie van valse Jesusse, met die Antichris as hulle hoof. Jesus het self teen die aanmatigende en verraderlike misbruik van sy Naam gewaarsku: "Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei" (Matt. 24:4-5). Die Nuwe Era Beweging propageer 'n universele Jesus wat die verpersoonliking van die messiaanse verwagtinge van alle godsdienste ter wêreld is. Vir die Christendom is hy die Christus, vir die Jode die Messias, vir die Hindoes die Krishna, vir die Moslems die Imam Mahdi, en vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha. Hy is dus die gemeenskaplike kosmiese Jesus van alle gelowe. In die Nuwe Era Beweging se gebed vir wêreldvrede word onder meer gesê: "May Christ return to Earth." Sundial House verduidelik dié strofe soos volg: "Hierdie uitdrukking is 'n triomfantelike uitroep deur alle mense op aarde dat die Wêreldleraar, die Avatar wat die volgende ontplooiing van goddelikheid op aarde sal laat plaasvind, in ons kritieke tyd moet kom. Die woord Christus dui op veel meer as die leier van die Christelike kerk. Hy is die Wêreldleraar wat ook in die Ooste as Heer Maitreya, die Bodhisattva en as die Imam Mahdi bekend staan." Hoe word die Jesus van die Christendom aan al hierdie ander gelowe verbind? In die Aquarian Gospel of Jesus the Christ wat deur die Nuwe Era Beweging uitgegee word, word die sg. vermiste jare van Jesus tussen sy ouderdomme van 12 en 30 beskryf. Die bewering word gemaak dat Hy in hierdie tyd in Indië, Nepal, Tibet, Egipte en Griekeland was voordat Hy met sy openbare bediening in Israel begin het. Daar word verduidelik hoedat Hy in Indië 'n studie van die Vedas (die heilige geskrifte van die Hindoes) gemaak en in Nepal in die Himalajas Homself in die Boeddhistiese geskrifte verdiep het. Hy is daar as 'n reïnkarnasie van Boeddha beskou en het ook die titel Issa (Seun van God) gekry. In 'n Egiptiese tempel in Heliopolis (die Stad van die Son) het Hy die amp van die Christus verwerf en was daarna vir sy bediening in Israel gereed. Die kosmiese Jesus is die laaste van 'n lang reeks vervalsings van die Naam en Persoon van die Here Jesus. 'N ANDER GEES Gepaard met die verkondiging van 'n ander Jesus is daar ook 'n ander gees werksaam om mense te mislei en hulle onder die krag van die dwaling te bring. Dit is in ons tyd absoluut noodsaaklik om onderskeidingsvermoë te hê en nie goedsmoeds enigiets te aanvaar wat reg klink nie: "Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan" (1 Joh. 4:1). In 1 Johannes 4:6 word onderskeid tussen die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling getref. Dit is nie altyd maklik om hierdie onderskeid te tref nie, omdat die gees van die dwaling oor groot mag beskik waarmee hy die gawes van die Gees van die waarheid naboots. Paulus waarsku dat die koms van die Antichris sal wees: "...volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo" (2 Thess. 2:9-11). Die gees van die dwaling is in hierdie tyd reeds intensief werksaam om die wêreld op die verskyning van die kosmiese Christus met sy wonderwerkende kragte voor te berei. Sy tweede in bevel, die valse profeet, sal oor net sulke verbysterende magte beskik: "En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is..." (Op. 13: 12-14). Die geweldige beheptheid met bonatuurlike geestelike kragte wat op 'n skouspelagtige wyse as tekens en wonderwerke manifesteer, is besig om oral op aarde pos te vat. Die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde valse godsdienste gebruik dit as klimaatskepping vir die openbaring van die kosmiese Christus [die Antichris]. In sekere Christelike kringe is daar ooreenstemmende verwagtinge van ongelooflike openbaringe van die Heilige Gees se krag in voorbereiding op Jesus Christus se wederkoms. Die vraag in baie mense se gemoed is: waar moet die streep getrek word? Die meeste Christene is bang om 'n standpunt in te neem, uit vrees vir moontlike sonde teen die Heilige Gees. Vreemde manifestasies by Christelike byeenkomste is aan die orde van die dag, bv. val in die gees. Dit het verskeie uitvloeisels soos dans in die gees, lag in die gees, profeteer in die gees en liefhê in die gees. Hierdeur word sekere werke van die Heilige Gees nageboots. Verskeie van die Word of Faith predikers skep groot verwagtinge van buitengewone manifestasies van die Heilige Gees in hierdie laaste dae. Kenneth Copeland sê onder meer die volgende in sy artikel: Preparing for Power - How to get ready for the end-time move of God: "I want you to know, it's exciting to go to church these days. The more God pours out His glory, the more unusual things we'll see. One of these days, you may just be talking to somebody, asking them how things went at Church last Sunday, and they may say, 'oh, it was great! The glory of God was so strong it healed 10 cripples, opened the ears of 30 deaf people, cured 7 cases of cancer and killed Brother Bigmouth and Sister Strife'." Copeland sê dat die Gees van heerlikheid só kragtig sal werk dat dit diegene sal meesleur en vernietig wat moedswillig in sondes voortleef. As voorbeeld hiervan haal hy die gebeure rondom Ananias en Saffira aan (Hand. 5:1-11). Hoe moet ons hierdie saak beoordeel? Die Good News sendinggenootskap doen dit só: "Daar is vandag 'n gees waarneembaar in die wêreld wat as die Heilige Gees bestempel word, maar wat nie die egte kenmerke van die Heilige Gees openbaar nie. Dit is 'n gees wat veral die klem op homself laat val, in plaas van op die Here Jesus Christus. Dit is 'n gees wat die uitsprake van die Bybel verontagsaam ter wille van die verwesenliking van sy eie doelwitte. Hierdie gees maak ook voorsiening vir diegene wat nie vir Jesus as Middelaar tussen God en die mens aanvaar het nie. "Dit is 'n gees wat al die uiterlike manifestasies