PRIMERE KLEURE deur Annelle Fourie Die man klop aan die deur. Hy kyk na die vrou wat oopmaak en glimlag. Hy vee die sweet van sy gesig. Hy mik om die tas wat hy by hom het, neer te sit, maar dan staan hy weer regop. "Pieter Roux," sê die man. Die vrou nooi hom in, en hy gaan staan in die middel van die sitkamer. Hy vervat sy greep op die tas. Die vrou sê vir hom om te sit, en gaan sit dan self. "U sien," sê die man, "ons is tans besig met die bekendstelling van 'n nuwe elektriese komponent wat mens baie geld kan spaar. Ek verkoop 'n baie klein instrumentjie wat u van 35%-45% op u elektrisiteit kan spaar." Hy beduie na sy tas. "Mag ek?" Die vrou knik haar kop, en hy haal 'n lêer uit die tas. "En dit is juis sy grootte wat mense so verbaas. Wat dink u verbruik die meeste elektrisiteit in die huis? Die ketel, die yskas?" Hy dink so 'n bietjie en vat aan sy voorkop. "U sal dit nie glo nie Mevrou, maar die geyser verbruik 60% van u krag." Hy vou die lêer oop by 'n grafiek. "Kyk net hier," sê hy. "U yskas vat maar omtrent 6% van u totale elektrisiteitsverbruik." Hy blaai na nog 'n bladsy. "Hier is 'n paar rekenings van onlangse aankopers van hierdie komponent. So, u kan self sien van hoeveel waarde hierdie instrumentjie vir die huishouding kan wees." "Wel," sê hy en maak keelskoon. "Kan ek vir u verdere grafieke en so aan wys?" Die vrou kyk op. 'n Man kom staan in die deur. Pieter stel homself voor. Die man sê niks. "Ek is net besig om vir u vrou van hierdie wonderlike nuwe komponent op die mark te vertel," sê Pieter en glimlag. "Is dit so?" vra die man. "Wel," sê Pieter, "Waar sal ons begin?" Die man stap na Pieter toe en tel sy tas op. "Miskien moet jy eerder op 'n ander plek begin," sê hy. Hy loop met Pieter se tas voordeur toe, en sit die tas op die stoep neer. Dan hou hy die deur vir Pieter oop. Pieter draai die bierbottel voor hom om en om. "Ek wil nie alleen wees vanaand nie," sê hy. Hy vat sy tyd om kos te bestel. Hy kyk na die kelnerin terwyl sy die ander mense se bestellings vat. "Dis my vrou", sê hy. Dan bestel hy 'n Footlong by haar en sy sit sy bestelling by die res van die bestellings op die toonbank. Die ander kelnerin kom sit nog 'n bier voor hom neer. "My vrou se naam is Sally". Hy eet die Footlong en drink sy bier. Die mense bly in en uit glip. Sally vat die meeste mense se bestellings. Pieter hou sy vrou dop. Die man langs hom lees 'n boek. Hy kyk op en sien hoe Sally vir Pieter 'n koppie koffie ingooi. Hy loer na haar as sy wegstap. Die man eet sy vis klaar en roep Sally nader. Sy vat sy leë bord, en gooi vir hom nog koffie in. "Wat dink jy daarvan?" vra Pieter as sy wegbeweeg. Hy draai sy oë in haar rigting. "Oulike lyfie, het sy nie?" Die man kyk weer in haar rigting, en dan kyk hy af na sy boek. "Wat dink jy van haar?" vra Pieter. "Ek vra of sy goed lyk." Die man draai sy rug op Pieter en lees verder. Hy drink sy koffie. Ek kan die spiere in sy nek sien beweeg as hy drink. "Ek vra!" skreeu Pieter. "On second thought..." Hy buk vooroor om die man se boek by hom te gryp, en val amper bo-oor hom. "Meneer," sê die man, "Hemel". "Dis my vrou en dis my vrou se liggaam!" skreeu Pieter. Hy gryp die man aan sy arm, en stoot hom by die kroeg se deur uit. Hy kom terug en tel die man se boek van die grond af op. Die man spring op. "Meneer!" skreeu hy, "Asseblief!" Pieter gooi die boek by die deur uit en dan gryp hy die man aan sy nek en arm en stoot hom weer uit. "Uit, sê ek! Uit!". Die man draai om om iets te sê, en Pieter slaan hom met die vuis in die gesig. Hy sien hoe die man op die sypaadjie val. Dan klap hy die deur toe, en gaan sit weer op sy stoel. "God", sê hy. Sally staan agter die toonbank. Pieter glimlag vir haar. Haar kelnerin vriendin kom staan langs haar. "Wie's jou vriend?" vra sy. "Van wie praat jy?" vra Sally, terwyl sy rondkyk. "Van hom," sê die ander kelnerin, en wys in Pieter se rigting. "Wie is hy in elk geval?" Sally