Afrikaans Vandag Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! Ywer uit onverwagte oord Produktiewe aksies moet daaruit voortkom Leeskring-inspirasie Een breë Afrikaanse front Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans Op die stoep gaan hulle skater van plesier Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap Afrikaans vir die Afrikane? Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 'n Woordlint van land tot land Afrikaans gryp uitdagings Hoe stewig is die handevat? 'n Gelukkige huis lok vele vriende In die ban van Karoo-Afrikaans Die wel en wee van 'n politieke tolk 'n Reis van selfontdekking Nederlands wil Kaaps raakvat Taalvriendskap is nou moontlik 'n Briljante seun, Meyer Sonde met die Cravense bure Paljas, paljas is die as nou af? Die smeerstorie Januarie 1998 Oktober 1997 Junie 1997 April 1997 Desember 1996 Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! Frederik van Zyl Slabbert vra: Kan Afrikaanssprekendes die inherente kulturele bronne ontwikkel om 'n betekenisvolle rol in die nuwe bestel te speel? Dié vraag, sê hy, gaan binne die volgende dekade beantwoord word. IN die bi-polêre wêreld van die koue oorlog is aanvaar dat faktore soos etnisiteit, ras of kulturele minderhede sou verdwyn indien kommunisme of kapitalisme sou oorwin. Maar sedert middel 1989 het die wêreld 'n ontploffing van etniese nasionalisme beleef, veral in Midde- en Oos-Europa, waar kommunisme en kapitalisme hul kwaaiste stryd gevoer het. Veral die volgende internasionale tendense wat deur die val van die Berlynse muur ontketen is, het direkte konsekwensies vir etniese minderhede. * Die eerste is die toename in globalisering: die groter beweeglikheid van kapitaal, inligting, tegnologie en vaardighede. * Die tweede is die vermindering van die outonomie en onafhanklikheid van die nasie-staat as 'n entiteit in internasionale betrekkinge. * Die derde is die dominansie van die liberale demokrasie as die gewenste regeringsvorm in die internasionale politiek. Die besondere kenmerk van hierdie staatsregtelike bestel is konstitusionele regering, die skeiding van magte en die beskerming van individuele regte in 'n handves wat aan die reg getoets kan word. So 'n demokrasie skep egaliterende verwagtings en plaas 'n besonder sterk verpligting op die staat om te presteer teenoor die regte en verwagtings van die gewone burger. * Die vierde is die toenemende prominensie en belangrikheid van die vryemarkstelsel. Dit is by uitstek 'n mededingende marksisteem en die basiese gevolg van die suksesvolle werking daarvan is die ongelykheid van resultate. Waar 'n liberale demokrasie, wat gelykheid van resultate belowe, gekombineer word met 'n vryemarkstelsel, wat ongelykheid van prestasie bewerkstellig, kan 'n hele reeks teenstrydighede ontwikkel, veral in 'n samelewing wat ekonomies nog nie ver ontwikkel het nie, en waar daar kulturele en etniese minderhede is tussen wie daar groot maatskaplike en ekonomiese ongelykheid bestaan. * Die vyfde neiging is toenemende bevolkingsmigrasie en verskuiwings binne en tussen samelewings. Wat is die algemene gevolge van die internasionale tendense van globalisering, vermindering van die selfstandigheid van die nasiestaat, die dominansie van 'n liberale demokrasie, die belangrikheid van 'n vrye en mededingende markekonomie en bevolkingsverskuiwings dan spesifiek vir kulturele en etniese minderhede? * 'n Groter bewustheid van ekonomiese ontbering tussen groepe in dieselfde staatsbestel; * 'n verskerpte mededinging om regte en dienste vanuit staatsbesteding; * 'n groter gevoel van diskriminasie en vervolging teen minderhede; * 'n toenemende betrokkenheid by die kwessie van kulturele identiteit, met ander woorde wie is, en wie is nie, deel van die minderheid nie; * 'n bevraagtekening van die selfbeskerming waarop minderhede binne die struktuur van 'n liberale demokrasie geregtig is, met ander woorde die stryd tussen individuele en groepsregte; * 'n besorgdheid oor die kollektiewe ekonomiese en politieke beskerming van die minderheid; * verwarring en twyfel oor die spanning tussen lojaliteit teenoor die waardes van die minderheid, en lojaliteit teenoor die staat, oftewel spanning tussen nasiebou en etnisiteit; * die probleem van permanent uitgeslote minderhede in 'n politieke proses wat deelname belowe; * spanning oor basiese gemeenskapswaardes soos moedertaalonderrig en godsdiens. Wat nuut is, is dat die hantering van hierdie probleme in 'n heeltemal nuwe konteks plaasvind, naamlik globalisering, demokrasie, vryemark en groter vryheid van beweging. In die stryd tussen kommunisme en kapitalisme moes baie minderhede stry om oorlewing teen die doelbewuste vervolging en onderdrukking van die staat. In die nuwe internasionale konteks is dit amper asof die houding is: minderhede wat wil oorleef, is op hul eie inherente kollektiewe, ekonomiese, maatskaplike en kulturele bronne aangewese; die staat gaan hulle nie meer doelbewus uitwis of vervolg nie, maar as hulle wil voortbestaan, is dit hulle eie saak. Wat is die implikasies van wat so pas gesê is, vir Afrikaans en Afrikaners? Dink maar aan die volgende: * Toe sommige Afrikaanssprekendes die politieke mag in Suid-Afrika gemonopoliseer het, was daar 'n vasberade poging om 'n uitsluitlik politieke definisie aan Afrikanerskap te gee. Noudat daar 'n verlies aan politieke mag is, ontstaan nuwe vraagstellings oor die verhouding tussen politiek bewuste Afrikaanssprekendes en die Afrikaanse kultuur: wie is 'n Afrikaner? Het dit 'n inklusiewe of eksklusiewe betekenis? * As dit inklusief is, hoe word Afrikaanssprekendes gemobiliseer om hulle as 'n minderheid in 'n liberale demokratiese opset te laat geld? * Moet daar noodwendig 'n ooreenkoms tussen politieke en kulturele lidmaatskap wees? * Hoe versoen mens nasiebou met selfbeskikking van 'n kulturele minderheid? * Het die staat werklik die vermoë om gelykberegting te laat geskied aan 'n veelvuldigheid van kulturele minderhede? * Hoe verwerk Afrikaners, wat deel was van 'n dominante minderheid, die verlies aan mag en status, en hulle huidige magtelose situasie? * Kan die nuwe regeerders waag om minderheidsbelange te laat gedy ten koste van oorkoepelende waardes van nasionale solidariteit? * En as die oorkoepelende waardes op 'n inklusiewe, onverdraagsame manier gedefinieer word wat die regte van minderhede misken, hoe reageer sulke minderhede? * Wat is die impak van globalisering op kulturele selfidentiteit en hoeveel Afrikaanssprekendes word daardeur geraak? * Hoeveel inklusiewe, vrywillige organisasies bestaan in die nuwe bestel vir Afrikaanssprekendes waar hulle sake van gemeenskaplike belang kan bevorder? Dit is nie moeilik om hierdie en baie ander vrae te stel wat alle minderhede in die nuwe Suid-Afrika en elders in die wêreld ten nouste raak nie. Watter riglyne kan 'n mens voorstel, spesifiek vir Afrikaanssprekendes in die nuwe Suid-Afrika, om hierdie vrae te beantwoord? Sonder om voorbarig te wees, lyk dit my ten minste die volgende kwessies sal aandag moet geniet: * Hoe kan Afrikaanssprekendes help om oorkoepelende waardes van inklusiewe verdraagsaamheid te bevorder? Met ander woorde: hoe identifiseer hulle met die nuwe bestel deur gemeenskaplike belange met minderheidsbelange te versoen, dit wil sê waardes wat eenheid in verskeidenheid, en verskeidenheid in eenheid bevorder? Ek glo dit gaan een van die grootste uitdagings vir die liberale demokrasie in die 20ste eeu wees. Hoekom sal Suid-Arika en spesifiek Afrikaners nie hier die pas aangee nie? Hoe kan Afrikaanssprekendes hulle toenemend professioneel, tegnies en ekonomies onmisbaar maak in die nuwe bestel? Veral op só 'n manier dat hulle die algemene welsyn en hulle eie selfstandigheid as minderheid versterk. Hoe kan Afrikaanssprekendes leer om al hoe meer onafhanklik van die staat te dink en te leef? Hulle moet hulle eie kulturele, ekonomiese en maatskaplike bronne ontgin en gebruik om hulle eie selfstandigheid en selfbeskikking te bevorder. Hoe meer hulle daarin slaag, hoe minder is hulle 'n las vir 'n staat wat sukkel met probleme van ekonomiese onderontwikkeling, en hoe groter is die rol wat hulle kan help speel om daardie probleme die hoof te bied. Die taal is die belangrikste gemene deler. Dit is absoluut noodsaaklik dat inklusiewe, vrywillige organisasies geskep en versterk word om gemeenskaplike taalbelange te bevorder, veral op onderwysgebied. Met inklusief word bedoel wit, bruin, swart, Christen en Moslem Afrikaanssprekendes. As Afrikaanssprekendes nie eenheid in verskeidenheid kan bewerkstellig nie, watter kans is daar dat hulle dieselfde rol in die breër samelewing kan speel? En dis belangrik dat Afrikanerskap nie weer verskraal moet word tot lidmaatskap van een politieke party of verbintenis tot 'n bepaalde ideologiese standpunt nie. Op dié manier is Afrikaners 'n verskeidenheid kulturele, intellektuele en ekonomiese talent ontneem. Daar is miskien niks ergers wat met 'n kulturele minderheid kan gebeur as dat sy kulturele, professionele en intellektuele leierskap van hom vervreem raak nie. Ek het probeer aandui dat daar nuwe internasionale neigings losgelaat is met die verdwyning van die koue oorlog; dat hulle sowel geleenthede as probleme vir minderhede skep; dat minderhede baie meer vryheid en beweeglikheid het om hierdie probleme die hoof te bied; dat die verdwyning van die koue oorlog saamgeval het met sommige Afrikaanssprekendes se verlies aan politieke dominansie; dat dit die hele kwessie van Afrikanerskap weer oopgegooi het vir herdefiniëring: dat 'n inklusiewe definisie van Afrikaanswees die potensiaal het om die taal en dié wat hom praat, op 'n konstruktiewe manier te laat oorleef en groei in die nuwe bestel. Maar dit gaan moeilik wees. Terwyl die Afrikaner met sy eie selfondersoek besig is, bevind hy hom in 'n ontplooiende politieke bestel waar die nuwe bewindhebbers worstel met die probleme van "nasiebou" en die staanmaak van hul en Suid-Afrika se outonomie as nasiestaat in 'n globaliserende wêreld. Die vraag wat binne die volgende dekade beantwoord gaan word, is of Afrikaanssprekendes die inherente kulturele bronne kan ontwikkel om 'n betekenisvolle rol in hierdie nuwe bestel te speel. Dr. Frederik van Zyl Slabbert is 'n direkteur van die Instituut vir 'n Demokratiese Alternatief vir SA (Idasa). Hierdie artikel is 'n uittreksel uit 'n onlangse voorlesing deur hom. Ywer uit onverwagte oord Matilda Smith vertel van haar vennoot, Gladys Setlalentoa van Mangaung, wie se toewyding en werkywer 'n Afrikaanse boekeskat vir haar leerlinge en gemeenskap help besorg het. GEDURENDE die tagtigerjare het die neiging begin ontstaan om Afrikaans en die fondament waarop hierdie taal gebou is, binne 'n breër perspektief te plaas. Hoewel mense toe reeds besef het dat Afrikaans sy dak nie oor net 'n sekere groep mense span nie, kon bitter min akademici wat hulle in die hartjie van die Afrikaanse departemente aan universiteite bevind het, voorsien hoe wyd en ver die bakens van Afrikaans in die daaropvolgende dekade versit sou word. Hierdie uitskuif van grense word nie net beleef in die toename in studentegetalle van nie-moedertaalsprekers wat Afrikaans as universiteitsvak neem nie, maar ook in die mate waarin hierdie nie-moedertaalsprekers Afrikaans in hul eie gemeenskappe begin bevorder. Een so 'n persoon is mev. Gladys Setlalentoa, 'n deeltydse student aan die Universiteit Vista. Sy is 'n graad 3-onderwyseres aan Daluxolo Primêre Skool in Mangaung. Sowat 'n jaar gelede het sy haar behoefte teenoor my uitgespreek om 'n Afrikaanse biblioteek in Mangaung te vestig. Haar rede hiervoor was primêr om leesstof aan haar leerlinge te verskaf. Dit is egter vir haar ook belangrik om aan die breër gemeenskap van Mangaung die geleentheid te bied om Afrikaanse boeke en tydskrifte te lees. Ons het besluit om saam met 'n projek te begin en op die daad is die breinkind van mev. Setlalentoa "Die Mangaung Biblioteekprojek" gedoop. Hierna is Die Volksblad genader: Binne twee maande het ons vanweë die omvattende publisiteit en kleurfoto's sowat 12 000 boeke ingesamel. Van hierdie boeke is reeds deur mev. Setlalentoa verwerk in toneelstukkies wat haar leerlinge by ouetehuise in Mangaung en Bloemfontein opgevoer het. Die insamelingsproses van die hope boeke en die uitstappies na die ouetehuise is deur die Stigting vir Afrikaans geborg. Die Mangaung Biblioteekprojek dien as 'n vertrekpunt vir navorsing van die Universiteit Vista se departement Afrikaans in Bloemfontein waar Afrikaanse lesmateriaal vir skole deurgaans geëvalueer en onderhoude met leerlinge gevoer sal word. Uit hierdie ontmoeting van die universiteit met die gemeenskap wat hy dien, kan waardevolle navorsing volg. Verdere ontwikkelings soos die vestiging van leeskringe kan ook uit die projek spruit. In hierdie verband word daar met die UOVS se departement Afrikaans onderhandel. Die samewerking tussen universiteite en verskillende dissiplines is belangrik vir hierdie projek. Met die nuwe benadering tot onderrig wat Kurrikulum 2005 impliseer, pas die projek goed in by die nuwe uitkomsgerigte doelwitte wat gestel word. Mev. Setlalentoa was nog altyd 'n voorstander van die idee dat haar leerlinge nie passiewe aanhoorders van Afrikaans moet wees nie. Dit is vir haar baie belangrik dat die kinders aktief deelneem aan klasaktiwiteite. In die verlede het mev. Setlalentoa graag haar skoolkinders na Vista se Afrikaansdae gebring om hul Afrikaanse vaardighede te slyp. In onlangse koerantberigte is verwys na die tekort aan handboeke by skole en die voorstel dat onderwysers hul eie lesmateriaal sal moet skep. Mev. Setlalentoa het hier al vooruitgeloop sodat ons tydig toestemming van READ (Read, Education and Development) gekry het om hul lesmateriaal (wat ontwikkel is binne die raamwerk van die Uitkomsgebaseerde Onderrigprogram) te vertaal en te kopieer. Die gevolg van mev. Setlalentoa se strategiese denke was dat haar Afrikaans-leerlinge van die eerste skooldag in 1998 kon wegspring met die nodige lesmateriaal wat daarop gemik is om motoriese en denkvaardighede te bevorder. Drie kwartale se werk moet egter nog verwerk en gekopieer word. Na aanleiding van die aktiwiteite by Daluxolo het 'n ander onderwyseres, hierdie keer van 'n tradisioneel bruin skool in Wieganida, die Koot Niemann Primêre Skool, laat blyk dat sy hulp nodig het om werklik gehalte-onderrig te gee. 