van die Heilige Gees naboots, maar hy oortuig nie van sonde nie. Hy het inteendeel geen probleem om met leuens, bedrog en halwe waarhede saam te leef nie en deins nie daarvoor terug nie. "Hierdie nuwe godsdiens versprei onrusbarend vinnig deur die hele wêreld. In teenstelling met die ware Christelike godsdiens waarin die Here Jesus die middelpunt is, word dié gees bokant Christus verhoog as middelaar tussen God en die mens. Die aanhangers hiervan haal graag tekste aan soos 'word met die Gees vervul' (Ef. 5:18), maar ignoreer gerieflikheidshalwe tekste soos Joh. 14:20, 2 Kor. 13:5, Gal. 2:20 en Ef. 3:17 wat beklemtoon dat Christus in ons moet woon. "Die nuwe geloof leer dat jy 'n openheid moet hê en net moet glo en ontvang wat die gees aan jou bied. Deur hierdie gees word onwedergebore kinders gebaar asof hulle egte produkte van die Heilige Gees is. Uiterlik gaan hulle deur al die prosesse van wedergeboorte, maar daarna kan hulle beswaarlik van die wêreld onderskei word. Tóg beskik hulle soms oor vermoëns en kan getuig van ondervindings wat menige ware kind van God in die skadu stel. "Ons leef in gevaarlike tye. Vir bykans 2 000 jaar het Satan probeer om die kerk van die Here van buite af deur geweld te vernietig, sonder om daarin te slaag. Nou, in die doodsnikke van hierdie bedeling, het hy van taktiek verander. In plaas van hom voor te doen as die brullende leeu, koer hy nou soos 'n duif en praat soos 'n lam om die kerk van Christus te probeer verlei en in 'n valse gerustheid te dompel. "Hierdie dwaling hou 'n groot en baie ernstige gevaar vir die Christendom in. 'n Gees wat die plek van Jesus in die gedagtes en lewens van mense inneem, is 'n gees wat hulle uiteindelik van die Here Jesus sal vervreem. In 2 Korinthiërs 11:4 waarsku Paulus ons teen die aanneem van 'n ander gees. Laat ons teen hierdie gevaar waak." Die Heilige Gees self waarsku ons teen verval uit die waarheid van God se Woord na geestelike nabootsings van die duiwel: "Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang" (1 Tim. 4:1). Nog een van die talle verleidende geeste van die duiwel wat ingedring het in Christelike kerke waarin daar 'n openheid vir alles is, is die sg. Christelike meditasie. Hierdeur word gebed vervang en word gelowiges geleer om te ontspan, aan niks te dink nie en deur 'n proses van inkering na die dieper, kreatiewe vlakke van hulle intuïtiewe regterbrein oor te skakel. Sodoende kom 'n ongelooflike gevoel van liefde, vrede en die eenheid van alle dinge (insluitende die eenheid van alle gelowe) oor die mediteerder en word eenheid, samesmelting en versoening sy groot lewensideaal. Die groot, en steeds onbeantwoorde, kontradiksie in mediteerders se nuwe lewensfilosofie is dat hulle hulself as baie beter Christene as die ander beskou! Hierdie Oosterse psigo-tegniek wat uit Hindoeïstiese Transendentale Meditasie afkomstig is, het nie net kerke nie maar ook die onderwysstelsel binnegedring. Dit is wesenlik deel van suggestopedie, waarin meditasie- en regterbreintegnieke, asook joga ontspanningsoefeninge en barokmusiek deel van 'n nuwe en 'meer kreatiewe' leerproses is. Hierdie gekerstende vorm van okkultisme hou 'n baie groot gevaar vir almal in wat daaraan blootgestel is. Dit is vreemde geeste wat die samelewing deur verskeie poorte binnedring om die koninkryk van die duisternis te bevorder en die krag van die dwaling stewig te vestig. Die volgende teenstellings kan tussen die Heilige Gees en hierdie ander gees gemaak word: DIE HEILIGE GEES 'N ANDER GEES Die Heilige Gees getuig nie van Homself nie. Hy herinner ons aan wat die Here Jesus gesê het en maak Hóm 'n groot werklikheid in ons lewe. Die teenwoordigheid, krag en gawes van hierdie gees word 'n oorweldigende werklikheid en Jesus Christus word subtiel op die agtergrond geskuif. Hy oortuig jou van sonde sodat jy jou werklike probleem kan besef en vergifnis kan kry. Hy laat jou lekker en ontspanne voel sodat jy al jou probleme vergeet en dink dat alles reg is. Hy oortuig jou van God se geregtigheid soos wat dit deur Jesus se volmaakte lewe en sy soendood gestalte gekry het. Hy oortuig jou d.m.v. bonatuurlike ervaringe soos val in die gees en ander 'gawes' dat God met jou is en dat sy krag jou oorskadu. Hy doen sy oortuigingswerk in jou gees en openbaar jou hart en lewe soos wat God dit sien. Hy gebruik mense om suggesties op jou oor te dra en indrukke te skep wat nie van God af is nie. Hy spreek tot jou deur die Woord wat gees en lewe is, en bring sodoende ewige heilswaarhede onder jou aandag. Die Bybel, as God se Woord, word steeds vir jou kosbaarder. Hy gebruik profete as menslike middelaars om boodskappe aan jou te rig oor wat God wil hê dat jy moet doen. Hy spesialiseer ook in buite-Bybelse openbaringe van God, bv. gesigte en drome. Hy is primêr werksaam op die vlak van jou gees en werk op 'n stille manier om jou geestelik te laat ontwaak en jou hart te verlig sodat jy die Here se stem kan hoor en in Hom glo. Hy maak sy teenwoordigheid deur sensuele ervarings kenbaar, soos 'n lekker gevoel, rillings in jou lyf, tintelings op jou vel, of 'n krag wat jou fisies laat sweef of afdruk op die vloer. Hy lei jou na die kruis waar jy van al jou laste bevry en van alle besoedeling van die gees en die vlees gereinig kan word. Hy lei jou dus altyd na Jesus wat jou Verlosser is. Hy verdryf in eie reg die duisternis en skuldkomplekse uit jou lewe sodat jy bly en ontspanne kan voel omdat jy in die lig wandel. Jy is dus van hom afhanklik om jou deur te dra. Indien jy na aanleiding van jou sonde-oortuiging en op grond van Christus se genadewerk jou saak met God regmaak, dan wederbaar die Heilige Gees jou en maak jou 'n nuwe mens. Hy neem jou deur dieselfde uiterlike prosesse van wedergeboorte, maar