Multigodsdienstige Onderwys vir die Nuwe Wêreldorde Deur Prof JS Malan Opsomming: Voorbereidende stappe vir die implementering van 'n nuwe beginsel van multigodsdienstige onderwys word in hierdie artikel bespreek, asook 'n Unisa handboek wat onder andere vir die intergeloofsopleiding van onderwysers geskryf is. Ons beleef tans die intensiefste en mees venynige aanslag teen die Christelike beskawing en Christelike onderwys wat ooit in die geskiedenis van Suid-Afrika voorgekom het. Deur die huidige multigodsdienstige en multikulturele hervormings op onderwysgebied gaan die jeug van ons land in die volgende paar jaar in staatskole ten volle aan die misleiding en druk van 'n fyn uitgewerkte antichristelike lewens- en wêreldbeskouing onderwerp word. Die regering en 'n aantal van die voorste universiteite, saam met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), ekumeniese organisasies en ander drukgroepe, is tans met radikale onderwyshervormings met die oog op multigodsdienstige en multikulturele onderwys besig. Hulle mik daarop om die nuwe stelsel binne die volgende agt jaar (tot 2005) ten volle ontplooi te hê. Ten einde die nuwe benadering op 'n vaste grondslag te plaas, word leerplanne vir die opleiding van onderwysers herskryf, en heroriënteringskursusse vir bestaande onderwysers aangebied. 'n Konferensie met die oog hierop is in Julie vanjaar deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se Departement van Godsdienswetenskap onder die leiding van prof. Kobus Krüger aangebied. Die LUK vir Onderwys in Gauteng, me. Mary Metcalfe, het onderwysers in haar provinsie aangemoedig om die konferensie by te woon. Waarom alle gelowe? Die hoofreferaat op die Unisa konferensie is deur prof. Krüger gelewer, onder die titel: Waarom multigodsdienstige onderwys? Hy het homself baie sterk teen die Christelik-nasionale onderwysstelsel van die verlede uitgespreek, omdat net een godsdiens daardeur bevoordeel is. Hy verwys daarna as 'n monogodsdienstige model wat op dwang en die ontkenning van die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing gebaseer was. Hy definieer multigodsdienstige onderwys só: "Multigodsdienstige onderwys gee toegang tot meer as een godsdiens deur onderrig daaroor aan te bied. Dit geskied binne een raamwerk van verstaan, in een sillabus, een handboek, een klaskamer en deur een onderwyser. Dit is 'n alternatief vir die eksklusief-fundamentalistiese standpunt waardeur ander godsdienste uit die onderwysterrein verban is uit vrees vir kontaminasie, asook vir die sekulêr-verwerpende standpunt wat alle godsdiens (ook die oop, multigodsdienstige model) uit die leerproses wil verban. Die nuwe benadering is nie daarop gerig om geloof te skep nie, maar ook nie om dit te vernietig nie. Dit is op kennis en begrip ingestel sodat die kind 'n volwaardige volwassene kan word. Die meeste van Suid-Afrika se volwassenes het óók behoefte aan multigodsdienstige onderrig." Prof Krüger het die mening uitgespreek dat multigodsdienstige onderwys as 'n algemeen vormende komponent van onderwys op alle vlakke, van die eerste graad tot by die hoër grade, ingesluit moet word. Hy voorsien 'n groot behoefte hieraan vir alle skole, veral in die multikulturele gemeenskappe van ons land. Sinkretisme Die groot probleem met 'n benadering van hierdie aard is die sinkretistiese beïnvloeding van een godsdiens deur 'n ander. 'n Bepaalde godsdiens verloor sy unieke karakter en duidelike dogmatiese begronding, omdat raakpunte in multigodsdienstige onderrig met ander gelowe gesoek word. Die positivistiese manier waarop die nie-Christelike gelowe in handboeke beskryf word, is daarop ingestel dat die kind moet ontdek dat daar iets goeds in alle godsdienste is. Die noodwendige gevolg hiervan is dat die grense tussen die wêreldgodsdienste begin vervaag, en dat die een godsdiens homself deur die kennis wat hy van 'n ander een opdoen, verryk. Sodoende word brûe tussen hulle gebou. Dit is presies wat prof. Krüger en sy medewerkers probeer bereik. Hulle verskaf ook die soort inligting wat hierdie benadering in die hand werk. In sy referaat vernou prof. Krüger die afstand tussen verskillende godsdienste wat volgens hom tot een familie behoort, deurdat hulle mekaar na bewering van die vroegste tye af aansienlik oor en weer beïnvloed het. Hy sê dat die Christendom, Judaïsme, Islam, die Bahai geloof en Zoroastrisme tot een familie behoort met sterk onderlinge bande. Hulle is almal "lote wat uit dieselfde godsdienstige bos gegroei het." Hy verwys ook in 'n positiewe sin na die vermenging tussen die Afrika gelowe en die Christendom in sommige van die onafhanklike swart kerke in Suid-Afrika. Die stelling word deur prof. Krüger gemaak dat godsdiens 'n algemeen menslike attribuut is. Daar is dus 'n godsdienstige grondmotief by alle mense aanwesig, 'n soort gesamentlike religieuse dryfveer wat ons met mekaar deel. Alle godsdienste lewer volgens hom bewyse van 'n generiese, pan-humanistiese oorsprong. Dit verklaar waarom daar so baie ooreenkomste tusen hulle is, en hierby voeg hy: "Dit is waarom Hindoes en Afrika tradisionaliste, Jode en Taoïste, Boeddhiste en Christene mekaar so besonder goed kan verstaan wanneer hulle die geleentheid daartoe gebied word. Dit is ook waarom die bestudering van ander godsdienste so 'n verrykende ondervinding in 'n mens se eie godsdienstige wêreld is." Hy kom in sy referaat tot die volgende konklusie: "Indien multigodsdienstige onderrig reg aangebied word, behels dit meer as om net die feite oor 'n aantal ander gelowe te leer ken. Kom ons skakel dit by ons 'holistiese' siening in as iets wat die hele mens as 'n fisiese, psigiese en sosiale wese raak, en by dit wat van die vroegste tye af tot vandag toe deel van die veelvuldige sosio-kulturele manifestasies van die ganse mensdom is." 'n Totaal nuwe, universalistiese (holistiese of pan-humanistiese) lewens- en wêreldbeskouing word deur hierdie benadering bevorder. Die einddoel daarmee is 'n vorm van religieuse globalisme ('n mistiese, internasionale broederskap tussen alle gelowe) waardeur wêreldburgers vir die komende nuwe wêreldorde in die klaskamers van alle skole gekweek gaan word. Dit word met die oog op die vreedsame voortbestaan van 'n verenigde mensdom gedoen, daarom sal humanistiese wêreldleiers hulle volle steun hieraan gee. Godsdienstige eksklusiwiteit sal ontmoedig, gediskrediteer en uiteindelik verbied word. Die Verenigde Nasies het vroeg in die jare 70 reeds sy goedkeuring én aktiewe steun aan dié nuwe benadering gegee, waardeur politieke en godsdienstige ideologieë met die oog op wêreldeenheid en wêreldvrede moet hande vat. Die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV) is deur die VN as 'n Kategorie 2 nie-regeringsinstelling in die lewe geroep om deur multigodsdienstige samewerking vrede en eenheid op aarde te help skep. Die Suid-Afrikaanse tak van die WKGV is besonder aktief, en beide prof. Krüger en dr. Gerrie Lubbe van Unisa se Dept. Godsdienswetenskap speel 'n groot rol daarin. Hulle het dus 'n betekenisvolle aandeel in die aanloop tot die multigodsdienstige grondwet en onderwysstelsel van die nuwe Suid-Afrika. Dit is vanselfsprekend dat hulle hierop sal voortbou om hulle leiersposisie in die nuwe benadering te handhaaf. 'n Nuwe handboek In Augustus 1996 is 'n nuwe handboek vir die multigodsdienstige onderrig van studente en onderwysers deur Unisa se Departement Godsdienswetenskap gepubliseer. Die titel daarvan is The human search for meaning - a multireligious introduction to the religions of humankind, en die outeurs is J.S. Krüger, G.J.A. Lubbe en H.C. Steyn. Die uniekheid van die verskillende godsdienste word in die boek erken, maar sterk klem word ook op hulle onderlinge ooreenkomste gelê. 'n Paar sake word sommer heel gou duidelik wanneer die boek gelees word (aanhalings is in Afrikaans oorgesit): Christelike jaartellings word nie gebruik nie. In plaas van BC (Before Christ) word BCE (Before the Common Era) gebruik, en in die plek van AD (Anno Domini - die jaar van onse Here) word slegs na CE (Common Era) verwys. Hierdeur word ook die geskiedenis van sy Christelike konnotasies en verwysingsraamwerk 'bevry'. Daar word nie na die skepping van die mens verwys nie, maar na sy menswording (hominisation) in 'n evolusionistiese konteks: "Ons kan aanvaar dat [godsdiens] tussen 2 miljoen en 200 000 jaar gelede met die proses van menswording begin het... Afrika is heelwaarskynlik die kontinent waar die mens, en dus ook godsdiens, sy ontstaan het" (bl. 15). Die Bybelse verwysing na die Midde-Ooste as die terrein van die mens se oorsprong, word geïgnoreer. Al die nie-Christelike godsdienste word positivisties en in gloeiende terme beskryf. Hulle voortreflikhede word telkens genoem. Teenstrydighede en historiese vaagheid word oor die hoof gesien, en sg. wanopvattings namens hulle reggestel. Die Bybelse weergawe van die Christendom word egter op meer as een plek onder 'n wolk van verdenking geplaas - tot só 'n mate dat daar oor verskeie sake, insluitende die Nuwe Testamentiese weergawe van Christus en sy leerstellings, nie 'n finale standpunt ingeneem word nie. Daar word op nuwe bevindings gewag. Die Afrika gelowe Die twee uitstaande dwalinge van die Afrika-gelowe, nl. 'n vae beeld van 'n skeppergod wat selde of ooit aanbid word, en die aktiewe aanbidding van die voorvadergeeste, word beide in hierdie boek ontken. Sodoende word duidelik gepoog om 'n positiewe (maar valse) beeld van die inheemse gelowe van swart Afrika te skep. Oor God in die Afrika-godsdienste word gesê: "Die vroeë sendelinge het die Opperwese as 'n God geïnterpreteer wat homself van sy skepping onttrek het... Hierdie idee van 'n deus otiosus was nie net onakkuraat nie, maar 'n totale wanvoorstelling van die Afrika-beskouing van die Opperwese. Dit is moontlik gedoen om die Afrika-gelowe te kontrasteer met die aktiewe teenwoordigheid van God in die Christendom en Islam." (bl. 32) "Die eerbied vir middelaars word as eerbied vir God bedoel... Gebede en rituele aan God moet deur bemiddelaars geskied. Hierdie tussengangers is die voorvadergeeste." (bl. 33) Die verregaande en totaal foutiewe stelling word dan gemaak dat die voorvaders net vereer en nie aanbid word nie: "Aan die een kant geniet die voorvaders die respek en eerbied van hul lewende nageslag deur in familie-funksies en in besluitneming in gedagtenis gehou te word. Aan die ander kant vertrou die lewende familielede op die voorvaders vir beskerming en voorspoed. Hoewel die voorvaders onthou en soms ook gevrees word, sou dit 'n verdraaiing wees om te beweer dat hulle aanbid word" (bl. 34; eie beklemtoning). Daar is letterlik honderde voorbeelde in antropologiese boeke van gebede en offers wat regstreeks aan die voorvaders gerig word. Dit geskied nie in hulle beweerde hoedanigheid as middelaars tussen die mens en God nie. Daar word geglo dat die voorvaders oor die mag beskik om hul lewende nageslag te beïnvloed, daarom bid swartmense tot die voorvadergeeste om hulle te seën en nie te straf nie. Ook word die voorvaders as die beskermhere van stamtradisies gesien, en word hulle gevrees omdat hulle familielede wat onordelik en in stryd met tradisies optree, kan straf. Smeekbede word saam met versoeningsoffers deur oortreders aan hulle gerig sodat strafmaatreëls gestaak kan word. Dit is dus die voorvadergeeste wat deur die tradisionele Afrika-mense gelukkig en tevrede gehou moet word, en nie die skeppergod waarvan hulle net vaagweg bewus is nie. Hierdie goed gedokumenteerde feite word egter ook in die boek ontken: "In die Afrika etiek word dit as vanselfsprekend aanvaar dat mense voortdurend bewus is van die feit dat dit in God se wêreld en as God se skepsele is dat hulle leef en werk. Op hierdie manier is God inderdaad op alle vlakke van die individu se lewe teenwoordig." (bl. 37) Hierdie bewering dat die heidene God reeds ken, stem ten nouste ooreen met 'n stelling wat in 1991 in Canberra op die Wêreldraad van Kerke se konferensie gemaak is. 