'n Diktaat van sowat 140 bladsye is gekopieer wat die hele jaar se werk betrek. Die onderwyseres van wie ek hier praat, is mev. Leonie Boshoff, 'n graad 4-onderwyseres wat haar hele gesin betrek by die ontwikkeling van lesmateriaal. Die koste het sy tot nou toe self gedra. Sy kombineer onder andere hand-, naald- en verfwerk met haar lesmateriaal. Die vermelde twee onderwyseresse het hulle bereid verklaar om ander leerkragte by te staan met die kennis wat hulle reeds ingewin het en die materiaal wat hul reeds ontwikkel het. Sodra daar geld beskikbaar is om 'n gebou te huur waar die sowat 12 000 boeke behoorlik gebruik kan word (die boeke is tans nog by READ), sal die lokaal ook dien as ontmoetpunt waar onderwysers kennis en lesmateriaal kan uitruil. Dit is duidelik dat Kurrikulum 2005 baie kreatiwiteit en eie inisiatief gaan vereis om lesmateriaal te ontwikkel wat uitkomsgerig is. Ek glo dat as Afrikaans-departemente aan universiteite betrokke raak by skole en onderwysers in die ontwikkeling van onderrigmiddels, ons met 'n wenresep sit om Afrikaans vinnig op koers te kry binne die nuwe onderwysbedeling. Dit lyk asof Afrikaans een van die uitdagendste tye en daarmee saam een van die opwindendste tye tegemoetgaan. Dit is nie net van oor die water dat hande gevat wil word nie, soos deur ons stamlande België en Nederland. Ook in ons townships word die markiestent vir Afrikaans opgerig. Anders as in 1976 slaan die inwoners van die townships hierdie keer self die tentpenne in. Matilda Smith is verbonde aan die departement Afrikaans van die Universiteit Vista. Produktiewe aksies moet daaruit voortkom Prof. Elize Botha, 'n eregas by die 61ste Vlaamse Boekenbeurs Oktober/November 1997 in Antwerpen, gee haar indrukke. HOEWEL baie onsekerhede in die aanloop tot die 61e Vlaamse Boekenbeurs die deelnemers uit Suid-Afrika soms in vertwyfeling gehad het, het daar uiteindelik veel goeds voortgekom uit die geleentheid om as sentrale temaland op hierdie massiewe boekemark aanwesig te wees. Wanneer ek hierdie aanhef uitbrei met enkele voorbeelde van die vele dinge wat goed was, moet ek dit vanuit 'n verskeidenheid hoeke doen, omdat ek op verskillende, nie altyd so klaarblyklik samehangende maniere by die onderneming betrokke was. Vir die uitgewers onder die koepel van Nasionale Boekhandel, wat in mnr. Jo van Eetvelde se Poketino-boekstalletjie verteenwoordig was in vele tale (direk langsaan 'n toeristiese Mpumalanga-uitstalling wat met 'n regte, egte ervaringsvolle 4x4-veldvoertuig die ou Afrika-romantiek laat roer het), was dit goeie dae. Vir mnr. Van Eetvelde: skitterend. Hy was in sy gryse vaderlikheid steeds en geesdriftig aan die verkoop en aan die voorlees uit die Afrikaanse boeke om te laat hoor hoe toeganklik die taal is. Die stalletjie het al voller met "volk" geword, die rakke leër - 'n verblydende ondervinding. Dr. Francis Galloway se energieke, onvermoeide en toegewyde werk hier moet eervol vermeld word. Sy is ook op uitnemende wyse bygestaan deur Jeanne McCaul (dogter van Hermien Dommisse, woonagtig te Brussel), wat as assistent vir mnr. Van Eetvelde opgetree het. Saam met die populariteit van die boekstalletjie moet die goeie ontvangs (ook hier te lande) genoem word van die J.L. van Schaik-publikasies wat by die Boekebeurs bekendgestel is: Ons klein en silwerige planeet en Afrikaans in Afrika. Hierdie twee boeke het die unieke dubbele verankerdheid van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde konkreet getoon: dat dit tegelyk van Europa en Afrika is. Die optrede van premier Mathews Phosa, by die Beurs, oor die televisie en radio, en by wyse van koerantonderhoude in goed verstaanbare, ekspressiewe Afrikaans het dit verder gedemonstreer - en hoe goed was dit dat sy digbundel daar was om dit te bevestig! Die "Erasmus-saal" was met elke Suid-Afrikaanse temadag stampvol. Die taalpolitieke debatte was, soos te verwagte is, troebel van politiek, maar daar was lofwaardig helder taaluiteensettings ook, van prof. Christo van Rensburg en dr. Karel Prinsloo, byvoorbeeld; en ons skrywers Etienne van Heerden en Riana Scheepers het hulle spreekbeurte met professionaliteit en sjarme benut. Die optrede van Breyten Breytenbach was ontroerend: wars van martelaarskap, hartstogtelik toegewy aan Afrikaans. Buite die beurs om het ek 'n paar redes gevoer: voor die Marnix-ring, saam met ambassadeur Annette Joubert en prof. Ikey van de Rheede, waar die onvervangbare waarde van Afrikaans as kultuurtaal in Suid-Afrika aan die orde gestel is; by 'n konferensie belê deur die Davidsfonds, "Spreken over leesgroepen: Inspiratie uit Nederland, Vlaanderen en ... Zuid-Afrika", waar dit louter plesier was om van die pionierswerk van Audrey Blignault, Doks Briers en al hul skitterende susters van die leeskringkultuur te vertel. Daarby het ek, Francis Galloway en Riana Scheepers deelgeneem aan 'n paneelgesprek saam met Luc Demeester oor "Boek en literatuur in Zuid-Afrika". Wat my eie bydraes betref, ook gedurende die talle gesprekke wat deurentyd gevoer is, was daar 'n paar temas wat steeds weer beklemtoon is: die insluitende reikwydte van Afrikaans-wees, in ons land, in ons tydsgewrig; die onmisbaarheid van die Afrikaners (wat tog ook Afrikane is) in die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing; die onmisbaarheid van Afrikaans, veral as werkstaal, kultuurtaal, wetenskapstaal, literatuurtaal . By laasgenoemde was dit opwindend om te vertel van die nuwe beweging in die Afrikaanse letterkunde, soos veral gedra deur Kwela Boeke - die wyse waarop nuwe skrywers en nuwe lesers gekweek word. Aangesien leesbevordering een van die sake is wat hoog op die Vlaamse Minister van Kultuur, Luc Martens, se politieke/kulturele agenda staan, kon dié tema daarby aansluit. Die belangstelling wat deur hierdie gebeurtenis gegenereer is vir die tale van Suid-Afrika, maar veral vir Afrikaans se posisie binne hierdie talebestel en vir die Afrikaanse boek as toegangspoort tot die land, kan hopelik in produktiewe aksies omskep word. Daar is kontak opgeneem met verteenwoordigers van die Davidsfonds, Lannoo en, wat veral belowend lyk, die akademiese boekhandel Acco. Mnr. Van Eetvelde se posisie tussen die Vlaamse boekhandelaars is versterk! Toe Karel Prinsloo en ek die Staatsekretaris vir Kultuur van die Nederlandse regering, mnr. Aad Nuis, in Den Haag gaan besoek het ná afloop van ons verpligtinge by die Boekebeurs, is daar belangstelling uitgespreek vir 'n vertalingsaksie, boeke uit die letterkundes van Suid-Afrika in Nederlands (daar sal egter sorgvuldig gekyk moet word na wat reeds op die oomblik in dié verband onderneem word deur die organisasie Kairos in samewerking met die uitgewery Podium). Luc Demeester, voorsitter van die Vereniging ter Bevordering van het Vlaamse Boekwezen (VBVB), praat van 'n mini-Boekebeurs by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Vir my was die reis 'n opbouende ervaring. Mag dit in die toekoms bewys word as 'n sinvolle belegging vir Nasionale Boekhandel, wat mens-alleen in die bres getree het om die geleentheid te red vir Suid-Afrikaanse uitgewers, en vir die Stigting vir Afrikaans, wat 'n onmisbare rol as tussenganger en moontlikmaker gespeel het. Prof. Elize Botha is voorsitter van die trustees van die Stigting vir Afrikaans. Leeskring-inspirasie EEN van die gebeurtenisse, soos vermeld, wat in die dampkring van die Boekenbeurs plaasgevind het, was die "dag van die leeskringe". Dit is aangebied deur die Davidsfonds, 'n toonaangewende uitgewery wat ook dinamies optree ten bate van kultuurbevordering in die algemeen. Referate, boekuitstallings en -bekendstelling het tesame die beginsel onderstreep dat leeskringe in Vlaandere, net soos in Suid-Afrika, as 'n kragbron in die opbou en instandhouding van 'n leeskultuur beskou word. Ek moes dink aan 'n segswyse hier by ons: "Leeskringe sal nog die laaste loopgrawe van die letterkunde in Suid-Afrika wees!" 'n Praktijkboek voor leeskringen is die dag bekendgestel. Daaruit blyk duidelik hoedat die "Audrey Blignault-model" wat al soveel dekades 'n rigtende invloed op Afrikaanse leeskringe het, waarvolgens die verskillende literêre genres in die Afrikaanse én in wêreldletterkunde bestudeer word, aansluit by wat in Vlaamse leeskringe aan die orde is. Audrey se handleiding Van leser tot leser (1980) sou saam met die "praktijkboek" in albei streke gebruik kon word! Van belang is ook die inskakeling van leeskringe by 'n literêre toerismebedryf wat toere in die woonstreke van skrywers en ook spesiale voordraggeleenthede en skrywersoptredes insluit. Sou dit dalk nie moontlik wees om oor kontinente heen wedersydse literêre ekskursies in leeskringverband te organiseer nie? E.B. Een breë Afrikaanse front IN die jongste verlede is daar toenemende voorbeelde dat die Afrikaanse gemeenskap wíl en kán saamstaan. Sulke voorbeelde kom op streeks- en nasionale vlak voor. Een van die jongste vorderings met samewerking is die totstandkoming op 18 Februarie van die Tussentydse Afrikanerberaad wat 26 Afrikanerorganisasies saamsnoer. Hierdie stap verteenwoordig, soos tereg in die pers vermeld, 'n heling in die diep verdeeldheid van vroeër tussen Afrikanerkultuurorganisasies. Daarvoor moet ons almal dankbaar wees. Maar hiermee het die saambinding van Afrikaanstaliges nog nie naastenby so ver as moontlik gevorder nie. In die breë Afrikaanse front wat besig is om die afgelope twee tot drie jaar in Suid-Afrika te onwikkel, is daar twee duidelike kragvelde. Eerstens onderskei mens 'n soeke na konsolidering van Afrikanerkultuurkragte. Dit het nou uitgeloop op 'n Tussentydse Afrikanerberaad. Maar tweedens is daar ook 'n nuwe belangstelling in Afrikaans as 'n na-apartheidstaal by 'n veel breër gemeenskap as die tradisioneel stoere Afrikaners. Vir hierdie breë gemeenskap uit verskillende bevolkingsgroepe, politieke partye en sosiale stande is Afrikaans 'n saambindende toekomstaal, 'n taal vir ontwikkeling en groei, 'n taal vir uitreik en brûe bou tusen groepe. Dit verteenwoordig 'n sterk nuwe groeidimensie in Afrikaans waaraan baie mense uit gevestigde Afrikanergeledere nog nie gewoond is nie. Trouens, daar is vandag nog verskeie Afrikaanse organisasies wat nie in hul projekte toon dat hulle in 'n na-apartheid Suid-Afrika woon en leef nie. Die Afrikaanse taal leef wel in die na-apartheidsera en het daarom beslis organisasies nodig wat hom in hierdie milieu kan ondersteun. Die Stigting vir Afrikaans is so 'n taalorganisasie oor ou grense heen wat reeds die afgelope vyf jaar mense van die hele Afrikaanse taalgemeenskap dien. Die Stigting het daarom in die heel breedste sin van die woord 'n onmisbare taalvennoot vir die toekoms van Afrikaans geword, al tel hy nie onder die 26 Afrikanerkultuurorganisasies wat nou besluit het om solank 'n Tussentydse Afrikanerberaad te vorm nie. Die krag van die Stigting lê juis daarin dat hy landwyd besig is met projekte waarin spanne medewerkers uit die totale Afrikaanse gemeenskap saamwerk. Dit vind plaas op sleutelbelangrike terreine soos geletterdheidsbevordering, leesstofuitbouing, onderwysversterking, taalbeplanning en standpuntstelling, taalinligtingverskaffing, taalskakelwerk en befondsingshulp vir verdienstelike projekte. Die Stigting sê nie bloot hy is van plan om vorentoe die belange en behoeftes van Afrikaanstaliges te probeer versorg nie. Die Stigting het reeds gevestigde en bewese ervaring hiervan oor 'n breë Afrikaanse front heen. Dr. Karel Prinsloo, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Afrikaans. Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? World of Learning maak aan almal wat belang stel om Afrikaans te leer, 'n puik aanbod: 'n Afrikaanse taalkursus teen 'n indrukwekkende afslag. "EK wil graag Afrikaans leer en daarom vra ek julle om my te laat weet welke boeke ek kan koop en waar om Afrikaans te leer," lui 'n boodskap in goeie Afrikaans van 'n Nederlander uit Almelo op die Stigting se e-pos. Dit is een van talle sulke versoeke wat die Stigting per e-pos, faks en brief ontvang. Hier is 'n praktiese antwoord: World of Learning is bereid om sy Afrikaanskursus, wat tans R2 040 kos, vir R999 aan te bied. Die Stigting vir Afrikaans kry 10 persent van die verkope. Die kursus, gebaseer op die PILL metodiek, bestaan uit 5 taalkassette; 'n leë oefenkasset; 5 kursushandleidings; 'n kits-woordvinder as woordeskat-hulpmiddel en 'n handleiding vir die skryf van briewe in Afrikaans. Die brugtaal is Engels. Alles is saam in 'n aantreklike album verpak. Die program is ontwerp om beginners sonder enige kennis van Afrikaans, of diegene met 'n geringe kennis wat graag wil vorder, te leer om Afrikaans met 'n aanvaarbare vlotheid te lees, skryf, verstaan en praat. Die leerder sal alledaagse situasies kan baasraak en met selfvertroue kan kommunikeer. Die woordeskat is sowat 1 500 woorde. "Ons doel met hierdie aanbod is tweeledig," sê Bruno Brys, nasionale verkoopsbestuurder van World of Learning en van geboorte 'n Vlaming. "Ons wil vir Afrikaans 'n teenwoordigheid help skep in die taaldepartemente van universitieite wêreldwyd en aan soveel maatskappye, biblioteke, skole en ander instansies as moontlik bekend stel. Om die kursus te bekom doen navraag: Telefoon: 0927-11-880 372 Faks: 0972-11-788 9883 E-pos: pill@icon.co.za In Suid-Afrika word net die kode 011 vir Johannesburg gebruik - pleks van 0927-11. Op die stoep gaan hulle skater van plesier STOEPSTORIES is vir die eerste keer in 1995 deur die Stigting vir Afrikaans by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aangebied. Die doelwit was: eg Afrikaanse stories, onpretensieus en met humor vertel deur die totale Afrikaanspratende gemeenskap. Die begin was beskeie, maar reeds met daardie eerste poging onder leiding van Karel Prinsloo en Johan Combrink was die baasvertellers Jan Spies en Abraham de Vries op die stoep aan 't vertelle. Ook Nico Nel, Ollie Viljoen en van die kontrei André Boezak en Poem Mooney was toe daar. Stoepstories was 'n onmiddellike sukses. Daar is besluit om op groter skaal met die aanbieding voort te gaan. Van 1996 is Ollie Viljoen die leier van Stoepstories, met Tolla van der Merwe as sy regterhand. Onder die ander vertellers wat al deel van die stoeptoneel was, is Marietjie Habig, Danny Pretorius, Pieter van der Westhuizen, Arno van Zyl, Pyp de Villiers en Basil Kivedo. By vanjaar se aanbieding op die stoep is baie nuwe gesigte. Uit Johannesburg kom 'n jong man, Billy Prince, wat 'n meesterverteller in tongklaplekker Afrikaans is. Ook jonges is Steyn Smit en Japie Mostert uit Namibië. Die Klein Karoo lewer weer 'n sterk bydrae met vertellers soos die kostelike Manissa Avontuur. En 'n verrassing gaan dit sekerlik vir baie wees om die bekende sakemanne Christo Wiese en Frans Stroebel op die stoep te sien! Hester Morkel, hoof administratiewe beampte van die Stigting vir Afrikaans en sameroeper van Stoepstories. Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap Leo van den Heever lewer - in Engels - uitspraak oor die waarde van die maklike, moderne taal Afrikaans as 'n nuttige stuk opvoedkundige gereedskap. "Dit moet juis in Engels geskryf word, anders sal persone tans aan bewind dit net nie lees nie!" meen sy. Engelse koerante het dié stuk vir plasing geweier. AFRIKAANS is the language in which my father, Toon van den Heever, penned poetry and tales. He helped to broaden its scope with words appropriate to legal practice. He was one of the first South African judges to write judgments in Afrikaans. They had been few and far between before his appointment to the Bench. Afrikaans is also my own mother tongue. As instinctively as I breathe, I spoke Afrikaans to my babies, and to every animal that ever became part of my life, whether horse, dog, cat or parrot. It is a language that is easy to master, yet capable of expressing with clarity a veritable universe of thoughts and feelings. I have met Americans and Russians who after a few months' study have spoken Afrikaans fluently. One can become an attorney, advocate, doctor, mechanic, nurse, engineer, architect, theologian, and doubtless much more, through medium Afrikaans. It is perhaps the youngest language to have been born, and to have done so and been able to grow at the "right" time; so that it brought little redundant historical baggage along, but grew with the immense growth in knowledge that has expanded world-wide since the industrial revolution and more particularly since World War II. My father impressed upon me, when I was little more than a toddler, that education is an asset of inestimable worth: no one can take it away from you, and if your acquired knowledge enables you to cater for society's needs, the chances are that you will always have a roof over your head and food on your plate. His own education was delayed by die Anglo-Boer War, and achieved despite poverty, by means of hard-earned money and merited bursaries. Against such a background, it is understandable that my own children describe me as a sucker for an educational toy; and that I regard as the greatest sins of the previous and present governments those perpetrated by discouraging children from striving for a worthwhile education: whether by affording to some, only free schooling of inferior quality (though people with PQ as well as IQ - perseverance quotient and intelligence - more often than not use hurdles as stepping stones); or calling them to battle with slogans such as "Liberation before education". Or not recognising a useful educational tool as such, to be used to the full. Which brings me back to Afrikaans. My impression, based on what I read in the newspapers of proposed legislation relating particularly, but not only, to education, is that the present government is intent upon phasing Afrikaans out of public life, and conducting all governmental or quasi-governmental business in English - presumably on the supposition that English is a world language. The problems with English as a so-called "world language" seem to me to be twofold. It is perhaps very widely understood as a written language; as Latin was for centuries. But as a spoken language people have problems with it. I personally would rather wait for a newspaper report of the relevant speech, than strain to hear what many of our present-day governmental figures actually say; because the pronunciation foxes me as much as a cockney's sayings often leave me guessing as to the content of his purported "communication". And communication is, after all, what language is all about. It is not so readily correctly used, whether verbally or in writing, by those for whom it is a second language, because of the baggage it brings from the past; which includes a grammatical formalism that Afrikaans lacks. I refer, of course, to "I am, you are, he is, I was, we were, I sing, he sings" and so on. Afrikaans is easy. Almal is, of was. The same sort of thing applies to plurals: mouse, mice, house, houses. I quote from a so-called "essay" someone dropped into the Inbox of my PC, to amuse: "Let's face it, English is a crazy language. English muffins weren't invented in England nor French fries in France. Sweetmeats are candies while sweetbreads, which aren't sweet, are meat. We take English for granted but if we explore it's" [which should, incidentally be its] "paradoxes, we find that quicksand can work slowly, boxing rings are square, and a guineapig is neither from Guinea nor a pig. ... Doesn't it seem crazy that you can make amends but not amend, that you comb through annals of history but not a single annal? ... If teachers taught, why didn't preachers praught? If a vegetarian eats vegetables, what does a humanitarian eat? If you wrote a letter, perhaps you bote your tongue? Sometimes I think that all the English speakers should be committed to an asylum for the verbally insane. In what language do people recite at a play and play at a recital? Ship by truck and send cargo by ship? Have noses that run and feet that smell? ... You have to marvel at the unique lunacy of a language in which an alarm goes off by going on ... the stars are visible, but lights invisible, when they are out?" Not to mention, of course, the major lunacy of a "system" of spelling according to which words like the following look alike but are pronounced differently: though, enough, plough, tough, trough ... (the sort of thing which misled me, fairly new to the language, into naming my first chameleon "Cholmondly" ...) I am under the impression that one cannot become a doctor, architect, engineer etc., in any one of the indigenous languages spoken in South Africa, other than Afrikaans. The appropriate vocabularies do not exist. if I am wrong on this score, cadit quaestio. If I am correct, and blacks wishing to qualify as professionals are compelled to learn a second language before being able to learn to become a mechanic, electrician, attorney, etc., why on earth not make it easier for them by encouraging them to acquire the most modern and expressive language available, which is Afrikaans? As a sucker for an educational toy, I hope the authorities will not succeed in killing off such a useful one as Afrikaans can be. I found it interesting during a recent visit to the land of my birth, Namibia, where official policy is and has been for a number of years that the only official language is to be English, that wherever one walks among the ordinary people in the capital, the languages I heard most commonly spoken were Afrikaans, and then German. Should make one think, not so? Regter Leo van den Heever is afgetree, maar dien nog op die Appèlbank van Lesotho. Afrikaans vir die Afrikane? Chris van der Merwe gee die storie agter die nuus dat die departement Afrikaans van die Universiteit van Kaapstad met die departement Afrika-tale verenig. DIE Afrikaans-departement van die Universiteit van Kaapstad was verlede jaar in die nuus met die aankondiging van die komende vereniging met die departement Afrika-tale van UK. In sommige kringe is dit toegejuig dat Afrikaans nou "sy plek ken"; ander was ontsteld en het dit gesien as nog 'n teken van die marginalisering van Afrikaans. Wat is die storie agter die nuus? Die ontwikkeling het, gelukkig, niks te make met die marginalisering van Afrikaans nie, maar moet gesien word teen die agtergrond van algemene tendense aan die Universiteit van Kaapstad. 'n Stelsel van program-gebaseerde onderrig word beplan, in aansluiting by die geïdentifiseerde behoeftes van die student en die leemtes in die mark. Daarmee gaan gepaard die val van ou grense tussen departemente en fakulteite, en die totstandkoming van minder en groter departemente en fakulteite. Oor die voor- en nadele hiervan kan lank gedebatteer word; maar dit is nie hier ter sake nie. Waaroor dit hier gaan, is dat elke departement aan die universiteit gekonfronteer is met 'n besluit oor herstrukturering. Vir die Afrikaans-departement by UK was daar drie moontlike uitweë: om aan te sluit by Engels; of om aan te sluit by Europese tale soos Duits, Italiaans en Frans; of om aan te sluit by Afrika-tale. Wat Engels betref, sou dit vir Afrikaans baie moeilik wees om met so 'n uiters sterk departement by UK op gelyke voet te verbind - sou Afrikaans dan dalk mettertyd as 'n klein onderdeel van die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde aangebied word, waaroor hoofsaaklik (alleenlik?) in Engelse vertaling gedoseer word? Wat die ander twee moontlikhede betref: die Europese taaldepartemente is klein en bedreig in teenstelling met die sterk en groeiende departement Afrika-tale. Prof. Satyo, hoof van Afrika-tale by UK, het prof. Henning Snyman, hoof van die Afrikaans-departement, genader met die versoek dat die twee departemente verenig. Teen die agtergrond soos hierbo geskets, is dit nie verbasend dat die Afrikaans-departement eenparig ten gunste daarvan besluit het nie. Ook die departement Afrika-tale was eenparig geesdriftig daarvoor. So het dit dan gekom dat die Afrikaans-departement die eerste in die land geword het wat met 'n departement Afrika-tale verenig - miskien nie die laaste nie? Een van die dinge wat my ligtelik neerslagtig maak, is die debat of Afrikaans van Europa of van Afrika is. Die basis van Afrikaans is natuurlik Nederlands, maar wat dit tot 'n afsonderlike taal laat ontwikkel het, is die nuwe omstandighede en die kontak met ander tale in Afrika. Die Afrikaanse literatuur is wel deurtrek van Europese invloed; maar ook van Afrika - laasgenoemde merk elke Nederlandse student byvoorbeeld wat met ons "eksotiese" literatuur in aanraking kom. Afrikaans is van Europa, én van Afrika, én ook van die Ooste - en dit is juis die wonder daarvan. Die vereniging van die twee departemente beteken nie dat Afrikaans enige van sy huidige kursusse prysgee nie. Dit beteken met name nie dat iets van die Nederlandse komponent prysgegee word nie. Afrika-tale is hoegenaamd nie 'n bedreiging vir die Nederlandse komponent van Afrikaans by UK nie - inteendeel. Die Afrikane is juis geïnteresseerd in ons kontakte met die Nederlandse en Vlaamse universiteite. En van die Nederlandse kant: 'n Nederlandse student verseker my dat Afrikaans nog aantrekliker in die Nederlande sal wees as dit binne die konteks van Afrika-tale bestudeer word. Hoewel geen van die huidige Afrikaanse kursusse verdwyn nie, word 'n hele aantal nuwe kursusse oorweeg wat gesamentlik deur Afrikaans en Afrika-tale aangebied sal word. In ons gesprekke het ons steeds meer gemeenskaplike studieterreine ontdek: vreemdetaalonderrig, vertaling, en literêre temas soos die uitbeelding van die Afrika-landskap, die spanning tussen platteland en stad en die neerslag van mondelinge vertellings in die literatuur. (Hierdie gesamentlike kursusse sal in Engels aangebied word.) Die Afrikaanse taalbewegings is iets wat die voorstanders van Afrika-tale baie interesseer - nie net by die UK nie, maar ook elders in die land. Waar ons (myns insiens tereg) ongelukkig voel oor die Afrikaanssprekendes wat in die Afrikaanse taalbewegings uitgesluit is, let Afrikane op die positiewe ontwikkeling van 'n "kombuistaal" tot 'n taal met 'n wetenskap en letterkunde van internasionale standaard. Dit is vir hulle 'n inspirasie en 'n voorbeeld van wat ook met die Afrika-tale sou kon gebeur. Die taaldebat in die land het in die laaste jare dramaties verander. Waar dit vroeër gegaan het om Afrikaans teenoor Engels, het die fokus nou verskuif na die debat tussen eentaligheid en veeltaligheid. Afrikaanssprekendes wat "die goeie ou dae" wil herstel toe Afrikaans en Engels die enigste amptelike tale was, is myns insiens onrealisties. Die Afrika-tale van Suid-Afrika is nou onherroeplik by die taaldebat betrokke, en hoe beter dit met die Afrika-tale gaan, hoe beter gaan dit met veeltaligheid, en hoe beter is dit vir Afrikaans. Presies wat die inhoud van die begrip "veeltaligheid" vir Suid-Afrika moet inhou, daaroor moet nog besin word. Maar in die tussentyd moet mense wat vir Afrikaans omgee en besorg is oor die toenemende bevoordeling van Engels ten koste van Afrikaans, hul natuurlike bondgenote in die stryd raaksien, die mense wat hul hand oneindig kan sterk - die bevorderaars van die inheemse tale van die land. Prof. Chris van der Merwe is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlandistiek aan die UK. Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke Hoe "veg" jy vir 'n taal - en spesifiek vir Afrikaans, wat tans verliese op soveel terreine ly? Dit is die vraag van talle besorgde Afrikaanstaliges. Maar niemand kan 'n toerreikende antwoord gee nie, sê Jaap Steyn. Hy "probeer". DIE Afrikaanstaliges is sonder politieke mag en het betreklik min ekonomiese mag - en dit terwyl dié twee soorte mag in die reël noodsaaklik is vir sukses in enige "taalstryd", dit wil sê die verset teen die taaldwang van 'n owerheid. 'n Minder ambisieuse vraag sou lui: hoe berei 'n mens jou voor op effektiewe verset teen hierdie taaldwang? Ten minste deur die volgende: * groter eenheid onder Afrikaanstaliges te bewerkstellig; * geld in te samel vir taalaksies; * 'n sterker taalbewustheid en taallojaliteit aan te kweek; en * groter duidelikheid te kry oor die oogmerke wat ons met taalaksies wil bereik. Eintlik is daar reeds pogings om party van dié dinge te doen. Berigte maak melding van meer as een inisiatief, beweging, oorlegsentrum, forum en beraad. Oral word verklaar dat daar geen politieke bande moet wees nie. Politiek het die taalgemeenskap verdeel, en bykomende politiek sal ons verder verdeel, word gevoel. Maar aan die ander kant is dit politici wat besluit dat Afrikaans afgeskaal word, en is dit politici wat dié besluit sal moet herroep. Om aan die gang te kom, sal enige beweging partypolitiek moet vermy, maar as dit werklik iets wil bereik, sal dit op die ou end onvermydelik die politieke of staatkundige terrein moet betree. 'n Probleem vir enige Afrikaanse beweging is dat dit so breed en algemeen kan wees dat die ondersteuners nooit gaan saamstem oor wat hulle moet aanpak nie, of selfs oor wat werklik as taalmiskenning beskou kan word. 'n Soort inklusiwiteit van handhawers, anti-handhawers en onverskilliges sal lei tot verlammende onmag. Dit kan ewe min sukses hê as 'n direksie waarvan sommige lede wins wil maak, en ander redeneer dat verliese nie saak maak nie of selfs morele winste is. Dr. Karel Prinsloo praat in 'n verklaring in Rapport van 18 Januarie 1998 van samewerking deur "besorgde" Afrikaanstaliges, en van hul samesnoering rondom die handhawing van die taal. Dit lyk na die minimum voorwaarde vir sukses: besorgdheid en erkenning van die noodsaak om die huidige verliese te probeer stuit. Boonop is daar twee sterk oorwegings ten gunste van 'n breë beweging. Die eerste is dat dit baie mense kan betrek wat tot dusver nie deelgeneem het aan enige taalaksies nie, en die tweede dat so 'n liggaam by onderhandelings met die maghebbers groter gewig sal dra as organisasies met beperkter lidmaatskap. Dit sou ideaal wees as so 'n vereniging kan optree as drukgroep. Dit moet byvoorbeeld skakelbeamptes kan aanstel en genoeg geld hê om behoorlike regsadvies in te win. Geld is ook nodig vir ander sake soos moontlike eie skole, selfs 'n eie televisiediens. Maar dis moeilik om geldelike steun vir taalsake te kry. Dit blyk duidelik as 'n mens die 1992-geldinsameling vir die Stigting vir Afrikaans vergelyk met die jaarlikse insameling vir die Kersfondse van die Afrikaanse dagblaaie. Vir die Stigting het die drie Afrikaanse dagblaaie sowat R300 000 ingesamel. Verlede jaar het Die Volksblad vir sy Kersfonds net in die Vrystaat en Noord-Kaap, dus van die armste dele van die land, naby die R900 000 gekry. Dit sou miskien die moeite loon om te probeer vasstel waarom mense soveel makliker vir die Kersfonds geld skenk as vir die Stigting. Mense gee geredelik vir liefdadigheid Dit kan wees dat daar in 1992 nog nie so 'n akute besef was van die dreigende gevaar vir Afrikaans nie. Of dat die verdagmakery van die Stigting deur politiek links en regs mense afgeskrik het. Miskien gee die publiek meer geredelik vir 'n godsdienstige doel of vir liefdadigheid as vir 'n taal- en kulturele oogmerk, en eerder vir 'n spesifieke doel as vir iets wat toe vaag en ongedefinieerd was. Dat mense bereid is om flink by te dra tot 'n projek, het 'n paar jaar gelede geblyk met die insameling vir 'n Afrikaanse televisiediens. Ongelukkig het dit skeefgeloop omdat die persoon aan die hoof nie 'n onberispelike verlede gehad het nie. Dié geskiedenis sal die publiek se houding teenoor dergelike projekte nog lank beïnvloed. Moeiliker en noodsaakliker as geldinsameling, selfs die moeilikste deel van die voorbereiding vir taalaksies, is die aankweking van groter taalbewustheid en taallojaliteit. Die houding van die taalgemeenskap teenoor 'n dominante taal soos Engels is heeltemal anders as teenoor 'n nie-dominante taal. Propaganda vir 'n dominante taal is doeltreffend, maar vir 'n nie-dominante taal nié. Die versterking van taalgetrouheid vir Afrikaans sal dus indirek