wederbaar nie jou siel nie. Hy manipuleer net jou gevoelens en skep valse indrukke by jou wat jou laat glo dat jy gered is. Hy oortuig jou steeds van jou sonde sodat jy heilig kan lewe, deur die bloed van Christus gereinig kan word en voortdurend in die lig van God se teenwoordigheid kan wandel. Hy oortuig jou nie van sonde nie, en het geen probleem om met leuens, bedrog, hoerery en halwe waarhede saam te leef nie. Hy gee juis aan sulke mense valse hoop dat hulle saak reg is. Hy kan maklik bedroef word deur 'n ongehoorsame Christen wat willens en wetens kompromie maak en aan die hartstogte en begeerlikhede van die vlees toegee. Hy sal jou van hierdie sonde oortuig sodat jy dit kan bely en laat staan en 'n nuwe oorgawe aan die Here maak. Hy is nie ontsteld oor die sonde wat jy doen nie. Hy sal dit ignoreer maar in die plek daarvan 'n misleidende skuldkompleks by jou skep. As jou standpunte dalk té Bybels fundamenteel is, sal hy jou van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid asook 'n kritiese gees beskuldig. Hy wil jou onseker hou. Hy lei jou om in 'n selfondersoek van alle sonde en ongeregtigheid afstand te doen en die Here vir 'n rein hart te vertrou. Reiniging deur die bloed van die Lam en 'n hart vervul met die Heilige Gees is God se weg vir 'n oorwinningslewe. Hy wil jou deur middel van innerlike genesing na 'n geestelike herprogrammering lei waarin die letsels van die verlede, en selfs van voor jou geboorte, deur belydenis 'reggestel' word. Hy wil jou op dié wyse geestelik heroriënteer vir die toekoms en jou sorge laat vergeet. Hy maak jou Christusbewus sodat die Here Jesus die ereplek as Leidsman van jou lewe kan inneem. Die Heilige Gees is ook die Gees van Christus en fasiliteer net Jesus se Middelaarskap in jou lewe. Hy maak jou van homself bewus en afhanklik sodat jy al jou versoeke en begeertes net aan hom alleen moet rig. Jy word primêr deur hierdie gees gelei en bekragtig. Hy is 'n groter werklikheid as Jesus in jou lewe. Wanneer Hy iemand vervul dan word die persoon heilig, nederig en diensbaar gemaak, en word sy hoofdoel in die lewe die verkondiging van die evangelie van verlossing. Hy skakel by bidure en evangelisasieprojekte in om siele vir Christus te wen. Hy gee aan 'n persoon 'n nuwe selfbeeld wat aan hoogmoed en arrogansie grens. Sy hoofdoel in die lewe word die najaag van geestesgawes en die bywoon van hoogs emosionele lofprysingsdienste waar tekens en wonderwerke gereeld plaasvind. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees kan kennelik aangevoel word waar Hy werksaam is en die Here Jesus verheerlik word. Dit vind op 'n geestelike vlak plaas en lei na verootmoediging, oorgawe en 'n diep vrede en blydskap in die Here. 'n Vreemde gees doen kragtoertjies om mense te beïndruk en te laat dink dat hulle in die teenwoordigheid van die Here is. Omdat mense deel van dié kragvertoning wil wees, kom hulle uit en stel hulself daarvoor oop. Sonder dit voel hulle hol en leeg. Hy leer jou bid. Hy snel jou onvermoë en swakhede te hulp en tree ook vir jou in. Hy gee aan jou verligte oë van die verstand sodat jy die dinge van God kan verstaan en ook intelligent, met oortuiging, en by jou volle positiewe, daarvoor kan bid. Hy leer jou mediteer. Hy help jou om na jou 'regterbrein' oor te skakel en mistiese ervarings te hê. Jy vergeet alles rondom jou, skakel jou 'linkerbrein' af, en ontdek dan die mistiese vlak wat iewers diep in jou onderbewyssyn verskuil lê. Hierin vind jy ontvlugting. Hy beheer die emosies en besluite van mense uit hulle harte. Die sentrum van 'n persoon se beheer oor sy lewe verskuif van die eie-ek beheerde verstand en siel na sy verligte gees. Emosies word van buite af geskep en jy tree soos 'n gehipnotiseerde persoon op. Jy sal lag, huil, brul, blêr, kekkel en blaf sonder dat jy besef waarom jy dit doen. Hierdie lafheid word Bybels geregverdig. Hy lei jou deur die Woord en deur jou gewete, en gee ook aan jou geestelike insig om die Here se wil te ken en te doen. Hy gee aan jou opdragte d.m.v. profesieë wat deur ander mense oor jou uitgespreek word. Uit vrees gehoorsaam jy dit maar. Die Here Jesus is jou Leidsman wat jou deur sy Woord en Gees lei. Jy is 'n dienskneg en navolger van Hom. Die leier van jou groep of kerk word 'n kultusleier wat alle belangrike besluite aan jou voorskryf. Jy moet dit slaafs navolg. Gawes word aan jou gegee om jou as Christen meer diensbaar te maak. Deur die krag van die Heilige Gees kan jy 'n getuie vir Jesus wees en ook oorwin in die stryd teen die mag en versoekings van die Bose. Jy kry die gawes van profetering, waarsêery, wonderwerke en selfgenesing. Jy dink jy heers oor al die vyand se mag. Leierspersone kry 'warm hande' om ander te genees en soms heldersiendheid [dit is buitesintuiglike waarneming]. Jou opdrag is om mense na die Here te lei, waar hulle vergifnis en volle verlossing van sonde kan kry. Dit maak nie saak deur watter vorm van bose mag hulle gebind was nie. Jesus is en bly die Verlosser, en onder die oortuiging van die Heilige Gees moet die persoon sy/haar sonde besef, bely en laat staan. Deur die bloed van die Lam sal sondaars se harte gereinig en die mag van Satan verbreek word. Jy moet 'n gespesialiseerde bevrydingsbediening begin waarin jy met die duiwels praat en hulle in Jesus se Naam gebied om die persoon te verlaat. Jy moet elke sonde aan 'n bepaalde demoon verbind, bv. 