Vervulling met die Heilige Gees Deur Prof JS Malan Opsomming: Die leer oor heiligmaking word in die gereformeerde wêreld toenemend verwerp as sg. metodisme, of menslike pogings - tot só 'n mate dat die tweede genadewerk van heiligmaking selfs geheel en al misken word. As hierdie leer nie in ere herstel en ernstig opgeneem word sonder om in die slaggate van 'n charismatiese ervaringsteologie te beland nie, sal die kerk se geestelike bankrotskap en kragteloosheid tot sy eie nadeel verder verdiep. "...word met die Gees vervul" (Ef. 5:18). Dit is noodsaaklik dat Christene die opdrag tot vervulling met die Heilige Gees ernstig sal opneem en uitvoering daaraan sal gee. Dit is vir ons nodig om presies te weet wat hiermee bedoel word: Die woord vervul beteken: om toegedek te wees soos wat 'n voorwerp onder die water verdwyn en daarmee bedek word; om opgevul te wees soos wat 'n houer tot bo toe heeltemal vol gemaak is; om versadig te wees soos dors wat geles en 'n hongerige wat volkome versadig is; om deurdronge te wees soos 'n spons waarin die water tot in al sy dele deurgedring het; en 'n afgehandelde werk wat in elke opsig voltooi is. Weens die veelvuldige bedieninge van die Heilige Gees kry ons die uitdruklike opdrag om met die Gees vervul te word. Dit beteken dat ons nie by die eerste werke van die Gees, nl. sonde-oortuiging en wederbaring, moet berus nie, maar na die volheid van die Heilige Gees moet soek. Ons moet 'n lewe lei wat volkome onder die beheer van die Heilige Gees is, sodat ons in ons hele lewenswandel heilig kan word. Dit beteken net een ding, en dit is dat ons ná ons bekering verder deur die Heilige Gees vervul, beheer en gebruik moet word. Die feit dat 'n Christen reeds by sy bekering die Heilige Gees ontvang, onthef hom nie van die duidelike opdrag om met die Gees vervul te word nie. Inteendeel, die opdrag tot vervulling met die Gees word nét aan kinders van die Here gegee wat almal reeds die Heilige Gees ontvang het! Hulle moet nou verder vervul word tot al die volheid van God. Die Vader, die Here Jesus én die Heilige Gees moet meer word in ons lewe, en ons minder (Joh. 3:30). In die vervulling met die Heilige Gees is daar dus sprake van 'n leegmaak- én 'n volmaak-proses. Die Here wil nie hê dat ons as vleeslike Christene beskryf moet word nie, maar as Geesvervulde Christene. Aan die sukkelende Korinthiërs het Paulus gesê: "En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kindertjies in Christus" (1 Kor. 3:1). Hulle gebrek aan geestelike volwassenheid, insig, en krag was 'n duidelike bewys dat hulle nie met die Heilige Gees vervul was nie. Hoewel die Heilige Gees 'n Persoon is, kan Hy in 'n meerdere of mindere mate beheer oor ons lewe uitoefen. By die vervulling stort Hy meer van sy gawes, liefde, krag en wysheid in ons harte uit. Daarna word sy teenwoordigheid in 'n groter mate as tevore ervaar. Ons word nou met Hom deurdronge en Hy beheer en heilig elke aspek van ons lewe. Die vroeë Christelike kerk Die wyse waarop die Heilige Gees aan die vroeë Christelike kerk gegee is, bevestig bo enige twyfel die feit dat 'n Christen met sy/haar bekering nog nie met die Heilige Gees vervul is nie. Let op die volgende Nuwe Testamentiese uitsprake hieroor: Die dissipels van Jesus was voor Pinksterdag gered en het reeds die Heilige Gees ontvang. In Johannes 20:21-22 lees ons: "Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees." Op Pinksterdag is die dissipels met die krag en vrymoedigheid van die Heilige Gees vervul om hulle opdrag as die getuies van Jesus in 'n vyandige wêreld te kon uitvoer. Hoewel die Gees reeds in hulle harte was, was daar op dié dag 'n verdere aandoening met krag uit die hoogte: "Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit het. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees" (Hand. 2:3-4). Ná hulle eerste vervulling is die dissipels wéér met die Heilige Gees vervul, wat daarop dui dat ons meerdere vervullings in ons lewe nodig het. In Handelinge 4:31 lees ons: "En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek." Paulus is met die Heilige Gees vervul drie dae ná sy dramatiese bekering op die Damaskuspad. Ananias het in opdrag van die Here na Pulus toe gegaan, vir hom hande opgelê en gesê: "Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word" (Hand. 9:17). Op sy eerste sendingreis is Paulus en sommige van die dissipels tydens groot vervolging in Antiochië weer met die Heilige Gees vervul: "En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees" (Hand. 13:52). 'n Besliste kwalifikasie Dit is vir elke Christen 'n noodsaaklike kwalifikasie om met die Heilige Gees vervul te word. Indien dit so was dat elke Christen outomaties met die Heilige Gees vervul is, dan sou daar nie so iets soos kragtelose, moedelose, biddelose, vleeslike, onseker en onvolwasse Christene gewees het nie. Dit is juis omdat nie almal Geesvervuld is nie, dat die Bybel so dikwels sê wie Geesvervuld is, en hoe 'n Geesvervulde Christen lyk. Oor Johannes die Doper lees ons: "Hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees" (Luk. 1:15; kyk ook Luk. 1:41 en 67 oor Johannes se ouers). Petrus was vervul met die Heilige Gees toe hy op Pinksterdag gepreek het (Hand. 4:8). Dit was 'n vereiste vir die eerste diakens om Geesvervulde Christene te wees, wie se lewens hiervan getuig het:: "Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid" (Hand. 6:3). Stéfanus was 'n man "vol van geloof en van die Heilige Gees" (Hand. 6:5; kyk ook 7:55). Paulus bid die gemeente in Éfese toe om met krag versterk te word deur die Gees van God in die innerlike mens, sodat hulle vervul kan word tot al die volheid van God" (Ef. 3:16, 19). Hulle word ook vermaan om nie wyndrinkers te wees wat losbandig leef nie, maar om met die Gees vervul te word. "Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul" (Ef. 5:18). Krag uit die hoogte Het jy jouself al afgesonder, verootmoedig en om die vervulling van die Pinksterbelofte gebid? Die Here Jesus het vir die dissipels gesê dat hulle in Jerusalem moes bly totdat hulle toegerus is met krag uit die hoogte (Luk. 24:49). Die gevolg hiervan, nl. toerusting vir diens, is duidelik aan hulle uitgespel: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde" (Hand. 1:8). Daar is reeds op gewys dat die dissipels nie net een keer nie, maar meermale met die Heilige Gees vervul is. Die herlewingsprediker, Charles Finney, getuig nie net van 'n eerste vervulling met die Heilige Gees nie, maar ook van verdere vervullings. In sy boek Krag uit die hoogte skryf hy: "Tot eer van die Here wil ek iets van my eie ondervinding hier meedeel. Kort ná my bekering het ek oorweldigende vervullings met die Heilige Gees beleef. Ek het só 'n toerusting met krag ondervind dat slegs 'n paar woorde wat ek gespreek het, tot mense se onmiddellike bekering gelei het. My woorde het die skerpte van 'n swaard gehad en mense se harte soos pyle binnegedring. Dit het hulle weerstand afgebreek en talle het tot bekering gekom. "Op ander tye was ek egter weer sonder hierdie krag, dan het my woorde geen indruk op mense gemaak wat tot hulle bekering gelei het nie. Ek het dan 'n dag vir vas en gebed afgesonder en angstig na redes vir die oënskynlike leegheid gesoek. Nadat ek myself verootmoedig en om hulp geroep het, het die krag van die Heilige Gees met 'n nuwe varsheid na my teruggekeer. Só het ek dit telkens in my lewe ondervind." Hierdie manne van God het dadelik geweet wanneer hulle nie meer op standaard met die Here was nie, en daadwerklik iets daaraan gedoen. Waarom nuwe vervullings? Die vraag word soms gevra waarom ons nuwe vervullings met die Heilige Gees nodig het? Dit is omdat ons verhouding met die Heilige Gees so geweldig sensitief is en ons Hom maklik kan bedroef. In Efésiërs 4:30 sê Paulus: "En bedroef nie