Verse van De Waal Venter Bobbejaan klim die berg Teen die steil helling langs die bergpad die wit hoop ribbekaste, leë bekkenbene vingerbeentjies ordeloos uit lit onderkake los met tande glimmend in die son die welwing van breinkaste agteloos gesaai teen klippe met gapende murgholtes oogholtes, openinge vir senuwees. Hier het hulle saam die koeëls deur hulle liggame voel ruk en die kranse van die Karooberg die laaste keer laat galm met woede, angs en alles wat hulle weet van 'n primate-lewe. Uit: GROEN - gedigte oor die omgewing Saamgestel deur Johann Lodewyk Marais HAUM-literêr 1990 ISBN 0 7986 3043 4 Swanger vrou Trap versigtig op die peervormige aarde, versigtig want jy is swaar, versigtig dat jy nie die koringland te vroeg wan nie en die wingerd voor die tyd pars nie. Jou oë kyk nou net na noodsaaklike dinge, jou hande berei nou voor, jou hare word lank soos 'n somerweiding - jou stem waarsku die diere van die veld, jou hande stuur om jou en jou tande glinster in 'n glimlag wat kan byt, want in jou ontkiem die heerser van die aarde. Uit: GROOT VERSEBOEK ongepubliseerde verse Meteens die klein blaar uit 'n ingehoue stam, als van groei is waar. Goudskubbige vis rimpel son op die water, proe aan die wêreld.