'n humeur-duiwel, en hom dan uitdryf. Die slagoffer bly redelik passief in die proses en jy gryp namens hom in. Hy moet dus elke keer na jou toe terugkom met sy probleme. Sodoende word jý vir hom 'n middelaar. Jy is 'n dienskneg van Christus, 'n soldaat van die kruis, en 'n vreemdeling en bywoner in 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Jy weet dat jy ter wille van jou geloof verdruk en vervolg sal word. Die outoriteit vir jou optrede is in God se gesag en beloftes geleë. In die koninkryk van Christus, ná sy wederkoms, sal jy saam met Hom as koning regeer. Dan sal omstandighede heel anders wees. Jy is 'n koning wat nou reeds saam met Christus regeer. Jy het die mag om alle opposisie en teëstand van die vyand uit die pad te vee en te regeer. Jou eie woorde en positiewe belydenis het krag om dinge te verander. Jy hoef nie verdrukking ter wille van jou geloof te hê nie, en ook nie probleme soos siektes en armoede in die gesig te staar nie. Dis alles 'n teken van ongeloof en pas nie by 'n 'koning' wat oorvloed moet hê nie. Die groot aanklag wat die Bybel oor die saak van geestelike misleiding teen Christene rig, is t.o.v. hulle naïwiteit, onkunde en gebrek aan insig oor gevaarlike dinge wat op 'n onskuldige wyse aan hulle voorgehou word: "...as julle 'n ander gees ontvang as [die Heilige Gees] wat julle ontvang het... laat julle jul dit goed geval" (2 Kor. 11:4). Die misleides is dus self vir hulle verwarde toestand te blameer! 'N ANDER EVANGELIE Om begryplike redes sal die verkondiging van 'n ander Jesus onder die beïnvloeding van 'n ander gees ook 'n ander evangelie tot gevolg hê. Die duiwel het in sy misleidingsprogram inderdaad 'n groot aantal 'Christelike' predikers wat hiermee besig is: "Sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie" (2 Kor. 11: 13-15; my beklemtoning). Baie van hierdie wolwe in skaapsklere staan vandag op kansels! Kom ons let op 'n aantal van die ander evangelies wat verkondig word: 1. Dooie vormgodsdiens 'n Evangelie waarin die kruisboodskap en die bloed van die Lam wat vir ons sondes gestort is, asook die gepaardgaande eis van wedergeboorte, nie absolute voorrang geniet nie, lei na 'n dooie vormgodsdiens. Die meeste mense in Suid-Afrika, waarvan 77% aan Christelike kerke behoort, is op pad hel toe omdat hulle godsdienstig maar verlore is. Die mening is al uitgespreek dat net sowat 10% van die mense in dié land 'n getuienis van wedergeboorte het. Die ongeredde meerderheid skuil slegs agter 'n kleed van kerkisme en vormgodsdiens. Die Here sal hulle wegwys (Matt. 7:13-23). In dooie kerke word meesal net 'n denkbeeldige Jesus verkondig wat nie 'n realiteit in mense se harte en lewens is nie. Hulle bewys wél lippediens aan Hom, maar Hy is niks meer as 'n simbool waaraan kerklike tradisies en dogmas gekoppel word nie: "Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos..." (Mark. 7:6-13). Daar is 'n verskeidenheid teologiese tradisies en ander evangelies waardeur die Woord van God kragteloos gemaak word. Hieronder is: * Vergeestelikingsteologie, waarin die grondbetekenis van die Woord van God na willekeur deur vrysinnige denke geherinterpreteer, afgewater en verander word. * Vervangingsteologie, waardeur nuwe begrippe in die Bybel ingelees word. Israel word bv. deur die kerk vervang, met die gevolg dat profesieë oor die herstel van Israel noodwendig vergeestelik word en só hulle letterlike betekenis verloor. * Ontmitologiseringsteologie is 'n benadering waardeur verskeie Bybelse gebeurtenisse as mites verwerp word. Die skeppingsverhaal, asook Noag, die ark en die sondvloed, word as mites beskou; so ook die profeet Jona en die verhaal van die groot vis. Die duiwel en die hel word ook as mites beskou wat nie regtig bestaan nie. * Verbondsteologie, waarin die kruis- en bloedevangelie deur 'n verbond en waterdoop vervang word. Ritusse word dan die grondslag van 'n persoon se redding, terwyl die Drie-enige God waarop hy homself beroep, meesal net in sy gedagtes bestaan en nog nooit regtig in sy lewe ingekom het nie. * Uitverkiesing, in terme waarvan 'n persoon homself as salig beskou omdat God hom uitverkies het, en nie op grond van sy ontmoeting met die Here Jesus en die reiniging van sy sonde deur die bloed van die Lam nie. Die verbondsteologie word aan die uitverkiesing gekoppel, en op dié wyse word die fundamentele evangelieboodskap totaal kragteloos gemaak. * Bybelse moralisering, in terme waarvan verskeie wette en reëls in die Bybel as die grondslag vir die mens se saligheid beskou word. Hierdie werke-heiligheid kan ook rigiede reëls oor kleredrag insluit. Sodoende word daar 'n mooi lewe sonder wedergeboorte nagestreef, en diskwalifiseer mense hulleself vir die hemel (Joh. 3:3). * Geestelike relatiwiteit, waarin die mens sy eie kontemporêre geestelike reëls en belydenisse opstel. Die Bybel word nie as ten volle geïnspireerd beskou nie en meesal slegs histories geïnterpreteer. Jesus se Godheid, sy maagdelike geboorte en die dieper betekenis van sy kruisdood word geïgnoreer. * Kontekstuele teologie as 'n skrifbeskouing waarin die verlossingswerk van Christus gesekulariseer en op die mens se politieke en sosio-ekonomiese behoeftes toegepas word. Die politieke bevrydingsteologie is een van die uitvloeisels van hierdie horisontalistiese toepassing van die Bybel. Geestelike waardes en die mens-God-verhouding word glad nie beklemtoon nie aangesien daar na politieke bevryding gestreef word. Ander kontekste soos groepsbelange, of die kerk en sy dogma, kan ook die evangelieboodskap skeef trek, inperk, afwater en marginaliseer. 2. Israelvisie Die Israelvisie is 'n onbybelse siening dat die blanke nasies van die tien stamme van Israel afstam. Dié mense beweer dat God Hom net met 'Israel' bemoei en dat alle ander rasse verdoemdes is (lees die Patmos-boekie oor die Israelvisie). 