Die liefde van God Deur Prof JS Malan Opsomming: Die liefde van God is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan. Dit is 'n liefde wat ten grondslag van die saligheidsplan lê, en ook van ons verhouding met die Here. Goddelike liefde het egter eienskappe wat heel anders as die besitlike liefde van die mens is. In die volgende drie dele van hierdie artikel word eers die kenmerke van Goddelike liefde behandel, daarna word die ideale liefdesverhouding uit die boek Hooglied beskryf, en dit word gevolg deur 'n Bybelse oorsig oor God se liefde vir die volk Israel. 1. Kenmerke van God se liefde Lees 1 Korinthiërs 13:1-13. Die basiese elemente van die mens se geestelike lewe word in 1 Korinthiërs 13:13 gedefinieer, waar Paulus sê: "En nou bly geloof, hoop, liefde - hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde." Waarom is die liefde groter as geloof en hoop? Geloof is 'n uitdrukking van die verhouding waarin ek tot die Here staan. Ek glo in Hom, ek neem Hom in die geloof aan, en ek lewe ook deur die geloof. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6) Maar geloof sal ophou wanneer die Here kom - want dan gaan geloof oor in aanskoue. So ook is hoop deel van die Christen se lewe. Hy stel sy hoop en vertroue vir tydelike én ewige dinge in die Here. Ons het die hoop op die ewige lewe saam met die Here as 'n anker van sie siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel (Heb. 6:19). Iemand wat nie hierdie hoop het nie, is sonder God en sonder hoop in die wêreld. Maar hoop sal ook eendag in 'n finale vervulling gaan en daarna as 'n geestelikie eienskap nie meer beoefen word nie. Die liefde is egter ewig en onvernietigbaar. Daar is 'n ewigdurende liefdesband tussen die hemelse Bruidegom en sy bruid. Dit sal vir altyd bestaan, en dít is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan - die agapé liefde van God. Juis omdat God liefde is en ook vir ons in ons sondige toestand liefgehad het, het Hy sy Seun gegee om vir ons te sterwe sodat ons gered kan word. "Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê" (Joh. 3:16). Jesus Christus is die sigbare vergestalting van God se liefde en genade vir 'n sondige mensdom. Dit maak 'n geloofsverhouding met God moontlik, en dit gee ook aan ons hoop vir hierdie lewe én die toekomstige lewe. Geloof en hoop kan dus slegs beoefen word omdat daar liefde is. Ons lewens moet ook hiervan getuig. Ons moet in die liefde van God gewortel en gegrond wees. Ons moet daarin opgroei, dit moet sy stempel op ons karakter afdruk en sy goddelike invloed in ons hele lewenswandel laat geld. Ja, ons moet volmaak word in die liefde (1 Joh. 2:5). Die vyf groot eienskappe van God se liefde is die volgende: 1.1 Dit is 'n ewige en onveranderlike liefde God se liefde bestaan van ewigheid tot ewigheid. Dit is nie tydelik en verbygaande van aard nie. Ons leef in 'n sondige, gevalle wêreld waarin alle dinge aan die verganklikheid onderworpe is. Niks het ewigheidswaarde nie, daarom kan hierdie wêreld geen blywende geluk aan jou bied nie. Die meeste mense is weens hulle vleeslikheid en sondige natuur onbetroubaar en veranderlik. Goedgesindheid gaan dikwels oor in kwaadgesindheid, aanvaarbaarheid in verworpenheid, toegeneëntheid in afsydigheid, en liefde in liefdeloosheid, veragting of selfs haat. God se liefde is egter ewig en onveranderlik. Dit gee aan jou iets om voor te lewe waarop jy altyd kan peil trek en wat niemand van jou af kan wegneem nie - selfs nie die dood nie. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Dit maak die lewe oor en oor die moeite werd omdat dit 'n saak is wat jou oor die grense van tyd en ruimte aan die ewige lewe van God self verbind. Die mees verhewe en sinvolle gedagtes wat die mens kán bedink is oor die liefde van God. Aan 'n professor in Afrikaans is by geleentheid deur 'n verslaggewer gevra wat die mooiste en mees betekenisvolle woorde is wat sy ooit gelees het. Hierdie dame is 'n diep gelowige persoon wat benewens die Bybel goed belese in die Afrikaanse, Engelse en Franse letterkunde is. Sonder huiwering het sy die eerste paar woorde van 1 Korinthiërs 13:8 aangehaal: "Die liefde vergaan nimmermeer." Wat 'n aangrypende gedagte: "Die liefde van God vergaan nooit nie!" Dit is 'n onvervreembare geskenk. Dit bied aan jou oneindig meer as wat dit van jou vra. Al wat dit van jou vra is 'n bereidwilligheid om deur hierdie liefde herskep te word. Jy moet uit jou lewe van sondigheid, kortsigtigheid en materialisme opstaan, jou tot die lewende God bekeer deur in Hom te glo, en 'n lewe te lei waarin jy Hom deur die Here Jesus sal liefhê en jou hoop vir tyd en ewigheid in Hom alleen sal stel. 1.2 Dit is 'n liefde wat gee God se liefde het 'n uitwaartse gerigtheid deurdat dit na 'n wêreld in sy nood uitreik. Dit is waarom Hy die kosbaarste van alle geskenke vir die wêreld kon gee, nl. sy eniggebore Seun wat Homself vir ons sondes geoffer