moet geskied deur belangstelling in en waardering vir die prestasies van Afrikaans te wek. Kennis van waardevolle literêre en ander werke in Afrikaans sal ook die gehegtheid aan en trots op die taal bevorder. Wat verder positief kan werk, is koerante en tydskrifte, of ondernemings soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Kaapse literêre toere na die wêrelde van Van Wyk Louw en W.E.G. Louw, Leipoldt, Boerneef, Langenhoven, die skrywers van die Overbergstreek en ander. As die belangstelling in die boek kan kom deur "die wêreld van die digter" en "die mens agter die boek", waarom sal mens dit versmaai? Taalgetrouheid hou dikwels verband met nie-talige sake, veral "die beeld van die Afrikaner", wat deur sienings oor sy verlede bepaal word. Afrikaans in krisis In dié opsig verkeer Afrikaans werklik in 'n krisis. Die persepsies wat oor die Afrikaner en Afrikaans gevorm word, word koelbloedig maar korrek saamgevat deur 'n Vlaamse sosiolinguis, prof. Kas Deprez, weliswaar in 'n onsimpatiek geformuleerde stuk in De Morgen van 6 Desember 1997: "De Zwarten willen Engels. Omdat het Engels een internationale taal is en het Afrikaans niet. Omdat het Engels ook de taal van de struggle was, het Afrikaans de taal van foltering en moord. Ieder volk zijn eigen verleden. In de Waarheidscommissie maak je ze mee in al hun onmenselijkheid. Bijvoorbeeld als ze vertellen hoe ze Steve Biko ombrachten. Ieder volk zijn eigen taal. Zelfs op so'n momenten vinden ze het nodig Afrikaans te spreken. Een slechtere publiciteit voor het Afrikaans is niet denkbaar." Ongelukkig blyk die ander waarhede van Suid-Afrika nié uit die verhore van die Waarheidskommissie nie, soos die deelnemers aan die struggle se foltering van en moorde op dissidente, asook weerloses in die burgerbevolking. "Ieder volk zijn eigen verleden", maar vergete is die Afrikaanse stemme wat deur dekades heen vir die regte van die swartes geklink het, die boeke wat geskryf is met die uitdruklike strewe dat Afrikaans gebruik word as taal van verset teen apartheid. Vergete, eweneens, is dié wat hulle, weliswaar in 'n ander raamwerk, vir die ontwikkeling van die Afrikatale beywer het. Dis ironies dat dié tale in party opsigte, byvoorbeeld as televisiemedium, beter daaraan toe was in die vorige bedeling. Die eensydige beeld van die Afrikaner wat die Waarheidskommissie en die regeringspropaganda skep, het ook negatiewe gevolge vir die Afrikaanstalige self. 'n Beeld word gebou, selfs gefabriseer, van die Afrikaner as wreed en boosaardig, 'n groep waarmee 'n ordentlike mens hom nie kan assosieer nie. Dit is noodsaaklik om die gebeurtenisse van die laaste aantal dekades ewewigtiger te beoordeel as tans. Die balans tussen negatief en positief ontbreek ook in opvattings oor ons talegeskiedenis; mens hoor selfs onder Afrikaanstaliges dwaashede soos dat universiteite Afrikaans geword het deur die beleid van die "apartheidsregime" Op 'n vergadering van 'n belangrike regeringskommissie het 'n verengelste Afrikanervrou dit verwelkom dat daar nie langer, soos onder die "apartheidsregime", subsidies aan die "Boerekerke" betaal sal word sodat daar op elke dorpie 'n yslike kerk pryk nie! Dit glo sy glo werklik! Maar die "kollektiewe depressie" van Afrikaners, soos party mense die huidige stemming al getipeer het, is nie net 'n gevolg van die verlede nie. Erger nog is die wanhoop aan die toekoms. Die wanhoop bestaan ook onder ander groepe. Byna 'n driekwart van die hoofde van huishoudings onder wittes, bruines en Asiate beskou die toekoms van jong mense as swak of baie swak (Rapport, 22 Februarie 1998). 'n Afrikaanse beweging sal op die ou end ook moet besin oor sy oogmerke en sy toekomsvisie. Nie alle toekomsplanne is ewe deurdag nie. Een van die politieke leiers het op 17 Februarie 1998 voorgestel dat die getal Afrikaanse universiteite tot twee of drie verminder moet word. Wat vreemd is aan dié voorstel, is dat daar nog hoogstens één universiteit is wat werklik Afrikaans-medium is, naamlik Stellenbosch, en selfs dié maak uitsonderings, soos ten opsigte van bosbou. Die ander gewese Afrikaanse universiteite het reeds in wisselende mate parallelmedium aanvaar. Sou die betrokke leier dus bedoel dat die gewese Afrikaanse universiteite Afrikaans heeltemal moet afskaf? Het hy gedink aan die gevolge wat so 'n stap sou hê vir die Afrikaanse onderwys in die omgewing van universiteite wat Afrikaans moet verloor? Met watter Afrikaanse kultuurmense het hy gepraat voor hy sy plan voorgestel het, en watter organisasie het hom die advies gegee? Op die duur sal 'n Afrikaanse beweging ook moet dink oor wat hy as die gewenste staatkundige stelsel vir die land beskou, of as dit te omstrede is, watter staatkundige strewe hy nie behoort te opponeer nie. In geen land ter wêreld is die debat oor die staatkundige bedeling, staatsideologie en verwante sake ooit afgehandel nie. Ons besef vandag iets van wat Van Wyk Louw veertig jaar gelede geskryf het: Afrikanerskap is nie heilig nie. Nuwe Suid-Afrikanerskap ook nie. Daar is baie dinge wat krities bekyk moet word: die unitêre stelsel, die staatsideologie van nasiebou deur miskenning van party tale; die neiging tot sosiale manipulasie. Die sentrale vraag is of die ideale staatsvorm vir die land 'n eenheidstaat is. Wat sal die gevolge daarvan op die duur vir Afrikaans en die ander inheemse tale wees? Die antwoord lê voor die hand: 'n eindelose taalstryd of sekere agteruitgang oor die hele land - eintlik nie of nie, maar en. Die eenheidstaat kan onder 'n onsimpatieke regime die dood in die pot vir die nie-dominante tale in 'n meertalige samelewing wees. Gelukkig is taal nie die enigste strydpunt in ons land nie. Om ander redes as taal is 'n betekenisvolle staatkundige voorstel onlangs gedoen. Die rubriekskrywer Dawie het op 17 Januarie en 21 Februarie 1998 in Die Burger en Die Volksblad 'n federale bedeling vir Suid-Afrika voorgestel om die demokrasie te behou en politieke en finansiële stabiliteit te verseker. Maar so 'n bedeling kan ook help dat taalsake ten minste in 'n deel van die land, byvoorbeeld die Wes- en Noord-Kaap, bevredigender gehanteer word as tans. Dit kan taalgewys ook 'n positiewe invloed op die res van die land hê. Dit is gelukkig dat daar ander, dwingender oorwegings vir 'n federasie is as taal. 'n Politieke stryd hieroor hoef die taalkwessie dus nie te politiseer nie. Maar hoe ons ook van die politiek en die staatkunde wil wegkom, die taalvraagstuk is in wese ook 'n staatkundige vraagstuk, wat ongelukkig maklik 'n partypolitieke kwessie kan word. Dr. Jaap Steyn, 'n bekende taalnavorser, is verbonde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. 'n Woordlint van land tot land Ons klein en silwerige planeet, saamgestel deur Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent; uitgegee deur J.L. van Schaik. Prys: R45,50 DIÉ digundel bestaan uit Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Sewentig digters uit Suid-Afrika en die Lae Lande het gedigte bygedra. Dit is die eerste publikasie waarin tekste in Afrikaans en Nederlands onvertaald en sonder woordverklarings opgeneem is. Van die kant van J.L. van Schaik Uitgewers is hierdie boek die optel van 'n silwer draad wat ons aan die Lae Lande bind. Van Schaik se boekesaak in Suid-Afrika is immers begin deur Johannes Lambertus van Schaik, wat op 2 April 1888 in Weesp naby Amsterdam gebore is. In 1911 het hy na Suid-Afrika gekom as bestuurder van die Amsterdamse boekesaak J.H. de Bussy se takwinkel in Johannesburg en in 1914 het hy 'n klein algemene boekesaak in Pretoria oorgeneem wat sedertdien 'n landteken in die inheemse uitgewers- en boekebedryf geword het. In 1986 het die maatskappy ingeskakel by die landwye belange van die Nasionale Boekhandelgroep van die Nasionale Pers en later is 'n deel van die fondslys van die akademiese uitgewery Academica, wat ook publikasies op die terrein van die Nederlandistiek gepubliseer het, by J.L. van Schaik ingelyf. Met die publikasie van Ena Jansen se Afstand en verbintenis - Elisabeth Eybers in Amsterdam is die silwer draad met die Lae Lande opnuut opgetel. Die verskyning van Ons klein en silwerige planeet (wat mede moontlik gemaak is deur die Nederlandse Taalunie en die Fonds Nederlandistiek in Suider-Afrika) kan gesien word as 'n voorloper van die nuwe benadering waarvoor W. F. Jonckheere 'n sterk saak uitgemaak het tydens die colloquium oor Nederlandistiek verlede jaar op Itala, KwaZulu-Natal. Daar sal in die toekoms interaktief, interkultureel en interartistiek oor regionale en internasionale grense saamgewerk moet word indien die Nederlandistiek relevant wil bly in Suid-Afrika en indien ons Afrikaans ook relevant wil maak in die Lae Lande. Ons klein en silwerige planeet het aan sowel Afrikaanse as Nederlandstalige digters die geleentheid gebied tot samewerking rondom 'n aktuele tema. "Die bundel gee 'n aanduiding van die stand van die 'groen gesprek' in die poësie in Suid-Afrika en die Nederlande, en van die wyse waarop digters van die suide en die noorde oor die onderwerp skryf. Indien hierdie boek daarin sal slaag om nuwe lesers vir Nederlands in Suid-Afrika en vir Afrikaans in die Nederlande te wen, sal dit nie net 'n woordlint tussen digters en tale span nie, maar ook tussen die uitgewers- en boekebedrywe in die onderskeie lande. Dr. Francis Galloway is werksaam by J.L. van Schaik Uitgewers. Afrikaans gryp uitdagings Sarah Slabbert skets hoe die rasionalisasieproses aan die Universiteit van die Witwatersrand Afrikaans geraak het. DIT is 'n uitdaging om energiek en entoesiasties te bly in 'n werkomgewing waar die vak Afrikaans en Nederlands se relevansie op allerlei terreine ondermyn word en die Letterefakulteit van Wits self besig is om deur 'n proses van rasionalisasie te gaan. Volgens hierdie proses word die personeel van die departement afgeskaal tot vier en word die departement deel van 'n groter "School of Languages and Literatures". (Lees "other" hierby, want dit is inderdaad 'n allegaartjie van alles wat nie Engels is nie, naamlik die Afrikatale, Duits, Frans en Italiaans, en die skool vir vertalers.) Die voordeel van opname in 'n groter skool is dat ons deel word van 'n gesamentlike poging om die belangrikheid van veeltaligheid te bemark. Die skool is byvoorbeeld reeds besig om 'n sentrum vir rekenaarondersteunde kursusse in 'n verskeidenheid tale, waarvan Afrikaans een sal wees, vir sakemense te ontwikkel. Daar word ook in die vooruitsig gestel dat die skool interdepartementele kursusse sal ontwikkel. So kry dosente die geleentheid om oor hulle spesialiteitsgebied, sê byvoorbeeld literêre teorie, klas te gee vir studente van al die departemente wat die skool uitmaak. Ook op ander vlakke bied interdepartementele samewerking opwindende moontlikhede: * Ons departement gee klas oor die ontwikkeling en politisering van Afrikaans by Applied English Language Studies. * Die departement het twee nagraadse studente wat by Afrikatale geregistreer is. * Binne die nuwe Skool vir Nagraadse Studie kan honneurs- en magistermodules ook vir studente in ander departemente aangebied word. Die afname in getalle het die departement veral op voorgraadse vlak geraak. Nagraadse studente het daarenteen toegeneem. Daar is veral belangstelling in die Afstandshonneurs in Eietydse Letterkunde en die Kreatiewe Skryfkursus. Studente kom van heinde en ver na die twee kontakweke in Februarie en Junie, onder andere van Windhoek, Vredendal en Kimberley. Die departement het verlede jaar begin met 'n Beginnerskursus in Afrikaans. Dit is veral die nauurse kursus wat belangstelling gelok het en ons is baie trots op die vordering van die studente. Begin vanjaar is 'n maandelikse besprekingsklas vir die afgestudeerdes ingestel om met kuier, baie rooiwyn en eetgoed hulle vordering in Afrikaans voort te sit. Die departement lewer ook jaarliks gemeenskapsdiens in die vorm van werkswinkels aan Afrikaansonderwysers wat in samewerking met me. Olga Sema georganiseer word. Verlede jaar het dit vir die eerste keer saamgeval met die Wits Open Day en is dit gekombineer met 'n kabaretvertoning deur Elsabé Zietsman. Byna 200 onderwysers het die werkswinkel bygewoon. Dr. Sarah Slabbert is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands van Wits. Hoe stewig is die handevat? Die verhouding tussen Nederlands- en Afrikaanstaliges het meer kante as waarvan kennis geneem word, sê Gawie Keyser. OM insig in die leeskultuur van die Lae Lande se deursnee-bewoner te kry, kan jy voor sy rakke in die studeerkamer op 'n wêreldreis gaan: daar staan die Duitsers langs die Russe wat, swaarlywig in die gedaante van Tolstoi, leun teen die eksoties uitgedoste Latyns-Amerikane, wat op hul beurt die slapband Penguins van die klassieke Engelse staande hou. Op jou pad vind jy ook Suid-Afrika. Nog ietwat onwennig, maar toenemend selfversekerd: Riana Scheepers met 'n foto'tjie agterop die stofomslag van 'n bundel waarvan die titel sommer in Afrikaans gelaat is; Etienne van Heerden, wat vir die bewoners van die woon- of studeerkamer 'n vertroude makker geword het; A.H.M Scholtz, wat vir hulle Tannie Wonnie gegee het ... Suid-Afrikaanse literatuur in die Lae Lande begin nou al so doodgewoon te word, sê dr. Hans Ester, 'n bekende literator, dat die nuwigheid daarvan 'n bietjie verdwyn. Vir doodgewoon word in Nederland hoef Suid-Afrikaanse skrywers - met name Afrikaanse skrywers - egter nie bang te wees nie. Hul "nuwigheid" sal nooit verdwyn nie, omdat hul aanwesigheid hier steeds begroet word met 'n grootoog verwondering oor Suid-Afrika en sy verhale, veral dié in Afrikaans, daardie "snaakse taaltje", daardie "Nederlands van Afrika". Al jare praat uitgewers en letterkundiges oor die moontlikhede van Suid-Afrika se literatuur in die Lae Lande. Hiermee word weliswaar bedoel dat die romans vertaal word, maar die debat gaan telkens ook oor die vraag of Nederlandssprekendes Afrikaanse werke nie sommer in Afrikaans kan lees nie. Die verbintenis tussen Afrikaans en Nederlands word dan ook by die debat betrek. Op die onlangse "Boekenbeurs voor Antwerpen", waar Suid-Afrika vanjaar die hooftema was, het dié aspek vreemd genoeg volstrek onbelig gebly. Die afwesigheid van 'n debat oor die Afrikaans/Nederlandse konneksie toon wel die huidige verwarring in Nederland en Vlaandere oor hoe om met die taalverwantskap om te gaan. Dit het te make met die kloof wat tussen die verskillende Suid-Afrika-organisasies in die Lae Lande - veral in Nederland - bestaan. Ruweg kan hulle in twee kampe verdeel word: enersyds organisasies wat aan die anti-apartheidstryd deelgeneem het, andersyds groepe wat teen die kulturele boikot was en voortgegaan het om bande met hoofsaaklik blanke Afrikaanssprekendes te onderhou. Hoewel ernstig gepoog word om die kampe tot 'n samewerkingsraamwerk te beweeg, verloop die kontak alles behalwe vlot. "Verligtes" beskuldig die "verkramptes" nog steeds daarvan dat hulle te veel aandag aan Afrikaans in Suid-Afrika bestee en te min aan die land se ander bevolkingsgroepe. In 'n sekere sin is dit dus nie heeltemal politiek korrek om amptelik kulturele bande eksklusief met Afrikaans in Suid-Afrika te onderhou nie. Die heersende standpunt hier is dat Suid-Afrika uit veel meer bevolkingsgroepe as slegs Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes bestaan. Dat die Taalunie hom op Afrikaans gerig het deur in Desember slegs Afrikaanssprekende skrywers vir die literêre rondreis deur die Lae Lande uit te nooi, het dan