3. Koninkryk-nou Die koninkryk-nou teologie is een van die ongelukkige gevolge van 'n antichiliastiese skrifbeskouing. Chilias is van die Griekse woord chilioi afgelei wat duisend beteken. Chiliaste aanvaar die letterlike grondbetekenis van die Bybel, daarom glo hulle aan die herstel van Israel, die koms van die hemelse Bruidegom soos 'n dief in die nag om sy bruid te kom haal (die wegraping), die openbaring van 'n persoonlike Antichris en sy bewind tydens die sewe jaar lange verdrukking, die sigbare koms van Jesus én sy heiliges op die Olyfberg, die verdelging van die Antichris en die valse profeet tydens die wederkoms, die binding van Satan vir 'n duisend jaar, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, en 'n duisendjarige vrederyk op aarde onder die regering van die Messias. Antichiliaste sê dat ons nóú in die duisendjarige vrederyk is, dat die duiwel tans in 'n put gebind is, dat alle beloftes oor Israel se herstel op die kerk oorgedra moet word, dat daar nie 'n persoonlike Antichris en ook nie 'n wegraping en 'n groot verdrukking sal wees nie. Sommige groepe wat hierdie siening huldig, sien hulleself as konings (en selfs klein godjies) wat saam met Jesus regeer, en eis nou reeds die voordele van die koninkryk op. Hulle wil dus hier en nou 'n sigbare Christelike koninkryk op aarde vestig. Anders as die verskillende weergawes van 'n dooie en inhoudlose vormgodsdiens, is die koninkryk-nou teologie op bepaalde uiterlike manifestasies van mag en heerskappy ingestel. Die wêreld moet sien dat hulle in beheer is, en alle ander magte (ook die duiwels) moet die knie voor hulle buig en hulle koningskap erken. 4. Voorspoedsevangelie Nou verwant aan bogenoemde siening is die voorspoedsevangelie. Die Here Jesus word as die oorwinnaar en die gewer van alle goeie gawes gesien. Hy regeer nou en op grond van sy oorwinning oor die magte van die duisternis kan ons ook volkome oorwinning oor siektes, armoede en allerlei ander probleme hê. 'n Persoon wat nie in voorspoed en rykdom leef nie, word as 'n swak gelowige bestempel wat nog nie sy volle erfenis in besit geneem het nie. Hy moet leer hoe om deur visualisering en positiewe belydenis vir homself voordelige omstandighede te skep en in alle opsigte van sy bestaan soos 'n koning te leef. Van strydvoering in 'n bose wêreld (Joh. 16:33, 1 Pet. 4: 12, 1 Joh. 5:19) wil hierdie mense niks weet nie. Ook nie van al die aanslae wat Paulus in sy bediening beleef het nie (2 Kor. 1:8-11 en 11:23-29). Dit, sê hulle, kan alles maklik oorwin word as jou geloof sterk genoeg is. Uit die aard van die saak het sulke mense nie 'n sterk wederkomsverwagting nie omdat hulle 'vrederyk' reeds aangebreek het. Hulle is ook nie ondersteuners van Israel nie omdat hulle self God se volk op aarde is. 5. Rekonstruksionisme As 'n kombinasie van die vorige twee sieninge behels rekonstruksionisme 'n plan van aksie om die wêreld oor te neem en oral Christelike regerings te vestig. Op dié manier moet die koninkryk van God ook fisies op aarde kom. Rekonstruksioniste is baie positief oor die toekoms, en hulle verwag groot herlewings. Hulle is vas oortuig daarvan dat Christelike regerings verkies gaan word en dat Christene oral hoë poste sal verkry en in sleutelposisies in die openbare lewe aangestel sal word. Op grond van hierdie verwagting het baie rekonstruksioniste verwag dat die Here deur hulle sy Utopia in 'n land of op aarde sal begin skep. Hulle het met groot oortuiging aan verkiesings deelgeneem om só die beheer in 'n land oor te neem. Tot hulle bittere ontnugtering is die verkiesings omtrent oral deur humanistiese, nuwe wêreldorde georiënteerde partye gewen (soos bv. in Amerika en Suid-Afrika). Dié mense is so positief dat hulle niks van negatiewe dinge soos die Antichris en groot morele en godsdienstige verval in die eindtyd wil weet nie. Hulle is positiewe denkers en skep in hulle gedagtes die ideale Christelike wêreld. Volgens die Bybel gaan hulle mooi drome egter nie realiseer nie, omdat daar in die eindtyd donker tye oor die aarde kom (Matt. 24:21-22, 2 Thess. 2:3, 2 Tim. 3:1-5, Op. 3:10). Sonder om ongelowig of fatalisties te wees, moet mens duidelik kennis neem van die tydsomstandighede wat volgens die Bybel op aarde gaan heers, en terdeë daarmee rekening hou. Vrede sal nie op die aarde neerdaal voordat die Vredevors teruggekom en die vyand verdelg is nie! 6. Buite-Bybelse openbaringe In baie evangelies word daar deesdae, soos ook in die nie-Christelike gelowe, ál hoe meer erkenning aan buite-Bybelse openbarings gegee. Dit sluit drome en visioene in, asook profesieë wat nie direk aan die Bybel gekoppel is nie. Die boeke van profete soos Nostradamus word herdruk en is in groot aanvraag. Geskrifte van die Boere-profeet van weleer, siener Van Rensburg, geniet ook wye aanhang in hierdie tyd van onsekerheid en onkunde oor Bybelse profesieë. Gesigte en visioene neem só toe dat die mense hulle al hoe minder aan Bybelse profesieë steur. Die gevolg is dat hulle hulself blootstel aan geestelike boodskappe waarvan hulle die oorsprong glad nie ken nie, en wat dus ook nie geverifieer kan word nie. In goedertrou aanvaar hulle hierdie inligting en voorskrifte omdat die profeet of dromer dan 'n 'Christen' is. Daar is egter waarsêende geeste wat van die duiwel af is, asook okkultiese gawes van heldersiendheid, afstandswaarneming en astrale projeksie wat deur selfaangestelde profete gebruik word om mense mee te mislei. Kristalballe word ook vir dié soort profesieë gebruik. Die Bybel waarsku ons daarteen dat daar veral in die eindtyd baie valse profete op die toneel sal verskyn en baie mense sal mislei (Matt. 24:11; 2 Pet. 2:1-3; 1 Joh. 4:1). Dit is in ons eie belang om net by die Bybel te bly en dit as die enigste bron van kennis oor God se raadsplan vir die mens te gebruik. Luister na die stem van Heilige Gees soos wat Hy die Woord aan jou openbaar. 