BLOEDBEK deur Vyg Fynbos Pa het pas teruggekom van die see af en ons het om die tafel gesit in die kombuis, 'n goue songloed het deur die kombuisvenster op die tafel geskyn, terwyl ons sit en groentesop eet. Die groot horlosie teen die besemkas se muur het op sesuur gestaan. Pa was 'n stil man en het min gepraat, want hy het erg gehakkel, amper elke woord was 'n hakkelwoord. Pa hakkelpraat nog so ernstig met Ma toe ek uitbars van die lag vir hom, hy klap my toe dat ek deur die oop venster val op die stoep dat my neus en mond bloei, dit was seer en ek het gehuil, maar ek moes weer by die tafel kom sit en my sop klaar eet, met bloedbek, snot en trane. Dit was 'n les wat ek nooit sal vergeet nie, een van vernedering, ek het van daardie oomblik af nooit weer gelag vir hakkelaars of kruppel mense nie. BREINBED deur Vyg Fynbos NEWSFLASH WEBNET7:23.04.2376:THE PIONEERSHIP THE MANDELA II, HAS BEEN OFFICIATED AS DYSFUNCTIONAL AND ALL CREWMEMBERS CERTIFIED AS DEPARTED:THE MANDELA II WAS THE FIRST NEURALDRIVEN SPACEDRIVE TO BE TESTED BY THE AFRICAN SPACE CORP ON 10.03.2034:EVEN THOUGH IT WAS DUE TO REAPPEAR IN SOUTH AFRICAN SKIES ON 10.03.2374 THE ASC LOGGED AN EXTRA TWO YEARS TO ACCOMODATE TIMESLIP.THE PEOPLE OF AFRICA SALUTE THESE PIONEERS:YOU CAN VIEW THE MEMORIAL AT: WEBNET7:URL//AFRICANSPACECORP/MANDELA.II WE REPLAY THE LAST LOGGED CONVERSE OF CAPTAIN HEX-C,WHO WAS HEAD OF THE CAPETONIAN INSTITUTE FOR NEURALTECHNOLOGY AND CAPTAIN OF THE MANDELA II REC:MANDELA II:10.03.2034:START Dit het my 23 maande geneem om die 70 ingenieurs op te spoor vir die projek. Dae lank het ek van server tot server van kanaal tot kanaal van web tot web geskakel en met duisende mense gepraat, soms moes ek deur vervelige cybersex sessies sit, soms moes ek luister na die lewensverhale van tientalle mishandeldes, maar op die ou ent het ek op die regte mense afgekom. Meeste mense het hulself binne twee sinne gediskwalifiseer met sinne soos, "I am bored" of "hey I like Mozart" of "a/s/l ?". Dit was die eerste vlak filters, die tweede, derde en vierde vlak filters het ook goed gewerk, dit was die vyfde vlak filter wat die moeilike een was. "You're in a room with two other people, what year is it? What date? What does the room look like and describe the other two people in the room in detail, physically and personality, and why the three of you are there... you have one hour to completion." Natuurlik is al die ingenieurs hier besonders goed gekwalifiseer in die rekenaarwetenskappe en in die biotech wetenskappe, maar dis die verbeelding wat tot die uiterste getoets moes word. Nietemin staan ek nou hier op die brug van die Mandela II, dis vandag die 10de Maart 2034, 'n windlose dag in die Kaap, die ander ingenieurs is reeds in die brainbed, dis net ek wat nog moet inskakel. Ek kan skaars glo dat ons vandag vertrek en nooit weer die mense daar buite sal sien nie, ons kom eers oor 340 aardse jare terug. Die mainframe roep my, ek gaan nou inskakel, en sal eers weer oor 340 jaar in my spraaktaal praat, ek groet julle! SPINNEKOP DING-DING deur Vyg Fynbos Tron was maar net 5 jaar oud, maar tog 'n slim seuntjie, hy het graag boeke gelees, met lego boublokkies gespeel en op sy rekenaar geteken. Die aand sit beide Bettie en Jan en werk op hul rekenaars, Jan skryf n Visual Basic program en Bettie teken 'n ingewikkelde animasie, hulle konsentreer so hard dat hulle glad nie agter kom dat Tron nie in sy kamer is nie, maar buite in die tuin. Dis volmaan buite en Tron kan goed sien. Hy stap onderdeur die peperboom oor die grasperk skuins verby die vyeboom in die hoek, en gaan kyk of hy paddas by die waterbak kan sien. Hy sien niks. Tron staan