ook kritiek uitgelok. Die akademikus Kas Deprez, dosent in die sosiolinguistiek aan die Universiteit van Leuven, skryf in die Vlaamse koerant De Morgen: "De Taalunie die slechts Nederlands en Afrikaans wil bevorderen belandt in Zuid-Afrika steevast in de marge ['n leemte]." Een van die misverstande in die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland vloei voort uit die verwagting in sommige kringe van die Afrikaner-elite dat Nederland hom in die taalpolitieke stryd vanselfsprekend aan die kant van Afrikaans sou moet skaar. Dit behoort egter duidelik te wees dat Nederland wat bilaterale bande betref, onmoontlik één bevolkingsgroep kan uitsonder. Sterk Nederlandse steun Dit beteken egter nie dat dieselfde elite-kringe in Suid-Afrika nie op sterk Nederlandse steun sal kan reken indien Afrikaans op watter wyse ook onderdruk word nie. Uit akademiese kringe in die Lae Lande kan Afrikaans ongetwyfeld steun verwag, wat die veteraantaalkundige prof. Piet Paardekooper van Leiden in 'n onderhoud met Die Burger kragtig bevestig het. Dié steun het te make met die geskiedkundige bande tussen Suid-Afrika en Nederland en met die akademiese konneksies op taal- en letterkundige gebied. Maar dit is ook 'n gevolg van Nederlanders se spontane belangstelling in die Afrika-taal wat so vertroud voorkom. Dit kan nie regtig gerasionaliseer word nie, behalwe miskien deur te gis dat dit te make het met die soort verbasing wat jy ervaar as jy iets van jouself in 'n eksotiese land herken. Dié verwondering, die verlede en die huidige akademiese bande hou belangstelling in Afrikaans in Europa lewendig, en vuur die gesprek aan oor die moontlikhede van stories in dié taal in die Lae Lande. En ook hieroor loop die menings kwaai uiteen. Iemand soos Henk van Woerden, Nederlandse outeur van die twee Suid-Afrika-boeke Moenie kyk nie en Tikoes, sweer hoog en laag dat Nederlanders g'n woord Afrikaans kan lees nie. Aan die ander kant is daar letterkundiges in Nederland en Vlaandere wat daarop aandring dat hul studente die oorspronklike Afrikaanse tekste lees en wat meen dat "gewone lesers" dit ook sou kon doen as die boeke vir hulle beskikbaar was. Sulke dosente verklaar ook dat vertalings in beginsel "tweede beste" is. Onlangs het die vertaler Robert Dorsman in sy resensie van Vatmaar geskryf dat die leser liefs die oorspronklike naas die Nederlandse vertaling moet lees. Afrikaans moet die stryd aanknoop teen 'n magtige krag: die moedertaal van die Nederlanders en Vlaminge. Hieraan is die Lae Landers, soos dit intelligente mense betaam, behoorlik verknog. Uit 'n studeerkamer-wêreldreis blyk dat Nederlanders romans uit alle windstreke lees omdat die boeke, danksy 'n goed geoliede vertaalmasjien, in hul eie taal beskikbaar is. Dit is dus nie nodig om jou uit te put met die Engelse tegnotaal van Tom Clancy nie. As Nederlanders dan nie eens die moeite doen om die nuwe Tom Clancy in Engels te lees nie, maar wag totdat die vertaling op die mark kom, waarom sal hulle 'n nuwe roman van Etienne van Heerden in Afrikaans gryp as hulle weet dit gaan vertaal word? Diegene wat sê dat Nederlanders Afrikaans as deel van hul eie taal beskou, moet maar probeer Afrikaans praat met die visboer op die Amsterdamse Albert Cuyp mark. Ná 'n frustrerende gebrabbel in Amsterdams en Afrikaans sal jy weliswaar jou garnale kry, maar moet dié man nou iemand soos selfs Eben Venter se Afrikaans gaan lees? Gesien die Nederlanders se merkwaardig diverse leeskultuur Iyk die argument dat 'n vertaling altyd "tweede beste" is, nie sterk nie. Lees eerder die Deen Peter Hoeg in Nederlands as om sy meesterwerk Smilla's gevoel voor sneeuw by jou verby te laat gaan. Die verwondering oor Afrikaans en die groot akademiese belangstelling in sy letterkunde beteken wel dat oorspronklike tekste hier altyd 'n mark sal hê (sien die sukses by die boekebeurs in Antwerpen). Maar dink 'n oomblik na ... vertalings dien Afrikaans se belange beter as om Afrikaanse boeke aan 'n verkoper op die mark te probeer opdwing. Koos Vis sal Die uur van die engel graag in sy boekrak naas die res van die wêreld se literatuur wil plaas, maar gaan hy Karel Schoeman se pragwerk léés? Die romanskrywer John Miles het op die vraag waarom Afrikaanse skrywers vertaal wil word, geantwoord: "Om nog 'n leser te kan bereik". Gawie Keyser is vryskut-joernalis en Die Burger se korrespondent in Nederland. 'n Gelukkige huis lok vele vriende By die Huis der Nederlanden is 'n betekenisvolle begin gemaak met sy toekomstaak: om 'n tuiste met uitkringende invloed te skep vir Nederlands, die Vlaamse en Nederlandse kultuur en hul wisselwerking met 'n verwante Afrikataal: Afrikaans. "TUISTE; veilige onderdak", sê die woordeboek. Afrikaans en sy kultuuruitinge het 'n veilige onderdak saam met 'n gedugte stamtaal, Nederlands, in die Huis der Nederlanden in Pinelands, Kaapstad. 'n Knusse tuiste, maar nie 'n eksklusiewe taalgenootskaplike vesting om eie waardes in afsondering te beskerm nie. Die Huis der Nederlanden het baie kamers, en veral baie deure wat ver na buite oopmaak. Een voorbeeld: deure is van 2 tot 4 Maart oopgemaak na die Mier landelike gemeenskap anderkant Upington, Askham in die Kalahari, Grootdrink, en na Ceres en Atlantis digter by Kaapstad. Twintig mense van dié plekke het in die HdN saamgetrek vir die eerste werkswinkel van drie dae vir studieleiers wat geletterdheidsklasse in hul omgewing aanbied - hopelik deel van 'n volgehoue reeks. Dit is gedoen met die medewerking van die Stigting vir Afrikaans se geletterdheidsafdeling. Van hierdie kerngroep kring die bedrywighede weer veel wyer uit, maak hulle vir 'n steeds groeiende aantal leerders die deure na geletterdheid oop. Vir die groep was die kursus 'n ervaring met vele fasette. Annie Thiro het in 'n bedankingswoord - na aanleiding van 'n aandbesoek aan Vlaeberg - namens dié wat nog nooit in 'n stad was nie, hierdie stukkie ervaring roerend saamgevat: ..."En al daardie baie, baie, ja die baie, baie liggies - o, só wonderlik!" Hoewel die Stichting Huis der Nederlanden - die ménse van die Huis - beplan om net sowat 20 persent van die instansie se totale begroting aan die opleiding van geletterdheidsinstrukteurs te wy, verraai die soort belang wat daaraan geheg word, die tekstuur van die omgee. Die voorsitter van die Willem de Zwijgerstichting - die grondlegger van die Huis der Nederlanden - dr. Maarten H. Cohen Stuart, skryf in 'n brief aan mev. Anneke van Niekerk, voorsitter van die HdN se dag- en algemene bestuur: "Wij vinden het onaanvaardbaar als zich in het algemeen-Nederlands taalgebied (d.w.z. alle gezamenlijke taalgebieden die hun oorsprong - geheel of mede - vinden in het Nederlands) personen bevinden die door welke maatschappelijke of politieke redenen dan ook hun eigen 'huistaal' niet kunnen lezen, schrijven en verder ontwikkelen. "Wij menen dat alle leden van het algemeen-Nederlands taalgebied met woord en met schrift deel moeten kunnen nemen aan de op deze algemeen-Nederlandse taal gebaseerde culturele uitingen, in hun breedste zin." Verder: "Maar juist dat kwalitatief hoogwaardige Huis der Nederlanden zal met zijn mogelijkheden geheel open moeten staan voor het geletterdheidsprogramma." Nog verder: "Het Curatorium meent ... dat binnen de grote ruimte van de veeltalige en veelkleurige Zuid-Afrikaanse gemeenschap het geletterdheidsproject ons visitekaartje is, en daarmee ons de legitimiteit geeft om zo nadrukkelijk in Zuid-Afrika op te komen voor het Afrikaans, als deel van het algemeen-Nederlands." Die Stichting Huis der Nederlanden is in 1997 opgerig deur die Willem de Zwijgerstichting van Nederland. Pinelands se NG Kerksaal is gekoop en opgeknap om in die behoeftes van 'n ware kultuursentrum te voorsien. Só lui dit in die grondwet: "Die doel en oogmerk van die Stichting sal wees om, sonder winsoogmerk, 'n kultureel-opvoedkundige sentrum te vestig en te onderhou vir die bevordering van kennis van die Nederlandse taal en die Nederlands-Vlaamse kultuur en saamhangende kulturele en wetenskaplike uitinge. "Die spesifieke oogmerk van die Stichting sal wees om die verwantskap wat bestaan tussen die Nederlandse taal en Nederlands-Vlaamse kultuur enersyds en die taal en kultuur van Afrikaaanssprekendes andersyds uit te bou." Vir nog groter duidelikheid is later bygevoeg: "Ter bereiking van die vermelde doelwitte sal onder meer aandag gegee word aan die sosiaal-kulturele en opvoedkundige behoeftes van die gemarginaliseerde Afrikaanstaliges." Dis breë begrippe wat tot groot bedrywigheid lei. Die Nederlandse Bibliotheek met sy ongeveer 25 000 bande - wat steeds uitbrei en die hart van die kultuursentrum vorm - is reeds in bruikleen by die HdN. 'n Jaarlikse Nederlands-Vlaamse Week word beplan. Die eerste Week vind van 14 tot 18 September plaas met as algemene tema: Die geesteslewe van ná die Tweede Wêreldoorlog in Vlaandere en Nederland. 'n Reeks van vyf lesings sal die onderwerpe behandel. Prof. Marcel Janssens (Leuven) sal die geestelike en kulturele klimaat in Nederland en Vlaandere behandel, dr. Wilbert Smulders (Utrecht) die letterkunde, mnr. Peter Marijnissen die beeldende kunste en mnr. Jacques Klöters die kabaret en kleinkuns. In samewerking met die Kaapse Forum vir Neerlandistiek gaan die HdN die Nederlandse taal en literatuur buite universiteitsverband bevorder. 'n Taalkursus in Nederlands word in die Huis aangebied. 'n Werkkring, die Nederlands-Afrikaanse Werkkring (Nawerk), is op inisiatief van die Stichting Huis der Nederlanden gestig waarvolgens Afrikaansonderwysers van die middelbare skool genooi word na 'n reeks byeenkomste waar 'n kundige hulle onder meer riglyne gee hoe om 'n voorgeskrewe of toepaslike Nederlandse boek in die klas te behandel. Een keer per week word klasse volgens 'n program "Nederlandse onderwys in die buiteland" oor die Nederlandse taal en kultuur aan die kinders van Nederlandssprekendes gegee om hulle in hierdie opsig met skole in Nederland te laat tred hou. Die organisasie Biblionef, die geesteskind van Jhr. Mr. M. Vegelin van Claerbergen, gewese ambassadeur van Nederland in Frankryk, gaan sy Suid-Afrikaanse depot en verspreidingsdiens van gratis kinder- en jeugboeke aan gemarginaliseerde gemeenskappe in die Huis der Nederlanden vestig. Biblionef lewer sedert die begin negentigerjare met die samewerking van uitgewers so 'n diens uit Frankryk en Portugal aan voormalige Franstalige en Portugese kolonies en uit Nederland meestal aan Suriname. Die vereniging Algemeen-Nederlands Verbond (ANV) gebruik die HdN as die middelpunt van die meeste van sy aktiwiteite. Die gebou self is 'n heerlikheid, 'n kombinasie van vriendelike warmte en akademiese erns. Wanneer al die sale voltooi is, sal daar geriewe wees vir 'n ruim verskeidenheid bedrywighede. 'n Saal kan gehuur word teen R25 per eenheid - 'n oggend, middag of aand. Diegene wat daarin belang stel om deel te word van die familie van die Huis der Nederlanden, om die geriewe te kan gebruik, boeke, CD's, video's te kan uitneem, en om eie taalhorisonne uit te skuif, kan gerus 'n Vriend van die Huis der Nederlanden word teen R60 ledegeld per persoon; R10 vir studente en leerlinge. Barend Koras van Kenhardt het nie verniet by sy afskeidshanddruk ná afloop van die geletterdheidskursus vir opleiers gesê nie: "Dit is vir ons almal 'n voorreg om nou deel van die groot familie van die Huis der Nederlanden te wees." Die Huis der Nederlanden se adres is: Sentraal Laan 35, Pinelands 7405; Posbus 862, Howard Place 7450. Tel: 021 - 5315831; faks: 021 - 5317224. Pieter Spaarwater en A.v.N. In die ban van Karoo-Afrikaans As Engelssprekende skoolseuntjie op Worcester het J.M. Coetzee, Suid-Afrika se top Engelse skrywer, Afrikaners, taal en al, as weersinwekkend beleef. Maar hy weier om Afrikaans aan hulle af te staan, skryf Rykie van Reenen oor sy jongste werk, die outobiografiese Boyhood, scenes from provincial life. Hy's in die ban van die Afrikaans van vakansies op die familieplaas in die Karoo. DAAR is soorte Afrikaans waarmee Coetzee klein-klein al niks te doen wou hê nie. Die Afrikaans van Afrikaners wat, gekwes en wrokkig, nors hul taal as 'n knuppel teen hul vyande gebruik. Die Afrikaans van speelgrondbuffels met vieslike fok-, poephol- en gat-tale, fris kaalvoet Boerkinders met te klein geworde kortbroeke en poenskoppe wat net waar hulle kan, die mammaseuntjie knou en tempteer. Die Afrikaans van klaskamers waar kinders gedril word in idiome kwansuis uit die volksmond, maar omgewe van die muwwe ruik van Groot Trek en ossewa. Hy verset hom teen Afrikaans se meesmuilende omslagtigheid wanneer selfs grootmense nie die persoonlike voornaamwoord teenoor 'n mindere durf gebruik nie en onderdanig soos 'n afgeranselde slaaf brabbel wil mammie nie 'n kombers oor mammie se knieë hê nie? As Nasionale Afrikaners in '48 aan bewind kom - Dok Malan "met sy ronde, kaal gesig sonder begrip of mededoë, sy keelvet wat soos 'n padda s'n pols", sy "opeengeperste lippe" - is sy dodevrees dat hy ingevolge NP moedertaalbeleid vanweë sy Afrikaanse van na die Afrikaanse klas oorgeplaas sal word. Hy praat Afrikaans vlot en sonder aksent, maar is van huis uit Engelssprekend en sou nooit vir 'n Afrikaanse kind deurgaan nie. Sy ma is Engelssprekend en dra die broek, sy pa is tuis 'n nul op 'n kontrak. Sonder sy oupa se toedoen sou die Coetzees, plaasmense, seker nooit Engels gepraat het nie, dink die seuntjie as hy sy pa en ooms hoor gesels. Die eksieperfeksie ou heer was "'n ware ou jintelman ... en 'n ware ou jingo" korswil sy seuns. Voor sy dorpshuis op Merweville had hy 'n vlagpaal waar hy op die koning se verjaarsdag die Union Jack gehys het. Sonder Engels, reken die kind, sou die Coetzees soos die Botese en die Nigrini's gewees het, stug en bot, met die weer en die skaap as enigste diskoers. Ja-nee, sê die Botese, en sug; Ja-nee, sê die Coetzees, en bidde dat die kuiermense hul ry moet kry. In die ander bak van die weegskaal lê Voëlfontein. A, Voëlfontein - elke klip van daardie plaas het hy lief, elke bossie, elke sprietjie gras, die voëls wat teensteaand in hul duisende kwetterend neersak sit in die bome rondom die fontein wat die plaas sy naam gee ... Kersfeeste trek die ganse familie daar saam, met beddens, matrasse, kampbedjies in elke kamer en op die stoep - eenkeer tel hy 26. Heeldag is sy tante en die twee bediendes in die stomende kombuis aan die kook en bak vir maaltyd na maaltyd, word die een skinkbord koffie en koek na die ander aangedra na die mans wat lui-lui op die stoep sit stories verkoop, die Karoo-landskap flikkerend in die hitte. Gretig drink hy die gemoedelike atmosfeer in, die ongeërgde mengeling van Afrikaans en Engels wat hulle praat as hulle bymekaarkom. Hy hou van hierdie koddige, dansende taal, so gans anders as die stram skool-Afrikaans. Hy onthou sy eerste besoek aan Voëlfontein. Hy was vier of vyf, en kon nog glad nie Afrikaans praat nie. Sy boetietjie was nog 'n baba, al speelmaats vir hom was die klonkies. Saam met hulle het hy bootjies uit sade gemaak en in die leivore afgestuur. Maar hy was soos 'n stom skepsel, alles moes met gebare beduie word; plek-plek het dit hom gevoel hy bars van al die goed wat hy nie kan sê nie. Toe, skielik op 'n dag, maak hy sy mond oop en kom kry hy kan praat - maklik, vlot, sonder om te dink. Hy onthou nog hoe hy gillend by sy ma ingestorm het: "Luister! Ek kan Afrikaans praat!" As hy Afrikaans praat, voel dit vir hom al die komplikasies van die lewe val ineens weg. Afrikaans