'n Koreaanse professor in teologie het gesê dat God in alle godsdienste en alle kulture teenwoordig is, en dat dit nie vir sendelinge nodig is om Hom aan ander volke voor te stel of te verkondig nie. Sendingwerk is dus onnodig en ongevraagd. Hindoeïsme Die Vedas is die heilige geskrifte van die Hindoes. In die politeïsme van hierdie geloof staan drie gode bo die ander uit. Dit is Brahma wat met die skepping verbind word, Vishnu wat met die onderhouding van lewe gemoeid is, en Shiva wat vir vernietiging verantwoordelik is. Hierdie gode het in die vorm van geestelike meesters (avatars) na die aarde neergedaal. Rama en Krishna word na aanleiding van dié opvatting as inkarnasies van Vishnu beskou. (bl. 69) Die Hindoe godsbegrip is kompleks en teenstrydig. In een opsig word Brahma as 'n panteïstiese god beskou wat in alle dinge en mense teenwoordig is, en in 'n ander opsig as 'n transendente, persoonlike god. Die Hindoeïste het 'n sterk leerstelling oor reïnkarnasie. Hulle glo dat die menslike siel dikwels in ander liggame op aarde gebore word. Die liggaam word oud en sterf, maar die siel word weer in 'n nuwe liggaam gebore om sodoende sy ontwikkeling na hoër vlakke van goddelikheid voort te sit. 'n Beter karma word deur goeie werke en geregtigheid (dharma) opgebou. Uiteindelik sal die siklus van nuwe geboortes verbreek word wanneer die siel met die universele god saamsmelt. Vroeër of later sal dit met elke mens gebeur - niemand gaan verlore nie. Vir die onkundiges en dwalendes sal dit net langer neem om dié toestand te bereik. 'n Persoon met 'n slegte karma, wat deur negatiewe en selfsugtige dade gekenmerk word, sal in sy volgende lewensiklus gestraf word deur 'n minderwaardiger en moeiliker lewe te lei. Iemand met 'n goeie karma sal voorspoed, aansien en seëninge ervaar. (KOMMENTAAR: Uit hierdie opvattings van die Hindoes kom die Nuwe Era gebruik om mense met sielkundige en ander probleme onder hipnose en met behulp van begeleiding deur geestelike gidse [demone] na hulle vorige lewenswandel terug te voer [hipnotiese regressie] om probleme daar reg te stel. Sodoende word die oorsake van negatiewe ervarings op 'n mistiese vlak in 'n onbekende en denkbeeldige verlede uit die weg geruim - red.) Joga word beskryf as 'n manier om die siel van materiële dinge los te maak en ook van die siklus van geboortes en sterftes te bevry sodat dit met die panteïstiese god verenig kan word. Oefeninge word gebruik om die gees en liggaam te dissiplineer, asook meditasie vir die bereiking van 'n alternatiewe [kosmiese] bewussynstoestand. Nêrens in die drie hoofstukke oor Hindoeïsme word enigsins 'n kritiese beoordeling van hierdie geloof gedoen, teenstrydighede en vaaghede uitgewys, mistiese praktyke bevraagteken of na die teenproduktiewe lewens- en wêreldbeskouing van die Hindoes verwys nie. In Indië waar hierdie geloof ontstaan het en 'n baie groot aanhang geniet, het menslike ontwikkeling in die algemeen op 'n betreurenswaardige lae vlak gestagneer. Dit bly steeds een van die hoogste waardes om ure lank stil te sit en aan niks te dink nie, terwyl transendentale meditasie en joga beoefen word. Mense maak hulleself van die materiële wêreld los en kom nooit naby die verantwoordelikheid om die skepping te onderwerp, te veredel, intensief en produktief te bewerk, die natuurwetenskappe te bestudeer, medies, ekonomies en tegnologies te ontwikkel, in ander vertakkinge van die wetenskap opgang te maak, en sodoende aan die 'n wye reeks menslike behoeftes te voldoen nie. 'n Groot ophef word ook van Mahatma Gandhi en sy intergeloofsoortuigings gemaak. Hoe kan skoolkinders met 'n beperkte verwysingsraamwerk 'n objektiewe beoordeling van die wêreldgodsdienste doen as net die positiewe en goeie daarin raakgesien en beskryf word? Dié soort brugbouery lei nie na konseptuele denke, konkrete oortuigings, afgebakende kennissisteme, geestelike insig en analitiese vermoëns om goed van kwaad te kan onderskei nie, maar na vaag gedefinieerde godsdienstige oortuigings en die holistiese vermenging van alle ideologieë en gelowe as deel van 'n 'deurmekaar' leefwêreld. Boeddhisme Die stigter van dié geloof (ook in Indië soos die Hindoeïsme) was Siddartha Gautama. Sy volgelinge het hom die Boeddha genoem, wat die Verligte Een of die Ontwaakte beteken. Hy het sy nuwe lewenswaardes en geestelike verligting tydens 'n verlengde meditasiesessie in 'n bos onder 'n vyeboom gekry. Die begrip die Boeddha verwys ook na die diepste werklikheid in elke persoon. Deur meditasie en selfinkering moet alle mense die Boeddha ('n dieper selfbewussyn) in hulle binneste ontdek en sodoende geestelik ontwaak en verlig raak. Hierdie godsdiens is ook volkome misties. Dit vereis 'n eenvoudige lewe en 'n totale afkeer van die materiële wêreld. In die vroeë jare het Boeddhistiese monnike in Indië geel rokke gedra, hulle koppe kaal geskeer, lang tye gemediteer en met bedelbakkies rondgeloop om in hulle karige lewensbehoeftes te voorsien. Boeddhisme het vinnig na Tibet, Sjina, Japan en ander Asiatiese lande versprei. Een van die bekendste Boeddhistiese leiers in die wêreld vandag is die Dalai Lama van Tibet. In Indië het dié geloof feitlik heeltemal uitgesterf en is hulle volgelinge deur die Hindoeïsme geabsorbeer. Die Boeddhiste koester die verwagting dat ná die stigter, Gautama, daar in die toekoms weer 'n Boeddha as hoofleier van hulle godsdiens op die toneel sal verskyn. Sy naam is Maitreya ('Die Vriendelike Een'). Hy is 'n Bodhisattva ('n toekomstige Boeddha). In Unisa se multigodsdienstige handboek word die stelling gemaak (en glad nie bevraagteken nie) dat Boeddhisme 'n merkbare invloed op die Christendom gemaak het, en ook vandag baie populêr onder geleerde mense is: "Kontak tussen Boeddhisme en die Weste het reeds in die tyd van Alexander die Grote in die vierde eeu BCE [v.C.] plaasgevind. Boeddhisme het 'n aansienlike invloed op die Europese Hellenistiese kultuur uitgeoefen, waaruit die Christendom 'n paar eeue later voortgekom het... 'n Nuwe belangstelling in Boeddhisme het weer in die 20ste eeu ontstaan, veral onder die intelligentsia. Daar is vandag groot sentrums vir Therevada, Zen, Nichiren en Tibetaanse Boeddhisme in verskeie Westerse lande... Daar is ook verskeie sulke sentrums in Suid-Afrika." (bl. 107) In die handboek word studente daarop gewys dat daar intellektuele, kulturele én lewensbeskoulike waardes in Boeddhisme opgesluit is, en word die leser dus implisiet aangemoedig om homself daardeur te verryk: "Hoewel Boeddhisme nie een van die groot godsdienste in Suid-Afrika is nie, is dit van groot belang. Onder Suid-Afrikaanse intelligentsia - skrywers, akademici en kunstenaars - is daar 'n wydverspreide vereenselwiging met die basiese beginsels van die Boeddhistiese lewensbeskouing. In die lig van die toenemende kontak tussen Suid-Afrika en lande van die Verre Ooste, waar Boeddhisme waarskynlik die grootste kulturele impak in die laaste 2000 jaar gemaak het, is kennis van hierdie godsdiens baie belangrik." (bl. 108) Die Boeddha-natuur word nie deur studie verkry nie, maar deur meditasie. Dit word in private én groepsessies beoefen. Midde-Oosterse godsdienste Nadat die sg. "Indiese godsdienste" (Hindoeïsme, Boeddhisme, Djainisme en Sikhisme) behandel is, gaan die handboek voort om 'n familie van "verwante Midde-Osterse godsdienste" te bespreek. In hierdie "familie" het vyf verskillende godsdienste mekaar na bewering onderling beïnvloed. Hulle is Judaïsme, die Christendom, Islam, Zoroastrisme asook die Bahai geloof: "Hierdie vyf vorm 'n fassinerende familie van godsdienste waarna kollektief verwys kan word as die monoteïstiese godsdienste." (bl. 132) Zoroastrisme Die bewering word in die handboek gemaak dat Judaïsme tydens die Babiloniese ballingskap deur die Zoroastrisme beïnvloed is. Vanuit die Judaïsme het hierdie invloede ook na die Christendom en Islam deurgewerk. Prof. Krüger en sy kollegas beskryf Zoroaster as een van die grootste godsdienstige figure van alle tye. Hy het in die 6de of 7de eeu v.C. in Iran geleef. Op die ouderdom van 30 is hy glo in die teenwoordigheid van die Opperwese, Ahoera Mazda (die Wyse God), opgeneem. Hier is hy beveel om 'n profeet te word en die waarheid te verkondig, o.a. ook dat die Opperwese sy wil deur sy Heilige Gees (Spenta Mainyu) bekend maak. Zoroaster is daarna deur 'n bose god versoek wat in opposisie teen Ahoera Mazda is. Die hele wêreld is die terrein vir die stryd tussen goed en kwaad, en elke mens het die vryheid om tussen hierdie twee magte te kies. Zoroaster het geleer dat Ahoera Mazda in die eindtyd die stryd teen boosheid sal wen. 