7. Universalisme Die eindbestemming van alle valse en verdraaide evangelies is die universalistiese evangelie van die nuwe wêreldorde en die Nuwe Era Beweging, waarin hulle almal saam as 'n korporatiewe alliansie van wêreldgodsdienste hegte aansluiting bymekaar vind. Hulle adem dieselfde gees van verderf en is op dieselfde ideaal van wêreldeenheid ingestel. Soos verskillende vertakkinge van 'n rivier vloei hulle saam en vat hande om hulle gemeenskaplike ekumeniese doelstelling van eenheid op aarde te verwesenlik. Die tradisioneel Protestantse wêreld het met slegs geringe uitsonderings tot in sy kern verrot geraak en werk nou hartlik met die nie-Christelike godsdienste saam. Ten spyte van sekere vervalle, liberale teoloë se aansprake oor die algemene genade van God, kan die geskrifte van ander gelowe beslis nie as openbaringskanale van God se wil aanvaar word nie. Net die Bybel het God se stempel van egtheid. Die absolute profetiese akkuraatheid daarvan het al die toets van etlike eeue deurstaan. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar die onverganklike Woord van die Here sal vir altyd stand hou! (Matt. 24:35). Die verdorwenheid van moderne teologiese denke neig tans vinnig in die rigting van 'n holistiese samehang met die ander gelowe. Hulle werk koorsagtig aan hulle universele teologie en bou hartlik saam aan 'n nuwe toring van Babel. Die intergeloofsbeweging gaan wêreldwyd van hierdie holistiese veronderstelling uit. Hulle bring die verskillende gelowe bymekaar uit en smee bande van samewerking en eenwording. Eers bevorder hulle die idee van godsdiensgelykheid. Daarna is godsdienseenheid op hulle agenda, gebaseer op die veronderstelling dat alle gelowe dieselfde God aanbid. Wanneer dié idee gevestig is, sal die gemeenskaplike Messias van alle godsdienste, die Antichris, op die toneel verskyn en vinnig na godsdienstige en politieke wêreldleierskap uitstyg. Die hoof van die hiërargie van ander Jesusse sal dan geopenbaar wees. DIE EKUMENIESE BEWEGING Die mees uiterste vorm van godsdienstige verval word in die sinkretisme van die ekumeniese beweging aangetref. Binne die verband van alle groot godsdienste begin daar eers net 'n interne eenheidsbeweging om skeurings te oorbrug en kerke weer bymekaar uit te bring. In hierdie stadium van die proses voel die aanhangers van 'n kerkfamilie nie bedreig nie, omdat die eenheid 'n interne saak is om onderlinge harmonie te skep en hulle eie huis in orde te kry. Spoedig gaan die verenigingsbeweging egter oor die grense van sy aanvanklike doelstelling, en word daar samewerking en eenheid met alle wêreldgodsdienste nagestreef. Die sinkretisme en kompromie neem dan geweldige afmetings aan omdat niks in die pad van 'n godsdienstige wêreldbroederskap mag staan nie. Die einde van hierdie pad van kompromie en eenwording is die openlike verering van 'n gemeenskaplike wêreldmessias, die Antichris (Op. 13:4). Die samewerking met valse godsdienste is egter van die begin af deur die Here verbied: "Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie" (Ex. 20:2-3). Wat die ekumeniese beweging egter doen, is om die aandag van God af te trek en in 'n horisontale gerigtheid sy eie godsdienstige mag te konsolideer. Uiteindelik word daar met ander godsdienste saamgewerk om hierdie magsbasis tot op sy maksimum potensiaal te verbreed. Daar word nie alleen met die aanbidders van ander gode onderhandel en saamgewerk nie, maar dit word ten koste van die God van die Bybel gedoen. In sy diepste wese is die ekumeniese beweging dus 'n sataniese sameswering teen die Bybel en teen die enigste ware godsdiens. Daar sal nou kortliks op die geskiedenis van die ekumeniese beweging binne Christelike verband gelet word, en aangetoon word dat dit ook universele doelstellings het. Die Wêreldraad van Kerke * In 1948 is die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Amsterdam gestig met die doelstelling van Een Kerk vir Een Wêreld. Van die begin af was dit egter duidelik dat dié liggaam nie net die Christelike kerke wil verenig nie, maar inderdaad 'n wêreldwye alliansie van godsdienste wil skep. Die volgende besluite en standpunte dien as bewys hiervan: * In 1961 het die WRK sy derde sessie in New Dehli gehad. Die tema van die konferensie was: Jesus Christus, die lig van die wêreld. Hiermee is nie die Bybelse Christus bedoel nie, maar die Kosmiese Christus. Hindoes en Boeddhiste is as anonieme Christene beskryf op grond van die algemene genade. Dit berus op die veronderstelling dat Jesus die hele wêreld met God versoen het. Sommige mense weet dit nog nie, maar hulle is reeds met God versoen en op pad hemel toe (aldus die WRK). * In sy 1968 konferensie in Uppsala, Swede, het die visie van die WRK verder as die vereniging van die kerk gegaan en het hulle hul vir 'n verenigde mensdom in 'n nuwe internasionale orde begin beywer. Mense van alle rasse, kulture en godsdienste moet vir die nuwe wêreldorde verenig word. Hiervoor is die volgende twee programme gestig: Die Program om Rassisme te Beveg, waardeur geweld in die bevryding van mense en volkere teologies geregverdig en miljoene rande aan sg. bevrydingsbewegings geskenk is om 'onderdrukkende' regerings tot 'n val te bring. Dan is daar ook die minder bekende Program van Dialoog met die Lede van Ander Lewende Godsdienste gestig. Sedert 1970 toe laasgenoemde program begin is, is daar nie meer van nie-Christelike godsdienste gepraat nie, maar van ander lewende godsdienste. Die idee van die universele God van alle gelowe word hierdeur gepropageer. Dié program se Bangkok-konferensie in 1973 is in die lig hiervan nie deur 'n Christen geopen nie, maar deur die presidente van die Wêreld Boeddhistiese Vereniging. Sy het die gode van alle godsdienste aangeroep om aan die mensdom redding te skenk. * Op die 1975 Nairobi konferensie van die WRK is die verdere, meer intieme vereniging van die mensdom bespreek. Een van die geslote vergaderings oor geestelikheid is deur Katolieke, Ortodokse- en Pinkster-Christene, asook Hindoes, Boeddhiste en 'n ateïs bygewoon. * Die 1983 Vancouver konferensie in Kanada het ook erkenning aan die tradisionele geloof van die Rooi Indiane gegee. 