is soos 'n onsigbare omhulsel wat hy oral met hom saamdra en waarin hy moeiteloos kan glip en meteen 'n ander mens word, eenvoudiger, vroliker, met ligter tred. Een ding van Engelssprekendes waarvan hy hom distansieer, is hul minagting vir Afrikaans, die laai wat hulle het om neerbuigend Afrikaanse woorde verkeerd uit te spreek, asof dit die waarmerk van klas sou wees om veld uit te spreek met 'n Engelse v. Hy, hy maak g'n toegewings nie, nie eens tussen Engelssprekendes nie. Hy spreek Afrikaanse woorde uit soos hulle uitgespreek moet word, harde klinkers en moeilike medeklinkers ten spyt ... Vandag help vestig stukkies outentieke Afrikaanse dialoog meermale die eiebodemlike tekstuur van hierdie uitnemende skrywer se prosa. Rykie van Reenen, voormalige adjunk-redakteur van Rapport, is bekroonde joernalis. Die wel en wee van 'n politieke tolk Julia Smuts bring die kollig na 'n beroep wat in Suid-Afrika betreklik nuut is, waarvan net 'n handjie vol mense al ervaring het en wat hopelik vinnig sal groei. HOE word 'n mens 'n tolk, veral as jy 'n broertjie dood het aan optree in die openbaar? Miskien is die geheim: Kies voor jou geboorte reg ... Soek vir jou ouers uit wat albei van huis uit Afrikaanssprekend was maar weens omstandighede van jongs af uitstekende Engels aangeleer het; sorg dat albei hul taalvaardigheid professioneel begin benut, eers as vertalers, daarna as onderskeidelik tweedetaal-leerkragte en taalkundedosente. Sorg dat niks anders as suiwer, maar idiomatiese Afrikaans in die huis gebruik word nie totdat jou eerste skooldag aanbreek. Kies dan 'n Engelsmedium-skool waar die meeste leerkragte (en baie van jou maats se ouers) uit Engeland afkomstig is. Luister minstens vier keer per dag radionuus (soms Engels, soms Afrikaans) en lees elke dag en ook naweke koerant. Gaan studeer ná matriek tale aan 'n oorwegend Afrikaansmedium-universiteit. Rond jou heeltydse nagraadse studie af met 'n diploma in vertaalkunde van 'n Engelsmedium-universiteit (waar jou hoofdosent 'n veeltalige Oos-Europeër is). Gaan hou 'n paar jaar skool (verkieslik tweedetaal-onderrig) en: Siedaar! Toe die twee rade van die nuwe Suid-Afrikaanse Parlement, en indertyd ook nog die Grondwetskrywende Komitee, drie jaar gelede besluit om uitvoering te gee aan die verwesenliking van meertaligheid binne beleidmakende geledere, verneem 'n mede-vryskutvertaler of ek kans sien om my deur die twee baanbrekers van genoemde instansie se Hansard-afdeling te laat toets as aspirant "gelyktydige" tolk. My eerste gedagte was natuurlik uit en in watter van my twee tale moet ek tolk? (gedagtig aan ons liewe vertaalkundedosent se waarskuwing dat sielkundiges dwarsoor die wêreld daarop aandring dat tolke uit meer as een taal kan tolk, maar altyd slegs in hul moedertaal). Ek lê toe sommer albei praktiese tolktoetse af - en vaar, volgens die toetswaarnemers, ewe goed in albei rigtings. Binne 'n week word ek genooi om gedurende 'n sitting van die Nasionale Vergadering in een van die tolkhokkies te kom "waarneem" hoe sake bedryf word. Dit was toevallig die span wat uit Engels in Afrikaans moes tolk. Dis die bedrywigste van alle spanne by die Parlement, want verreweg die meeste toesprake word in Engels gelewer. Daar sit ek toe 'n uur of wat doodluiters met die "muisore" aan en let versigtig op na die heen en weer skuif van die verskillende knoppies op die kontrolepaneel terwyl ek my verstom oor my (redelik onervare) "kajuitgenote" se bedrewenheid met die politieke uitdrukkings en toepaslike terminologie van die onderhawige wetsontwerp. Skielik beduie die opleier vir my ek kan maar aanskakel en my stem verhef oor die mikrofoon! Tyd vir beswaarmaak was daar nie: die ander tolk in die hokkie knik ondersteunend in my rigting terwyl die volgende spreker al die podium bestyg. Ek sluk 'n slag en val noodgedwonge weg. Genadiglik was dit nie 'n besonder lang toespraak nie - die betrokke lid het een van die kleinste opposisiepartye verteenwoordig. Hy kry selde meer as vyf of uiters agt minute om sy bydrae tot 'n debat te lewer. Die tyd vir elke debat wat in die Nasionale Vergadering gevoer word, word plegtig "proporsioneel" ingedeel sodat elke party nagenoeg dieselfde persentasie van die toegelate tyd kry as die stempersentasie wat hulle in die verkiesing van 1994 behaal het. Vir ministers en/of adjunkministers geld geen tydsbeperking nie. Wat die alledaagse werklikhede van hierdie ietwat ongewone beroep betref, is daar min wat jy kan doen om jou voor te berei vir wat 'n bepaalde wetsontwerp gaan oplewer. Ons tolkspannetjie werk gewoonlik in pare, maar omdat die Afrikaanse span heelwat meer praatwerk doen, kry ons gelukkig dikwels 'n derde spanmaat by. Ons moet ons minstens 'n halfuur voor die aanvang van 'n debat, of Woensdagmiddae vir "Interpellasies en Vraetyd", in die tolkhokkie aanmeld om ons vertroud te maak met die terminologie van die verskillende wetsontwerpe wat bespreek gaan word. (Laasgenoemde geld hoofsaaklik die Nasionale Vergadering, wat naastenby ses tot twaalf dae van elke maand vergader wat die Parlement nie op reses is nie; die ou Senaat het vroeg verlede jaar plek gemaak vir die Nasionale Raad van Provinsies, wat min vergader en waarvoor ons "kern-tolkspanne" selde werk.) Dit beteken dat ons nogal heelwat moet staatmaak op 'n kombinasie van algemene kennis, idiomatiese taalkennis van sowel die "brontaal" as die "teikentaal", 'n gladde tong ... en senuwees van staal! Die brontaal het 'n paar van ons al noustrop laat trek, veral waar 'n agbare lid 'n woord óf onduidelik uitgespreek, óf doodgewoon verkeerd beklemtoon het. Daar is nie sprake van ophou om eers te lag of te probeer uitpluis wat die betrokke spreker nou regtig wou tuisbring nie ... Gelukkig is dit nie nodig dat enige parlementslid moet sukkel om deur middel van 'n tweede, derde of selfs vierde taal 'n parlementêre toespraak aan te bied nie. Ons tolkdiens-administrasie is reeds geruime tyd so goed ingerig dat enige lid wat een van die ander ampstale (d.w.s. buiten Afrikaans of Engels) wil gebruik, slegs 24 uur kennis hoef te gee sodat reëlings getref kan word vir een van die Hansard-verslaggewers, of selfs 'n vryskuttolk van buite, wat bedrewe is in daardie taal, om die verlangde diens te lewer. Dit gebeur wél dat sekere agbare lede soms vergeet dat hulle nie vooraf kennis gegee het van hul voorneme om hul moedertaal te besig nie en wanneer hulle dan daarin wegval, word halsoorkop deur ons arme toesighouer geskarrel om telefonies inderhaas een van die beskikbare Hansard-verslaggewers te ontbied. Dié is natuurlik totaal onvoorbereid op die inhoud van die debat. Die Parlement is nie die enigste "demokratiese beleidmakende instelling" wat tolke soos ons gebruik nie: die Wes-Kaapse parlement gebruik ook op kontrakbasis tolke wat uit Afrikaans in Engels moet werk - maar, interessant genoeg, nie omgekeerd nie - al is die meerderheid van die huidige lede van daardie liggaam waarskynlik moedertaalsprekers van Afrikaans. Daar is ook tolke wat oor en weer tussen Engels en Xhosa tolk. Volgens die Wes-Kaap se nuwe Grondwet word nou erkenning gegee aan Afrikaans, Engels en Xhosa as die ampstale van dié gebied, maar sedert einde Augustus 1996 is daar geen "gewone vertalers/redigeerders" op hierdie administrasie se diensstaat nie - alle skriftelike tekste word uitgegee aan vryskuttolke, dikwels teen 'n aardige sommetjie. Die Kaapse Metropolitaanse Raad maak ook gedurende sy maandelikse vergadering gebruik van 'n soortgelyke tolkdiens, hoewel die grootste aanvraag dáár is na vertaling uit Engels in onderskeidelik Afrikaans en Xhosa. Lede van die land se hoogste beleidmakende liggaam het elkeen sy eie styl van praat. Sommige is indrukwekkend veeltalig en laat ons klompie in die tolkhokkies lelik bontstaan as hulle so vinnig van een na 'n ander taal wip. Soms moet ons ten einde raad met 'n "kits-skepping" vorendag kom wanneer 'n bedrewe vakkundige 'n woord of uitdrukking beetkry wat 'n nuutjie is. Wat is die héél moeilikste hedendaagse politieke term om in Afrikaans te probeer tolk? Probeer vinnig dink aan 'n idiomatiese en allesomvattende woord vir die begrip "African". Julia Smuts is 'n vryskuttolk. Sy oorweeg om te emigreer om sekuriteit in haar beroep te probeer vind. 'n Reis van selfontdekking E.K.M. Dido gee indrukke van haar kennismaking met Nederland en Vlaandere. MY voete is uiteindelik op Hollandse grond - 29 November 1997! Die Nederlandse Taalunie het 'n groepie Afrikaanse skrywers genooi om 'n literêre toer deur Nederland en Vlaandere te maak, en ek is een van die gelukkiges. Dit is my eerste reis buite Suider-Afrika. Ellen Fernhout en Eep Francken verwelkom ons op Schiphol. Eers verstaan ek nie 'n dooie woord wat hulle sê nie, maar later praat hulle stadiger en gaan dit beter. Ons is met 'n sneltrein Leiden toe. Ek sit op die boonste dek. Ek móét, want 'n trein met twee vlakke het ek nog net op televisie gesien. Toe die trein by 'n tonnel uitkom, sien ek water. Baie water. Dis kanale der kanale water tussen plase en landerye deur. En die wêreld is regtig so plat soos ek gehoor het. Toe ons by die Hotel De Doelen aankom, het ek al verskeie dode gesterf: op Leiden se stasie waar ek die honderde fietse gesien het waarmee dié land se mense so graag ry; op pad na die hotel toe ons taxi aan die verkeerde kant van die pad ry - eers ná die skok het ek onthou baie lande in die Noordelike Halfrond ry regs; die netheid - g'n papier of ding lê rond nie; en die heel lekkerste doodskoot: die besef dat ek in 'n hotel bly wat in 1650 gebou is - twee jaar vóór Jan van Riebeeck by Kaap de Goede Hoop voet aan wal gesit het! Ek is met die eerste oogopslag verlief op Leiden. Ek hou van die mense, al kan ek nie juis uitmaak wat hulle sê nie. Die aand gaan eet ons by 'n Indonesiese restaurant. Ek is deel van die groep. Niemand kyk skuins na my nie. Ons stap laat terug hotel toe. Iets wat ek nie by die huis sal waag nie, maar ek voel geen vrees nie. Peter van Zonneveld neem ons op 'n literêre wandeling en ek verstaan elke woord, want hy praat stadig. Ek is stom en klein voor al die eeue oue geboue. By 'n sosiale geleentheid is ek in die stampvol lokaal die enigste bruin vrou tussen wit mense. Almal is vriendelik en niemand blyk bewus te wees van my velkleur nie. Nie een keer vang ek 'n bedekte skimp op soos dit soms nog tuis gebeur nie. En hoe meer ek ontspan, hoe beter verstaan ek die taal. Maar net daar kry ek nog 'n skok: die deftig uitgevatte vroue rook zolle in plaas van gekoopte sigarette! Kyk, ek is gewoond aan mans wat zolle rol (nie van twak nie), maar dit is die eerste keer dat ek ordentlike vrouens sien skyf rook. Op pad van 'n museumbesoek saam met Wilma Stockenström sien ek iets wat my in my vier spore laat vassteek. Eers dag ek iemand verhuis en het al sy besittings op die sypaadjie vir vervoer gelos. Maar al wat mens is, soek daardeur en loop weg met iets. Ek dag dis diefstal tot Wilma verduidelik dat dit gebruik is om uitgooigoed so buite te sit vir ander om te neem. In Utrecht bly ons in die mooi, moderne Hotel Smits. Op my eie besigtig ek die Domkerk en staan klein voor my Skepper by die Domtoren. In Nijmegen, waar ons aan die Katholieke Universiteit voorlesings moet gee en aan besprekings deelneem, word ek in die middedorp aangegryp deur 'n tamaai standbeeld van 'n knielende engel met 'n ontslapene in haar arms. Dis ter nagedagtenis van slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog opgerig. My hart bloei. Die verdomde oorloë! Terug by die Universiteit van Utrecht moet ons die vertaling van die werk wat ons voorgelees het, nagaan. Ek wonder watter bydrae ék kan lewer. Toe die vertaling van my gedeelte voorgelees word terwyl ek met die Afrikaans en Nederlands voor my sit, kan ek tog die geskrewe Nederlands verstaan en praat ek saam toe daar gepaste Nederlandse woorde gesoek word. In Utrecht se Nationaal Museum van Speelklok tot Pierement (draaiorrel), tussen die horlosies en musiekinstrumente van die sewentiende tot die twintigste eeu, oorval intensie emosie my. Hoe durf ons sê dat ons meer gevorderd is as die mense van eeue gelede? O, tegnologies mag ons spronge voor hulle wees, maar ons verwoes wat so lank behoue gebly en ons toekoms verseker het. Die res van die dag sluit ek my in my kamer op en herkou aan wat ek gesien het. My hele wese is één groot gevoel: dat ek my in hierdie land kom vind het. Dat ek kop in die lug kan loop oor wie en wat ek is. Almal, die groeplede ingesluit, het my deur hulle openhartigheid en innemendheid laat besef dat ek vir niemand hoef terug te staan nie. Dat daar mense is wat verby velkleur kyk en vir my sien. Nes toe ek nog 'n kind was. En hulle het die gier vir studeer weer in my wakker gemaak. Op pad na Vlaandere vaar ons by Vlissingen per veerboot met bus en al oor die see. Die Vlaamse mense verwelkom ons in Damme soos verlore kinders wat die pad terug gevind het. En ek het gedag die Nederlanders is vriendelik! Brugge se katedrale, standbeelde en versierde koetse wat deur perde deur die strate getrek word, laat my na my asem snak. In Gent staan ek in die Sint Baafs-Katedraal stom voor "Die Aanbidding van die Lam", die skildery op drie luike van Jan van van Eyck. Ek steek 'n kers op uit dankbaarheid dat ek al die wondere kan sien. Ná die universiteitstad Leuven is ons in Brussel om daar ook voorlesings te gee. Ek is heel op my gemak in die saal vol Vlaminge. Hulle aanvaar my soos ek is en ek verstaan hulle baie beter as die Nederlanders. Antwerpen se mense vind ek meer spontaan en warm. Toe ek oor die Schelderivier kyk, omdraai en my oë op die Onze-Lieve-Vrouw-Katedraal rig, vloei my trane. Ons gids plaas sy arms om my. Hy weet hoe ek voel. Amsterdam bring verdere voorlesings en besprekings, maar ook die kans om die wonder van Rembrandt se skildery "Die Nagwag" te kan beleef. En natuurlik was ek na die Walletjies toe, waarvan ek alte veel gehoor het. Nog nooit het ek op dese aarde prostitute so amper kaal gesien nie. En dit in vensters waar die hele wêreld hulle kan sien. Ek kan in die grond sak toe die mans my kommentaar wil hoor. Ek hou my kake met mening toe. Aan die einde van die besoek op pad lughawe toe bloei my hart. Ek wou nog so baie sien. Ek gaan na die mense verlang. Hulle het my so baie geleer. Van menswees. E.K.M. Dido is die skryfster van Die storie van Monica Peters en Rugdraai en stilbly. Die skryfster E.K.M. Dido drink die kultuur en taal van die Lae Lande in. Nederlands wil Kaaps raakvat Peter Snyders het op 'n besoek aan die buiteland op die oor ervaar dat ander tale ook variante het wat totaal van die standaardtaal verskil, soos Kaaps van Standaardafrikaans. IN Basel, Switserland, let ek dadelik op dat die Switsers groet met Gruezi. "Ek dog julle praat hier Duits," sê ek vir my vriendin Florence. "Dis Switserduits," sê sy. Gelukkig hoef ek nie my eie geroeste Duits te gebruik nie, want Florence doen al die pratery. Een oggend kom die familie se Grossvater en Grossmutter die kinders besoek. Hulle praat langer as 'n uur met my Switserduits. Ek het Xandra Bolliger, 'n Afrikaanse skrywer-in-wording van die Kaap wat nou in Basel woon - sy is Florence se suster - oor hierdie Switserse vorm van Duits uitgevra. Xandra sê: "Omtrent nie een woord is dieselfde nie, behalwe kleure. Woorde wat lyk of hulle dieselfde as in Duits is, het 'n ander betekenis in Switserduits. 