'n Opstanding van die dode sal plaasvind, asook 'n oordeel deur vuur en gesmelte metaal. Alle siele sal geoordeel word. Die boosdoeners sal in die hel gestraf word en die regverdiges hemel toe gaan. In die eindtyd sal daar ook 'n messiaanse verlosser na die aarde toe kom. Die handboek impliseer dus dat ooreenstemmende Bybelse begrippe nie aan die hand van 'n unieke openbaring deur God verklaar moet word nie, maar kultuur-histories na die invloed van Zoroastrisme herlei moet word. Al die ander mistiese en onbybelse eienskappe van hierdie valse godsdiens word gerieflikheidshalwe in hulle kort beskrywing verswyg. Die indruk word duidelik geskep dat hierdie godsdiens belangrik is en 'n groot impak op die Christendom gemaak het. Dit is egter baie ver van die waarheid verwyderd, omdat die Bybel in geen opsig hoegenaamd aan Zoroaster erkenning gee nie. Hy was geen profeet van God nie. Die nie-Christelike gelowe in die Midde-Ooste word trouens almal as vyandige vervalsings beskryf. Diegene wat die knie voor hierdie Baäls en ander afgode buig, word deur God verwerp (Jes. 2:6) Zoroastrisme het, net soos Islam, uit 'n heidense, politeïstiese geloof (veelgodendom) ontstaan. Soos wat Mohammed sy familie-afgod, Allah (wat 'god' beteken), tot skeppergod verhef het, het Zoroaster vir Ahoera Mazda tot skeppergod verklaar. Voor daardie tyd is verskeie gode in Iran aanbid, nl. die ahoeras (gode) en die daevas. Zoroaster is in 'n familie gebore waarin net die ahoeras aanbid is. Hy het die daevas tot bose gode verklaar en Ahoera Mazda tot Opperwese. Hy het ook sewe mindere gode verkondig, nl. die Amesja Spentas (die Weldadige Onsterflikes). Hulle is as Ahoera Mazda se spesiale verteenwoordigers beskou, en hierdie geeste se name was Weldadige Gees, Goeie Gees, Waarheid, Nugterdenkendheid, Heerskappy, Gesondheid en Lewe. Hy het ook sterk klem op die teenwoordigheid van die Vyandige Gees (Angra Mainyu) gemaak wat die mense probeer beïnvloed. Die hele lewe bestaan uit 'n keuse tussen goed en kwaad. Hoewel Zoroastrisme tydens die bewindstermyne van verskeie Persiese konings tot staatsgodsdiens verhef is, het dit daarna sy aanhang begin verloor. In die 7de eeu n.C. is aanhangers van dié geloof deur die magte van Islam uit Persië (die huidige Iran) verdryf. 'n Aantal van hulle het na Indië gevlug. Die Bahai geloof, wat deur prof. Krüger ook in 'n verwantskap met die Christendom geplaas word, is intergeloofsgeoriënteerd en stel hulle tempels vir alle godsdienste oop. Hulle verwag die verskyning van 'n universele messias van alle gelowe. As gevolg van 'n holistiese siening aanvaar hulle monoteïstiese, politeïstiese én panteïstiese (mistiese) godsbegrippe. Dit pas baie goed by prof. Krüger se idee van 'n godsdienstige "bos" aan, waarin 'n hele aantal gelowe uit dieselfde wortel groei. Hierdie "bosse" (die Midde-Osterse-, die Indiese- én die Afrika-gelowe) beïnvloed dan ook nog mekaar onderling d.m.v kruisbestuiwing. Die gevolg van hierdie siening is 'n hele oerwoud van gelowe waardeur die mens homself op 'n eklektiese wyse geestelik kan verryk. Op die ou end maak dit glad nie saak as jy bv. 'n Boeddhis is en terselfdertyd Christelike teologie aan 'n universiteit doseer nie. Vanuit enige godsdienstige stroom gaan jy uiteindelik, volgens hulle inklusiewe benadering, in dieselfde intergeloofs-oseaan beland. Daar kan dus verwag word dat multigodsdienstige onderrig aan skole in die nuwe Suid-Afrika deur die aanhangers van verskillende gelowe aangebied sal word, selfs ook deur die misleide ondersteuners van die Nuwe Era Beweging. Die Christendom 'n Heel ander norm word in die handboek vir die beoordeling van die Christelike geloof toegepas, nl. 'n hoogs kritiese en duidelik bevooroordeelde benadering. Nie een van die ander gelowe se geskrifte en dogmas is aan soveel twyfelvrae en die eis van ondersteunende argeologiese inligting onderwerp nie. Bewese Bybelse feite word soms tot twyfelagtige 'waarskynlikhede' gereduseer. Daar word genoem dat teoloë tans uit 'n histories-kritiese oogpunt aan 'n nuwe weergawe van Jesus en sy leerstellings werk. Dit is egter nog nie beskikbaar nie, maar dit is nou reeds duidelik dat daar skokkende nuwe weergawes van Jesus en die Christendom voorberei word (in die volgende uitgawe meer hieroor). Verder is dit duidelik dat die skrywers van hierdie handboek nie in Jesus se Godheid glo nie, want persoonlike voornaamwoorde soos "hy" en "hom" word nie in die boek, soos in die Bybel, met 'n hoofletter gespel nie. Hulle twyfel in die korrektheid van die Bybel word só geformuleer: "Die redes vir die gebrek aan historiese sekerheid is dat daar geen duidelike argeologiese fondse is wat direk aan Jesus gekoppel kan word nie. Die verwysings na hom in die algemene geskrifte van die eerste eeu is baie skraps. Die stories oor sy lewe, soos deur sy volgelinge vertel, was nie historiese werke of biografieë in die moderne sin van die woord nie. Dit was deel van hulle eie geloofsopvattings dat Jesus die unieke redder van die wêreld is. Die Evangelies bied self uiteenlopende weergawes van Jesus se lewe en leerstellings aan... 'n Algemeen aanvaarde weergawe van die vroeë Christendom is nog nie beskikbaar nie." (bl. 177-8) Die feit word nie aanvaar dat Jesus in Betlehem in Judéa gebore is nie. Sy maagdelike geboorte word aan 'n populêre opinie van sy volgelinge toegeskryf (dus nie noodwendig feitlik korrek nie), en die idee van sy opstanding word as 'n moontlike mitologiese voorstelling beskou: "Jesus is, na alle waarskynlikheid, in die provinsie Galiléa gebore, wat deur Herodes Antipas regeer is... Uit die perspektief van hulle geloof verwys die vroeë skrywers na Jesus se maagdelike geboorte... Christene het deur die eeue hulle geloof uit die oogpunt van Jesus se opstanding uit die dood geïnterpreteer... Liberale Christene, aan die ander kant, sien dit as 'n simboliese uitdrukking, in mitologiese vorm, van die moontlikheid van 'n nuwe lewe vir die volgelinge van Christus." (bl. 178-184) Mens wonder onwillekeurig wat van Boeddha, Zoroaster en Mohammed sou word indien hulle lewens, leerstellings en die heilige geskrifte van hulle volgelinge in dieselfde gees van skeptisisme en bevooroordeeldheid benader, ondersoek en beskryf sou word? Paulus loop ook in hierdie handboek van Unisa deur, en dop summier (sonder die moontlikheid van 'n hereksamen!) sy toets van godsdienstige integriteit uit 'n evangelies-Bybelse oogpunt. Hy word as 'n Jood beskryf wat sterk deur ander godsdienste beïnvloed is, onder andere ook die politeïsme van die Grieke, waarmee hy goed vertroud was: "Paulus kan as die vader van die Christelike teologie beskou word... Tóg is die kern van sy teologie merkbaar Joods. Sy denke openbaar ook 'n aansienlike kennis van, asook beïnvloeding deur, die Griekse filosofie en die ander godsdienste ('mystery religions') wat in die Hellenistiese kultuur rondom die Middellandse See aangetref is." (bl. 185) Humanisme Ná 'n lang relaas oor Islam, handel die boek se laaste gedeelte oor die verwerping van godsdiens deur die ateïste, kommuniste en humaniste. Karl Marx, Sigmund Freud en Erich Fromm se teorieë word bespreek, asook die sekularisme van Peter Berger en Thomas Luckmann. Die beskouinge van hierdie vyande van die kruis word nie krities beoordeel en verwerp nie, gevolglik word aan hulle opnuut die kans gebied om onvaste siele te mislei en hulle geloof om te keer. Fundamentalisme Daar word na twee van die godsdienstige reaksies op die propagering van humanistiese teorieë gewys, nl. Christelike fundamentalisme en universalisme. Die Christelike fundamentaliste wat in dié boek genoem word, vorm 'n baie uiteenlopende en onversoenbare groep. Dit sluit charismatiese, pentekostalistiese en evangeliese Christene in, asook die Jehovasgetuies. Die minimum definisie vir 'n fundamentele Christen is aanvaarbaar, maar nie al die groepe wat daarby ingesluit word nie. Die definisie lui só: "'n Fundamentalis is iemand wat die Bybel as die enigste en onfeilbare Woord van God beskou en daarmee bedoel dat dit foutloos is en letterlik geïnterpreteer moet word." (bl. 277) Die Jehovasgetuies aanvaar nie Jesus se Godheid nie, en diskwalifiseer hulleself as Christene omdat hulle dié fundamentele waarheid verwerp. Daar is ook 'n groot kloof tussen evangeliese Christene wat nie charismaties of pentekostalisties is nie, en dié wat dit wél is. Verder is daar die radikale neo-pentekostalisme waarin 'n ervaringsteologie verkondig word wat gepaard gaan met onbybelse dwalinge soos "val in die gees", "lag in die gees", en verskeie ander manifestasies. Dit neig in 'n mistiese rigting en voldoen nie aan die eis van Bybelse fundamentalisme nie. Universalisme Die ander reaksie op sekularisme is universalisme, wat uiteindelik uitloop op die Nuwe Era Beweging se sintese van alle gelowe op aarde. Sleutelterme wat hiermee in verband staan is holisme, eenheid, harmonie, konsolidering, integrasie en sintese. Hierdie handboek beskryf nie net die uniekheid van die wêreld se grootste godsdienste op 'n positivistiese wyse nie, maar ook die onderlinge verband wat daar na bewering tussen hulle is. Die Nuwe Era Beweging se visie van 'n godsdienstig verenigde wêreld waarin almal in harmonie met mekaar saamleef, mekaar aanvaar, en in 'n denkwêreld van kosmiese eenheid opgaan, word deur dié benadering bevorder. Die volgende is 'n weergawe van die drie slotparagrawe van die boek, waarin die waarde van die Nuwe Era Beweging se leerstelling positief uitgebeeld word: "Dit is belangrik om te besef dat die Nuwe Era Beweging nie slegs 'n godsdienstige beweging is nie. Elke aspek van die moderne lewe word deur hulle filosofie geraak. Die wydverspreide belangstelling in ekologiese bewaring in die moderne samelewing word deur dié beweging gedeel. As gevolg van hulle beskouing dat God en sy skepping een is, verkry die natuur 'n hoër status. Wanneer die natuur deur besoedeling en vernietiging bedreig word, word God bedreig. Natuurbewaring is dus nie net 'n pragmatiese plig nie, maar ook 'n verantwoordelikheid teenoor God wat alles en in almal is. "Die nuwe benadering blyk ook op mediese gebied uit die holistiese beskouing van 'n pasiënt se siekte. Wanneer 'n orgaan ongesteld is, is dit nie genoeg om net die simptome te behandel nie - die oorsaak van die siekte moet gevind word. Die menslike psige speel 'n belangrike rol in sy gesondheid, met die gevolg dat geestelike gesondheid deel van die mediese wetenskap is. Ander terreine waarop die nuwe benadering 'n invloed uitoefen, is die onderwys, sielkunde, besigheidsadministrasie en die natuurwetenskappe. "Ter afsluiting behoort dit aangetoon te word dat die [Nuwe Era] groepe 'n tuiste aan baie mense bied wat met die tradisionele godsdienste in die samelewing ontnugter is. Die sterk beklemtoning van liefde vir God en jou naaste suggereer dat hierdie benadering 'n terugkeer na tradisionele waardes aandui (hoewel in die gedaante van nuwe organisasies) en dat die proses van sekularisme nie so sterk op dreef is as wat sommige geleerdes meen nie." samevloeiing van drie wêrelde Nog 'n opspraakwekkende multigodsdienstige handboek wat deur Unisa se Departement van Godsdienswetenskap gebruik word, is professor J.S. (Kobus) Krüger se boek: Along edges. Religion in South Africa: Bushman, Christian, Buddhist. Dit gaan in hierdie boek nie slegs om 'n fenomenologiese bespreking van drie verskillende godsdienste nie, maar om hulle holistiese assosiasie in 'n groter verband van universele godsdienstige denke. Dit word 'n religieuse ontmoetingspunt tussen drie wêrelde: die Weste (Christendom), die Ooste (Boeddhisme) en Afrika (die Boesman-geloof). Die implikasie is dat die Christendom, wat so sterk in hierdie land gevestig is, homself uit 'n positiewe studie van die Oosterse- en Afrika-gelowe moet verryk om sodoende 'n wye religieuse horison te bewerkstellig wat uit 'n trilogie van godsdienste bestaan. (bl. 5) Die kwessie van een of meer gelowe word duidelik binne 'n holistiese verwysingsraamwerk beredeneer. In holisme is daar nie sprake van 'n gedwonge eenheid of afsonderlikheid nie, maar 'n kreatiewe aaneenskakeling van verskeie komponente wat saam in 'n groter geheel moet opgaan. Deur skeppende invloede groei verskillende eenhede in 'n proses van sintese saam tot 'n geheel waarvan die somtotaal meer as sy samestellende dele is. Prof. Krüger sê dat gedwonge eenheid na vaste identiteit binne 'n geslote orde lei, terwyl afsonderlikheid na 'n chaotiese disorde en verwarring lei: "Beide die idees van afsonderlikheid en eenheid sal in sigself na intellektuele, en uiteindelik politieke en fisiese geweld lei. Eenheid ('die Een'), in godsdiens óf in politiek, is 'n outoritêre begrip. Dit is 'n doodloopstraat. Daar moet uit die dilemma van óf eenheid ('n geslote orde) óf afsonderlikheid (chaotiese disorde) beweeg word. 