'n Totempaal is opgerig wat al die verskillende geeste verteenwoordig. Die voorstel is hier gemaak dat alle godsdienste hande moet vat om vrede op aarde te help bevorder. * Op die 1991 konferensie in Canberra, Australië, is gesê dat 'n versoenende benadering deur die Christelike godsdiens gevolg moet word. Geregtigheid en vrede moet oral bevorder word. Daar is beklemtoon dat dit 'n intergeloofsaksie sal moet wees, omdat een godsdiens alleen nooit vrede in 'n troebel en verdeelde wêreld sal kan bring nie. By hierdie konferensie het toordokters van die Australiese Inboorlinge 'n vuur met nat blare gemaak, sodat dit 'n digte rookwolk afgegee het. Die 4000 afgevaardigdes is toe versoek om deur die rookwolk te loop om hulle vir die voorvadergeeste van die Inboorlinge aanvaarbaar te maak. Die bewering is gemaak dat die Heilige Gees ook in die rookwolk teenwoordig was. Dit is hoogs godslasterlik om die Heilige Gees met demone en die geeste van voorvaders gelyk te stel. Op die konferensie is gesê dat sendingwerk onnodig is, omdat God in alle kulture en gelowe aanwesig is. Die Christendom is vir die WRK dus nie 'n unieke openbaringskanaal van God nie, maar een van baie gelowe waardeur Hy Homself aan die wêreld openbaar. Alle godsdienste is uit dié oogpunt gelyk en die een mag die ander nie in 'n slegte lig stel nie. Streeksrade van kerke Daar is in verskeie lande streeksrade van kerke wat erkenning aan die WRK gee, en ook befondsing van die WRK en ander ekumeniese liggame ontvang het. Twee hiervan is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Council of Churches in Namibia (CCN). Die SARK was sedert sy ontstaan in 1968 ten nouste by die bevordering van die WRK se bevrydingsteologie betrokke, wat op die politieke bevryding en sosio-ekonomiese opheffing van onderdruktes gerig is. Ander terme vir dié mensgerigte en polities-georiënteerde teologie is protesteologie, teologie van die revolusie en kontekstuele teologie. Dit is soms ook swart teologie genoem en tans word die klem op die teologie van versoening geplaas. Die algemene sekretaris van die SARK, Me. Brigalia Hlophe Bam het onlangs die voorwoord vir haar organisasie se boekie Rite of Reconciliation geskryf. Hierin word versoeningsrituele aan lidkerke voorgestel waarin die voorvadergeeste aangeroep én Christus ook aanbid word. Hierdeur volg sy die tradisie van haar voorgangers na, wat ooreenkomstig die voorbeeld van die WRK dikwels die hand van versoening na ander gelowe uitgesteek het. Die voormalige algemene sekretarisse van die SARK was diep by die intergeloofsbeweging betrokke. Dr. Frank Chikane het in 1990 die hoofreferaat op 'n konferensie van die multigodsdienstige Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV) in Johannesburg gelewer. Hy het gesê: "Ek wil graag die WKGV bedank vir sy goeie werk in Suid-Afrika. In die laaste paar jaar het dit kontak bewerkstellig en konstruktiewe dialoog met mense van verskillende gelowe gevoer en daardeur 'n beter verstandhouding tussen hulle geskep. Hierdeur is daar op die stryd teen apartheid voortgebou, omdat mense van verskillende gelowe skouer aan skouer teen hierdie bose sisteem geveg het." Dr. Chikane het in sy referaat verskeie WRK uitsprake aangehaal ter ondersteuning van sy voorstel vir 'n sekulêre staatsvorm in Suid-Afrika waarin daar geen statutêre erkenning aan een godsdiens bó 'n ander gegee moet word nie. Hy werk dus mee om die Christendom te ondermyn. 'n Ander voormalige sekretaris van die SARK is dr. Beyers-Naudé. Sy versoek is dat die Verenigende Gereformeerde Kerk nie alleen tot die SARK sal toetree nie, maar ook by die WRK moet aansluit. Nog 'n voormalige algemene sekretaris, aartsbiskop Tutu, het die vreemde stelling gemaak dat God nie 'n Christen is nie! Hy sê dat God veel langer as die Christendom bestaan. In gedenklesings tot Tutu se eer is die geleentheid ook al aan 'n Moslem gebied om 'n referaat te lewer. John de Gruchy was ook 'n baie prominente lid van die SARK, en redakteur van die tydskrif, Kairos. Deur sy geskrifte is die kontekstuele bevrydingsteologie sterk gepropageer. Later was hy professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, en tans direkteur van die RGN se Instituut vir Vergelykende Godsdiens. Volgens 'n tydskrif van die RGN sien hy sy huidige taak soos volg: "Die Instituut poog om beter begrip tussen die verskillende gelowe in Suid-Afrika te skep... Godsdiensonderrig in skole behoort nie net in die belang van een godsdiens te wees nie, maar onderrig te bied wat tot 'n beter verhouding tussen al die gelowe in ons land sal lei." Heidense rituele In die lig van bogenoemde intergeloofstendense is dit vanselfsprekend dat die SARK in die nuwe Suid-Afrika die weg van verbroedering met die inheemse godsdienste veel meer openlik sal bewandel. Dit is inderdaad wat op die oomblik besig is om te gebeur. Een van die skokkendste verwikkelings aan die ekumeniese front in Suid-Afrika is die SARK se openlike pogings om vooroueraanbidding en heidense rituele in hulle Christelike lidkerke aan te moedig. Die SARK het in sy publikasie, Rite of Reconciliation, verskeie voorbeelde van versoeningsrituele beskryf wat in kerke uitgevoer kan word. Dit is onder meer gedoen in 'n poging om aan die doelstellings van die Waarheids- en Versoeningskommissie uitvoering te gee. In hierdie rituele word daar van water, vuur, gal, bloed, bier en olie gebruik gemaak. In een van die reinigingsritusse word daar van vuur as 