het. "Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee" (Joh. 15:13). Hy is die goeie herder wat sy lewe aflê vir die skape. Hierdie eienskap van God se liefde is presies die teenoorgestelde as dié van die sondige mens wie se sinne deur Satan verblind is. Die gevalle mens het 'n verwronge, hebsugtige en selfgerigte liefde. Hy is opgeblase, vol van homself en praat graag groot. Hy het homself ten koste van andere lief. Dit wat hy sien, begeer hy en wil dit vir homself inpalm. Hy wil nie homself verloën en gee nie, want hy het geen ware meegevoel nie en gee nie regtig om as die onheile andere tref nie. Hy het net diegene lief uit wie hy iets kan kry, en vir wie hy kan gebruik en ook misbruik. Hy word verbitterd as hy nie sy sin kry nie, en is sterk op vergelding ingestel. Hoe anders is die rein, suiwer, herskeppende en onselfsugtige liefde van God nie! Dit is só groot en opreg dat dit alle sondaars insluit. "God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Rom. 5:8). Hy het alle mense liefgehad en na hulle neergebuig om hulle uit die kuil van vernietiging op te trek. Hy dra almal se ewige belange op die hart, en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie maar dat almal gered moet word (2 Pet. 3:9). 1.3 Dit is 'n liefde wat kan vergewe en vergeet God se liefde vergewe totaal en ongekwalifiseerd - só volkome dat Hy nooit weer een keer na die sonde wat vergewe is, verwys nie. Hy werp dit in die see van vergetelheid en dink nie weer daaraan nie. Hy reken die kwaad nie toe nie en verwyt mense nie vir sondes wat bely en laat staan is nie. Selfs al sondig sy kinders weer, dan raak Hy nie teen hulle verbitterd nie, en vergewe maar weer. Jesaja 55:7 sê Hy vergeef menigvuldiglik. Mense wat teruggeval het, soos bv. die verlore seun in die gelykenis, moet net bereid wees om na hulle Vader terug te keer en hulle saak met Hom reg te maak. Hulle sal in Hom 'n liefdevolle en vergewensgesinde Vader vind wat opnuut vir hulle 'n feesmaal in sy koninkryk sal berei. Hy sal hulle nie donker aankyk as hulle met berou na Hom terugkeer nie. Hoe anders tree die mens nie op nie, hoe onopreg is sy liefde nie, en hoe traag is hy nie om volkome te vergewe en 'n saak vir altyd te bedek nie. Salomo sê: "Wie 'n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat 'n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar" (Spr. 17:9). Nie net vriende skei as gevolg van liefdelose beskuldigings nie, maar ook huweliksgenote. Mense wat nie met die liefde en vergewensgesindheid van God vervul is nie, raak maklik verbitterd teenoor mekaar, grawe ou koeie uit die sloot, en beskuldig mekaar opnuut oor en weer. Waar is die gesindheid van Christus, om dinge wat reggemaak is nooit weer op te haal nie? Ons het die volgende duidelike opdrag oor vergewensgesindheid: "Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar" (Kol. 3:13-15). 1.4 Dit is die wet van die Nuwe Testament Om in die liefde van God gewortel en gegrond te wees, is die geheim van 'n lewe van volkome geestelike vervulling. Dit is waarom ons in die Nuwe Testament net een wet het, en dit is die wet van die liefde. As jy die Here liefhet met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte, dan sal jy aan Hom getrou bly en nooit die knie voor ander gode buig nie. As jy jou naaste liefhet soos jouself, dan vervul jy al die ander wette wat die verhouding met jou medemens reël: "Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet" (Rom. 13:10). Liefde moet die hoofkenmerk van die Christen se lewe wees. In sy hoëpriesterlike gebed het Jesus aan die Vader gesê: "Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle" (Joh. 17:26). Aan die dissipels het Jesus gesê: "'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal die wêreld weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het" (Joh. 13:34-35). 1.5 Dit is grensloos Ons kan geen grense stel of beperkinge op die liefde van Jesus plaas nie. Ons moet bewus daarvan wees dat dit elke aspek van ons bestaan insluit. Paulus sê in sy gebed vir die Efésiërs: "Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus... dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens... julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God" (Ef. 3:14-19). Hoewel ons van die rykdom van God se liefde bewus kan wees, beteken dit nie dat ons dit ten volle kan deurgrond nie. God se liefde in Christus Jesus is onpeilbaar en grensloos. Dit is breër as die wêreld, dieper as die diepste see en hoër as die hoogste hemel. Ons staan in verwondering voor die onnaspeurlikheid van die Here Jesus se liefde en reddende genade. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge. Sy almag en liefde ken geen perke nie. Hy kan in elke behoefte van ons voorsien na die rykdom van sy genade. Hierdie liefdevolle Verlosser trek ook vir jou en my na Hom toe met koorde van liefde. Hy wil ons nie net red en die ewige lewe aan ons skenk nie, maar ons volmaak en volkome in sy liefde bevestig. Deur die Heilige Gees stort Hy sy liefde in ons harte uit. Hy maak van ons skynende ligte in 'n donker en liefdelose wêreld. Is jou lewe volkome onder die beheer van God se herskeppende, onveranderlike en ewige liefde? Dan sal daar by jou 'n groot verlange wees dat andere dit ook deelagtig moet wees. Jou grootste verlange sal egter na die koms van die hemelse Bruidegom wees wat spoedig sy bruid na 'n hemelse ivoorpaleis sal wegvoer om vir ewig by Hom te wees. Die liefde van God (deel 2) Deur Prof JS Malan Opsomming: Die liefde van God is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan. Dit is 'n liefde wat ten grondslag van die saligheidsplan lê, en ook van ons verhouding met die Here. Goddelike liefde het egter eienskappe wat heel anders as die besitlike liefde van die mens is. In die volgende drie dele van hierdie artikel word eers die kenmerke van Goddelike liefde behandel, daarna word die ideale liefdesverhouding uit die boek Hooglied beskryf, en dit word gevolg deur 'n Bybelse oorsig oor God se liefde vir die volk Israel. 2. Die ideale liefdesverhouding 'n Liefdesverhouding tussen 'n bruid en haar bruidegom word in die boek Hooglied beskryf. In baie opsigte is dit 'n uitbeelding van die wonderlike verhouding tussen die hemelse Bruidegom, Jesus, en sy aardse bruid, die ware kerk, met wie Hy by sy wederkoms verenig sal word. Die skoonheid en voortreflike eienskappe van die bruid en die Bruidegom, die uitnemendheid van hulle liefde vir mekaar, die reinheid van hulle verhouding, die selfopofferende wyse waarop hulle mekaar bemin, en die gedurige verlange na mekaar se teenwoordigheid, is die allesoorheersende passie van hulle siele. DIE BRUIDEGOM In Hooglied word die volgende oor die Bruidegom gesê: "U naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief" (1:3). Die Bruidegom het 'n uitnemende en begeerlike Naam. Wanneer dit uitgespreek en verkondig word, versprei dit 'n lieflike geur, soos kosbare nardussalf wat uitgegiet word. Dit heel wonde, bring blywende vertroosting en vul die lewe van sy bruid met 'n diep en innige vreugde. "Trek my agter u aan" (1:4). Die bruid het net een begeerte, en dit is om by die Bruidegom te wees. Die oorsprong van hierdie wonderlike verhouding is by die Bruidegom geleë. Hy het sy bruid kom opsoek, 'n nuwe lewe en blydskap aan haar geskenk, en trek haar met koorde van liefde na Homself toe. Haar heil is net by Hom te vinde. "Ons wil u liefde prys... Met reg het hulle u lief" (1:4). Die wonderskoonheid van sy liefde is iets om oor opgewonde en bly te wees. Dit is prysenswaardig en lofwaardig bo enigiets wat 'n mens kan bedink. Met reg moet Hy bemin, geëer en aangehang word. Hy het 'n Naam wat bo alle name is. Om Hom nie lief te hê nie, is die mees jammerlike vorm van geestelike armoede wat daar is. "Sy vaandel oor my was die liefde" (2:4). Die rede vir sy verskyning is liefde vir 'n verloregaande wêreld. Die opofferende liefde waardeur Hy Homself vir die redding van sy bruid gegee het, is die vaandel en banier van sy hemelse koninkryk. Die bruid besef dat sy geen verdienste of aanspraak op hierdie verhouding het nie. Sy is wat sy is omdat die Bruidegom haar eerste liefgehad het. Hy het sy vaandel oor haar opgehef en haar in sy liefde gewortel en gegrond. "Hoor, my beminde klop" (5:2). Hy is die een wat by die deur staan en klop. Hy wil sy liefde aan sy toekomstige bruid bekend maak, en ná hulle eerste ontmoeting ook nuwe ontmoetinge met haar hê sodat sy vir altyd in sy wonderlike teenwoordigheid kan wees. Haar lewe moet 'n onafgebroke toewyding aan Hom wees, met 'n diepe begeerte dat Hy altyd baie naby aan haar sal wees. "Kyk, die winter is verby... Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor" (2:11-12). Waar die Bruidegom kom, bring Hy nuwe lewe. Die winter met sy doodslaap is verby, en bloeisels spruit uit die tuine en wingerde voort. Vrolikheid heers en die gesang van die tortelduif klink op. Die duif is 'n beeld van die Heilige Gees, en wanneer Hy kom, kondig Hy die lente van 'n nuwe lewe aan. Dit is 'n boodskap van blydskap en hoop! "Ek is 'n narsing van Saron, 'n lelie van die dale" (2:1). Die vlakte van Saron is in die lente een groot blommesee. Die Bruidegom is die versinnebeelding van die lente met al sy prag en lewe. Sy skoonheid en lieflikheid word met die roos van Saron vergelyk, en ook met die lelie van die dale. Selfs Salomo met al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hierdie lelies nie. "Soos 'n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde... Ek verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte" (2:3). Hy bied beskutting aan sy bruid teen die hitte van die warm woestynson - 'n plek van veiligheid en stille rus. As die boom van die lewe het sy nie alleen haar nuwe lewe aan Hom te danke nie, maar Hy versadig ook elke dag haar geestelike honger en dors. Sy wonderlike beloftes en die woorde uit sy mond is soet vir haar verhemelte. Sy verlustig haarself daarin, bêre dit in haar hart en put inspirasie en vreugde daaruit. "My beminde is myne, en ek is syne wat herder is onder die lelies" (2:16). 