'n Pluraliteit van faktore, nie 'n 'een' of 'n ordelose verskeidenheid nie, maar 'n gesamentlikheid. Sekere faktore in 'n pluraliteit impliseer mekaar onderling en word sodoende aspekte van iets groter - pluraliteit word pluralisme, totdat alles uiteindelik aan mekaar verwant is. (bl. 5) Godsdienstige betekenis Daar word in die boek drie maniere aanbeveel om die godsdienstige betekenis van dinge te bepaal: (bl. 34-35) Meditasie. Dit is die afdaling na die dieptes van 'n persoon se eie bestaan om die sin van die lewe op 'n mistiese vlak te verstaan. Raadpleging van die humaniora en natuurwetenskappe. Dit behels die bestudering van die natuur (menslik én nie-menslik). Multigodsdienstige studies. Hierby inbegrepe is 'n studie van alle menslike idees van die verlede én die hede oor die verstaan van die mens en sy wêreld. Die skrywer maak 'n groot ophef van die waarde van Oosterse transendentale meditasie om 'n verborge bron van wysheid en geestelike insig te ontsluit: "Die meditatiewe weg is 'n afdaal na die dieper vlakke van die menslike bewussyn. Die pad na die innerlike dieptes gaan deur die vlakke van konseptuele denke, die wil en emosies, tot in 'n toestand van onversteurde geestelike en verstandelike suiwerheid. Dit reik verby die ervaring van tyd en ruimte en die gewone teenstellende denke... Hierdie diepte-ervarings staan gesamentlik as hoër kennis (abhinna) bekend. Ver van selfmisleiding af dui dié kennis op 'n buitengewone graad van sensitiwiteit en 'n direkte kontak met die polsslag van die werklikheid." (bl. 50) Mistiese ervarings wat deur die selfontlediging en psigiese afdaling van Oosterse meditasie verkry word, gaan altyd met sintetiese denke gepaard waarin alle dinge tot 'n groter geheel saamvloei - ook alle godsdienste. Dit is heeltemal in stryd met die bekende Bybelse patroon van antitetiese (teenstellende) denke, ook konseptuele denke genoem, waarin grense getrek en teenoorgestelde konsepte geïdentifiseer word: God en Satan, lig en duisternis, die waarheid en die leuen, geregtigheid en ongeregtigheid, die smal pad en die breë pad, ens. Omdat die nuwe wêreldorde op holisme, sintese, kompromie en konvergensie gebaseer is, pas die Bybelse denkpatroon hulle glad nie. Mense wat nog só dink en nie wil begin brûe bou na ander ideologieë en godsdienste nie, moet met behulp van meditasie en multigodsdienstige heroriëntering na 'n holistiese en inklusiewe werklikheidsbeskouing oorskakel. 'n Multigodsdienstige oriëntasie is ook op relatiewe waardes ingestel. Hierin is daar geen plek vir 'n vaste en onveranderlike dogma nie. Prof. Krüger sê: "Daar is niks permanents en geen ewige waardes in godsdienste nie - hulle is almal kollektiewe stelsels van interaksie met 'n veranderende werklikheid." (bl. 38) Daar kan (en moet) dus altyd nuwe interpretasies en toepassings van alle gelowe wees. Die Afrika konneksie Sterk klem word in die boek op die biologiese, psigiese en godsdienstige evolusie van die mens gelê. Daar word tot die slotsom gekom dat die mens, en dus ook die heel vroegste vorms van religieuse denke, sy oorsprong in Afrika het. Prof. Krüger vereer die Afrika-mens deur 'n nuwe subspesie te identifiseer: Homo religiosus africanus (die godsdienstige Afrika-mens). Daar word in dié verband verwys na Charles Darwin wat in sy boek, The descent of man (Londen, 1871), die moontlikheid genoem het dat die mens sy oorsprong in Afrika het. Hy sê dat in elke belangrike streek van die wêreld die lewende soogdiere die naaste aan die uitgestorwe spesies van daardie streek verwant is. Omdat die mees primitiewe mense in Afrika aangetref word, word die gevolgtrekking gemaak dat die mens hier sy ontstaan het. Dit sluit ook sy godsdienssin in. Ten einde meer begrip hiervan te kry, asook van die oorsprong van religie, moet die oudste lewende godsdiens van Afrika bestudeer word, nl. dié van die Boesman. Die Christendom kan homself sodoende verryk: "Die samevloeiing van die twee kultureel-religieuse horisonne van die Christendom en die Boesmans, wat in 'n stadium in die Suid-Afrikaanse teologie as onversoenbaar verskillend beskou is, is uitvoerbaar en selfs noodsaaklik ter wille van die Christelike evangelie. Dusver was daar egter geen poging om hierdie deel van die godsdienstige erfenis van Afrika in die Christelike sieninge te absorbeer nie." (bl. 322) Slotsom Die slotsom van die boek is dat die Christendom homself aansienlik kan verryk deur bv. die Boeddhiste se mistiese tegnieke te beoefen. Van die Boesmans kan 'n kollektiewe ingesteldheid, asook hulle sterk ekologiese verbintenis met die natuur, met groot vrug oorgeneem word. Sommige elemente van 'n oergodsdiens het lankal reeds in die Weste verlore geraak, maar funksioneer nog sterk by die Boesmans. Deur religieuse tradisies uit drie 'wêrelde' te laat saamvloei, kan die moderne mens se vervalle godsdienssin 'n sterk hupstoot vorentoe kry (of is dit dalk ondertoe?) Daar word ook iets in die boek oor godsdienstige simbole gesê. Die een wat by herhaling gebruik word, is die spiraal wat van binne af met ál groter sirkels na buite toe uitkring. Die spiraal integreer en transendeer na buite, terwyl dit ook 'n diep mistiese kern het. In 'n beweging na buite toe kan verskillende godsdienstige tradisies ingesluit word, terwyl die beweging na binne toe 'n meditatiewe afdaling na mistiese sfere veronderstel. Sirkels en simbole word as kosmogramme (simboliese kaarte) in godsdienste beskryf. Humanistiese Hervormings in die Regering en Samelewing Deur prof. Johan Malan en ds. Soon Zevenster Opsomming: Die gesag wat regerings het, is deur God aan hulle verleen. Indien hierdie regerings God nie erken en sy oppergesag eerbiedig nie, maak hulle hulself aan gesagsmisbruik en outokratiese optrede skuldig. Soms verloor hulle hul gesag en ontstaan daar wettelose gemeenskappe. Gebreke van dié aard in regerings in grondwette, ook in Suid-Afrika, word in hierdie artikel bespreek. 'n Oplossing word ook hiervoor aangebied. Die geskiedenis van die nasies weerspieël duidelik die gevolge van die sondeval in die verdorwenheid van die menslike natuur en in die goddelose sosio-politieke en godsdienstige strukture wat volkere vir hulleself skep. Sedert die vroegste tye was rebellie teen God deur die miskenning van sy oppergesag, die verwerping van sy geregtigheid en die aanbidding van afgode aan die orde van die dag. In die plek hiervan het die mens homself verhef, arrogant opgetree, diktatoriale magte beoefen en slegs eer aan sy eie afgode bewys. In 'n meer gesofistikeerde vorm manifesteer hierdie rebellie in moderne tye in 'n humanistiese kode vir menseregte en sosiale geregtigheid, waarin ruim voorsiening vir persoonlike vryhede en die florering van valse gelowe (of die negering van godsdiens deur sekularisme) gemaak word. In hierdie opsig herhaal die geskiedenis nie net homself nie, maar word die weg vir die ergste rebellie van alle tye gebaan. God-verwerpende grondwette word aanvaar waardeur daar vrye teuels aan die verdraaide moraliteit van die gevalle mens gegee word. Die Bybel skets 'n duidelike eindtydse toneel van dié aard, nl. 'n wêreld wat meer as ooit tevore die rug op God draai en deur sy humanistiese hervormings aktief meehelp om magsbasisse vir die komende wêreldryk van die Antichris te skep. Die hernude uitdaging en verwerping van God se soewereiniteit en die koningskap van Christus is die eerste treë op die selfvernietigende opmars na Armagéddon. Die geskiedenis van die nasies eindig dus waar dit begin het, naamlik 'n Babiloniese sameswering teen God. Ten spyte van waarskuwings hieroor gaan die nasies voort om hulle eie ondergang te bewerk deur staatkundige modelle en grondwette sonder God te aanvaar. Hierdeur berei hulle die weg vir die koms van die Antichris voor. In Openbaring word dié bose leier met verskeie goddelose diktators in die geskiedenis vergelyk. Net soos hulle, sal hy ook sy onderdane godsdienstig mislei, verslaaf en onderdruk: "En ek het 'n dier (die Antichris) uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag... En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? "En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek... Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid... En dit is hom (die ander dier, die valse profeet) gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie" (Op. 13:1-15). Die eindtydse wêreldryk van die Antichris is nie wesenlik iets nuuts nie omdat dit 'n herlewing van die vorige goddelose wêreldryke sal wees. In omvang sal dit egter veel groter en in intensiteit aansienlik erger wees, omdat daar onder sy bewind 'n groot verdrukking sal wees soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). Soos wat Satan aan Christus die koninkryke van hierdie wêreld aangebied het as Hy sou neerval en hom aanbid (Luk. 4:5-7), sal hy dit op dieselfde voorwaarde aan die nabootser van Christus, die Antichris, aanbied. Hy sal dit aanvaar, daarom sal die mense wat hom aanbid, ook die draak (die duiwel) moet aanbid van wie hy sy troon en groot mag gekry het (Op. 13:4). Hoewel die wêreld tans in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), is die Christene deur die krag van die Heilige Gees die lig van 'n donker wêreld en die sout van 'n bedorwe aarde, en kan die duiwel nie ongehinderd al sy planne vir wêreldheerskappy in werking stel nie. Met die wegraping sal die uur van volkome duisternis egter aanbreek, want dan sal diegene wat soos ligte te midde van 'n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weg wees. Dan sal die Antichris onmiddellik geopenbaar word en sonder teëstand wêreldwyd as 'n simbool van humanistiese en godsdienstige eenheid aanvaar word (2 Thess. 