skud haar kop. "Ek het geen idee nie," sê sy. DIE STORIE AAN DIE BEGIN deur Annelle Fourie Een aand is sy oral oor my, en die volgende aand wil sy selfmoord pleeg. Ons sit in die sitkamer, my en A. se sitkamer. Sy sit op die een bank, ek sit op die mat en sy praat. Sy sê sy onthou die rusies. Die rusies, sê sy, was altyd daar. "James." Sy sê dit en dan laat sak sy haar kop op haar hande. "Dis net: die rusies tussen my ma en pa maak my dood." Die snaakse ding hiervan is dat haar pa dood is. Maar sy sê sy het genoeg gehad. Sy maak haar oë toe. "Niemand kan so leef nie," sê sy. Dit laat my dink aan iets wat sy my eenkeer van haar ma-hulle vertel het. Sy was reeds in die bed, toe sy haar ma-hulle een aand in hul kamer hoor baklei. "God, Isolda," het haar pa gesê, "wat wil jy nou weer hê?" Haar ma het nie dadelik geantwoord nie. "Het ek so oud geword, het ek so lelik geword?" het sy na 'n rukkie gevra. "Gee my net n bietjie tyd," het sy haar pa saggies hoor sê. "Dis mooi", het haar ma gesê," - maar jy is nooit gereed nie". A. het my vertel sy onthou die deurmekaar geskreeuery op mekaar: Jou bitterheid, Isolda. Fok jou. Die kind. Dis al wat jy altyd sê: die kind. En die stiltes. Dan haar ma se stem: "God, die eensaamheid, die nagte wat ek aan myself moes vat. Niemand kan so leef nie," het haar ma gesê. "Wat wil jy hê, Isolda?" Sy kon haar pa hoor opstaan van die bed af. "Niemand kan so leef nie," het haar ma hierdie keer harder gesê. "Sagter, netnou hoor die kind jou," het haar pa gesê. "Laat haar hoor - sy moet leer." Weer was daar die stilte. Sy het die stiltes onthou. "Hierdie kamer was eens mooi. Hier was liefde. Ons hande op mekaar - dís wat ek wil hê." "Jy weet nie wat jy wil hê nie," het haar pa geantwoord. "Jy weet nie wat ek wil hê nie. Jy het nog nooit geweet nie. Nie aan die begin nie. Nie nou nie." En dis wat hy volgende gesê het: "Miskien het ons te gewoond geraak aan mekaar. Aan mekaar se liggame. Jy weet - na twaalf jaar?" Dít, het A. gesê, is as kind in haar gemoed vasgebrand. Sy kon haar pa se woorde nooit vergeet nie. Nie een keer in die eerste jaar na hulle getroud is, het sy haarself heeltemal naak aan my gewys nie. Voor ons seks gehad het, moes die ligte altyd eers afgeskakel word. Alles was reg gewees vir een jaar. Toe, een oggend, wel, ek weet nie. Een ding het tot 'n ander gelei, en ek het gesê ek wil haar naak sien. Ek het haar nagrok uitgetrek. "James," het sy gesê, "moenie simpel wees nie." Sy het die kombers oor haar gegooi en haar arms oor haar borste gevou. "In elk geval," het sy gesê, "hoekom sou jy dit wou doen?" Hierna sou dinge begin verander. Ek sou my oë in die oggend oopmaak en sy sou daar lê sonder 'n draad klere aan haar lyf. Die ding is net - sy sou ten volle gegrimeer wees. En dis wat ek haar nou vra. "Bellabok," vra ek, "hoekom al die grimering as ons seks het?" En wat sy sê maak sin. Wat sy sê is dit: sy sou haarself bedek met hierdie masker, voor wat sy gevoel het die moontlikheid geskep het vir my om gewoond te raak aan haar liggaam. My liggaam het díe van haar pa geword. Enige iets wat ek dan sou sê oor haar liggaam, sou haar nie raak nie. Wat oorgebly het, was hierdie masker, wat sy kon afhaal as ek sou moeg word vir haar liggaam. En dan kon sy sê: "Dit was nie ek nie." Ek sou nou fyner begin oplet. Daar was dinge wat ek wou sê, dinge om haar beter oor haar self te laat voel, sulke dinge. Maar ek het geen benul gehad van wat besig was om te gebeur nie. Die een oomblik sou ons seks hê, die volgende oomblik sou sy naak voor die venster gaan staan en sê dit maak haar dood. "My pa was al die jare impotent," se A. nou. Sy staan van die bank af op, en gaan gooi vir haarself 'n drankie in. "My ma het dit eers 'n jaar voor sy dood uitgevind." Ek het niks om te sê nie. Ek drink my vodka en weet niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. "James," sê sy. "Bella?" Ek wag vir haar om iets te sê.