'n Baie intieme liefdesband bestaan tussen die twee bemindes. Hulle behoort aan mekaar. Sy sê: Hy is myne en ek is syne. Die Bruidegom is die verpersoonliking van ware liefde. Hy is die herder van sy kudde en sal hulle lei na groen weivelde, na waters waar rus is. "Liefde is sterk soos die dood... Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie" (8:6-7). Hierdie liefdesband is sterk en die vlam van die liefde onuitbluslik. Die bedreiging van groot watervloede kan dit nie vernietig nie. Dit is sterker as die dood en hou vir ewig stand. Geen dood of lewe, of verdrukking of benoudheid, kan haar skei van die liefde van die Bruidegom nie. "Die koning het my in sy binnekamers gebring" (1:4). Die Bruidegom berei vir sy beminde 'n woonplek in die paleis van die Koning, omhul met die glansryke heerlikheid van die nuwe Jerusalem. Dit is haar ewige tuiste waarheen Hy haar sal neem wanneer Hy kom. DIE BRUID Die skoonheid van die bruid word ook in Hooglied besing: "Mooiste onder die vroue" (1:8). Deur die aanraking van die Bruidegom het sy 'n hemelse skoonheid wat ander vroue onder die mensekinders nie het nie. Sy is geroepe om onberispelik te wees in heiligheid. Die wêreld moet kan sien dat sy deur die liefde en skoonheid van die Bruidegom omstraal word. "My nardus het sy geur gegee" (1:12). In die tyd van Salomo, en ook lank daarna, is nardussalf en -olie as een van die kosbaarste parfuums gereken. Die bruid word deur die lieflike geur van nardus omring. Sy is hiermee gesalf, en dit dra 'n onmiskenbare getuienis uit na almal wat naby aan haar is. "My beminde is vir my 'n tros hennablomme in die wingerde van Éngedi" (1:14). Die hennastruik met sy lang trosse wit blomme staan ook as die bruidsblom bekend. Dit versprei 'n besonder aangename geur. Die trosse blomme word soms deur vroue om hul nek gedra. Hoe paslik is dit nie om 'n bruid met haar vlekkelose wit kleed en pragtige voorkoms met hennablomme in die wingerde van Éngedi te vergelyk nie! "Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters" (2:2). Die bruid het 'n hemelse skoonheid en reinheid wat die ongereddes rondom haar nie het nie. Haar geestelike skoonheid en morele reinheid is in skrille kontras met die verdorwe karaktertrekke van 'n ongeredde mensdom wat deur die sonde oorheers en ontsier word. "Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet" (4:16). Die lewe van die bruid moet die lieflike geur van die genade en liefde van haar Bruidegom oral versprei. Die noordewind en die suidewind moet die geure uitdra. Benewens die bloeisels moet daar ook vrugte in die bruid se tuin wees. Haar lewe moet soos 'n tuin wees waarin die Bruidegom die kostelike vrug van sy eie handewerk kan sien en geniet. "(My susterbruid) is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Libanon afvloei" (4:15). Die bruid moet 'n fontein van lewende water hê wat uit haar binneste opborrel. Dit moet 'n bron van verkwikking vir baie ander mense wees. Hierdie water kom van haar Bruidegom wat self die water van die lewe is, en wat dit deur die Heilige Gees aan sy beminde skenk. "My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans... laat my u stem hoor" (2:14). Sy skuil in die veilige beskutting van 'n rotsvesting, hoog in die berge. Van hier af moet sy haar roepstem in die klowe daaronder laat hoor, omdat sy 'n duidelike boodskap aan die wêreld het. Ook wil die Bruidegom haar stem hoor wanneer sy lofliedere tot eer van sy Naam sing en Hom ook in die gebed aanroep. Sy moet nooit ophou om die lof van haar Verlosser te verkondig nie. "Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?" (6:10). Die bruid is soos die lig van die môreglans wat die duisternis van die nag verdryf. Sy is mooi soos die volmaan wat 'n donker wêreld verlig - al is dit net 'n floue afskynsel van die Bruidegom wat die son van geregtigheid is. Sy staan tussen 'n verloregaande wêreld en die Bruidegom, en alleen in haar lewe kan hulle Hom sien. Sy is rein soos die son en het geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie. As 'n vreemdeling op aarde is sy geroepe om heilig en afgesonderd te leef en onder die vaandel van geregtigheid teen boosheid in al sy vorms stryd te voer. "Die wagte wat in die stad rondgaan, het my... geslaan, my gewond; (hulle) het my mantel van my afgeneem" (5:7). Om van die Bruidegom te praat en Hom te soek, bring die bruid in onguns by die wêreld. Vervolging en selfs berowing spruit hieruit voort maar dit kan haar liefde vir die Bruidegom en haar onvoorwaardelike toewyding aan Hom, nie uitblus nie. "Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei" (2:15). Die lewe van die bruid word op verskillende maniere bedreig - soms deur klein dingetjies. Sy moet die vyand