die Heilige Gees van God nie." Wanneer ons aan versoekings en swakhede toegee, bedroef ons die Heilige Gees. Wanneer ons ons stiltetye nalaat, traag is om die Here te dien, en ook versuim om Hom te raadpleeg en te ken in al ons weë, bedroef ons Hom ook. Al hierdie dinge kan na geleidelike veragtering in die genade lei, met die gevolg dat ons ons salwing kan verloor. Ons verloor nie hiermee die Heilige Gees nie, maar ons bedroef Hom deur sy invloed in ons lewe te beperk. Hy onttrek dan sy krag en blydskap van ons af, asook die salwing wat ons gehad het. By die eerste tekens dat dit besig is om te gebeur, moet ons dadelik 'n tyd van selfondersoek en verootmoediging inruim, en die saak regstel. Dit moet gebeur nog voordat ons tot oneer van die Here begin leef, en ander mense duidelik bemerk dat ons besig is om geestelik af te koel. Dawid het in sy binnekamer gebid: "Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! (Ps. 139:23-24). Indien kinders van die Here niks aan die proses van veragtering doen nie, val hulle geestelik terug in 'n vleeslike toestand. Aan hulle sal dan ook, soos aan die Galásiërs, gesê kan word: "O onverstandige Galásiërs... nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees" (Gal. 3:1-3). Dit is selfs moontlik om ook die Heilige Gees in jou lewe uit te blus soos wat 'n lamp uitgeblus word (1 Thess 5:19). Dit is 'n uiterste vorm van veragtering, maar dit kán nogtans gebeur. Iemand wat in sonde geval het, moet dadelik sy/haar sondes bely en daarmee breek. Bid om die reiniging van jou sondes deur die bloed van die Lam, en bid ook vir 'n nuwe vervulling met die Heilige Gees. Moenie met jou sonde voortgaan, afvallig en hard teenoor die Here word, en sodoende die Heilige Gees uitblus nie (vgl. Heb. 3:12-13). 'n Teruggevallene moet die gebed van Dawid bid nadat hy/sy in sonde geval het: "Was my, dat ek witter kan wees as sneeu... Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my oortredinge. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur 'n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot u kan bekeer" (Ps. 51:9-15). Die wyse van vervulling Die besondere ervaringe wat mense het oor hoe en wanneer hulle met die Gees vervul is, mag nooit tot 'n norm verhef en op ander afgedwing word nie. Die Here werk nie met alle mense op presies dieselfde manier nie. Wat wél 'n norm en bewys van die vervulling met die Heilige Gees is, is die deurlopende vrug van die Heilige Gees in 'n persoon se lewe - nie gawes nie, want dít gee die Gees aan wie Hy wil soos Hy wil. Ons opdrag is om vrug te dra wat by die bekering pas. Dit is juis hiervoor dat 'n rein hart en die instaatstellende krag van die Heilige Gees aan ons gegee word. Sommige mense het 'n baie duidelike ervaring van vervulling met die Heilige Gees ná hulle bekering, en getuig daarvan as 'n tweede genadewerk. Dit is eg Bybels om só 'n ervaring te hê en, soos ons gesien het, is daar meer sulke ervarings in die lewens van God se kinders nodig. Ander mense weer, kom baie grondig tot bekering en bid terselfdertyd om die vervulling met die Heilige Gees. Hulle besef ook hulle diepe afhanklikheid van die krag en leiding van die Gees van God, en gaan in 'n lewe van gehoorsaamheid en toewyding aan om te groei in die Here. Hulle geniet dieselfde seën van heiligmaking, hoewel die eerste ervaring daarvan nie so duidelik uitstaan nie. Nuwe ontmoetings met die Here, en nuwe salwings met sy Gees is egter vir hulle ook nodig. Andrew Murray het gesê dat sommige Christene soos 'n Karoo-dam is wat op 'n dramatiese wyse in een donderstorm vol water loop. Ander is weer soos 'n dam in die berge wat stadig en byna onopsigtelik deur 'n standhoudende fontein gevoed word en vol loop. Beide kom vol, maar op verskillende maniere. Die feit is net dat ons vervul móét word! Die Here Jesus het gesê: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei" (Joh. 7:37-38).