2:6-10). Sewe opeenvolgende wêreldryke (die dier met sewe koppe) Die eindtydse ryk van die Antichris sal die sewende in 'n reeks goddelose wêreldregerings wees wat met Nimrod se antieke Babiloniese ryk begin het (Gen. 11:1-9). Nadat die Assiriërs Babilon verower en oor die destyds bekende wêreld regeer het, is Babilon se opperheerskappy weer onder Nebukadnésar herstel. Daarna het die Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke gevolg. Ná die Romeinse ryk het die wêreld polities en kultureel al hoe meer verdeeld geraak, maar tans word die Eerste-, Tweede- en Derde Wêreld onder die vaandel van die Nuwe Wêreldorde verenig in voorbereiding op die sewende wêreldryk, nl. dié van die Antichris. Die sewe ryke is: Die antieke Babiloniese ryk Die Assiriese ryk Die herstelde Babiloniese ryk Die Medo-Persiese ryk Die Griekse ryk Die Romeinse ryk Die eindtydse ryk van die Antichris 'n Herhaling van die onderdrukkende en goddelose praktyke van die vorige wêreldryke sal tydens die ryk van die Antichris voorkom. Dit is die rede waarom hy as 'n eienaardige, saamgestelde dier voorgestel word wat die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse én Romeinse ryke sal laat herleef. Die Assiriese ryk is nie in hierdie simbole verteenwoordig nie, maar uit Jesaja 10:12-25 is dit duidelik dat Assur (die Assiriër) ook 'n tipe van die Antichris is. Die Babiloniese ryk (die bek van 'n leeu) In Daniël 7 is die leeu die simbool van die Babiloniese ryk. In Daniël 2 word hierdie ryk deur die beeld se kop van goud voorgestel. Dit het volgens Daniël 3 daartoe aanleiding gegee dat Nebukadnésar 'n goue beeld laat maak het wat 30 meter hoog was (so hoog soos 'n 9-verdieping gebou), en alle nasies in sy ryk gedwing het om in aanbidding voor die beeld neer te val. Nebukadnésar het beheer oor die hele bewoonde wêreld gehad. Hy het die mag van die Babiloniese ryk bo enige ander mag verhef, homself vergoddelik en tot die verlosser en opperheerser van alle mense verklaar. Hy het opdrag gegee dat geen ander god aanbid mag word nie, omdat die staat en die koning die hoogste gesag was wat geen meerdere gesag erken het nie. Hy het 'n grondwet sonder God gehad. 'n Skrikwekkende vorm van openbare teregstelling het op almal gewag wat die koning se bevel verontagsaam het. In dié opsig is ook die ware God van hemel en aarde gesmaad, omdat die Joodse ballinge verbied is om hulle God te aanbid, en aangesê is om voor die koning se beeld neer te buig. Vergelyk hierdie opset met Suid-Afrika se grondwet waarin God nie as die hoogste gesag genoem word nie. Die ontkenning van God se gesag lei altyd na die verwerping en belastering van sy heilige Naam. Daarom is daar op al sewe die koppe van die dier 'n naam van godslastering geskryf. Nadat die Here vir Nebukadnésar verneder het tot 'n kranksinnige wat saam met die diere van die veld gewoon het, het hy God erken en eer aan Hom gegee: "Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel" (Dan. 4:37). Nebukadnésar het die oppergesag van God erken toe hy as koning herstel is, en daardeur eksplisiet sy eie gesag én die gesag van die staat aan die almagtige God ondergeskik gestel. Hy het dus ná sy dure ondervinding die grondwet van die Babiloniese ryk fundamenteel hersien. Die Medo-Persiese ryk (die pote van 'n beer) Die beer was 'n voorstelling van die Medo-Persiese ryk wat die Babiloniërs verower en in hulle plek geheers het. Die beer is wreedaardig en vertrap baie volke onder sy pote. Gruwelike vervolging is ook teen God se volk ingestel. Koning Ahasveros is deur een van sy bose raadgewers, Haman, beïnvloed om 'n dekreet uit te vaardig wat tot die vervolging en uitroeiing van die Joodse ballinge sou lei. Dit is opvallend dat regerings wat God uit hul grondwet uitskryf, altyd geestelike raadgewers met geweldige aansien het, maar wat eintlik blinde leiers is. Ahasveros was egter self met 'n Jodin, Ester, getroud, en het later besef dat hierdie mense wat hy wou laat uitdelg, glad nie 'n bedreiging vir hom of sy koninkryk ingehou het nie. Hulle was wetsgehoorsame mense met hoë morele standaarde. Wat meer is, baie van hulle het vir hom gebid. Die Jood, Mordegai, het selfs die koning se lewe gespaar deurdat hy 'n komplot teen hom openbaar gemaak het (Ester 2). Hierdie koning van 'n goddelose wêreldryk het skielik tot die besef gekom dat hy deur sy raadgewer, Haman, mislei is en heeltemal verkeerd opgetree het. Hy was egter die slagoffer van sy eie grondwet wat geen erkenning aan God of die volk van God gegee het nie. Die grondwet het ook bepaal dat die koning nie sy eie wette kon terugtrek nie. Hy het d.m.v. die onveranderlike wette van die Meders en Perse regeer. Dit wat Ahasveros onder die omstandighede kon doen om die volk van God te beskerm en te laat oorleef, het hy gedoen. Hy het hulle die reg gegee om hulleself te verdedig. Ook het hy van sy bose raadgewer ontslae geraak. Hy het Haman eers laat erken dat hy verkeerd was, hom gedwing om Mordegai te vereer, en hom daarna laat teregstel. Soos wat Nebukadnésar tot ander insigte gekom het, het hierdie koning se oë ook vir sekere feite omtrent God en sy volk oopgegaan. Die Griekse ryk (die lyf van 'n luiperd) Die luiperd was 'n uitbeelding van die Griekse ryk wat ná die Medo-Persiese ryk wêreldheerskappy onder die aanvoering van Alexander die Grote verkry het. Die Grieke het 'n multigodsdienstige grondwet gehad deurdat hulle 'n groot aantal gode, selfs ook die onbekende god, aanbid het. Hulle Hellenistiese wêreldgodsdiens het hulle oral onder ander volke gepropageer, ook onder die Jode. Hoewel hulle bereid was om feitlik elke denkbare god te aanbid, wou hulle niks met die eksklusiewe godsdiens van Israel te doen hê nie. Antiochus Epifanes, een van die konings van die Siriese provinsie, het alles moontlik gedoen om Israel se godsdiens uit te roei en die aanbidding van Griekse afgode soos Zeus in die plek daarvan te stel. Hy het mense tereg laat stel wat hulle kinders besny en die verbond met Jahweh in stand gehou het. Ons situasie is vergelykbaar hiermee deurdat ons ook 'n multigodsdienstige grondwet het. Dit behels dat die Christendom op 'n gelyke vlak met alle ander godsdienste gestel word. Persone wat intergeloofsbande teëstaan en die Christelike geloof ten koste van ander gelowe tot die enigste ware godsdiens verhef, kan weens ongrondwetlike gedrag in onguns kom. Die Romeinse ryk (die dier met die tien horings) Die verskriklike dier met die tien horings op sy kop (Dan. 7:7), is simbolies van die Romeinse ryk met sy goddeloosheid en hartelose oorheersing van ander volke. Die keisers het hulleself vergoddelik en wrede vervolging teen Jode en Christene ingestel. Nero was een van die bekendste diktators in hierdie ryk. As gevolg van 'n opdrag deur hom is Israel met brute geweld binnegeval en onderwerp. Tydens die beleg en inname van Jerusalem is daar in net vyf maande 1,1 miljoen Jode dood en 97 000 as krygsgevangenes weggevoer. Baie van hulle is op slawemarkte verkoop. Die tempel is verwoes en afgebrand, en die gesmelte goud geroof. Afgodediens is nooit in die Romeinse ryk verbied nie en die beoefenaars daarvan ook nie vervolg nie. Selfs nadat die Christendom vroeg in die vierde eeu deur Konstantyn erken is, was dit nie ten koste van die valse godsdienste nie. In ons tyd ondervind die nie-Christelike godsdienste ook geen weerstand of teëstand van enige aard nie. Dit is die Christendom wat die knie moet buig voor Baal, deur erkennend en akkommoderend t.o.v. die nie-Christelike gelowe te wees. Die Christene vra nooit spesiale toegewings van regerings nie en probeer ook nie om hulle siening aan ander gelowe op te dring nie. Al wat hulle deur die eeue heen gevra het, is dat die regering die ware God sal erken en op sy Woord ag gee. Optrede van die Antichris as toekomstige wêreldleier Net soos die leiers van die vorige wêreldregerings, sal die Antichris op absolute opperheerskappy aanspraak maak, homself in die plek van God stel en op almal se aanbidding aandring: Soos Nebukadnésar, sal hy sy septer oor al die nasies van die aarde swaai en hulle polities, godsdienstig en ekonomies volkome oorheers (Op. 13). Die verpligte aanbidding van 'n beeld sal weer afgekondig word. Die doodstraf sal op hoogverraad berus, asook op diegene wat weier om die beeld te aanbid. Soos wat Nebukadnésar die Jode as ballinge weggevoer het, sal hy hulle ook probeer uitwis sodat hulle na onherbergsame plekke in die woestyn sal moet vlug. Soos die Meders en Perse sal hy deur middel van onveranderlike en onaanvegbare dekrete regeer. Hy sal ook bose medewerkers hê waaronder die valse profeet die vernaamste sal wees. Hy sal 'n dekreet uitvaardig waaardeur Christenvervolging en 'n Joodse volksmoord gewettig sal word. Soos wat Haman in die put geval het wat hy vir die Jode gegrawe het, sal die Antichris en die valse profeet hulle eie ondergang, teregstelling en verdoeming verhaas. Soos in die Griekse ryk sal hy 'n wêreldgodsdiens instel waarin alle afgode aanbid sal word. Hierdie ekumeniese verenig van die valse gelowe (Openbaring 17:3-5 se moeder van die hoere) sal deur hom erken word en op sy rug ry. Listige metodes en omkopery sal gebruik word om sy wêreldgodsdiens te propageer. Slegs die aanbidding van die ware God sal deur hom verbied word. Soos wat Antiochus Epifanes Israel geannekseer en hulle godsdiens probeer vernietig het, sal hy dit ook doen. Soos in die Romeinse ryk, sal hy die volk van God vervolg en probeer uitwis van die aarde af. Hy sal homself as God aan die mensdom bied om aanbid te word. Alle nasies sal aan sy militêre diktatuur onderwerp word, swaar belastings sal vir sy wêreldregering gehef word, krygswet sal geld en alle rebelle teen sy bewind sal in die openbaar, te midde van groot toejuiging deur die skare, tereggestel word. Soos wat hierdie én alle ander goddelose ryke tot 'n val gekom het, sal sy val ook groot wees. Dit is dus duidelik waarom die Antichris se wêreldryk met al die vorige wêreldryke vergelyk word. Iets van hulle almal sal in sy ryk herleef. Hy sal egter erger as hulle almal saam wees, want die Here Jesus het gesê dat daar in die eindtyd 'n groot verdrukking sal wees soos wat daar nog nooit tevore op aarde was nie (Matt. 24:21-22). Goddelose regerings Dit is uit al die vorige wêreldryke duidelik wat die gevolg daarvan is as 'n koning die oppergesag van God verwerp en homself en sy regering in die plek van God as oppermagtig beskou. Hy word tot in die dieptes verneder en sy