van haar siel teëstaan en alle bedreiginge en aanvalle in die Naam van die Bruidegom oorwin. Sy moet nie toelaat dat sy geestelik verarm word en verkoel in haar liefde nie. "Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde?" (8:5). Uit die woestyn van 'n geestelik verdorde en sondige wêreld het die Bruidegom sy bruid kom roep en aan haar 'n nuwe lewe geskenk. Sy het soos 'n lentetuin geword wat pragtige bloeisels voortbring, lieflike geure versprei en vrugte dra waardeur haar Beminde verheerlik en 'n honger mensdom gevoed kan word. Nie almal aanvaar die lof van haar Beminde wat sy verkondig nie. In haar lewe van toewyding aan Hom moet sy elke dag swaar op Hom leun. Hy is haar motivering, krag en sterkte om voort te gaan totdat Hy kom om haar na haar ewige tuiste weg te voer. "Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, kom aan, my beminde" (2:17). Nadat sy haar Beminde ontmoet het, verdwyn Hy weer skielik en verlang die bruid elke oomblik na sy teenwoordigheid by haar. Sy soek die hele dag lank na Hom, totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug. In die stilte van die aanduur, nadat die dag gedaal het, kom Hy na haar toe en ontmoet sy Hom opnuut. Haar siel word versadig van sy liefde, en haar blydskap is volkome. Maar dan is sy weer alleen en sien opnuut na sy fisiese verskyning uit. "Op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie. Ek wil dan opstaan en in die stad rondgaan, in die strate en op die pleine wil ek na my sielsbeminde soek" (3:1-2). Hy is altyd naby, en tóg moet sy Hom soek. Sy liefde is só wonderlik dat sy nooit weer tevrede kan wees met die wrange vrugte van wêreldse geluk nie. 'n Nuwe ontmoeting met Hom is al wat die begeerte van haar siel kan versadig. Die verlange na sy persoonlike teenwoordigheid sal voortduur todat Hy sy bruid, vir wie Hy innig liefhet, vir die bruilof van die Lam kom haal. Dan sal hulle altyd bymekaar wees en sal daar nooit weer 'n uur van skeiding wees wat trane kan bring nie. "Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie" (4:7). Hierdie skoonheid is deur die Bruidegom aan haar verleen. Deur 'n verbintenis met Hom het die ou dinge verbygegaan; kyk, dit het alles nuut geword. Hierdie vernuwende aanraking vind noue aansluiting by wat Paulus in Efésiërs 5:25-27 van die hemelse Bruidegom sê: "Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" (Ef. 5:25-27). Het u al só verander geraak deur die vernuwing van u gemoed, dat die skoonheid van die Here Jesus in u gestalte aangeneem het? Die liefde van God (deel 3) Deur Prof JS Malan Opsomming: Die liefde van God is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan. Dit is 'n liefde wat ten grondslag van die saligheidsplan lê, en ook van ons verhouding met die Here. Goddelike liefde het egter eienskappe wat heel anders as die besitlike liefde van die mens is. In die volgende drie dele van hierdie artikel word eers die kenmerke van Goddelike liefde behandel, daarna word die ideale liefdesverhouding uit die boek Hooglied beskryf, en dit word gevolg deur 'n Bybelse oorsig oor God se liefde vir die volk Israel. 3. God se liefde vir sy volk Israel Die wonderlike eienskappe van God se liefde is in die Ou Testament op 'n duidelike wyse aan Israel geopenbaar. Hierdie volk het sy hele bestaan en voortbestaan aan God se liefde te danke. Dit moes egter 'n wederkerige liefde wees, daarom het die verpligting op die volk gerus om God se liefde te beantwoord en altyd in die regte verhouding met Hom te lewe. In Deuteronómium 7 het Moses aan Israel gesê: "Die Here het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig" (Deut. 7:7-10). Elke lid van die volk wat die Here nie liefhet nie en die rug op Hom draai, sou homself met baie smarte deurboor. Hy sou self die lydende party wees. Aan die ander kant sal diegene wat die Here liefhet, ryklik geseën word: "En Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Geseënd sal jy wees bo al die volke" (Deut. 7:13-14). Om vir hierdie seëninge te kwalifiseer, is daar net die eis van 'n opregte liefde wat ook in toegewyde liefdesdiens sigbaar moet wees: "En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel?" (Deut. 10:12). Om die Here lief te hê en te dien, het onder andere meegebring dat Hy teen Israel se vyande opgetree en hulle bose planne verydel het. Balak, die koning van die Moabiete, het bv. vir Bileam gehuur om Israel te vervloek. "Maar die Here jou God wou nie na Bileam luister nie; maar die Here jou God het vir jou die vloek in 'n seën verander, omdat die Here jou God jou liefgehad het" (Deut. 23:5). Bileam het aan Balak die raad gegee om nie vir Israel te vervloek en teen hulle te veg nie, want die Here stry vir Israel. Wat hy vir Balak aangeraai het om te doen, was om hom met Israel te bevriend en te verswaer, en hulle na die feeste van sy gode uit te nooi. Indien Israel hulleself hierdeur laat verlei, sou hulle nie meer die Here liefhê nie