'n Duitser kan seker die betekenis uit die verband begryp." Hier is 'n paar voorbeelde van die interessante verskil tussen die twee soorte Duits. Duits - Switserduits Guten Tag - Gruezi. Küchenkasten - Chuchichastli, soos dit op die oor oorkom (kombuiskassie - spreek uit: goegiegastli). Blümlein - Bluemli (spreek uit: Bleemli). Ich liebe dich - I ha' di gern (Ek het jou lief). Interessantheidshalwe, Xandra se kinders (5 en 7 jaar) wat in Basel gebore is, praat vlot Afrikaans, Switserduits met die bure en leer Duits in die skool. Switsers en Duitsers praat nie graag Engels met 'n mens nie, al sien hulle jy sukkel met Duits. Ek praat nou van op stasies en in treine en kafees. In Zwevegem naby Kortrijk in Wes-Vlaandere het ek aangekom 'n paar dae ná André P. Brink daar opgetree het. Toe Brink vra of hy in Afrikaans of Nederlands moet praat, wou almal hom in Afrikaans hoor. Hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe lekker Brink gepraat en hoe maklik hulle hom verstaan het nie. Tog het hulle my nie so goed verstaan nie. Hulle het my ook gou laat weet dat dit my dialek is wat vreemd is vir Vlaandere. Ek moes vinnig leer om stadig te praat en my register meer Standaardafrikaans te maak. Dit het my voorberei om later met Nederlanders beter te kommunikeer. Wat die vertaling in Nederlands van gedigte uit my twee bundels betref, het Jan Deloof, die vertaler, al in 1982 etlike gedigte van my in Kruispunt in Brugge gepubliseer. Die titel van die spesiale uitgawe was Skryf asseblief terug. Destyds het Deloof die gedigte in Afrikaans gepubliseer, maar 'n verklaring van vreemde woorde bygevoeg. Met die onlangse vertaling van my gedigte in Nederlands het Jan Deloof al klaar 'n gevoel vir die Kaapse idioom gehad. Ons het lank gekommunikeer terwyl ek verduidelikings op al sy vrae gegee het. Tog wou hy nie my werk per se vertaal nie. Myns insiens het Deloof die prosa-element van die gedigte behou en gehoop die dieper lae sou bespeur word of identifikasie sal plaasvind. Deloof self skryf: "Er zijn gedichten bij die zich zonder veel moeite van Kaapstad naar bv. Antwerpen laten overplaatsen. Ik denk aan Ek is oek important: Zo 'n straatveger kan ook hier presies hetzelfde zeggen. Maar een gedicht als Maar toe kom toekoms is zo specifiek Afrikaans dat je daar in het Nederlands heelwat uitleg bij moet geven. "Een andere vaststelling betreft de taal. Waar jij goochelt met een mengtaal Afrikaans-Engels kan de vertaler naar het Nederlands niks tegenover stellen. Natuurlijk is de taalsituatie in Brussel wel enigzins vergelijkbaar - daar met de vermenging van Nederlands en Frans - maar als je dat gaat doen, plaats je meteen het hele gedicht over naar België, meer bepaald naar de volkswijken van Brussel en je geeft het een lokale kleur die het origineel niet heeft." Ek het self probleme ondervind met die vertaling van 'n paar van my gedigte. Sommige gedigte kon slegs werk as hulle in 'n dialek vertaal is, bv. Of hoe? In Nederlands mis die vertaling die ironie, want die persona wat iemand anders maan om nie in die dialek te praat nie, praat self in die dialek. In 'n ander gedig, Waarskynlike mens, is daar twee sprekers: die een praat Kaaps, die ander Afrikaans. Met 'n suiwer Nederlandse vertaling verdwyn die Kaapser en die dieper dimensies van die gedig. Ek het 'n oefenlopie met Of hoe? gedoen. 'n Vriend het die gedig in Brabants (Antwerpse dialek van Nederlands) vertaal. Skielik ontbloot die gedig toe die ironie. Die jammerte is dat net diegene wat Brabants ken, die vertaling sal verstaan. Dit sou onprakties wees om 'n gedig in Kaapse Afrikaans in sy geheel in 'n dialek van Nederlands te vertaal, veral as min mense dit dan sal kan verstaan. Ek reken 'n mens moet eerder aan "merkers" dink, dit wil sê 'n paar Nederlandse dialekwoorde wat net aandui dat iemand 'n dialek praat. In die vertaling uit een taal in 'n ander sal altyd iets verlore gaan. Om 'n dialek te vertaal skep nie net probleme nie, maar ook opwindende uitdagings en moontlikhede. Ek dink ek sou graag 'n "uitvoerende rol" wou speel voor enige vertaling van my werk vorentoe verskyn, net om seker te maak dat nie te veel verlore gaan nie. Hier is twee gedigte in die oorspronklike Kaapse Afrikaans en in die Nederlandse vertaling. Of hoe? Moetie rai gammattaal gebrykie; dit issie mooi nie: dit dieghreid die coloured mense - of hoe? wat traai djy om 'n coloured culture te create? of dink djy is snaaks om soe te skryf? of hoe? Traai om ôs lieweste op te lig, ôs praat mossie soe nie ...? of hoe? Of niet soms? Schrijf toch niet in dat koeterwaals; dat is niet mooi: het haalt de kleurlingen omlaag of niet soms? Wat probeer je toch? een kleurlingcultuur te creëren? of denk jy dat je grappig bent door zo te schrijfen? of wat? Probeer liever ons te verheffen; we praten immers niet op die manier ...? of wel soms? Moedertaal Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit! Dis waam mamma jou lat opleerit; kritisaais skrywers wat skryf soes mamma praat, maar moenie ve'wag mamma moet nou change nie. Moedertaal Kind, wil je Algemeen Beschaafd gaan praten, doe het! Daarvoor heeft mama je laten leren; hekel schrijvers die schrijven zoals mama praat, maar je mag niet verwachten dat mama zal veranderen. Peter Snyders is skrywer-digter. ONDERWYS Taalvriendskap is nou moontlik Cornia Pretorius meen 'n skool se taalkeuse kan 'n slag vir Afrikaans slaan, of die taal knou. ELKE keer as ek die foto van 'n sterwende Hector Peterson sien, dink ek aan Afrikaans - dat dié kind in 1976 in Soweto gesterf het vir die beëindiging van Afrikaans as onderrigtaal in swart skole, dat Afrikaans vir hom die onderdrukker se taal was en dat hy Afrikaans wou beveg. Dan lees ek wat Harriet Kgotle, Faith Mapitsa en Raymond Motseke verlede jaar oor Afrikaans skryf as leerlinge van die Hoërskool Reasoma in Soweto - 21 jaar later. Hulle sê hulle het Afrikaans eers met onderdrukking vereenselwig. "Nou is ons in die nuwe Suid-Afrika en mense moet alles van die ou dae vergeet en begin om vriendskap met ander mense te bou. Afrikaans is nou een van ons elf amptelike tale en almal wat in Suid-Afrika bly, moet Afrikaans leer," meen Harriet en Faith. Raymond verwoord sy siening só: "Niemand dwing my om dit (Afrikaans) te leer nie. Ek het self besluit. In die verlede is swart leerlinge gedwing om Afrikaans te leer." In 1998 is dit nie net Harriet, Faith en Raymond wat anders voel oor Afrikaans in die klaskamer nie. Daar is 'n hele nuwe geslag nie-Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners vir wie Afrikaans net só 'n deel is van Suid-Afrika as braaivleis en sonskyn. Ek dink aan Abe Valoyi, die graad-tweetjie wat ek ontmoet het by die Laerskool Dirkie Uys in Johannesburg en aan die netjiese Afrikaans wat hy spontaan praat. Ek dink aan Tumelo Matlou van die Laerskool Krugerpark in Potgietersrus in die stoere Noorde en hoe sy die vers Jellievis trots voordra. Dit wil lyk of dit hulle is wat Afrikaans in die negentigerjare help om politieke kettings af te ruk - die taal van sy verlede te bevry. Al is hulle nog besig om die taal te bemeester, hou hulle die belofte in om Afrikaans lief te kry en daaraan 'n nuwe krag te gee. Ek wonder hoeveel mense sien Afrikaans nog deur 'n 1976-bril. En of dit dalk 'n rede is waarom Afrikaans in 'n post-1994-era steeds in skole so intiem met die eietydse politiek verweef is. Soos die druk deur onderwysowerhede op Afrikaanse skole begin verskerp het om ook voorsiening te maak vir Engelse onderrig, só is die emosies blootgelê wat Afrikaans wek. Skole het oorwegend twee benaderings begin volg. Ten goede en ten kwade van Afrikaans. Vir baie Afrikaanses is en was die druk op Afrikaanse skole om plek in te ruim vir Engels as voertaal die versinnebeelding van hul politieke stryd om die behoud van 'n eie kultuur. Waar baie skole as deel van dié stryd probeer vashou het aan Afrikaans as die enigste taal van onderrig, het hulle hulle blootgestel aan beskuldigings van rassisme, Afrikaner-eksklusiwiteit, laer trek of wat ook al. Dit het nie altyd net oor Afrikaans gegaan nie, maar was eerder 'n rookskerm om skole lelieblank te hou. Dié benadering het al van 'n lang lys skole 'n politieke slagveld gemaak. Een van die ongevalle is ongelukkig Afrikaans. 'n Mens kon as 't ware sien hoe hierdie benadering nie-Afrikaanssprekendes herinner aan die onderdrukkerstaal. In die meeste van die gevalle moes die skole uiteindelik voor die druk swig en na Afrikaanse én Engelse onderrig oorskakel. Dit is jammer dat diegene wat Afrikaans as politieke speelbal só misbruik, uit die oog verloor dat baie nie-Afrikaanse ouers hul kinders in Afrikaanse skole wil inskryf al is Afrikaans vir dié kinders 'n derde of 'n vierde taal. Hulle het lankal vergeet dat Afrikaans iets was om te beveg. Vir hulle gaan dit om goeie onderwys. En dié feit hou die potensiaal in van meer anderstaliges wat Afrikaans kan begin praat, daarin leer en daarin uitdrukking vind. Dit is klein oorwinnings vir Afrikaans wat waarskynlik meer doen om die taal te bevorder as die kleinlike politieke gevegte oor of 'n skool net Afrikaanse onderrig moet gee, of na Afrikaans én Engels moet oorskakel. 'n Tweede benadering wat Afrikaanse skole gevolg het, was om uit hul eie vir Afrikaanse en Engelse onderrig voorsiening te maak. Toegegee, soos met die eerste benadering is daar gevalle waar Afrikaans deur Engels verswelg is omdat die behoefte aan Engelse onderrig net soveel omvangryker as dié aan Afrikaans is. Daar is egter skole waar die verhouding van Afrikaanse tot Engelse leerlinge só is dat die skole se benadering om vrywillig anderstaliges in te neem die vrugbare aarde voorberei het vir die kweek van 'n nuwe geslag Suid-Afrikaners vir wie Afrikaans nie politieke konnotasies het nie. Waar dit gebeur, is dit lekker om te sien hoe straal Afrikaans. Ek sal nooit vergeet hoe sing die Sotho, Zoeloe en Tswana graad-eentjies van die Laerskool Dirkie Uys in Johannesburg Afrikaanse liedjies nie. Mnr. Christo Lodder, hoof van dié skool, het gesê hy sien die saak só: hy help op dié manier 'n nuwe geslag kinders grootmaak wat respek het vir sy taal, Afrikaans. Hulle het een taal by die huis, word in Engels onderrig, maar word by Dirkie Uys ook aan Afrikaans blootgestel. Baie skole het Afrikaans as rookskerm gebruik om hulle wit te hou. Dit kan egter nie ontken word dat daar ook druk op skole was en steeds is om na Engelse én Afrikaanse onderrig oor te skakel net om 'n politieke stempel af te druk nie. Toenemend, veral in die lig van die taalbeleid wat wel beskerming bied vir Afrikaanse skole teen eensydige politieke besluite, blyk 'n nuwe onderwysbenadering: daar is nie geld in die onderwysbeurs nie, ook nie om skole te bou nie. Maak daarom in jul Afrikaanse skool, wat nog plek het, plek vir kinders wat Engelse onderrig verkies. In sulke gevalle kan skole se reaksie die toekomstige houding teenoor Afrikaans bepaal. Wat ook al die beweegredes is vir die druk op Afrikaanse skole om plek vir Engels in te ruim, uiteindelik gaan dit van Afrikaanses self afhang wat die taal se plek in die land se klaskamers is. Daar is twee keuses: verower anderstaliges vir Afrikaans, of vervreem hulle. Cornia Pretorius is 'n bekroonde verslaggewer oor die onderwys. 'n Briljante seun, Meyer Gebaseer op 'n ware insident Daar was 'n Transvaalse seun, Meyer, Standaardafrikaans wou hy weier. Sy aa's word toe ó's dat jou ore soms gons - 'n euwel vir elke taalstryer. En hierdie briljante seun, Meyer, sê toe vir 'n vrou wat daar kuier: "'n Tôk oor Chaucer sowôr. Toe Tônnie sê dit nou môr, geen tôk môk 'n juffrou nog blyer." Die vrou berispe die seun, Meyer. Sien, sy was 'n ware taalstryer. "Nie tôk nie, sê taak. Wat moet ons met jou maak? Wees van sulke spraak liefs 'n 'vermyer'." Geen seun sou jy kry nog verbaser as hierdie einste Afrikaans-raser. "Goed, TAnnie," sê hy. "WAt jy vrA sal jy kry. Kyk hierdie tAAk oor ChAAcer." Rolien Bührmann Sonde met die Cravense bure Chris Heywood, oud-Stellenbosser wat as Britse akademikus tot in Nigerië en Japan Engels gedoseer het, kom kuier en vertel in skaars verroeste, sappige Afrikaans van eienaardige dinge in die Engelse Koue Bokkeveld. Luister hoe hy ná 'n leeftyd van Engels - en met baie effense hulp van die Afrikaanse teksredakteur - sy verhaal in Afrikaans laat leef! DIE skitterende voorstelling van die Kaapse Afrikaanse letterkundige geskiedenis deur prof. John Kannemeyer op 'n dag lange letterkundige toer sal ek nie maklik vergeet nie. Name en werke het voor jou oë en deur jou ore driedimensioneel geword. By Seepunt en Clifton se tragiese kus en Groenpunt se vuurtoring verby, oor Támboerskloof (Uys Krige se uitspraak), die Bo-Kaap, Athlone, Langa en byvoegsels, deur Stellenbosch met sy biblioteek en sy Helshoogte, deur Daljosafat en die Paarl, waar die suidoos woes deur die Monument waai, oor Kraaifontein en rondom Tygerberg het ons hystoe gekô. Op hierdie magiese reis het die silwer woorde en stemme van die Louws en Small, Boerneef en Krige, Petersen en Opperman, van die Sestigers, die Vyftigers, die Dertigers, van Du Toit en wie nog meer ons harte opnuut oopgesluit. Die verskyning van 'n Britse akademikus in die Boland lei tot 'n onverwagte uitnodiging: sal die Britse akademikus iets oor die Afrikaanse taal skryf? Sy toekoms ... ? Sou hy bereid wees om iets bymekaar te woel vir ons blad? Alte graag, kom die antwoord. 'n Ruk daarna is prof. Kannemeyer by middagete aan die woord. Ag wat, kyk, wat sou 'n mens nou dáároor nuuts kan sê? Skryf liewers die storie wat jy nou net, verafrikaans nogal, vertel het. Dis maar grappies, antwoord ek - en (skielik verskrik) dalk word dit 'n internasionale skandaal as die geheime geskiedenis van die Cravense boere in die Kaap verraai word! Nee wat, antwoord hy, skryf hom - dit hét mos so gebeur, nè? Ek verseker hom: Sal ek nou vir die Professor ooit iets anders as die blote waarheid vertel? Hier volg dus dié fragment - skuus: brokstuk - van die Cravense volksgeskiedenis. Skaars 'n uur se ry anderkant Leeds, by Skipton verby, begroet die Engelse Koue Bokkeveld ons: die skilderagtige en sprokies-belaaide berglandstreek wat as Craven bekend staan. Orals 'n bekende naam, Craven, nè? Afgelei van craig ("crag" - krans), verbind met (waarskynlik) vann (Ou Kelties vir ... nou ja, volgens die gesaghebbende wat jy verkies: rots, steen). In Craven beklouter ons craigvann se kransstene. "Engells es mêaher iin saaoert Daaiets" (Engels is maar 'n soort Duits), het ons kollega wyle professor Mainland in Sheffield op 'n slag die woorde van die gesaghebbende prof. X uit Nederland mooi aangehaal. Plekname in Engeland is by die eerste aanblik skaars herkenbaar. Elders onder Dietssprekendes en ietssprekendes word deur plekname dikwels die geaardheid van die plaaslike bevolking of landstreek blootgelê: Seepunt, Wynberg, eGoli, ens. In die Britse Eilande word plekbenaming oënskynlik tot volksverduistering aangewend. Hoe kan so 'n aardige ou taaltjie tot wêreldtaal ontwikkel (of liewers: ontaard) het?! Dié saak kan ánder bespreek; óns laat ons verhaal nie verdwaal nie. In die wêreldonbekende pub The Craven Heifer daar op die hoek in ons outydse Craven-dorpie oorkant die mooi ou en laaseeu herboude kerk, word legendes van die eens beroemde Kranssteen Vers ("Craven Heifer") van die Cravense kalksteenlandstreek nie dikwels oorvertel nie. 