eens magtige ryk soos die kaf van die dorsvloere wat deur die wind van God se oordele weggewaai word. Die wederkoms van Jesus Christus sal die einde van al die goddelose regerings van hierdie wêreld beteken, en Christus self sal in hulle plek regeer (Dan. 2:31-45). God beklee die hoogste gesag in die heelal. Hy is self die outeur en verpersoonliking van gesag, daarom kan Hy gesag delegeer aan wie Hy wil. Hy stel konings aan en ruk hulle weer van hul trone af. Om dieselfde rede het die Here Jesus, wat self ook God is, alle mag in die hemel en op aarde (Matt. 28:18). Hy is die Koning van die konings en die Heer van die here. Gesagsmisbruik Geen regering of leier sou enige mag en gesag oor mense hê indien dit nie binne die toelatende wil van God aan hom verleen word nie. Indien hy egter God se oppergesag misken deur nie in sy grondwet erkenning daaraan te gee nie, maak hy homself aan gesagsmisbruik skuldig en grawe sy eie politieke graf. In werklikheid verwerp hy hierdeur die grondslag van die gesag wat hy self beoefen, omdat hy nie aan die oorsprong daarvan erkenning gee nie. Wanneer die gesag en posisie van die ware God nie erken en eerbiedig word nie, gebeur daar twee dinge: Die eerste moontlikheid is dat die staat bloot sy gesag verloor omdat dit die Here verloën. Anargie onstaan dan. Onder die dekmantel van demokratiese hervormings word gesag na die massas afgewentel - dit is die werkersklas, studente, skoliere en werklose misdadigers. Wetteloosheid, chaos, wanorde en 'n vloedgolf van misdaad begin dan om 'n land te teister. Wette en regulasies word bevraagteken, geminag, as onaanvaarbaar beskou en verwerp. Elkeen doen net wat hy of sy wil. Wanneer belangrike besluite geneem moet word, word gesê: "The people must decide." Die tweede moontlikheid is dat 'n diktator opstaan en begin om wet en orde deur middel van militêre geweld te handhaaf. Dit lei na gesagsmisbruik, onderdrukking, uitbuiting, die miskenning van basiese menseregte, wreedheid en slawerny. 'n Diktator beskou homself as aan niemand aanspreeklik vir sy dade nie. Hy doen wat hy wil en neem absolute en hartelose besluite oor die lotgevalle van mense en volkere oor wie sy militêre septer swaai. Omdat die duiwel die outeur van rebellie, wreedheid en wanorde is, en ook 'n mensemoordenaar van die begin af, het diktators 'n natuurlike geneigdheid tot 'n assosiasie met die valse godsdienste. Goddelose (humanistiese) grondwette Die afgelope paar jaar het verskeie lande onder die beïnvloeding van Amerika en die Verenigde Nasies tot die stap oorgegaan om God se gesag openlik te misken en te verwerp deur humanistiese grondwette te aanvaar waarin geen melding van sy oppergesag en posisie gemaak word nie. Suid-Afrika is ook een van dié lande waarvan die regering sy rug op die ware God gedraai het deur 'n grondwet te aanvaar waarin hy in sy staatsgesag roem en alle gelowe gelykstel. Indien die vroeëre kommunistiese magsuitbreiding in die wêreld in ag geneem word, het ten minste 44 lande in dié eeu hulleself tot sekulêre state verklaar. In alle gevalle het dit tot beperkende wetgewing en die vervolging van hul onderdane gelei. Meer as 160 miljoen mense het in die 20ste eeu aan die hand van hul eie regerings in sekulêre state gesterf! Dit is onbegryplik dat daar ten spyte van al dié getuienis aan die einde van hierdie eeu tot sekulêre grondwette teruggekeer word. Dit is in 'n tyd soos dié dat Psalm 2 finaal vervul sal word: "Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde (Christus) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!" (Ps. 2:1-12). Volgens vers 2 word daar deur die nasies 'n openlike veldtog teen God én die Here Jesus gevoer. Hulle misken God se oppergesag en bring ander gode voor sy aangesig. Hulle verwerp ook 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing, die versoening aan die kruis, Christelike onderwys, die Christelike etiek, ens. Hulle ag hulleself eenvoudig nie meer hieraan gebonde nie, en beskou Christelike beginsels as 'n belemmering vir hulle humanistiese vryheidstrewe: "Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!" Dit, meen hulle, is ware vryheid, gelykheid en broederskap! God sê egter uitdruklik dat Hy sy Seun, Jesus Christus, as Koning oor hierdie aarde gesalf het en nasies as sy erfdeel gegee het (v. 7-8). As hulle teen Hom in opstand kom, sal Hy hulle verpletter en stukkend slaan (v. 9). Dieselfde sal met hierdie goddelose regerings en hulle onderdane gebeur as wat met al die vorige wêreldregerings gebeur het wat God misken en verwerp het. Die oordele wag reeds op hulle, want vreeslik is dit om te val in die hande van 'n lewende God (Heb. 10:31). Hulle sal voortgaan met hulle verwerping van die ware Christus, en dan noodwendig die Antichris (die dier van Openbaring) as wêreldheerser kry. Saam met hom, en as deel van sy militêre diktatuur, sal hulle teen die ware Christus veg wanneer Hy kom om sy koninkryk op die berg Sion te vestig. Saam met die Antichris sal sy misleide volgelinge ook verdelg word wanneer die ware Koning kom: "En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom (Jesus Christus) wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees" (Op. 19:19-21). Wil die regerings van die nasies, insluitende die Suid-Afrikaanse regering, wat reeds die eerste gevaarlike treë gegee het op die pad van die finale verwerping van die ware God en die ontering van sy Naam deur Hom met die afgode gelyk te stel, hulle nie liewer vriendelik laat waarsku nie? "Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde" (v. 10). Die regters wat help om die goddelose grondwette en ander wette af te dwing waardeur hele nasies geestelik en moreel afvallig gemaak word, word saam met die politieke leiers vir hulle verraad teen God aanspreeklik gehou. Vir hulle almal sê Psalm 2: "Dien die HERE met vrees en juig met bewing." Daar moet eerbied en ontsag vir die HERE wees deur die konings en regters. Die leiers van 'n land moet dus aan hulle volgelinge die regte voorbeeld stel. As hulle dit nie doen nie, wag daar vir hulle groot probleme: "Kus die Seun (Jesus Christus), dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam." 'n Persoon, 'n groep of 'n land wat sy toevlug tot die Here neem, volle erkenning aan Hom gee en waarlik in Hom glo, word gelukkig en geseënd genoem: "Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!" 'n Veilige skuilplek Die Here Jesus nooi alle sondaars om hulle toevlug by Hom te neem. Bely u sondes en verlorenheid teenoor Hom, verkry sy vergifnis en ontvang Hom as Verlosser in u lewe (1 Joh. 1:9; Joh. 1:12). Gólgota is 'n skuilplek teen die toorn van die Here, want dáár het God se oordele oor die sondes van die hele wêreld oor Jesus gekom toe Hy sy lewe vir ons afgelê het. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom (Jes. 53:5). Het u al sy plaasvervangende dood aanvaar? As u aan die ware Christus behoort, Hom liefhet en dien, sal u deur die Gees van die waarheid gelei word. Dan sal u nie 'n slagoffer van die Antichris se misleiding word, en hom uiteindelik op sy pad na die hel volg nie. U sal ook nou reeds duidelik kant kies vír die Christendom en téén die antichristelike nuwe wêreldorde wat besig is om die weg vir die Antichris te berei. Dit gaan dus oor veel meer as net u houding oor 'n grondwet, 'n ideologiese beleidsrigting of 'n onderwysstelsel. Dit gaan oor u verhouding met die lewende God deur sy Seun, Jesus Christus. As u aan Hóm behoort, sal u die bedreigings van ons tyd raaksien en opstaan tot die stryd om die lig van 'n donker wêreld en die sout van 'n bedorwe aarde te wees. Alle Christene moet teëhouers in die huidige opmars van die Antichris na wêreldheerskappy wees (2 Thess. 2:6). Hy is nog nie as persoon geopenbaar nie, maar die werkers van die koninkryk van die duisternis is aktief besig om die wêreldtoneel vir sy verskyning in gereedheid te kry. Dink maar aan die volgende stellings en evalueer die negatiewe gebeure en humanistiese hervormings van ons dag in die lig daarvan: Internasionalisme kan nie seëvier as nasionalisme nog sterk funksioneer nie, daarom moet nasionalisme en volkstrots afgebreek en as iets slegs beskou word. Eenheid kan nie seëvier as daar nog verdeeldheid, grense en groepsgebondenheid bestaan nie. Alle grense moet afgebreek en brûe van eenheid gebou word. Indien groepe wél erken word, moet hulle nooit eksklusief wees nie, maar oop en akkommoderend ten opsigte van ander groepe. 'n Alliansie van alle godsdienste, in voorbereiding van 'n antichristelike wêreldgodsdiens, kan nie gevestig word terwyl daar sterk vooroordele teen hierdie idee is nie. Alle kerke en godsdienste moet gelykgestel word, en ekumenies by strukture ingetrek word waar hulle as gelyke vennote kan saamwerk en nader aan mekaar beweeg. Die ideaal van godsdienseenheid sal slegs bereik word indien alle gelowe glo dat hulle dieselfde God aanbid (universalisme). Dan sal hulle bereid wees om ook rondom dieselfde wêreldmessias (die Antichris) verenig te word. Onderwys moet oral multigodsdienstig wees, sodat die opkomende geslag volgens die inklusiewe en multigodsdienstige sieninge van die nuwe wêreldorde opgevoed kan word. Christelike onderwys wat nie ekumenies is nie, moet dus deur alle regerings uitgefaseer word omdat dit eksklusief is. Politieke ideologieë en grondwette moet geensins erkenning aan die Drie-enige God van die Christendom gee nie, omdat dit ander gelowe uitsluit en dus nie vir die kosmiese Christus van alle gelowe (die Antichris en sy meelopers) aanvaarbaar sal wees nie. Dit moet sekulêr óf multigodsdienstig wees. Al hierdie tendense vorm 'n wesenlike deel van die voorbereidings vir die Antichris se wêreldstaat. Ons kan dit nie gelate aanvaar, passief toekyk, en onsself dan nog aktiewe Christene noem nie. Ons kan ook nie redeneer dat dit 'n Bybelse opdrag is om as landsburgers sonder weerstand toe te kyk hoedat die Christendom deur goddelose mense ondergeploeg word nie. Dit gaan nie hier oor partypolitiek nie, maar om die saak van God se koninkryk en die beskerming van kinders teen misleiding in staatskole. Dit gaan ook oor 'n oorgawe deur alle nasies aan die nuwe wêreldorde, en dit moet gestuit word omdat die Godgegewe regte van nasies en volkere daardeur vernietig sal word. Ten diepste gaan dit oor 'n beplande rebellie teen God en sy Gesalfde, die gekruisigde en opgestane Here Jesus Christus, en ons mag onder geen omstandighede deelgenote hiervan wees, of ons oë wegdraai terwyl dit gebeur nie. Is jy 'n teëhouer en help jy andere, ook die lede van jou land se regering, om tot besinning te kom en hulle saak met God reg te maak? Miskien weet baie van hulle nie eers dat hulle direk in die hand van die magte van die duisternis