maar in plaas daarvan agter ander gode aanloop en húlle vereer. Hierdie leer van Bileam, wat die leer van kompromie met 'n goddelose wêreld is, het tot 'n groot ramp in Israel gelei. Hulle het 'n uitnodiging na 'n Baälfees aangeneem, hulle het aan die afgodsoffers meegedoen, en verder het baie van die mans vir hulle Moabitiese vroue geneem. Die volk het hierdeur verraad teen die Here gepleeg deur nie hulle liefdesverhouding met Hom te eerbiedig nie. Die toorn van die Here het as gevolg hiervan teen Israel ontvlam, en Hy het 'n plaag oor hulle beskik waarin 24 000 mense gesterf het (Num. 25:1-3, 9). Ten spyte van insidente soos dié, waarin die volk dikwels in die geskiedenis God se toorn afgedwing het, het die Here se liefde vir Israel as volk nie verander nie. Talle individue het weens hulle sondes gesterf, maar dit het nie die Here se verbond met die volk vernietig nie. Sy liefde vir Israel is allesomvattend. Dit sluit nie net beloftes oor hulle geestelike herlewing en fisiese herstel in hulle land in nie, maar ook sy nabyheid elke dag om hulle uit alle benoudhede en gevare te red: "Maar nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. Elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het" (Jes.43:1-7). Die vraag kan gevra word: Waarom moet die Here hierdie volk weer uit die vier windrigtings versamel en hulle as verstrooides na hulle land terugbring? Waarom het hulle van die Here afvallig geraak en sy ryke seëninge verbeur? Dit is weens die verhardheid van hulle eie harte. In die plek van die ware God het Israel onder die verleiding van Satan in 'n lewe van sonde en losbandigheid opgegaan en ook die Baäls aanbid: "Nogtans het jy My nie aangeroep, o Jakob, dat jy jou vir My sou vermoei het nie, o Israel! Jy het vir My nie gebring die kleinvee van jou brandoffers nie, en met jou slagoffers het jy My nie geëer nie... maar jy het My 'n oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My vermoei met jou ongeregtighede" (Jes. 43:22-24). Aan hierdie soort liefdeloosheid en afvalligheid teenoor God het Israel hulle dikwels daarna weer skuldig gemaak. Hulle is gewaarsku dat dit uiteindelik na groot rampspoed en ook na hulle internasionale verstrooing sou lei: "As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskrywe is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie, dan sal die Here oor jou en jou nageslag buitengewone plae bring... En soos die Here oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die Here oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem... en die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde... En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die Here sal jou daar 'n bewende hart gee en smagtende oë en 'n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan 'n draad hang" (Deut. 28:58-66) Uiteindelik het Israel ook hulle Messias, die Here Jesus, wat die verpersoonliking van God se liefde is, verwerp en die rug op Hom gedraai. Hy het toe die aanbreek van die internasionale verstrooing waarteen Moses hulle gewaarsku het, aangekondig. Van dié volk het Hy gesê: "Hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vetrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:24). Israel se verhouding met die Here, wat ook soos die bruidsgemeente van die Nuwe Testament met 'n huweliksverhouding vergelyk word, het weens haar ontrouheid gebroke geraak. Haar sondes was só groot dat die Here haar aan die mag van haar vyande oorgegee het, en uiteindelik, toe sy haar Messias ook verwerp het, aan groot benoudheid en internasionale verstrooing onder alle nasies. Beteken dit dat die Here sy verbond met Israel verbreek en sy liefdesverhouding met dié afvallige vrou beëindig het? Beslis nie! "Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek 'n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle 'n God te wees. Ek is die Here" (Lev. 26:44-45). Paulus bevestig ook die feit dat die Here nie sy volk Israel verwerp het nie. Aan die einde van die tye van die nasies, dit is aan die einde van die kerkbedeling, sal Jerusalem se vertrapping beëindig en Israel as volk weer geestelik herstel word: "Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie... Die verharding [het] ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend: (Rom. 11:1-2, 25-26). Wat ons nou, in die eindtyd, in Israel sien, asook in die redding van 'n toenemende aantal Messiaanse Jode wat deur Jesus Christus na God terugkeer, is die bevestiging van die vaste belofte dat die Here nooit vir Israel sal prysgee nie. Sy liefde vir Israel is ewig en onveranderlik. Wat sê Hy deur die profeet Hosea van hierdie verlate vrou wat van Hom afgedwaal het? "Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot 'n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het. En in dié dag, spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal My nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond" (Hos. 2:13-16). Ook die profeet Jesaja bevestig die herstelde liefdesverhouding tussen Israel en die Here: "Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie. Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word. Want soos 'n verlate vrou en 'n bedroefde van gees het die Here jou geroep, en soos 'n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. Vir 'n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In 'n uitstorting van toorn het Ek vir 'n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die Here, jou Verlosser" (Jes. 54:4-8). Aan Hosea is hierdie wonderlike vooruitsig ook geopenbaar, en hy sluit sy boek met 'n profesie oor die herstelde liefdesverhouding tussen Israel en die Here af: "Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok" (Hos. 14:5-8). Dit sluit aan by wat die profeet Jeremia oor die ewigdurende liefde wat God vir die volk Israel het, gesê het: "Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaria; die planters sal plant en die vrugte geniet... "Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos 'n herder sy kudde. Want die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here... en hulle sal wees soos 'n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer... "Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal my sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here" (Jer. 31:3-20). Die liefde van God het dus 'n duidelik element van tug. Dit laat nie die draers daarvan toe om kompromie met die wêreld te maak, en bandeloos en permissief te leef soos in die humanistiese liefde van die mens die geval is nie. 'n Ongehoorsame kind wat in sy dwalinge volhard, moet getugtig word. Dit word egter steeds in 'n gesindheid van liefde gedoen, met die beste belange van die persoon in gedagte. Israel word ook getugtig, maar met die oog op sy bekering en herstel. Diegene wat smarte oor hulle sonde en afvalligheid het en hulle tot die Here bekeer, sal vind dat Hy hulle roukleed losmaak en hulle met vreugde omgord (Ps. 30:12). Hy sal hulle omring met vrolike gesange van bevryding (Ps. 32:7). Dit sal 'n volkome herstelproses wees: "En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir my 'n volk en Ek vir julle 'n God wees" (Eseg. 36:24-28). Die dag van Israel se nasionale wedergeboorte sal aanbreek wanneer die Messias, Jesus, aan die einde van die groot verdrukking tot Israel se redding kom en sy voet op die Olyfberg sit. Onder die leiding van die Heilige Gees sal hulle Hom almal met berou en die belydenis van hulle sondes as Messias en Verlosser aanneem: "Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind... Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!" (Sag. 12:10, 13:9). Die liefdesband wat deur Israel verbreek is as gevolg van hulle afkerighede, sal ten volle tussen hulle en die Here herstel word: "Bekeer jou, Israel, tot die Here jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Bekeer julle tot die Here; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid... [Die Here se reaksie op só 'n bekering word ook beskryf]... Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend" (Hos. 14:2-5) "In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot 'n sierlike kroon en 'n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk" (Jes. 28:5). Al die nasies sal van die herstelde verhouding tussen Israel en die Here weet, en graag met Israel assosieer om in die seën te deel: "In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is" (Sag. 8:23). Israel sal eendragtig in hulle herstelde verhouding met die Here wees, met geen uitsonderings nie. Almal van hulle sal die Here van harte dien: "En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie" (Jer. 31:34). Dan sal Israel se toewyding as 'n hele volk wees soos daardie enkele uitstaande godsmanne van die Ou Testament. Die Here sal in almal van hulle 'n behae hê soos wat Hy 'n behae gehad het in Dawid. Hy was 'n man na God se hart, want hy het die Here liefgehad. Dawid skryf ook in een van sy psalms: "Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte" (Ps. 18:2). Die psalmis van Psalm 119 betuig ook hierdie liefde vir die Here en sy Woord as hy sê: "Ek het u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud... U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief... My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief" (Ps. 119:127, 140, 167). Is jou behae ook in die woord van die Here, en oordink jy dit dag en nag? Is jou voetstappe daarin geanker en het jy die woord van die Here in jou hart gebêre dat jy teen Hom nie sal sondig nie? Dan sal die seën van die Here jou ook inhaal en omring, en sal die Heilige van Israel jou beskerm en bewaar. Ook sal Hy 'n liefde in jou hart uitstort vir die volk Israel. Jy sal vir hulle bid en innig begeer dat hulle as volk sal ontwaak en terugkeer na die God van hulle heil. "Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand... O julle wat die