OFFERS 1 Die man was weerstandig, wóú nie op vrae, sonder respek gerig, antwoord nie. Die gesprek raak rof. Houe reën, teen sy kop, tot die skedel krakend die vloer tref. Hy raak stil, onsamehangend, weier nou éérs om saam te praat. Hy sit aan, dokter, sê die konstabel, wil nie saamwerk nie. Toe hy lê, in eie vuil, karwei 'n bakkie sy lyf hospitaal toe, té laat. Hy is, byna terloops, dood. 2 Ver noord ry 'n wit bakkie kris-kras deur bos - met kinders agterop. Toe die landmyn ontplof, vlieg hul reguit, in offerrook, die niet in.