'n Mens verfris hom/haar deesdae eerder met behulp van legendes uit die naweek se voetbal, krieket ens. Nogtans: êrens binne of digby hierdie kroeg is onlangs geopenbaar dat onder die wêreld se misdaadgrootstede ons ou dorpie tot Chicago-rang gevorder het, en nogal in 'n bedryf van nasionale, selfs internasionale belang, naamlik die veeteelt. Of koeieslag, kan ons liewers sê. Die jongerige beesbeampte van Londen (of dalk Nottingham of êrens anders doer ver in die suide) het - so lui die verhaal - juis in hierdie kroeg ingestap gekom, sambreel netjies opgerol, briefsakkie onder die arm. "Any cows here?" heuningpraat hy by die krokodiltrane verby, en word verwys na die boer Bert (naam volgens geheue). Sambreeltjie daag by ouboet Bert se werf op, en boertjie daag hom uit: My koeie? Toets maar, ons boer skoon en gesond hier; jy vind g'n skande hiesô hô! "Sorry, sir," sê die beampte teen agtermiddag, hande gewas, hoed op en handskoene weer aangetrek. "Your herd is one hundred per cent infected." Alle beeste op hierdie plaas ly aan die malbeessiekte. Die druipore, nat neuse, vogtige oë, bietjie wankelend loop en die kop skud, dergelike simptome bewys niks. Deurslaggewend is egter ons bloed- en senuweeveegseltoets. Hierso's die uitslag. Waarskynlik lees u in die koerant dis geen saak van mikro-organismes nie, eerder van ontaarde molekules. Nog nooit, weier oom Bert met groot, ronde, onskuldige en verbysterde oë om die man te glo. Hoe kan so iets gebeur? Ons hou mos alles skoon hierso. My beeste kan jy sien is gesond, maar net soos ons self af en toe bietjie vaak. Kyk, ek is geruïneer. Dis sonde met die bure. "No trouble, sir," verseker die beampte hom. "Vul vanaand nog hierdie vorms in, posvry in hierdie koevert, dan verskyn die vergoedingsgeld oor 'n paar weke outomaties in u bankrekening. Geen verlies; die besmette koeie ... molekulêr-ontaarde beeste ... verdwyn pynloos. Van sonde met die bure kan hoegenaamd geen sprake wees nie ..." Nou ja, kort daarna trek oom Bert weer 'n slag met sy vragmotor in die Cravense kontrei rond en vra uit onder die boere. Het jy dalk beeste wat verstar rondkyk met nat neuse, druipore, vogtige oë, dalk skud hulle ook wankelend hul koppe? Twee, drie, sê jy? Nou kyk, ek koop hulle sommer vir kontant, "cash, no questions". Die veegoed verdwyn pynloos, daar's g'n skande nie ... Bert ry sowaar elke slag huis toe met so 'n tiental aangesteekte beeste. Die kontant wat hy uitgee, is vanselfsprekend skaars die helfte van die belastingvrye vergoeding wat in sy bankrekening opdaag. 'n Maand of ses weke later kom staan daar 'n ander jongerige ou van die regering in hierdie kroeg en vra: "Any mad heifers around, ha ha?" Hy word na ouboet Bert verwys en die storie word herhaal. Ten slotte word ons deur ons betroubare bron vermaan om nooit die Europese Unie se mense in Brussel hierdie dinge te laat hoor nie ... Loutere sprokies, was my gedagte. Nee wat, in ons skilderagtige Cravense agterplaas onmoontlik. Dis maar net 'n geval van beterweterigheid onder die Angel-Saksiese boere - 'n "trickster"-verhaal uit die volkswysheid se dieptes. En toe, op pad Kaap toe, hoor ek oor die radio dat van die Engelse vergoedingsgeld vir malbeessiekte vyftig persent afgetrek is! Prof. Chris Heywood het onlangs as professor in Engels aan die Universiteit van Okajama in Japan afgetree. As Honorary Research Fellow aan die Universiteit van Sheffield is hy tans in Yorkshire met letterkundige navorsing besig. Vroeër was hy 34 jaar as lektor en senior lektor aan hierdie universiteit verbonde en in daardie tyd twee jaar professor in Engels aan die Universiteit van Ife in Nigerië. In opdrag van die Cambridge University Press skryf hy tans "A History of South African Literature", en vir Broadview Texts (Kanada/Londen) versorg hy 'n nuwe uitgawe van Emily Brontë se Wuthering Heights. Sy loopbaan het op Stellenbosch begin, waar hy aan die Paul Roos-gimnasium en die Universiteit gestudeer het. Daarvandaan is hy met 'n Rhodes-beurs na Oxford om die Engelse taal en letterkunde te bestudeer. KLIP IN DIE BOS PALJAS, paljas is die as nou af? Dít is die vraag van menige teleurgestelde fliekganger ná die nuus dat Suid-Afrika se eerste kandidaat in die Oscar wedloop nie die paal gehaal het nie, meen Gabriël Botma, wat die rolprent vier sterre gegee het. KOMPETISIES bring 'n voorspelbare reaksie by die meeste mense na vore. Instinktief redeneer jy: as die Bokke die Wêreld beker kon wen en Bafana Bafana die Afrika beker (eendag, lank-lank gelede) hoekom vaar Paljas "so vrot" in die Oscar stryd? Bekyk 'n mens daarna die rolprente wat wel genomineer is, en veral uit watter lande hulle spruit, klim die bloeddruk verder: Beyond Silence (Duitsland), Secrets of the Heart (Spanje), The Thief (Rusland), Character (Nederland) en Four Days in September (Brasilië). Goed, Duitsland en Spanje hét al puik rolprente opgelewer, en van die Russe kan jy enigiets verwag. Maar om deur die rolprentbedrywe van Nederland en Brasilië uitgestof te word, is net te erg. (Albei het boonop sokkerspanne wat ons in Frankryk op ons kollektiewe neus kan laat kyk.) Nes die Proteas onlangs in Australië hul Ali Bacher gesien het. En, al sê niemand dit ook reguit nie, net dáár lê die eintlike bron van frustrasie oor Paljas se "nederlaag". Deesdae kan 'n fliekganger nie meer afsit na sy naaste teater sonder om hom teen 'n goeie Australiese rolprent vas te loop nie. Hoe's dit moontlik, wonder oningeligtes dan, dat die filmbedryf van ons sportvyande ons s'n so ver vooruit is? Maar daaroor gaan dit juis, liewe vriende. Suid-Afrika het nie 'n rolprentbedryf nie. Nie eers 'n sukkelende een nie. Miskien was daar so 'n tyd, maar een of twee Schusters elke tweede of derde jaar, met 'n Kaalgat tussen die Daisies tussenin, kan met die beste wil van die wêreld nie as 'n industrie geklassifiseer word nie. Lees nou stadig: Australië maak al 'n geruime tyd elke jaar 'n stuk of 25 vollengte rolprente. Dan praat ons nie eens van al die instansies daar wat miljoene belê in die ontwikkeling van mense én draaiboeke nie. Die inisiatiewe daarvoor is al meer as 'n dekade gelede geneem, en sedertdien ononderbroke volgehou. In vergelyking daarmee is daar die aalmoes van R10 miljoen wat die Regering hier aan 'n duisend en een projekkies bestee, en die apatie van plaaslike owerhede en die private sektor. In dié konteks is daar nou van Paljas verwag om by die Oscars die vonk vir die plaaslike bedryf te verskaf. Daarom moet daar nou met die koppie koue koffie in die hand post mortem gehou word. Eerstens: Van die begin af was dit duidelik dat Paljas 'n prent met ernstige gebreke is. In die amper onnatuurlike emosionele eensgesindheid kort nadat die film uitgereik is, is die bedenkinge dalk te maklik onder die mat gevee. Ook deur professionele kritici. Dit kom byvoorbeeld nou eers aan die lig dat 'n langer, vroeëre weergawe van die prent aan die Oscar paneel voorgelê is. Ná snitte wat deur onder andere die redigeerder van Il Postino voorgestel is, is dit plaaslik uitgereik. Die regisseur, Katinka Heyns, meen na wat berig word, dat dié korter Paljas 'n beter kans by die Oscars sou gehad het. Wat sê hulle van as, die hond en die haas? Die Il Postino konneksie is om 'n ander rede ook interessant. Talle waarnemers meen dat Paljas 'n baie duidelike kontinentale atmosfeer het. Dit sal fataal wees vir enige hoop op die ontwikkeling van 'n eie, moderne rolprentbedryf indien Suid-Afrikaanse films nie 'n outentieke identiteit het nie. In dié opsig is Jump the Gun - met Britse geld en leiding en Suid-Afrikaanse akteurs en tegnici in Johannesburg verfilm - oneindig meer "plaaslik" as Paljas. Paljas sou net so goed in enige Europese omgewing ook kon afspeel. Dit geld selfs die geykte Dominee en die bende Skietpiete, wat uit 'n Skandinawiese rolprent soos The Other Side of Sunday kon gestap het. Die stasiemeester (Marius Meyers) se hunkering is daarom veelseggend genoeg aan plaatopnames van juis internasionale sangers gekoppel. Aangesien olifante in sirkusse op ander kontinente ook aangetref word, bly omtrent net die volstruise oor as verteenwoordigers van die tipiese Karoo landskap. En hulle word as 'n bysaak betrek, amper soos 'n mens dit in 'n promosievideo vir buitelandse toeriste sou doen. Gelukkig op maat van inheemsklinkende musiek. (Die nabyskote van pragtige blommetjies tel nie: net wyle prof. Kristo Pienaar was in staat om so maklik en gou te besluit of 'n plantspesie in- of uitheems is.) Maar genoeg oor die kosmetiese tekortkominge. Die grootste besware kan teen die storielyn ingebring word. Die titel verwys duidelik na 'n nar (Koos Human verklaar tydens 'n polemiek in Die Burger dit mag nie, maar dalk het hy nou al die fliek gaan kyk). Daarom is dit totaal onverstaanbaar dat Heyns hom lank voor die einde al op die trein kan sit en huis toe stuur. (Die nar, nie Koos Human nie.) Niemand sal my ooit kan oortuig dat dit geloofwaardig is dat die nar eers dae lank wegkruip en toe sommer met verspotte uitrusting en al in die kerk gaan sit nie. Die dominee had rede om beswaard te raak: so 'n onredelike man kan mos seuns molesteer ook, verdomp! Chris Barnard het as draaiboekskrywer 'n gulde geleentheid laat glip deur nie die nar-karakter fiktief te hou nie. As verbeeldingsvlug van die seun hou hy oneindig meer potensiaal in. Aangesien die nar se rol gou uitgespeel raak, word die verhaal gefragmenteer. Diegene wat aanvanklik gedink het dis 'n grapjas wat verklaar dat Paljas nie minder nie as drie eindes het, moet miskien besin. Veral noudat ons weet dat 'n Italianer dit ook onder hande gehad het. Niks kan egter seerder maak as die Amerikaners se verwerping nie. Asof húlle die verskil tussen kuns en kasterolie ken. Laat ons desnieteenstaande vol moed, soos ewige pioniers in die gees, voorttrek. Alles sal regkom, Os du Randt. Daar is immers eenstemmigheid (al weer) dat die prent, danksy sy reeds besproke voorkoms en styl, baie beter op feeste in Europa behoort te vaar. Dit kan selfs nou net die begin van 'n triomftog wees waartydens Paljas nog baie prestige vir Suid-Afrika kan inoes, word geprewel. Laat ons so hoop. Want dit is ook al wat nou oorbly nadat Paljas die pot aan die einde van die reënboog mis gesit het. Gabriël Botma is assistent-kunsredakteur van Die Burger. Die smeerstorie OOM WILLIE het al 'n paar jaar las gehad van skurwe lippe wat hy toegeskryf het aan die droë Karoo-klimaat. "Lipice" is deur Piet Pille, die behulpsame en gemoedelike apteker, aanbeveel en daarmee was oom Willie se probleem opgelos. Gesteld daarop dat die skurfte nie moet hervat nie, het oom Willie geleidelik in die gewoonte gekom om hoeveel maal op 'n dag sy stiffie uit te haal, die bolip effe op te krul, dit 'n paar lekker hale te gee en af te rond met 'n vaardige halfsirkel op die onderlip. Die ritueel het later half 'n tweede natuur geword, kompleet soos 'n pyproker met sy pyp en tabaksak sou omgaan. Deernisvol en vaardig. Mettertyd vind oom Willie toe uit dat die lipsalfie ook wondere verrig om die klein letseltjies en los skubbetjies op die bokant van sy hand sag te maak sodat hulle later maklik afgekrap kan word. 'n Vinnige behandeling van die hande raak toe ook deel van die smeer-ritueel. As afgetrede boer was oom Willie 'n staatmaker in die gemeenskap. Sy wysheid en ervaring het vir hom nie net 'n plek in die bestuur van die belastingbetalersvereniging besorg nie, maar hy was ook 'n gewaardeerde lid van die kerkraad. Hy het ook nie omgegee om langer termyne as die gewone te dien nie. Sy waardigheid het hom 'n onmisbare man in die ouderlingsbanke gemaak. Bowendien was daar 'n besondere band tussen oom Willie en Dominee. Dat die twee baie geheg aan mekaar was, was geen geheim nie. Vir mekaar het hulle groot, wedersydse respek gehad, enersyds vanweë die amp en andersyds oor die waardigheid wat met die jare gekom het. Dominee, wat 'n platjie was, het egter nie nagelaat om fyn met oom Willie die draak te steek as die geleentheid hom voorgedoen het nie. Die ander broers het dit saam met hulle geniet. Op die betrokke Sondag het oom Willie weer in die voorste ouderlingsbank sy plek ingeneem, reg teen die paadjie, waar hy graag probeer sit het. Op daardie plek kon die meeste gemeentelede hom duidelik sien en kon hy 'n onbelemmerde uitsig op die kansel en die dominee geniet. Terwyl die voorsang aan die gang is, dwaal oom Willie se hand oudergewoonte oor sy lippe, wange en voorkop en daarmee identifiseer hy dan ook die velplekkies wat by 'n vegie lipsalf kan baat vind. Met die vaardigheid van 'n geoefende hand word die stiffie solank binne-in sy baadjiesak tot in die handpalm gegly, gereed vir 'n vinnige smeer. Maar vanmôre gee Dominee se kanselprosedures oom Willie nie kans vir sy stiffie nie. Tydens die seëngroet probeer hy, maar dis te gou verby en die gemeente se oë is al weer oop. Dan maar wag vir 'n geskikter oomblik. Dominee gee sy teksverwysing, kompleet met bladsynommer "ter wille van die ou kleintjies", wag dat almal die leesplek gekry het en sê dan dat hy graag die seën wil vra op dit wat gelees gaan word. Met die eerbied wat die oomblik vra, doen oom Willie opreg mee, maar besluit tog dis die kans vir oppoets. Met vinnige hale smeer hy sy lippe en die paar plekkies aan sy voorkop en op sy wange. Doppie op, stiffie veilig in die sak toe die gemeente weer kan kyk. Dominee kyk een keer op, sy oë verstar, en die volgende oomblik buk hy weg agter die beskutting van die preekstoel. Verslaentheid en stilte. Wat het nou gebeur? Waar is Dominee? Die koster herstel eerste en gedagtig daaraan dat Dominee nie meer 'n jong man is nie en dat daar hartmoeilikheid in sy familie was, storm hy teen die trappies uit preekstoel toe. En daar sit Dominee op sy hurke in 'n bondeltjie op die grond en sy oë swem soos hy saggies probeer lag. "Watsit nou, Dominee?" stotter die koster saggies. "Oom Willie, oom Willie. Kyk net. Jy het nog nooit so iets gesien nie!" Sonder om te dink wat hy doen, loer die koster oor die kant van die preekstoel na die ouderlingsbanke se kant toe, al met die ry af tot sy oë op oom Willie verstar. Vinnig ruk hy weer terug en agter die beskutting van die preekstoel in. Met dié dat die koster so stip en ernstig in sy rigting kyk, meen oom Willie daar's iewers fout in die skip van die kerk agter hom. Waardig en belangstellend draai hy sy hele bolyf om en kyk die gemeente vol in die gesig. Dis toe dat die broers en susters in 'n ligte beroering kom. Oom Willie se lippe is bloedrooi, op elke wangbeen is 'n rooi merk en voor sy kop 'n rooi streep. Die gevroetel, die gedempte geproes en heelwat sakdoeke wat skielik uit die sakke kom, wys dat die mense die oomblik en die plek steeds waardig ag, maar nie maklik hul sin vir die komiese verloor nie. Die volgende oomblik verskyn Dominee weer in sy volle gestalte agter die kateder. Sy mondhoeke verraai niks, maar daar is duiweltjies in sy oë. "Broers en susters, u sal begrip daarvoor hê dat ons nou geleentheid gee dat die liefdegawes eers opgeneem word." Toe die diakens die borde neem en in die paadjies afstap, het sy bankmaat oom Willie reeds 'n woord in die oor gefluister. Hy reageer deur sy rug so dwars moontlik in die rigting van die gemeente te draai, vorentoe af te buk en ywerig die rooisel met 'n sakdoek van sy betakelde gesig te vryf. Tydens die orige deel van die diens het Dominee ongeveer negentig grade na links gepreek. In die rigting van die ouderlingsbanke het hy nie weer gekyk nie. Oom Willie was agterna baie seker dat sy lipsalfie en die tannie se lipstiffie per abuis in die haas voor kerk omgeruil geraak het. Maar tot vandag meen van die broers 'n poets kan nie heeltemal uitgesluit word nie.