Here herinner aan sy beloftes - moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot 'n lof op aarde!" (Jes. 62:1, 6-7). Voordat dit kan gebeur, moet daar 'n hartstogtelike liefde in die Israeli's se harte vir die stad Jerusalem uitgestort word, sodat hulle daarheen sal terugkeer en dit herbou. Hierdie liefde, wat dikwels in Ou Testamentiese tye sterk gefunksioneer het, het weer in die 20ste eeu opnuut opgevlam. Dit sluit aan by wat die ballinge lank gelede by die riviere van Babel gesê het: "As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hootgste vreugde nie""(Ps. 137:5-6). Ons opdrag is om hierdie sentiment en liefdesband wat Israel vir Jerusalem het, te deel en daardeur ook in die seëninge van die Here te deel: "Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe" (Ps. 122:6). Oor die groot historiese én profetiese betekenis van Jerusalem moet daar in die lig van die volgende feite geen twyfel wees nie: Die Here het 3000 jaar gelede al gesê: "In Jerusalem sal Ek my Naam vestig" (2 Kon. 21:4). Omdat Jerusalem deur die eeue heen 'n plek van godsopenbaring was, het die stad, sy inwoners en sy heiligdomme baie vyande gehad en is aanhoudend vanuit die koninkryk van die duisternis bedreig en aangeval. Wanneer God se volk in sy weë gewandel het, was die stad oninneembaar. Die Here het self hiervoor gesorg: "En Ek sal vir [Jerusalem] wees, spreek die Here, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in" Van die Inwoners het Hy gesê: "Wie julle aanraak, raak sy oogappel aan" (Sag. 2:5, 8). In die volheid van die tyd het die beloofde Messias die koninkryk van God in Jerusalem verkondig. Omdat Hy egter deur die Joodse volksleiers hier verwerp is, het Hy ook die verwoesting van Jerusalem aangekondig: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!" (Matt. 23:37-38). Hierdie profesie word in Lukas in meer besonderhede uitgespel: "En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is... Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word... want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenis geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:20-24). Let daarop dat die vertrapping van Jerusalem nie onbepaald voortduur nie, maar net tot aan die einde van die tye van die nasies, m.a.w. aan die einde van die tyd van wêreldevangelisasie, wanneer die nie-Joodse volke in die koninkryk van God ingenooi word. Daarna sal Jerusalem weer herstel word, tesame met sy inwoners. Nadat Jesus in Jerusalem geleer en die weg van verlossing verkondig het, is Hy in die stad verhoor en onskuldig tot die dood veroordeel. Hy was die vlekkelose Lam van God wat sy lewe as 'n losprys vir die sondes van alle mense gegee het - Jode én nie-Jode. Dit was die grootste uitdrukking van God se liefde vir 'n verloregaande wêreld. Hy is nét buitekant die stad gekruisig en begrawe. Op die derde dag het Hy uit die dood opgestaan, en 40 dae later van die Olyfberg af wat voor Jerusalem lê, na die hemel opgevaar. Tien dae later is die Heilige Gees in Jerusalem uitgestort, en het die kerk van Christus op aarde ook in hierdie stad sy ontstaan gehad. Jesus se opdrag aan sy dissipels was: "En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte" (Luk 24:49). Van hierdie stad af wat God verkies het om sy Naam in te vestig, is die boodskap van Jesus se reddende genade wêreldwyd uitgedra. Aan die dissipels is ook gesê: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde" (Hand. 1:8). Aan die einde van die kerkdispensasie, wanneer die opdrag van wêreldevangelisasie uitgevoer is, kom die Here Jesus na Jerusalem terug: "En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde" (Sag. 14:4-5, 9). Hierna sal Jerusalem herbou en herstel word tot 'n lof op aarde. Die Here sê: "Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen" (Hand. 15:16-17). Dit sal op die nasionale bekering van Israel volg, wanneer die hele oorblyfsel van Israel met die Messias versoen sal word (Sag. 13:9). Hulle vreugde oor die Messias se verlossingswerk en sy koningskap in Jerusalem, sal geen perke ken nie: "Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here. En baie nasies sal hulle in dié dag by die Here aansluit... En die Here sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies" (Sag. 2:10-12). Jesaja bevestig ook die feit dat Jerusalem in die vrederyk die hoofstad van die wêreld sal wees: "Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke" (Jes. 2:3-4). Ook Jeremia kyk na hierdie tyd vooruit wanneer hy sê: "En in dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie" (Jer. 3:17). In die lig van al hierdie wonderlike beloftes kan ons nie een oomblik langer aan die Here se groot liefde en ewige plan met sy volk, Israel, twyfel nie. Ons moet vir hulle bid omdat hulle Messias ook ons Verlosser is. Ons kan nie ophou om sy lof onder die nasies te verkondig nie, omdat Hy die hele wêreld liefhet en die genadedeur vir almal oopgemaak het.