speel deur die rug op God te draai nie. Ons weet dat die god van hierdie wêreld (die duiwel) die sinne van mense verblind (2 Kor. 4:4) en hulle laat dink dat hulle goed doen wanneer hulle die Christendom en die heidendom gelykstel. Ons wat die lig het, moet soos nooit tevore nie ons lig laat skyn en nie 'n bedekking daaroor plaas omdat ons boodskap dalk ongewild is nie. Dit is nou die tyd om op te staan vir jou oortuigings en dit duidelik en vreesloos te verkondig! God se boodskappe wat Hy deur sy profete aan Israel gestuur het, was dikwels in die vorm van waarskuwings oor hulle sonde en afvalligheid. Profete soos Jeremia het 'n duur prys van persoonlike verwerping en vervolging betaal toe hulle hierdie waarskuwings namens die Here uitgespreek het. Tóg het baie mense na aanleiding daarvan besef dat hulle geestelik afgedwaal en teen God gesondig het, en Hom daarna weer aangeroep en om vergifnis gesmeek. Hy is 'n genadige God wat groot is van goedertierenheid en vergewensgesindheid. Dit is waarom ons ook nie huiwer om 'n geestelik siek Suid-Afrikaanse nasie in die Naam van die Here aan te spreek en tot bekering van hulle dwaalweë af op te roep nie. Christelike protesaksies Daar is wél mense in ons land wat ooreenkomstig die gees van die Protestantisme teen strukture, beginsels, gebruike en wette protesteer waardeur die eer van die Here aangetas en die belange van die Christendom bedreig word. Op 30 Mei 1995 het 'n groep van 20 000 persone, wat onder die vaandel van Die Christen Stem (The Christian Voice) georganiseer is, na die Parlementsgebou in Kaapstad gemars om teen die beoogde nuwe grondwet en verwante sake soos die wettiging van aborsie en 'n toegeeflike houding teenoor pornografie, te protesteer. Dit is op 3 Mei 1996 met 'n soortgelyke optog deur omtrent 12 000 Christene gevolg. Die impak van hierdie Christen-opmarse mag nie gering geskat word nie. Dit moet gesien word as 'n tydige waarskuwing van God teen die verwerping van 'n Christelike bedeling. Geen mens kan 20 000 persone uit hulle dagroetine en werk neem en op eie koste byeenbring nie. In 'n memorandum wat deur die voorsitter van Die Christen Stem, ds. E.J. Zevenster, aan die regering oorhandig is, word onder meer gesê: "Gedeeltes van die voorgestelde nuwe grondwet is antichristelik. In plaas daarvan dat God in die grondwet geëer word, word die mens verhoog en soewerein verklaar. Vir Christene is slegs God soewerein. Hy is die Koning van die konings, die Heer van die here en die Heerser oor die nasies. Hy is die enigste een wat lewe gee en reën stuur. Dit is skynheilig en aanmatigend om van God te verwag om ons land te seën terwyl ons grondwet in blatante rebellie teen sy ewige Wet is." In die memorandum wat aan die voormalige Adjunk-Staatspresident, mnr. F.W. de Klerk, oorhgandig is, word ook daarop gewys dat indien die voorgestelde grondwet aanvaar word, dit die doodstraf oor skuldige moordenaars sal afskaf, maar deur middel van die wettiging van aborsie 'n doodsvonnis oor onskuldige babas sal uitspreek. Pornografie sal as een van baie menslike vryhede beskerm word. Dit is egter duidelik dat die talle voorleggings deur Christene in hierdie verband, deur die grondwetskrywers oor die hoof gesien is. Dr. Ed Cain van Signposts voeg ook sy stem by die protesaksies teen die grondwet, en hy sê onder meer: "Baie van die bepalings van die nuwe grondwet is strydig met Christelike oortuigings. Dit is sekulêr omdat dit God ignoreer. Dit is humanisties omdat dit die mens in die plek van God stel. ... In die aanhef word die stelling: 'In humble submission to Almighty God' vervang met: 'We, the people of South Africa, recognise the injustices of our past; honour those who suffered for justice and freedom in our land.' In plaas van om voor God se gesag te buig, gee die aanhef van die grondwet eer aan 'n sekere groep mense! "Dit is waar dat die aanhef afsluit met die woorde: 'May God protect our people' en 'God bless South Africa' (die openingswoorde van Nkosi Sikelela iAfrika) in ses tale. Om egter die Here se beskerming en seën te soek sonder om Hom te eer en aan Hom onderdanig te wees, beteken baie min." Die nuwe wêreldorde Die rede waarom grondwette van dié aard so maklik aanvaar word, is omdat dit die gees van die antichristelike nuwe wêreldorde adem. Dit word internasionaal aangeprys omdat dit na bewering so billik en demokraties is, en nie onderdrukkende maatreëls bevat nie. Dit stel niemand in 'n slegte lig nie, ook nie Bybels immorele gedrag soos homoseksualisme nie, en dit beskerm selfs die regte van moordenaars. Omdat humanistiese menseregte en vryheid van assosiasie en uitdrukking bo groepsregte verhef word, word kultuurgroepe en godsdiensgroepe net in 'n beperkte mate erken en beskerm. In werklikheid word eksklusiewe groepsregte nie toegestaan nie, en word hierdie groepe eerder aan vermenging met ander groepe, kulture en godsdienste blootgestel. Grondwette van dié aard is die boustene van die nuwe wêreldorde. Indien die beginsels daarvan verder deurgetrek word, sal 'n neo-Babiloniese samelewing wêreldwyd sy beslag kry. Alles sal in een internasionale orde saamvloei waarin nasionale soewereiniteit uiteindelik ook as 'n eksklusiewe groepsreg ter wille van internasionalisme opgeoffer sal word. Alle nasies sal dan saamwerk om 'n gemeenskaplike struktuur vir 'n wêreldregering en 'n alliansie van wêreldgodsdienste te skep. Volgens die Bybel sal die Antichris die hoof hiervan wees en dit gebruik om Satan se doelwit van universele heerskappy en aanbidding te verwesenlik. Dit is dus 'n ernstige saak wat ons hier aanspreek omdat die lotgevalle van individue én volke ten nouste daardeur geraak word. Soos Josua, moet 'n Christen altyd 'n duidelike standpunt oor sy godsdienstige oortuigings inneem: "Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien" (Jos. 24:15). Die Aanslag op Christelike Onderwys Deur Johan Malan Opsomming: Soos in baie ander lande die geval is, het Suid-Afrika nou ook 'n humanistiese grondwet waarin die Christendom nie bo die ander gelowe erken word nie. Die geweldige implikasies hiervan is dat die staat sy Christelike karakter verloor, en dat Christelike onderwys in staatskole ook 'n verdwynende verskynsel is. Hierdie ernstige probleem word bespreek, asook die grondbeginsels van Christelike onderwys. Skriflesing : 2 Korinthiërs 6:14 - 7:1 Die verering en navolging van Jesus Christus vereis onverdeelde lojaliteit aan Hom alleen. Daar is geen manier waarop ons die Here Jesus in assosiasie met enige ander godsdiens kan aanbid nie. Trouens, die Christelike geloof vereis by almal wat dit bely 'n absolute en onvoorwaardelike disassosiasie met alle ander geloofsvorme: Gaan onder hulle uit en breek alle bande met hulle! Daar kan geen gemeenskap tussen die lig en die duisternis wees nie. Die Christendom is 'n eksklusiewe godsdiens wat alle ander godsdienste en middelaars uitskakel. Niemand gaan na die Vader behalwe deur Jesus nie (Joh. 14:6). Dit is 'n skending van die ware karakter van God en sy unieke openbaring deur Jesus Christus om ander gode voor sy aangesig te bring en hulle nog boonop met die Christendom gelyk te stel en in een juk te laat trek. Dieselfde geestelike wetmatighede geld ook t.o.v. die onderwys - dit is óf Christusgesentreerd in sy vertrekpunt en benadering, óf dit verloor sy ware Christelike karakter geheel-en-al. Ons kan met die beste wil in die wêreld nie vir God én Mammon gelyk dien nie. Daar kan nie multigodsdienstige onderwys wees op 'n wyse wat reg aan die Christendom laat geskied nie. Die groot probleem waarvoor Christene in Suid-Afrika te staan kom is dat ons land se grondwet, hoewel nie eksplisiet nie nogtans implisiet, multigodsdienstig is. Die staat verbind homself tot geen godsdiens hoegenaamd nie. Alle kulture en gelowe word op dieselfde vlak as menslike vryhede erken. Die staat het dus die keuse of hy sekulêr wil wees deur homself op amptelike terreine van alle vorms van geloofsbeoefening te distansieer, óf hy kan 'n multigeloofsbenadering aanvaar en bv. in skole ruimte vir multigodsdienstige onderwys skep. Lg. is die weg waarop daar nou besluit is. Unisa konferensie In Julie 1997 het Unisa se Departement van Godsdienswetenskap 'n konferensie oor multigodsdienstige onderwys gehou. Gauteng se onderwysers is deur hulle departement aangemoedig om dit by te woon. Op hierdie konferensie het die Adjunk-minister van Onderwys, mnr. Mkhatshwa, gesê dat Kurrikulum 2005 geen twyfel laat dat 'n religieuse dimensie 'n integrale deel van die nuwe leerplanne uitmaak nie. Wat verontrustend is, is dat hy laat blyk het dat die staat geensins van plan is om religie in die onderwys aan die godsdienstige gemeenskappe oor te laat nie. Op grond van die skeiding tussen kerk en staat eis hy vir 'n sekulêre staat die alleenreg vir godsdienstige, morele en sosiale beïnvloeding in skole op. Imam Rashied Omar van die Kaapstadse Instituut vir Vergelykende Religie het gesê dat die studie van religie tot al agt die leerareas van Kurrikulum 2005 moet deurdring. Dit sluit sosiale studies, kommunikasie, letterkunde, taal, kuns en kultuur in, asook die ekonomiese en bestuurswetenskappe. Prof. Kgatla van die Universiteit van die Noorde beweer dat die wiskunde en tegnologie in die donker rondtas as erkenning ontbreek van die menslike soektog na uiteindelike sin en betekenis in die lewe. Die natuurwetenskappe maak die fout om alles wat nie empiries verklaarbaar is nie, te verwerp. Hierdie leemtes moet nou deur verklarings uit die verskillende godsdienste aangevul word. Sodoende sal die mens 'n groter voeling met sy ervaringswêreld verkry en sal baie meer van sy vrae oor die lewe beantwoord word. Dit is by hierdie konferensie beklemtoon dat multigodsdienstige onderwys nie bedoel is om formatief te wees nie - slegs informatief. Dit wil dus slegs breër insig in en begrip vir die verskillende godsdienste en kulture in ons land bring om sodoende groter verdraagsaamheid en onderlinge aanvaarding in die hand te werk. Die idee is nie om mense geestelik te beïnvloed nie. Dit is egter baie duidelik nie 'n eerlike uiteensetting van multigeloofsonderrig se doelwitte nie. In sy lesing het prof. Kobus Krüger van Unisa se Departement van Godsdienswetenskap baie moeite gedoen om aan te toon dat daar 'n verwantskap tussen die verskillende gelowe is. Hy verwys na die vyf monoteïstiese godsdienste, nl. die Christendom, Judaïsme, Islam, Zoroastrisme en die Bahai-geloof, as lote wat uit dieselfde godsdienstige bos groei. Die Indiese gelowe, bv. Hindoeïsme en Boeddhisme, het egter ook op hierdie gelowe ingewerk, daarom bestaan daar in werklikheid 'n band tussen alle gelowe. Godsdiens word as 'n algemene menslike attribuut beskou, daarom