'n genademiddel gebruik gemaak. Die aanbidders vergader rondom die vuur, hou hulle hande na die vuur toe uitgestrek, en bid onder meer soos volg saam: "Vader, heilig hierdie vuur en gee dat 'n nuwe vlam van hoop deur die Here Jesus Christus in ons harte sal brand. Reinig ons deur hierdie vuur van die vlekke aan ons siele. Brand ook die mure weg wat skeiding tussen ons maak. Inspireer ons deur die vuur met moed om die waarheid te aanvaar. Dryf deur hierdie vuur ook die spook van die verlede uit." In 'n verdere ritueel word die gebruik van 'n spesiale drankoffer soos volg in die boekie voorgeskryf: "Bier, bloed, of water word met mieliemeel in 'n kalbas gemeng en gebruik. Assegaaie, knopkieries, gewere en ander gepaste simbole word op 'n kombers of deken op die vloer gesit. Onder gebed word die drankoffer dan stadig oor die simbole uitgegiet waardeur die voorvaders en die geeste van diegene wat onregverdiglik in die stryd vir of teen die apartheidsregering gesterf het, voorgestel word. In die gebed word gesê: Terwyl ons hierdie drankoffer uitgiet, roep ons ons voorvaders om by die versoeningseremonie teenwoordig te wees. Ons nooi die geeste van al die onskuldige slagoffers wat onnodig gesterf het as gevolg van menslike blindheid... Ons vra God se krag... Ons vra vir Jesus Christus... Ons roep die geeste van ons voorouers op..." In 'n ander ritus word 'n bok in die kerk ingebring en al die sondes van verdeeldheid, haat en onverdraagsaamheid op sy kop gelê, waarna die sondebok uit die kerk gelei word. In nog 'n ritus word van gal gebruik gemaak om die aanbidders in die kerk teen die bose gees te beskerm wat byna die beeld van God in hulle vernietig het. Nouer assosiasies Die skaamtelose kompromie van die WRK werk vinnig na al sy geaffilieerde streeksliggame soos die SARK deur. As die wortel bedorwe is, dan is die takke van die boom ook verrot. Hierdie bose moederorganisasie en haar dogters is geen plek vir evangeliese Protestantse kerke om hulle in te begewe nie. Dit is nie net 'n geval van 'n bietjie suurdeeg wat die hele deeg suur maak nie (1 Kor. 5:6), maar 'n totaal antichristelike bondgenootskap waarin daar in een juk met die afgode getrek word. Die Bybel sê dat ons onder hulle moet uitgaan as ons hoegenaamd aan die eer van die Here en die suiwerheid van ons geloof waarde heg (2 Kor. 6:14-18). Dit is ook heeltemal onregverdigbaar om waarnemerstatus by sulke organisasies te aanvaar en saam met hulle in dieselfde kring te gaan sit. Dit is net die begin van gevaarlike ekumeniese samewerking wat uiteindelik na noue bande en ook na die godsdienstige kompromie van universalisme sal lei. Daar is ook 'n groot gevaar geleë in die stelling dat die verskillende kerke in 'n land met 'n verenigde stem moet praat ten einde inspraak en gesag by die regering van die dag te kan hê. Omdat die betrokke regerings hulleself nie meer amptelik tot die Christendom verbind nie, volg hulle nou 'n beleid van godsdiensgelykheid tussen alle gelowe. Die Christelike godsdiens word dus van regeringsweë af saam met ander gelowe geklassifiseer, ook saam met voorvaderaanbidding en towery. Dit blyk reeds uit die feit dat Christelike predikers saam met die nie-Christelike gelowe tyd op die TV program Kompas deel. Die nuwe onderwysstelsel sal ook nie meer Christelik-nasionaal wees nie, maar sekulêr met geen formele verwysing na godsdiens nie, of, alternatiewelik, multigodsdienstig-internasionaal. Die Bybelse weg is dié van totale distansiëring van diegene wat nie ongekwalifiseerd die Bybelse Christendom erken nie. Jou heil is nie by kompromiemakers geleë nie, maar by die Here Jesus wat jou roep om die wêreld te verloën. Ander ekumeniese liggame Die WRK gee ook sy ondersteuning aan ander ekumeniese liggame in die groeiende intergeloofsbeweging. Een hiervan is die Wêreldparlement van godsdienste. In Augustus 1993 het 7000 afgevaardigdes van 250 godsdienste, waaronder ook hekse en towenaars, in Chicago, VSA, vir die grootste en mees verteenwoordigende intergeloofsberaad van alle tye vergader. 'n Verklaring van universele etiek is aanvaar. Verskeie regerings, asook die Verenigde Nasies, steun die inisiatief vir die vestiging van 'n bond van wêreldgodsdienste. Hulle sien dit as 'n belangrike faktor in die vestiging van 'n godsdienstige wêreldbroederskap wat die regte internasionale klimaat vir die nuwe wêreldorde sal skep. Dit is die rede waarom die VN ook self 'n ekumeniese liggaam ter wille van vrede en eenheid in die lewe geroep het, naamlik die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV). Dit is 'n kategorie 2 nie-regeringsorganisasie. Die WKGV is ook sterk in Suid-Afrika werksaam onder die presidentskap van dr. Gerrie Lubbe van Unisa se departement Godsdienswetenskap (Hy is deur prof. Kobus Krüger van dieselfde departement as president opgevolg). Hy het gesê dat daar geen vrede in die wêreld sal wees as daar nie eers vrede tussen die verskillende godsdienste geskep word nie. Dit beteken dat volgelinge van Christus, Boeddha, Krishna en Mohammed saam met die voorvaderaanbidders en toordokters om dieselfde vuur moet sit en 'n vredespyp rook, anders kan daar nie vrede in die wêreld wees nie! Die intergeloofsinisiatiewe wat tans aan die gang is, gaan volgens die Bybel inderdaad op 'n alliansie van valse gelowe uitloop wat groot invloed en mag in die wêreld sal kry. In Openbaring 17:3-6 word dié liggaam as 'n ontugtige vrou voorgestel wat op die dier [die Antichris] se rug sal ry. Sy sal die bloed van die ware Christene wat nie met haar wil saamwerk nie, aan haar hande hê. In ruil vir 'n kort tydjie van internasionale erkenning en roem sal sy haar siel aan Satan verkoop. Soos Esau, sal sy nie die rampspoedige, ewige gevolge van haar optrede in ag neem nie.