vir 'n oomblik stil toe hy die geritsel daar langs die huis hoor. Hy luister fyn, dis nie die hoenders nie dink hy en stap nader om beter te kan hoor en kyk. Hy sien iets, dit lyk spinnekopagtig, dink Tron en gaan staan, hy rek sy oë om beter te kan sien en staan baie baie stil. Die ding beweeg nie. Tron wag, hy is nie bang nie, net versigtig. Na 'n ruk beweeg die spinnekop ding-ding. Nou sien Tron duidelik dat die ding vier arm ding-dinge het met 'n groot vet lyf. Hy wonder hoekom die spinnekop ding-ding nie 'n kop het nie. Tron stap nader om beter te sien en wens hy het sy flits by hom het. Die spinnekop ding-ding bly op een plek maar dan sien Tron die vier oë op die spinnekop ding-ding se vet lyf. Die oë glinster in die maanlig. Tron is nou baie nuuskierig en stap nog nader, hy voel voel in sy sak en haal die albaster, rekkie en stuk biltong uit. Hy wonder of die spinnekop ding-ding van die albaster sal hou. Tron stap nog 'n paar treë nader. Hy hou sy regterhand uit met die albaster daarin. Die spinnekop ding-ding kan dit seker nie sien nie, dink hy en hou toe die albaster tussen sy duim en wysvinger vas. Die spinnekop ding-ding se oë maak stadig oop en toe. Tron staan doodstil toe die spinnekop ding-ding nader beweeg en een arm ding-ding uitsteek na die albaster toe. Die spinnekop ding-ding se arm ding-ding snuif aan die albaster, maar neem dit nie. Tron wonder of hy eerder die biltong vir die spinnekop ding-ding moet gee en bêre die albaster en hou die stukkie biltong uit na die spinnekop ding-ding. Die spinnekop ding-ding steek weer 'n arm-ding-ding uit en snuif aan die stukkie biltong. Dis net toe dat Tron die hoendervere op die vloer langs die spinnekop ding-ding sien. Skielik raak Tron baie baie bang en dink dat die spinnekop ding-ding al die hoenders opgeëet het. Tron maak sy mond oop om te skreeu vir help, maar dis te laat, die spinnekop ding-ding hop op Tron en druk hom vas teen die grond. Tron kannie skreeu of beweeg nie. Die spinnekop ding-ding is swaar op Tron, maar dan begin Tron skielik kalm en rustig word. Prente verskyn in sy kop, prente van 'n ander wêreld, die prente flits vinnig die een na die ander. Tron raak aan die slaap net daar onder die spinnekop ding-ding, later toe Jan hom daar kom soek, lê hy beentjies opgekrul met n stukkie biltong styf in sy handjie vasgeklou. Die volgende oggend toe almal wonder of 'n wilde kat of jakkals die hoenders opgeëet het, wil wil daar iets in Tron se gedagtes gebeur, maar dit bly vaag. Twintig jaar later: Tron was besig om sy virtual reality kopstuk reg te maak, toe hy die nuus hoor dat aliens vanuit 'n ander heelal kontak gemaak het met die aarde. Hy was geskok, verwonderd en het dadelik sy werk laat staan om die rekenaar se klank harder to stel. Die aliens se 4 ruimteskepe was reguit oppad Suid-Afrika toe. Tron sit nog so in sy verbasing, toe die spinnekop ding-ding van sy kinderjare, wat hy heeltemal vergeet het, skielik as 'n prentjie in sy kop verskyn. Tron onthou alles, wat daardie aand twintig jaar gelede gebeur het, hy weet met sekerheid dat die alians oppad na hom toe is, hy is die gasheer wat die besoekers moet ontvang, hy kan hulle taal verstaan, en weet baie van hulle af, want twintig jaar gelede is al die inligting aan hom gegee. Tron gaan bad en skeer, trek homself netjies aan. Klim in sy flitter en vlieg vinnig na sy ouerhuis. Bettie en Jan is met vakansie in Thailand. Die huis is toegesluit, maar Tron weet presies waar die ontmoeting gaan plaasvind. Hy dra n tuinstoel van die stoep af en gaan sit op die presiese plek waar hy die spinnekop ding-ding twintig jaar gelede gesien het. Dis 'n pragtige dag op die aarde.