kan die aanhangers van een godsdiens hulleself uit die kennis van ander gelowe verryk. Organisasie vir MGO Een van die gevolge van die Unisa konferensie was die stigting van 'n organisasie genaamd die National Association for Multireligious Education, met 'n voltydse kantoor in Johannesburg. Hulle sal lesings en oriënteringskursusse aanbied, handboeke voorsien en op verskeie maniere die saak van multigodsdienstige onderwys in die RSA bevorder. Die doel hiermee is dat die reënboognasie tot sy volle ontplooiing moet kom deur uit sy kultureel en godsdienstig diverse tradisies te put. Handboeke Daar is reeds drie handboeke vir die opleiding van onderwysers in die Multigodsdienstige oriëntasie beskikbaar. Die een is Festivals and Celebrations wat deur die Instituut vir Vergelykende Religie by die Universiteit van Kaapstad geproduseer is. Die ander twee het hulle oorsprong in Unisa se Dept. van Godsdienswetenskap. Die een boek is getiteld: Along edges. Religion in South Africa: Bushman, Christian, Buddhist. Dit is deur prof. Kobus Krüger geskryf. Die ander een is: The human search for meaning - a multireligious introduction to the religions of humankind. Die outers is prof. Kobus Krüger, dr. Gerrie Lubbe en dr. Chrissie Steyn. Die Christendom word histories-krities beskryf en onder 'n wolk van verdenking geplaas. Van Paulus word bv. gesê: "Paulus kan as die vader van die Christelike teologie beskou word... Sy denke openbaar 'n aansienlike kennis van en beïnvloeding deur die Griekse filosofie en die ander mistiese gelowe wat in die Hellenistiese kultuur rondom die Middellandse See aangetref is." (bl. 85) Die nie-Christelike gelowe word egter positivisties as menslike kultuurverskynsels beskryf, nêrens bevraagteken nie, en as 'n goeie aanvullende bron van kennis en inspirasie vir die Christendom voorgehou. Christelike onderwys In die lig van die voorgelese gedeelte uit Paulus se brief aan die Korinthiërs, is daar geen assosiasie tussen die Christendom en die nie-Christelike gelowe moontlik nie - beslis ook nie op die onderwysgebied nie. Ek wil graag die Bybelse uitgangspunte van Christelike onderwys só saamvat: Die oppergesag in die heelal is by God geleë. Hy is die God van hemel en aarde. Die Christen verhef homself nie tot op 'n vlak van humanistiese outonomie waarin hy sy eie god word nie. Hy vrees en dien die Drie-enige God en gee aan Hom erkenning - ook op die hoogste vlak van sy land se grondwet - en lê sodoende die grondslag vir 'n Christelike samelewingsorde. God is dus die hoof van die staat met al sy strukture, ook sy onderwysdepartement. Sy wette moet gehoorsaam en die beginsels daarvan in die regstelsel eerbiedig word. Ook moet die outoriteit, dissipline en tug wat God aan alle draers van gesag verleen, aktief beoefen word sodat 'n ordelike samelewing verseker kan word. Christelike onderwys is gebaseer op die kennis van God as die enigste oorsprong en ankerpunt van die waarheid oor geestelike én materiële dinge. Die waarheid van God word aan ons geopenbaar deur sy Woord wat die waarheid is, sy Seun wat die waarheid en die lewe is, en ook deur die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid lei. Hy gee aan ons verligte oë van die verstand om goed van kwaad en die waarheid van valshede te kan onderskei. "Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het 'n goeie verstand" (Ps. 111:10). In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge. As iemand wysheid kortkom, laat hom dit van God bid. Buite God is jy 'n dwaas wat op selfvernietiging afstuur, al het jy ook 'n doktorsgraad in jou vakgebied. Christelike onderwys erken God as die Skepper van die hemel en aarde, die plante en alle lewende wesens. Die evolusieteorie word dus verwerp en die Bybelse skeppingsleer verkondig. Daar word ook aanvaar dat die mens na die beeld van God geskape is. Hy is 'n intelligente wese wat kultuurskeppend kan optree, en hy het ook 'n onsterflike gees en siel. Sy attribute maak van die mens 'n unieke geskape wese wat nie uit die diereryk ontwikkel het nie. Christelike onderwys aanvaar die kultuuropdrag in die Bybel as basis vir 'n kreatiewe menslike bestaan van ontwikkeling en vooruitgang. Die opdrag is: "Onderwerp die skepping en heers daaroor." (Gen. 1:28). Die natuur met sy groot verskeidenheid hulpbronne moet tot die voordeel van die mens benut, bestuur, verbeter, veredel en beskerm word. Dit sluit navorsing en harde werk in. 'n Deel van die beheer wat oor die natuur uitgeoefen moet word, is die mens se vermoë tot voortplanting. Verantwoordelike gesinsbeplanning is dus hierby inbegrepe. Christelike onderwys is op die Bybelse beginsel van teenstellende denke gebaseer. Die kind moet 'n geestelike en intellektuele onderskeidingsvermoë ontwikkel om reg van verkeerd en dus positiewe van negatiewe waardes te kan onderskei. Hiermee saam gaan die vermoë tot analitiese denke waarin grense getrek en dinge in bepaalde kategorieë geplaas word. Die holistiese samevloeiing van alles, ook alle godsdienste, soos deur die mistiese gelowe en die Nuwe Era Beweging geleer, word totaal verwerp. Integrerende of sintetiese denke is die nie-Christelike model. Dit laat alle grense vervaag en breek mettertyd die grondslag van teenstellende of antitetiese denke af. Dan is niks meer verkeerd nie, alles is aan mekaar verwant, en kosmiese eenheid word die einddoelwit van jou lewe. Alle grense wat in die pad van kosmiese eenheid staan, bv. volksgrense, godsdienstige grense, kultuurgrense, taalgrense en biologiese grense, moet oorbrug en later heeltemal uitgefaseer word. Dit is waarom die volksgeskiedenis in nuwe handboeke verdraai en vals voorgestel word, sodat die kind se gevoel van volksgebondenheid afgebreek kan word. Godsdiens word só voorgestel dat alle gelowe reg begin lyk omdat hulle na bewering baie met mekaar in gemeen het. Sodoende kry die reënboognasie sy gestalte en word alles later onderdele van 'n groter geheel. Christelike onderwys aanvaar uitdruklik dat die mensdom as gevolg van die sondeval gedegenereer en dat almal 'n sondige natuur het. Daar is nie een regverdig nie, selfs nie een nie. Die groot verskeidenheid van menslike probleme wat as immoraliteit, gewelddadigheid, perverse gedragspatrone en verskillende vorms van afwykende gedrag beskryf word, is basies manifestasies van 'n sonde-probleem. Dit is 'n geestelike probleem wat op 'n geestelike vlak deur 'n geestelike wedergeboorte reggestel moet word. Mense moet met die nuwe natuur van die tweede Adam, Jesus Christus, bekklee word en daarin opgroei. Sekondêre metodes soos morele aansporing, sielkundige behandeling en ander vorms van terapie kan nie in isolasie die grondliggende sonde-probleem oplos nie. Christelike onderwys erken die Bybelse feit dat die mens se lewe op vyf vlakke afspeel, wat elk sy eie verantwoordelikhede en pligte het. Dit is op die vlak van die individu, die gesin, 'n breër familieverband, 'n volksverband, asook buite die volksverband. As 'n individu in eie reg is jy aan God aanspreeklik vir jou lewe, al die besluite wat jy neem en ook vir die wyse waarop jy jou talente gebruik en jou roeping vervul het. Individualisme is 'n sterk waarde in die Christendom. In gesinsverband geld voortplantings- en versorgingsfunksies, 'n Christelike opvoeding en die handhawing van Christelike dissipline en gesag. Familielede buite die gesin kan ook op grond van Christelike barmhartigheid vir hulp en ondersteuning by mekaar aanklop. In volksverband word mense op grond van 'n gemeenskaplike taal, kultuur, geloof, regering en vaderland aan mekaar gebind. Dit is 'n hegte band wat 'n groot invloed op mense se lewens het. Aansienlike verpligtinge word meegebring om volksbelange te bevorder en teen aanslae van buite te beskerm. Buite die volksverband geld die sendingopdrag, sodat die boodskap van Jesus Christus se reddende genade na alle volke, tale en nasies uitgedra kan word. Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is. Die positiewe en behoudende Christelike norme gaan altyd met 'n afwysing van heidense gedragspatrone en permissiewe, humanistiese lewenstyle gepaard. In die sekulêre en multigodsdienstige onderwys van die nuwe wêreldorde word beskaafde barbare gekweek. Hulle het geen behoudende beginsels nie en sal heidense praktyke soos towery, transendentale meditasie, waarsêery, spiritisme en voorvaderaanbidding beoefen, en ook immorele dade soos homoseksualisme, prostitusie, vrye seks, dronkenskap, aborsie, gewelddadigheid, korrupsie en leuens goed praat en as menslike vryhede beskou. Die plig van Christelike opvoeding word deur alle Christenouers aanvaar, soos ook uitgedruk in die doopbelofte. Die ouers het belowe om hulle kinders in die Christelike leer te onderrig en te laat onderrig. Hierdie belofte kom beslis in die gedrang as kinders toegelaat sou word om multigodsdienstige onderwys te ontvang. Waarom multigodsdienstige onderwys? As 'n aanloop tot die wêreldwye aanbidding van die Antichris moet alle godsdienste eers aan mekaar verbind word. Voorbereidings moet oor 'n wye front getref word voordat die gemeenskaplike aanbidding van dieselfde wêreldmessias sal kan plaasvind (Op. 13:3-4). Ideologieë soos sekulêre humanisme en ateïstiese kommunisme was dus nooit 'n einddoel nie, maar slegs 'n middel tot 'n doel. Fundamentele Christelike denke is daardeur aangeval, gediskrediteer, en tot 'n mate uit die weg geruim sodat 'n multigodsdienstige oriëntasie uiteindelik die plek daarvan kan inneem. Satan beveg wel die ware geloof, maar hy wil nie godsdiens uitroei nie omdat hy en sy handlanger, die Antichris, beide daarna streef om deur alle mense aanbid te word. Sekulêre humanisme moet dus plek maak vir kosmiese humanisme waarin die mens met latente kosmiese en psigiese kragte in hom begin eksperimenteer. Net so ook moet diktatoriale, ateïstiese sosialisme vir 'n veelparty demokratiese sosialisme plek maak, wat ook multikultureel en multigodsdienstig is. Hierdeur kan alle valse godsdienste in dieselfde strukture verenig word, en die weg vir die kosmiese Messias van die nuwe wêreldorde voorberei word. Ons opdrag as Christene is om die Antichris en sy ideologieë te weerstaan totdat die Here kom. Christene mag nie swig voor die druk en die knie voor Baäl begin buig nie. Dit is die weg van oorgawe en kompromie. Ons moet onwankelbaar vas staan op die Rots, Jesus Christus, al woon ons ook in 'n land waarin die vrees van die Here nie deur ons leiers beoefen word nie. Soos Josua moet ons altyd kan sê: "Al maak sommige van my volksgenote en landgenote watter godsdienstige kompromie ook al deur voor die gode van die heidene neer te buig, ek en my huis, ons sal die Here dien!" (Lees ook die artikel oor Multigodsdienstige onderwys)).